Let wel: Die artikel hieronder is reeds in Oktober 2005 saamgestel. Dit weerspieël nie die huidige, veel hagliker toestand in ons buur­land, waar die ekonomie totaal ineengestort en die politieke on­sekerheid die hele wêreld in beroering het nie. Maar die artikel bly steeds ’n belangrike inligtingsbron vir die leerder wat die aanloop tot die geweldige teenswoordige krisis wil bestudeer. (Januarie 2009)

Ons eens florerende buurland raak een kolossale bouval… ironies net soos die bekende antieke bouvalle van Zimbabwe…

Tragedie van die nuwe
Zimbabwe-ruïnes

HarareDie winkelrakke is leeg, talle petrolpompe is stil, miljoene honger mense moet van aalmoese uit die buiteland lewe en sowat een uit elke drie Zimbabwiërs ly glo aan MIV/vigs. Kan Suid-Afrika ’n massiewe ramp in sy buurland help voorkom of is die ineenstorting van Robert Mugabe se Zimbabwe onafwendbaar?

REGS: Die Zimbabwiese hoofstad Harare (vroeër Salisbury). Die wolkekrabbers dui nog op voorspoed, maar waarnemers sê hulle is bloot deel van ’n verlore glorie.

Foto: Gerekenariseerde eenkleurweergawe van ’n amptelike volkleurfoto.

Artikel saamgestel op 22 Oktober 2005*)

D

IS darem ironies, sê baie waarnemers vandag, dat Zimbabwe juis sy naam van die bekende Zimbabwe-ruïnes gekry het. Want die land was tot betreklik onlangs nog een van die mees florerende Afrika-state. Nou is dit self vinnig besig om in een kolossale bouval te verander.

Die volgende is slegs een voorbeeld van die bitter hartseer ontaardingsproses wat hom anderkant ons noordgrens afspeel: Hoewel Zimbabwe eenmaal kos kon uitvoer, moet sowat vier miljoen Zimbabwiërs tans aan die lewe gehou word deur buitelandse aalmoese in die vorm van voedsel.

Die ware Zimbabwe-ruïnes is ’n kompleks van imposante murasies, wat in die suid-sentrale deel van die land geleë is en kennelik van ’n lank vergange bloeityd in hierdie wêrelddeel getuig. Maar soos die koninkryk van die ou ruïnes is die republiek van Zimbabwe se gloriedae ook nou tragies verby. Wat meer sê, daar word met groot besorgdheid in Suid-Afrika na ons buurstaat se dreigende ineenstorting gekyk, want ons gaan sekerlik self nie ongeskonde daarvan afkom indien dit sou gebeur nie.

Zimbabwe se ekonomie lê aan skerwe, verbrysel deur ’n enorme berg van buitelandse skuld en ander faktore. Die landbousektor is so te sê verwoes, die gevolg van die roekelose onteiening van plaasgrond wat aan blankes behoort het. Sout in die wonde van ’n kreperende gemeenskap was toe ’n groot menigte voorstedelike plakkershuise in 2005 genadeloos platgestoot is om konsuis van die "skuim" van die samelewing ontslae te raak.

Maar wie of wat is verantwoordelik vir hierdie geweldige krisis?

Volgens talle kenners is dit alles grootliks te wyte aan ’n magsbeluste president wat hom as een van die mees stiksiende kontemporêre leiers op ons planeet bewys het. ’n Groot deel van die wêreldgemeenskap sal inderdaad ’n sug van verligting slaak as die meer as tagtig jaar oue pres. Robert Mugabe en sy trawante uit die kussings gelig kan word.

MugabeREGS: Pres. Robert Mugabe ('n rekenaarvoorstelling).

Tog is Mugabe (gebore 21 Februarie 1924) onlangs nog deur sekere lande op ’n internasionale byeenkoms toegejuig toe hy teen die regeringshoofde van Brittanje en Amerika uitgevaar het. As gewese verbete vryheidsvegter geniet hy steeds meer as verdiende aansien, nie soseer vanweë sy beleide nie, maar omdat hy hom so kragdadig en oënskynlik vreesloos teen die Weste verset.

Waar het alles dan eintlik vir Zimbabwe begin? Die jongste hoofstuk in die veelbewoë geskiedenis van die land is deur verskeie onstuimige episodes voorafgegaan. Hieronder volg ’n vlugtige opsomming van die land se verlede en die aanloop tot die huidige rampspoedige situasie. Verder ondertoe is ook enkele statieke oor die geografie, mense, regering en ekonomie van die land.

Zimbabwe-bouval

Raaisel van die historiese
Zimbabwe-ruïnes

DIT moet die hoofstad gewees het van die koningin van Skeba, van wie in 1 Konings 10:1-13 in die Bybel vertel word. Só het die vroeë Portugese handelaars van ’n aantal eeue gelede gedink toe hulle die eerste keer op die uitgestrekte klipbouvalle van die sogenaamde Groot Zimbabwe afgekom het.

Die koningin van Skeba was die besoekende monarg wat met haar baie groot trek gekom het om speserye, goud en edelgesteentes aan koning Salomo te skenk. Presies waar Skeba geleë was, word nie vertel nie, maar hedendaagse geleerdes reken dit moet êrens in Arabië gewees het. Vir die Portugese van weleer was dit egter feitlik ’n uitgemaakte saak dat Skeba by die klipkompleks moet gewees het wat hulle gevind in die suidelik sentrale deel van die Afrika-staat wat vandag juis die naam Zimbabwe dra.

Toe ander Europeërs in die negentiende eeu goud en ander artefakte by Groot Zimbabwe gevind het, het baie weer tot die gevolgtrekking gekom dat dit die goudland Ofir moet wees, waarvan ook in die Bybel vertel word. Nog ander het gereken die plek se indrukwekkende klipstrukture was die werk van die ou Egiptenare, die Fenisiërs of selfs Priester Johannes, 'n legendariese Christelike heerser wat buite die Islamitiese sfeer in Afrika sou regeer het.

Sulke wanopvattings en romantiese gissings het byna vierhonderd jaar lank die rondte gedoen, totdat hulle vroeg in die twintigste eeu verkeerd bewys is met opgrawings wat deur die Britse argeoloë David Randall-MacIver en Gertrude Caton-Thompson gedoen is. Daar was genoeg getuienis dat Groot Zimbabwe deur niemand anders as swartmense van Afrika self tot stand gebring is nie.

As die grootste antieke klipkonstruksie suid van die Sahara, is Groot Zimbabwe tussen die twaalfde en die vyftiende eeu nC gebou deur voorouers van die Shona, een van die baie Bantu-sprekende stamme wat vandag in die land Zimbabwe woon. (Let wel: Bantu is ’n taalkundige term wat ’n groot groep verwante Afrika-tale aandui. Dit moet nie verwar word met die gewraakte woord Bantoe, wat vandag deur die swartmense van Afrika as neerhalend aangevoel word nie.)

Volgens ’n gesaghebbende bron beteken die naam Zimbabwe in die inheemse tongval  “heilige huis” of “rituele setel van ’n koning”.

Die ruïnes van Groot Zimbabwe beslaan byna 730 hektaar. As ’n nedersetting wat op sy hoogtepunt na berekening tot 18 000 inwoners gehad het, bestaan dit uit twee hoofdele. Die meeste mense het in huise van klei en strooi gewoon wat dig bymekaar gebou is. Min opgrawings is egter nog hier gedoen sodat betreklik min bekend is oor hoe die gewone mense eintlik gelewe het. Daarteenoor was daar ’n groepie hooggeplaastes wat in die middel van die nedersetting agter hoë klipmure gewoon het, en baie van die mure staan vandag nog as getuienis van hul eertydse gesag en status.

Groot Zimbabwe, waarvan die bouvalle deur UNESCO tot Wêrelderfenisgebied verklaar is, was die sentrum van ’n ingewikkelde handelsnetwerk wat baie gemeenskappe in Suidelike Afrika met mekaar verbind en betrekkinge met Arabiese handelaars aan die Oos-Afrikaanse kus gehandhaaf het. Trouens, navorsers reken Groot Zimbabwe was die hoofstad van die groot Monomotapa-ryk, wat in die Middeleeue die huidige state van Zimbabwe en Mosambiek tussen die riviere Limpopo en Zambezi oorspan het. Baie kleiner ruïnes van bouwerke volgens die Groot Zimbabwe-patroon word dan ook in hierdie wêrelddeel aangetref.

Tog word die ruïnes van Groot Zimbabwe en die ander steeds deur vele raaisels omgewe. Baie navorsing is dus nog nodig voordat ten minste ’n vae ware prentjie van daardie fassinerende staat van weleer geteken sal kan word.

ONDER: ’n Naby-foto van ’n deel van die beroemde bouval.

Foto: Zimbabwe Government

Zimbabwe-bouval
  

Voorgeskiedenis en die Suid-Rhodesiese era

HOEWEL min omtrent die gebied se vroeë geskiedenis bekend is, reken argeoloë dat ’n goed ontwikkelde inheemse staatkundige bestel reeds so vroeg as die elfde eeu nC in dié wêrelddeel bestaan het. Die eerste Europeërs wat die streek verken het, was die Portugese in die sestiende eeu. Die Europese belangstelling in die gebied het egter eers wesenlik opgevlam met die ontdekkingsreise van die Skotse sendeling David Livingstone in die middel van die 1800’s.

In die vroeë 1890’s het die British South Africa Company van die Britse imperialis Cecil John Rhodes mineraalregte van die streek se bewoners verkry in ruil vir Britse beskerming. Hierdie maatskappy het Suid-Rhodesië (soos die gebied destyds genoem is) gekoloniseer, ontwikkel en tot 1923 geadministreer. Suid-Rhodesië het in daardie jaar ’n selfregerende Britse kolonie geword.

In 1953 is Suid-Rhodesië in ’n federasie met Noord-Rhodesië (die huidige Zambië) en Njassaland (tans Malawi) verenig, maar die federasie is ná ’n dekade in 1963 ontbind.

In 1963-64, te midde van toenemende rassespanning, het Suid-Rhodesië se betreklik klein groepie blankes Britse voorstelle verwerp vir die uiteindelik oordrag van die regering aan die swart meerderheid. Toe Brittanje weier om die land sy onafhanklikheid te gee tensy die grondwet toekomstige swart beheer sou waarborg, het die blanke bewind onder Ian Smith Suid-Rhodesië in 1965 eensydig onafhanklik verklaar en dit bloot tot Rhodesië herdoop.

Guerrilla-oorlog en uiteindelike
meerderheids
­regering

BRITTANJE het botweg geweier om Rhodesië se soewereiniteit te erken en feitlik alle handel met sy weggebroke kolonie verbied. In 1966 het die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies sekere ekonomiese sanksies teen Rhodesië ingestel en in 1968 ’n algehele handels- en reisblokkade gelas. Rhodesiese soldate het keer op keer met swart Rhodesiese uitgewekenes gebots wat guerrilla-aanvalle vanuit basisse in Zambiê geloods het.

Die guerrilla-oorlog was op sigself vermoeiend, maar dit was veral die hewige buitelandse druk wat die blanke Rhodesiërs met verloop van tyd nie langer kon weerstaan nie. Hulle het ’n ooreenkoms met gemagtigde leiers gesluit wat in 1979 tot ’n swart-wit koalisieregering met die beveiliging van blanke regte onder biskop Abel Muzorewa as premier in die hernoemde staat van Zimbabwe-Rhodesië gelei het. Muzorewa se regering is egter wyd beskou as ’n swart front vir voortgesette blanke oorheersing en het betreklik min steun by die massas geniet.

Uiteindelik, ná netelige onderhandelings tussen die belanghehhendes aan die einde van 1979 in Lancaster House in Londen, is ’n vrye verkiesing in Februarie 1980 in die herstelde Britse kolonie gehou wat tot internasionaal erkende onafhanklikheid op 17 April van daardie jaar gelei het. Zimbabwe-Rhodesië het in die proses sy dubbeldoor-naam verloor en eenvoudig Zimbabwe geword.

Die Mugabe-era

ROBERT MUGABE, die onafhanklike Zimbabwe se eerste premier, was sedertdien die enigste heerser van Zimbabwe (as president sedert 1987) en hy oorheers steeds die land se politieke bestel. Aanvanklik het hy hom so goed van sy taak gekwyt dat selfs van sy vorige aartsvyande lof daarvoor gehad het. Maar rondom die afgelope eeuwisseling het betrekkinge tussen Mugabe en Brittanje tot ’n noodwendige breekpunt verswak omdat hy in die eiendomsbesit van Zimbabwe se blanke minderheidsgroep ’n sondebok vir sy land se probleme gesoek het.

Sy uiters drastiese optrede teen die land se blanke boere het ’n geleidelike aanloop gehad. Zimbabwe is so erg deur ’n verwoestende droogte gekniehalter dat ’n nasionale noodtoestand in 1992 afgekondig is. Nog iets wat die land se geldkoffers help dreineer het, was sy betrokkenheid in 1998-2002 by die oorlog in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Toe die ekonomiese skoen erg begin druk, moes die lydende swart massas op die een of ander manier gepaai word. En die wit elite moes dit ontgeld.

Die blankes van Zimbabwe—minder as een persent van die bevolking—het met onafhanklikwording sewentig persent van die land se kommersieel bewerkbare grond besit, waarvan tagtig persent sedert 1980 wettig aangekoop is. In 1999 het Mugabe egter met sy hoogs omstrede "grondhervormings" begin, met 5 000 plase in sy visier wat nog deur blankes besit is en sewentien persent van die land uitgemaak het. Dit het doodeenvoudig daarop neergekom het dat talle blankes se plase gewelddadig deur swartmense beset is en die verpletterde eienaars geen ander keuse gehad het as om sonder vergoeding van hul eie grond pad te gee nie.

Hierdie vergryp het daartoe gelei dat Zimbabwe uit die Statebond geskors is op grond van menseregteskendings en ook omdat daar met die verkiesinguitslae van 2002 gepeuter sou gewees het. Zimbabwe het hom later uit die Statebond onttrek.

Die grondbesettings self was, soos verwag kon word, ’n fatale ekonomiese flater. Die brute oorname van die plase van kundige blankes het tot grootskeepse ellende gelei omdat daar geen behoorlike oeste meer was nie.

Tot oormaat van ramp het Zimbabwe tans ’n geweldige vigs-probleem. Trouens, die Verenigde Nasies het onlangs geraam dat meer as een uit elke drie Zimbabwiërs  (34 persent) MIV/vigs het, moontlik die grootste persentasie op aarde, in vergelyking met die wêreldgemiddelde van sowat 0,65 persent.

Die grondhervormings was boonop lank nie die enigste menseregteskending van die Mugabe-bewind nie. Ná die verkiesing van 2005 het die regering byvoorbeeld "Operasie Murambatsvina" ingestel om konsuis van onwettige markte en plakkershuise ontslae te raak. Maar waarop die opruimingsproses neergekom het, is dat ’n groot deel van die stedelike armes dakloos gelaat is. Daar is die persepsie dat hulle deur die Mugabe-bewind gestraf is omdat hulle—anders as die plattelandse kiesers—in die verkiesing meestal teen Mugabe gestem het.

Hoe lank die bejaarde Mugabe nog die leisels in sy wankele land kan vashou, is ’n ope vraag, maar sy veiligheidsmagte smoor steeds enige opstand teen sy gesag met alle mag tot hul beskikking. Intussen hou die mense van Suidelike Afrika asem op vir wat nog vorentoe kan gebeur. Nie almal stem saam met ons pres. Thabo Mbeki se beleid van stille diplomasie jeens Mugabe nie, maar almal is dit met hom eens dat dit in geeneen van ons se belang is dat Zimbabwe ondergaan nie.

Geografie van Zimbabwe

Ligging:
Suidelike Afrika, tussen Suid-Afrika en Zambië; geen kuslyn nie (die land word aan alle kante deur land omring).

 Verafrikaansde aart van Zimbabwe uit The World Factbook van die Amerikaanse CIA
Oppervlakte:
Totaal: 390 580 vk. km.
Land: 386 670 vk. km.
Water: 3 910 vk. km.
 
Landsgrense:
Totaal: 3 066 km.
Aangrensende lande: Botswana 813 km, Mosambiek 1 231 km, Suid-Afrika 225 km, Zambië 797 km. Die Zambezi-rivier vorm ’n natuurlike grens met Zambië; in volle vloed (Februarie-April) vorm die massiewe Victoria-waterval in die Zambezi die wêreld se grootste gordyn van vallende water.
 
Klimaat:
Tropies; word gematig deur hoogte bo seespieël; reënseisoen November tot Maart.
 
Terrein:
Meestal hoë plato met hoër sentrale plato (hoëveld); berge in die ooste.
 
Laagste en hoogste punte:
Laagste: sameloop van die riviere Runde en Save (162 m).
Hoogste: Inyangani (2 592 m).
 
Natuurlike hulpbronne:
Steenkool, chroomerts, asbes, goud, nikkel, koper, ystererts, vanadium, litium, tin, metale van die platinumgroep.
 

Victoria-waterval
REGS: Die magtige Victoria-waterval in die Zambezi. Die Zambezi-rivier vorm ’n natuurlike grens tussen Zimbabwe en Zambië. 
Grondgebruik:
Bewerkbare grond: 8,32%; permanente gewasse: 0,34%; ander: 91,34% (2001).
Grond onder besproeiing:
1 170 vk km (raming vir 1998, voor die chaos met die grondhervormings).  
Natuurrampe:
Herhalende droogtes; oorstromings en verwoestende storms word selde ondervind.

Victoria-waterval
  
 BO: Geen foto, sê fotograwe, kan werklik reg laat geskied aan die grandiose Victoria-waterval nie. By die val is die Zambezi meer as anderhalwe kilometer breed.

Foto met vergunning: Natalie Messelt / US Department of State

DanserDie mense van Zimbabwe

LINKS : ’n Tradisionele danser. 

Bevolking:
12 746 990 (raming vir Julie 2005). Nota: Al hoe meer Zimbabwiërs stroom na Suid-Afrika en Botswana op soek na beter ekonomiese geleenthede, terwyl die vigs-pandemie steeds meer lewens eis.
 
Etniese groepe:
Afrikane 98% (Shona 82%, Ndebele 14%, ander 2%), gemeng en Asiërs 1%, blankes minder as 1%.
 
Godsdienste:
Vermenging van Christelike en inheemse gelowe 50%, Christelik 25%, inheemse gelowe 24%, Moslems en andere 1%.
 
Tale:
Engels (amptelik), Shona, Sindebele (die taal van die Ndebele,  soms ook Ndebele genoem), talle mindere stamdialekte.
 
Geletterdheid (mense vyftien jaar en ouer wat Engels kan lees en skryf):
Totale bevolking: 90,7%; manlik: 94,2%; vroulik: 87,2% (raming vir 2003). Dit is die hoogste persentasie geletterheid in Afrika.

Landswapen van ZimbabweLandsvlag van Zimbabwe
LINKS en REGS: Die landswapen en die landsvlag.

Regering van Zimbabwe
Hoofstad: Harare.
Administratiewe verdelings:
Twee stede met provinsiale status en agt provinsies. Die stede is Bulawayo en Harare, en die provinsies is Manicaland, Mashonaland Central, Mashonaland East, Mashonaland West, Masvingo, Matabeleland North, Matabeleland South en Midlands. (Die Engelse benamings is hier onvertaald behou, omdat Engels die amptelike taal van die land is.)
 
Onafhanklikheid verkry: 18 April 1980 (van Brittanje).  
Uitvoerende gesag:
Staats- en regeringshoof: pres. Robert Gabriel Mugabe (sedert 31 Desember 1987); Mugabe was premier sedert 1980, voordat die ampte van die president en premier in die presidentsamp verenig is.
Adjunk-president: Joyce Mujuru (sedert 6 Desember 2004).
Kabinet: Die kabinet word deur die president aangestel.
 
Wetgewende gesag:
Eenkamer-parlement met 150 setels—120 vir vyf jaar gekies deur volwasse stemgeregtigdes, 12 benoem deur die president, 10 beset deur tradisionele hoofmanne en 8 deur provinsiale goewerneurs wat deur die president aangestel word.
 
Regterlike gesag: Hooggeregshof; hoë hof .  
Politieke partye en leiers:
Zimbabwe African National Union-Patriotic Front, afgekort tot ZANU-PF (Robert Gabriel Mugabe); Movement for Democratic Change, afgekort tot MDC (Morgan Tsvangirai); National Alliance for Good Governance oftewel NAGG (Shakespeare Maya); United Parties (Abel Muzorewa); Zimbabwe African National Union-Ndonga oftewel ZANU-Ndonga (Wilson Kumbula); Zimbabwe African Peoples Union, afgekort tot ZAPU (Agrippa Madlela).

Ekonomie van Zimbabwe

MuntDIE regering worstel met ’n groot verskeidenheid van ekonomiese probleme wat wissel van ’n reuse-skuldlas en hemelhoë inflasie tot leë rakke in die winkels. Die betrokkenheid van Zimbabwe in 1998-2002 by die oorlog in die Demokratiese Republiek van die Kongo het honderde miljoene dollars uit die ekonomie onttrek, om van die wyd veroordeelde grondhervormings nie eens te praat nie.

Daardie sogenaamde "hervormingsprogram", gekenmerk deur chaos en geweld, was ’n geweldige slag vir die kommersiële boederysektor, die tradisionele bron van uitvoere en buitelandse valuta en die voorsiener van 400 000 werkgeleenthede.

Geldnoot voor en agter - 20 zimdollarHoogs nodige steun van die Internasionale Monetêre Fonds bly in die weegskaal omdat die land nie sy geldelike verpligtinge kan nakom nie. Die inflasiekoers is aan die weghol en die wisselkoers het van 24 Zimbabwiese dollar per Amerikaanse dollar in 1998 gestyg tot ’n ongehoorde 26.156 Zimbabwiese dollars per Amerikaanse dollar in Oktober 2005 toe hierdie artikel geskryf is.

Vir Zimbabwe is die skrif duidelik aan die muur…

*) Sekere inligting en grafika met dank uit The World Factbook van die Amerikaanse CIA , met inagneming van hul afstanddoening van kopiereg soos vervat in die volgende stellings op hul Copyright Information-bladsy: "The Factbook is in the public domain. Accordingly, it may be copied freely without permission of the Central Intelligence Agency (CIA)."

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad