|
Kosbare
bo-lagie van die bodem onder ons voete... Die
grond van
|
|
IE
“droë grond” het sigbaar geword toe die waters onder die hemel
bymekaargekom het. Só was dit toenmaals in die skeppingstyd, soos ons
in die eerste hoofstuk van Genesis lees. Dit
was uit hierdie aarde dat groen plante sou uitspruit, “wat elkeen na
sy aard saad gee, en bome wat vrugte dra met die saad daarin, elkeen na
sy aard”. En
uiteindelik is die mens toe ook uit die “stof van die aarde” gevorm. Alle
lewe op ons planeet is verweef met die grond onder ons voete—die
boonste, los, fynkorrelrige skilletjie van ons reusagtige “ui”. Net
soos met water kan ons
hoegenaamd
nie sonder grond bestaan nie. Oor die edelstene van die aarde raak die
mens soms hebsugtig en liries, maar dit is in die heel boonste aantal
sentimeter waar feitlik al sy stoflike lewensmiddele hul beslag kry. ’n
Grondige kennis van grond is daarom so noodsaaklik... Wat
is grond? GROND
is aanvanklik verweerde rots maar uiteindelik ’n mengsel van vier
dinge: minerale, organiese stowwe, water en lug. Die minerale en organiese deeltjies word saam gronddeeltjies genoem, en afhangende van hul tekstuur, kry ons sand, sanderige leem, leem, slikleem, slik, kleileem of klei. Van alle soorte grond bevat sand die grootste deeltjies.
Foto:
ARS / US Department of Agriculture •
Minerale: Dié in grond
is uiters belangrik omdat die plante daardeur gevoed word. Die minerale
word mettertyd ook oorgedra aan die diere wat die plante vreet. Die
deeltjies wat sand en slik vorm, sluit bekende minerale soos kwarts en
veldspaat in. Klei bevat onder meer mika, kaolien en vermikuliet. Kalsium,
fosfor en kalium maak die grond vrugbaar. •
Organiese stowwe: Dit sluit
sowel lewende organismes as verrottende plante- en dieremateriaal in. In
die water en lug tussen die gronddeeltjies word ’n horde diertjies en
plantjies gevind—mikroskopies klein organismes soos protosoë, alge,
swamme en bakterieë. Daarnewens lewe baie insekte, wurms en klein skaaldiertjies in grond en breek dit op. En
natuurlik is daar die wortels van plante. Die stikstofkringloop, waaraan
plante sowel as grondbakterieë meedoen, is ’n studie op sigself. •
Water:
Hoewel die meeste water wegdreineer wat
in die grond indring, bly daar tog daarvan agter in die openinkies tussen
die gronddeeltjies. Dit word deur plante opgeneem, wat ook opgeloste
minerale en ander voedingstowwe op dié manier benut. •
Lug: Sodra die water wegloop,
word die ruimtes met lug gevul, wat noodsaaklik is vir die organismes
wat in die grond lewe. Grondlae
GROND
wat reeds geruime tyd bestaan, lê in afsonderlike lae wat horisonne
genoem word. Dié is op wisselende dieptes en die grense tussenin is nie
altyd duidelik belyn nie.
Grond wat versteur of omgewoel is—byvoorbeeld deur ploeë of vanweë
bouwerke of ernstige erosie—sal ook nie al die horisonne hê nie.
•
O-horison
= Organies. Dit
bevat stukkies blare, takkies, plantwortels en ander organiese materiaal
wat bo-op die grond lê. Op ploeglande en tuinakkers is hierdie laag nie
aangewesig nie, maar in die bogrond ingewerk. •
A-horison
= Bogrond. Baie
verrottende plante- en dieremateriaal kom in hierdie laag voor en dit is
donkerder as die onderliggende lae. Dit is die laag waarin die aarde se
plante gedy en dus ook die mees produktiewe grondlaag. As dit vernietig
word, verloor die grond sy vrugbaarheid.
Foto: ARS / USDA Die
meeste groot beskawings het in gebiede met bewerkbare grond ontwikkel.
Egipte se Nyldelta, Indië se Gangesrivier, die Indus-stroomgebied, China
se Jangtsevallei en die Tigris-Eufraatvallei het duisende jare lank
beskawings onderhou vanweë die mineraalryke grond wat jaar ná jaar uit
die berge aangespoel gekom het. •
B-horison =
Ondergrond. Omdat dit arm aan humus is, is die grond hier gewoonlik
vas en lig van kleur. Die laag bevat nietemin stowwe wat in reënwater
soontoe deurgedring het—’n proses wat loging genoem word. •
C-horison =
Moederstof. Dit is los geworde mineraal- en organiese materiaal
waarin grond gevorm word. •
R =
Rotsbodem. Hierdie vaste gesteente is
nog nie aan verwering deur die elemente blootgestel nie. Grondvorming
GROND
word gevorm met die verwering van lawarots, waarop aanvanklik net
wortellose mosse en alge kan bestaan. Mettertyd word die rots egter so
deur wind en weer vergruis dat wortelplante ’n vastrapplek kry—wat die
rots nog verder laat verkrummel.
Foto: US NPS Die
grond wat deur omgewingskragte soos die wind, water, ys,
temperatuurveranderings
en chemiese werkinge gevorm is, kan die moederstof genoem word. Oor
’n lang tyd word organiese stowwe by die moederstof gevoeg, en die grond
word her- en derwaarts verskuif en met ander grond gemeng. Geleidelik word
die grond so verander dat dit baie anders is as wat dit oorspronklik was. Met
verloop van eeue word ’n vrugbare laag bogrond op dié manier gevorm.
Die bes bewerkbare soorte grond is dié wat ryk aan minerale en humus
is. In
gebiede waar dit swaar reën, soos in die trope, kan die minerale en
organiese stowwe weggewas word sodat die grond te arm raak om te bewerk.
In streke met droë seisoene syfer grondwater uit ondergrondse bronne
boontoe en los die minerale op, wat dan ’n kors op die oppervlak vorm
wanneer die water verdamp. Erdwurms
is onteenseglik die grondbaronne van die diereryk. Hulle speel ’n uiters
belangrike rol in die opbreking en belugting van grond en die herbenutting
van organiese materiaal. Bewaar
ons grond—of gaan ten gronde
VOORDAT
die mens met sy
groot
landboubedrywighede oorgeneem het, het die natuur
veelal
’n volmaakte ewewig tussen die vorming van en verlies aan grond bewaar. Te
dikwels sedertdien het onoordeelkundige plaasbestuur egter die skreiende
vernieling van die bogrond beteken—waarvan die baie slote en dongas op
die Suid-Afrikaanse velde so somber getuig.
Foto: US Fish & Wildlife Service Kenners
het reeds ’n aantal jare gelede bereken dat sestig persent van ons land
se natuurlike weiveld in ’n swak toestand was. Die toestand van dertig
persent was redelik en slegs tien persent was goed. Dog
dit is nie slegs ondeurdagte boerdery nie, maar ook verkeerde myn- en
fabriekspraktyke wat gronderosie in die hand kan werk. Daar is al bereken
dat Suid-Afrika jaarliks 300 miljoen ton van sy grond verloor. Hoe
kan ’n mens jou so ’n groot hoop grond voorstel? Gestel jy laai
dit
in vragmotors met ’n laaikapasiteit van sewe ton, dan sal al die
vragmotors buffer teen buffer sewe en ’n half keer om die aarde strek! Wat
kan dan
gedoen word om gronderosie te keer? Dit lê voor die hand dat brande,
oorbeweiding en die slegte beplanning van landerye voorkom moet word. Maar
die aanplant van byvoorbeeld windskerms kan ook ’n groot rol speel om
winderosie by groot geploegde landerye, soos in die Mieliedriehoek, te
voorkom. (Winderosie op die Hoëveld en in die Noordwes-provinsie is soms
so ernstig dat motoriste in die stofstorms verplig is om hul motors se
ligte aan te skakel.) Terrasse
help voorkom weer gronderosie teen heuwelhange. Reënwater word só
opgevang, pleks van dat dit grond wegspoel en dongas skep. Grondbewaringstegnieke
sluit ook in die afwisseling van graangewasse met plante wat naby mekaar
groei, asook kontoerploeëry waar in die dwarste oor ’n helling geploeg
word pleks van op en af. Selfs
as jy in die stad woon, kan jy jou deel vir grondbewaring doen deur
byvoorbeeld in jou omgewing op die uitkyk te wees vir dongas. Miskien kan
jy die baas van die stuk grond help deur bome daar te plant of klippe te
pak om verdere verspoeling te voorkom. Sorg
voorts dat jy nie brande stig as jy êrens gaan piekniek maak nie—en dat
jy nie rommel strooi of roekeloos plante vernietig nie. Ook dít kan
gronderosie meebring. Om
op te som: die aarde word beskerm deur ’n “kleed”. Oorbeweiding,
onbeheerde veldbrande, onoordeelkundige verbouing en ander wanpraktyke
veroorsaak ’n onvervangbare verlies. Skeer
’n ysbeer kaal en die dier sal vrek. Verwyder die aarde se kleed en hy
sal ook vergaan. Die oorsaak van die dood sal verskil—die beer sal
verkluim, terwyl die grond deur reëndruppels flenters geslaan en deur
strome en riviere na die see toe weggevoer sal word. Maar dit wat verlore
is, is vir ewig weg.
|
|
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |