|
•
Lees ook die Mieliestronk-artikel oor
diskriminasie
IE reeks
onluste begin op 12 Mei 2008 in die township Alexandra,
in die noordoostelike deel van Johannesburg.
Suid-Afrikaners sak gewelddadig toe op mense uit
Mosambiek, Malawi en Zimbabwe, wat ’n beter heenkome in
Suid-Afrika kom soek het. Twee mense word gedood; nog
veertig beseer.
Die geweld
versprei in die daaropvolgende weke, en eers is
ongewenstes in ander Gautengse nedersettings die skyf
van die gegriefdes se teuellose woede.
Dan word buitelanders
in Kaapstad en Durban geterroriseer.
Daar is ook
verslae van aanvalle in Mpumalanga, die Vrystaat, die
Noordwes-provinsie en in die Suid-Kaap.
Die Verenigde
Nasies se Hoë Kommmissaris vir Vlugtelinge raam oplaas
dat die yslike getal van 100 000 vreemdelinge ontwortel
is, onder wie Somali’s, Ethiopiërs, Kongolese,
Zimbabwiërs en Mosambiekers. Talle van hulle soek
angsbevange skuiling in tydelike kampe, waar hulle groot
ongerief moet verduur. Baie het juis veiligheid in
Suid-Afrika kom soek nadat hulle van konflikte in hul
eie lande gevlug het.
Uiteindelik
word getel dat die onluste van Mei 2008 altesame 62
lewens geëis het. Hoewel nagenoeg ’n derde van die
oorledenes Suid-Afrikaanse burgers was, word die
aanvalle betekenisvol aan xenofobie gewyt. Dit beteken ’n
haat jeens vreemdelinge.
Vreemdelingehaat kan tot plofbare situasies lei in veral
brandarm gemeenskappe waar die stryd om te bestaan
dikwels baie hard en intens is. Dáár kan ongeduld dalk
des te makliker in ongenade ontaard. Veral teenoor ander
wat nie jou soort is nie en wat jy in die hewige
oorlewingstryd as ’n bedreiging beskou.
Die feit dat
trekarbeiders uit ander Afrika-state hier kom meeding in
’n arbeidsopset wat reeds deur soveel werkloosheid
gekniehalter word, word dan ook later as een van die
oorsake van die xenofobiese aanvalle uitgesonder. Ook
die mededinging om skaars huisvesting word as ’n rede
geďdentifiseer. Voorts die feit dat daar Suid-Afrikaners
is wat hulle verhewe sou voel teenoor mense van elders
in Afrika.
Hoewel ’n
misdadige element ongetwyfeld ook agter ’n onbekende
aantal van die aanvalle
gesit het, was dit die xenofobiese aspek wat węreldwyd
die groot nuus was. In ’n tyd waarin menseregte hoër
aangeslaan word as ooit tevore, word hierdie soort onmin
teenoor andersoortiges lank nie meer so geredelik geduld
nie.
Maar presies
wat is xenofobie—en waar lę die eintlike wortels van
hierdie verskynsel? ’n Studie van vreemdelingehaat kan
veel van wat ru en grof is in die menslike psige
ontbloot. Soos ons in die Christen-gemeenskappe dan ook
van kleintyd af leer: “Ek is van nature geneig om God en
my naaste te haat...”
AS die
woord xenofobie ontleed word, is dit straks nie soseer
’n haat nie, maar ’n vrees. Die woord is immers
saamgestel uit die Griekse woorde xenos
(vreemdeling, buitelander) en phobos (vrees),
hoewel ’n diepe afkeer natuurlik ook daarmee geďmpliseer
word. Volgens een woordeboekdefinisie kan dit dus óf ’n
vrees óf ’n afkerigheid wees, en nie net jeens mense van
ander lande nie, maar desgelyks teenoor ander kulture,
subkulture, ondergroepe en geloofsoortuigings.
Weersin
teenoor immigrante, vlugtelinge en etniese of
godsdienstige minderhede, kortom teenoor enige
“andershede”, het reeds van die vroegste tye af die mens
se geskiedenis ontsier. Woede, proteste, uitdrywings,
moorde… al sulke dinge is in die annale opgeteken waar
met geweld opgetree is teenoor andere wat vir mense
vreemd was of só beskou is.
Iets van
hierdie soort vrees of afkeer kan selfs vandag nog oral
om ons gesien word, hoewel meestal nie naastenby op so
’n dramatiese skaal nie. Jong kindertjies in
Protestantse omgewings hardloop miskien verskrik weg van
’n vrome Katolieke non wat in ’n swart gewaad in die
straat afloop, om die eenvoudige rede dat hulle nie die
gebruike van die ander geloofsgroep ken nie.
Of ek dink
dalk my nuwe eksentrieke buurman is sommer ’n boerse
takhaar en ek vermy hom ’n jaar lank soos die pes—totdat
ek agterkom hy is ’n geëerde afgetrede professor wat hom
jare lank internasionaal met sy liefdesorg teenoor
behoeftiges en hulpbehoewendes onderskei het.
Soos iemand
dit al gestel het: “Werklik, die meeste vooroordele
vind hul oorsprong in vrees vir die vreemde...”

BO: Wat sou hulle ręrig van mekaar weet... ’n
tradisionele Amerikaanse Indiaan, ’n Bedoeďen-meisie
(een van die rondtrekkende woestyn-Arbiere) en ’n
man van die San in Suidelike Afrika? Maar waar
vroeër geduld kon word dat mense met sulke
uiteenlopende kulture niks gemeen het nie en dus ook
niks met mekaar te doen behoort te hę nie, is die
norm vandag dat mense oral as mense en dus ook
medemense beskou moet word. Daarom word xenofobie in
beskaafde gemeenskappe so sterk veroordeel.
Foto’s van links: U.S. Library of Congress, New York
State Archives en USAID
EEN
verstrooide swerwersvolk wat eeue lank die smaad en onmin
verduur het van mense in die baie lande waarheen verhuis
het, is die Sigeuners, wat hulself eintlik Roma noem.
Daar word
algemeen gereken dat die Sigeunervolk in die Indus-kom
in Noord-Indië ontstaan het, waar hulle eeue lank aan
die grens van gevestigde gemeenskappe gewoon het.
Omstreeks 1000 n.C. het oorlog in die gebied hulle
gedwing om stadig weswaarts deur die Midde-Ooste uit te
wyk om geleidelik na baie lande te versprei. In die
vroeë vyftiende eeu het die eerste Sigeuners Wes-Europa
bereik.
Indien hulle
aanvanklik egter die inwoners in hul nuwe lande
gefassineer het, het die Sigeuners se opportunistiese
gewoontes die plaaslike mense spoedig vertoorn. Boonop
was baie Sigeuners besonder donker van kleur—en vir die
Middeleeuse Europeërs was dit ’n teken van
minderwaardigheid. Waar ’n misdaad ook al pleeg is met
Sigeuners in die nabyheid, is die skuld vanselfsprekend
op hulle gepak.
Europa het
teen die Sigeuners gedraai. In die jare daarna het die
owerhede die “Sigeunerprobleem” probeer oplos deur
allerhande dekrete teen hulle uit te vaardig. Baie is
verslaaf. Ander is uit stede en state verdryf. Party
lande het selfs sover gegaan as om belonings vir
Sigeuners uit te loof, dood of lewend.
Verset
teen die Sigeuners kom selfs vandag nog kol-kol voor.
In Mei 2008, byvoorbeeld, het plaaslike inwoners
Sigeunerkampe in die buitewyke van Napels in Italië aan
die brand gesteek omdat ’n sestienjarige Sigeunermeisie
glo ’n Italiaanse baba probeer ontvoer het.
Maar min
mense sal stry dat die ergste voorbeeld van xenofobie in
die moderne tyd in Nazi-Duitsland onder Adolf Hitler
voorgekom het. Dit word gewoonlik egter by ander name
genoem: anti-Semitisme of Jodehaat.
Jodehaat
was ’n kernbegrip in die Nasionaal-sosialistiese
filosofie. Hul doel was om enigiemand en alles wat Joods
was uit te wis. En vir die Nazi’s het Joods enigiets
beteken: om Joodse ouers, net een Joodse ouer of selfs
slegs een Joodse grootouer te hę.
Uiteindelik
is sowat 12 000 Jode daagliks in ’n dodekamp soos dié by Auschwitz met
gas doodgemaak en die lyke tot as verbrand om die
aaklige vergryp vir die węreld weg te steek. Teen die
einde van die Tweede Węreldoorlog was hierdie dodekamp
die begraafplaas van sowat twee miljoen Jode. Nog
miljoene is elders om die lewe gebring.
Vreemdelingehaat vorm boonop die grondslag van die
huidige, lank slepende krisis in die staat Israel, waar
dit juis weer Jode is wat as die ongewenste indringers
beskou word. Nadat Israel in 1948 as staat gevorm was om
die węreld se verstrooide Jode ’n tuisland te bied op
dieselfde stuk aarde waar hul voorvaders in die Bybelse tye
gewoon het, was daar nog nooit ’n werklike vrede in
daardie węrelddeel nie.
Vir
fundamentalistiese Arabiere in die Midde-Ooste is die
Jode opportunistiese veroweraars wat hul erfdeel kom
beleër het en geen reg gehad het om dit te doen net op
grond van hul eeue-oue aanspraak op die land nie.
’n Mens kan
van hier af verder gaan en xenofobie as ’n oorsaak noem
van talle konflikte in die geskiedenis. In Suid-Afrika
sou die Zoeloe-leier Dingane die Voortrekkerleier Piet
Retief en talle van sy manskappe in 1838 in ’n lokval
gelei en vermoor het, om die eenvoudige rede dat hy die
vreemde Boere-“towenaars” gevrees en gehaat het. (Daar
is egter ook talle ander oorsake van konflikte en
oorloë, soos magsbelustheid, hebsug, ekspansiedrange,
ensovoorts.)
Xenofobiese
aanvalle kom teenswoordig nog van tyd tot tyd in
verskillende ander lande voor. Die probleem het reeds
knellend geraak in Duitsland, wat sedert die Tweede
Węreldoorlog talle “gasarbeiders” van buite ingevoer het
om daar te woon en werk. So moes werkers uit Turkye dit
al meermale ontgeld.
REGS:
“Ons ruim op,” verkondig ’n onlangse plakkaat van ’n
ver-regse party in Duitsland. En die boodskap is
duidelik: ons is “wit skape” en moet alle “swart skape” uitskop...
Daar kan
natuurlik aangevoer word dat baie van wat vandag as
xenofobie beskou word, niks anders as diskriminasie of
selfs blatante rassisme is nie. Dit is waar, want die
verskynsels is baiemaal so verstrengel dat ’n mens nie
kan sę waar die een ophou en die ander begin nie. Almal
is gewortel in ’n aversie teenoor Jan Anderman wat nie
is soos ek self is en soos die mense naby aan my is
nie. En onbekend maak onbemind, lui die ongelukkige ou
spreekwoord.
ONS
het vroeër in hierdie artikel genoem dat armoede ’n
teelaarde vir xenofobie is. Met die groot slapte wat
hier in 2009 in ekonomieë węreldwyd voorkom, word die
aarde se armes ook noodwendig armer.
Werkloosheid
neem toe en landsburgers sien immigrante as mededingers
vir werke.
Dit kan op
verskillende plekke beteken dat die monster van
xenofobie sy aaklige kop opnuut begin uitsteek... |