Animasie van swemmende walvisseWalvisse

Die walsende reuse
  


’n Lugsprong van ’n bultrugwalvisDie skouspel duur net ’n oomblik... Sonder klaarblyklike inspanning verrys die massiewe liggaam uit die see en draai om in die lug. Dan stort sy 30.000 kg op die wateroppervlak neer en sink weg onder die skuim. Sekondes... minute gaan verby, en dan kom die reuse-dier weer te voorskyn om sagkens in die deining rondomtalie te draai. Die walvis, soos sy neef die dolfyn, lei ’n uitgelate lewe wat selfs dié van die menslike akrobaat oorskadu. En tog is party spesies groter as die grootste diere wat nog ooit op die aarde gelewe het, selfs die dinosourusse. Trouens, ’n walvis kan tot vyftien keer langer as ’n mens wees—en dertig keer swaarder weeg as ’n olifant!

 
Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com

  


DIE walvis is geen vis nie. Dit sal jy gou agterkom as jy ’n bietjie uitvis!

Visse is stomme dommerike wat bloot deur hul primitiewe instinkte gelei word. Die walvis, daarenteen, is ’n hoogs intelligente soogdier—veel nader aan ’n hond as aan ’n vis—met ’n gemoedelikheid en ’n lewenslus wat hom letterlik bo die golwe laat uitblink.

Walvis Walvishaai

  
’n Walvis (LINKS BO) en ’n walvishaai  (REGS BO)... die een is ’n soogdier en die ander een is ’n vis. En al lyk hulle met die eerste kyk nogal eenders, is daar ’n wêreld se verskil tussen die twee.

Walvis-illustrasie: Pieter Folkens / NOAA         Foto van walvishaai: Avi Klapfer / USGS

Maar hoe kan ’n mens dan tussen ’n walvis en ’n groot vis onderskei? In sy beroemde klassieke werk Moby Dick gee Herman Melville die antwoord: As hy ’n sproeifontein deur sy spuitgat uitblaas en met ’n horisontale stert die water op en af wiks, dan moet jy weet dis ’n walvis!

Daarmee het die skrywer boonop die twee opvallendste eienskappe van hierdie soogdier genoem.

Sproeiblasery van ’n blouwalvisLINKS: Daar blaas hy! Die “sproeireën” van ’n blouwalvis.

Foto: B. Lagerquist / OSU / NOAA

Dog daar is nog baie meer walvis-eskapades waarvan selfs kenners maar eers in die onlangse jare deegliker bewus geword het. Dis ’n gerol en ’n rinkinkery wat ’n mens nogal aan aërobiese oefeninge herinner.

Die baljaardery van die walvis bestaan onder meer uit loer-hoppery, lugspronge, duik, stert-dobbery, sterthoue, luiering en vinpoot-klap

HOEWEL sekere walvisspesies hulle glad nie aan vreemde voorwerpe soos skepe op die see steur nie, is baie van hulle weer propperse agies. Gevalle is bekend waar jong kalfies die rompe van skepe besnuffel het. Groter walvisse het ook al skuitjies ewe speels omgeboender. Daar is selfs beweer dat party van die diere probeer het om bote die hof te maak.

Dis ’n ou laai van die walvis om, wanneer daar ’n skip naby is, kiertsregop met sy kop bo die water te gaan staan. Hierdie gedragspatroon kan beskryf word as loer-hoppery (of spioen-spioen speel of dalk sommer skip-aspaai!).

’n Gryswalvis “loer-hop” LINKS: ’n Gryswalvis “loer-hop”.

Foto: Dave Withrow / NMML / NOAA

Om sy oë bokant die watervlak te kan hou (die oë kan twee of meer meter van die neuspunt af wees) swaai die walvis sy stert vinnig heen en weer. As die water vlak is, druk hy selfs die stert op die seebodem vas.

Die walvis kan tot dertig sekondes lank in hierdie posisie bly en, klaarblyklik na gelang van wat hy sien, afsak en verdwyn, of besluit om ’n lugsprong te doen. (Kyk foto bo-aan vir ’n bultrugwalvis se lugsprong.)

Hoewel lugspronge nie so algemeen by walvisse voorkom as by dolfyne nie, is seevaarders wat reeds hierdie kordaatstuk gesien het werklik op ’n skouspel getrakteer. Die lywige soogdier spring driekwart of heeltemal bokant die water uit en tref dit dan weer met ’n yslike slag op sy rug of sy sy.

Daar is baie teorieë oor hoekom walvisse hierdie verbasende toertjie doen. Party wetenskaplikes sê dis moontlik pure windmakery; ander reken dis dalk maar net hoe hulle die lewe geniet.

Dit kan egter ook wees dat die walvisse só met mekaar kommunikeer (die slag kan tot omtrent vyf kilometer ver gehoor word). Nog ’n teorie is dat die walvis met sy aanskoulike spronge eintlik maar slegs die baie parasiete en luise van sy vel se oppervlak verjaag.

REGS: Gedink dis net landdiere wat deur luise gepla word? Moenie glo nie. Hierdie onooglikke walvisluise toon duidelik dat walvisse hul eie probleme met sulke verpestelike bloedsuiers het.

Foto: Vicky Rowntree / Universiteit van Utah

Lugspronge kom die meeste by bultrugwalvisse en noordkappers voor.

MAAK enige boek oor walvisse oop, en dis hoogs waarskynlik dat jy iewers daarin ’n prent sal vind van ’n walvisstert—die walvis self kop onderstebo onder die water. In hul soektog na kos, duik sekere walvisspesies baie diep af. Hierdie duikery lei tot daardie kenmerkende stert-in-die-lug-houding. Walvisse soos potvisse, bultrûe en blouvinne is veral lief om só te pronk. Hulle sprei hul stertlobbe uit wanneer hulle duik en dit lyk dan baie indrukwekkend.

’n Bultrugwalvis “pronk” swart stert in die lugREGS: ’n Bultrugwalvis “pronk” swart stert in die lug.

Foto: Allen Wolman / NMML / NOAA

Noordkappers is daarvoor bekend dat hulle hul stert in die lug hou sonder dat hulle só afduik dat hulle spoedig onder die water verdwyn. Hierdie maneuver kan ons stert-dobbery noem, en daar is weer eens baie teorieë hieromtrent. Hulle wei dalk op die seebodem (die stert-dobbery vind net in vlak water plaas).

Dit is ook moontlik dat hulle só die mossels aan hul neus teen die rotse of seebodem afskuur. Daar is selfs kenners wat dink dat die walvisse die wind in hul stert opvang om soos wafferse seilplankryers oor die water te skeer. Daar is egter min getuienis om enige van hierdie teorieë te staaf.

Partykeer—so al asof die walvisse weer nie die kans deur hul "vinne" kan laat glip om ’n bietjie pret te hê nie—maak hulle ’n speletjie van hul duikery. Die stert word blitsig hoog opgelig en met ’n pletterslag afgebring. Dit staan bekend as die slaan van sterthoue.

AS ’n walvis die slag lus voel om sommer net leeg te Iê, kan hy besluit om te luier. Hy rol om tot op sy sy om die wêreld beter te kan betrag. Soms kan gesien word hoe walvisse op die see-oppervlak dryf, met die kop boontoe gedraai, of waar hulle vredig op hul rug Iê met die vinpote in die lug.

Bultrugwalvisse is bekend vir vinpoot-klap. Hulle lig een van hul vinpote op en slaan daarmee op die water. Die rede hiervoor is weer eens onseker, maar dit is waarskynlik sowel ’n soort speletjie as ’n manier van kommunikeer.

Boeg-ry is ’n ou streek van die dolfyne, die walvisse se neefs, waar hulle die stukrag van ’n bewegende skip gebruik om heel plesierig saam te ry. Reg voor die boeg (voorste gedeelte van die skip) kan hulle met die minste inspanning vooruitswem omdat die skip die water op daardie punt voor hom uitdruk. Maar onder die walvisse is dit, sover bekend, net die moordvisse wat soms ook boeg-ry.

As daar iets meer skouspelagtig is as die kaperjolle wat hierbo beskryf is, bly dit maar daardie gespuit. Vroeëre seevaarders se uitroep van "thar she blows" uit die kraaines om aan te kondig dat hulle ’n walvis gewaar het, het legendaries geword.

Die uitblasery deur die spuitgat wat op mooiweersdae kilometers ver gesien kan word, is in werklikheid ’n uitaseming vanuit die longe tesame met water wat in die neusgange vasgekeer was; die walvis trek direk hierna sy asem in.

Die tydsduur tussen asemhalings wissel van spesie tot spesie (naastenby vyf tot tien minute), maar daar is al gevind dat walvisse wat baie diep afduik, eers ná anderhalf uur asem kom skep het.

Praat van langsasems en ’n uitbundige bolmakiesie-lewe!


 Nog interessanthede omtrent walvisse 

Die borrel-nette van die waterjagters

’n Borrel-netREGS: Sekere bultrugwalvisse jag deur "borrel-nette" om hul prooi te span. Verskeie walvisse blaas borrels deur hul spuitgate en swem in ’n kring sodat hul prooi in die middel van die "net" vasgevang is. Dan swem die walvisse reguit na die middel van die borrel-sirkel en vreet die vasgekeerde slagoffers op.

Foto: NOAA
  

__________________________________

Baleinwalvisse—die reuse wat piepklein plankton vreet 

DIE blouwalvis (die een wat so lekker “sproei-blaas” op een van die foto's hierbo) is een van die natuur se paradokse. Hy is die grootste dier op aarde, maar hy vreet piepklein plankton—meestal plankton-krefies, wat as kril bekend staan. Die walvis verorber darem ook enorme hoeveelhede van hierdie kril... glo meer as vier ton daarvan op ’n gemiddelde dag.

Hierdie kordaatstuk word vermag met die buitengewone manier waarop hy vreet. Pleks van tande te hê waarmee hy hompe kos afbyt, het die blouwalvis honderde dun plaatjies genaamd balein in sy bek, waarmee hy plankton uit die water sif.
 
B
alein is gemaak van dieselfde stof as ons vingernaels. Dit  hang soos ’n gordyn van die walvis se bokaak af. Elke baleinplaat is minder as 0,5 cm breed waar dit geheg is en dan verdun dit ondertoe om aan die onderkant in ’n fraiing van borselhare te verdeel. Aanliggende fraiings lê oor mekaar om ’n ruwe mat te vorm wat ’n uiters doeltreffende filtreerder is.

As hy wil vreet, dwing die walvis water deur die mat en tussen die baleinplate deur en lek hy die kos af wat daarin vasgevang is. Gryswalvisse suig sand uit die seebodem op en gebruik dan hul balein om plankton en klein vissies daaruit te sif.

__________________________________

Beloega—die ‘singende’ walvis

Beloega
    
LINKS: Met sy kenmerkende doodsbleek liggaam en ''glimlaggende'' gesig is die beloega of witwalvis ’n enigmatiese skepsel. Die beloega het geen vere, snawel of kloue nie. Nou waarom sou hulle hom dan die ''see-kanarie'' genoem het?
    
      Fotokrediet: Great Lakes United / EHP / US National Institute of
      Environmental Health Sciences [content free online]

ONTDEKKINGSREISIGERS wat laat in die sestiende en sewentiende eeu ’n noordwestelike deurvaart van Europa na Asië gesoek het, was verstom toe hulle vreemde, voëlagtige geluide van onder uit die water hoor kom het.

Dit was voordat hulle besef het die geluide kom van ’n sekere soort walvis. Hierdie seedier staan vandag bekend as die beloega, witwalvis of ook witdolfyn.

Walvisse en dolfyne het hul eie ''taal''. Met ’n verskeidenheid kreune, krete en klikke kommunikeer hulle met ander diere van hul soort. Maar van al die walvisagtiges is dit die beloega wat sy stem die meeste laat hoor. Sy lys klanke wissel van piepgeluide soos dié van voëls tot mensagtige fluite en ’n dreigende gebrom en gebrul. Hoë gille kan selfs deur die rompe van bote gehoor word!

Walvisvangers van die negentiende eeu het die beloega die ''see- kanarie'' genoem vanweë sy tjirpende geroep. Hy word ook met toegeneentheid die ''singende walvis'' genoem.

Die naam ''beloega'' kom van die Russiese woord ''beloekha'', wat wit beteken. En dis natuurlik nie moeilik om te sien waarom die Russe hom so genoem het nie. Die kalfies is grysbruin wanneer hulle in die wêreld kom. Hierdie kleur verdof geleidelik en teen die tyd dat hulle seksueel volwasse is, is die koeie gryswit en het die bulle ’n manjifieke ivoorkleur. Die kleur help die beloega om saam te smelt met die dryfys in sy natuurlike hougebied en beskerm hom dus teen roofvyande soos moordvisse.

Soos ander walvisagtiges het die beloega ’n hoogs ontwikkelde brein. Beloegas wat gevang is, kan verskillende toertjies geleer word.

Die koue waters van die Noordelike Yssee by Noord-Amerika, Groenland en Noord-Asië is die wêreld van die beloegas. Hulle migreer egter suidwaarts na warmer kuswaters sodat die koeie daar kan kalf.

Onmiddellik ná hul geboorte kry die kalfies reguit koers na die wateroppervlak vir hul eerste asemteug. Hulle word selfs tot op die ouderdom van twee jaar deur hul ma's verpleeg.

__________________________________

Moordwalvis—die leeu van die blou water

MET brute krag lig die moordmasjien sy massiewe lyf uit die yswater—en swem meedoënloos af op ’n klompie robbe langs die kus. Hy beweeg eers parallel met die kus, doen stadig sy ''winkelkykery'' en slaan dan blitsig toe op sy keuse. Binne enkele oomblikke is die ongelyke stryd verby. Die moordwalvis-bul swem met sy buit weg en sluit hom aan by sy gesin. Kort ná die maaltyd gly hulle weer grasieus saam met hul trop deur die hemelsblou paaie van die Noordelike Yssee...

Moordwalvisse… ’n aantal jare gelede het ’n beroemde rolprent, Free Willy, die aandag skerp gevestig op hierdie besondere soort mariene soogdiere en hul merkwaardige maniere. Free Willy is bes moontlik steeds op video (of dalk al op DVD) te sien.

Baie soos die dolfyne in sy samestelling, maar ook baie soos die walvisse wat sy grootte betref, kan die moordwalvis tot sewentig jaar lank lewe. Die koeie kalf so al om die tien jaar. Die bulle kan tot nege meter lank word en sowat nege ton weeg, die koeie sewe meter en vier ton.

Moordwalvisse hou in verskillende oseane, meer spesifiek die Antarktiese en Arktiese waters, want hulle verkies blykbaar die koue gebiede.

’n Moordwalvis in ysige waterREGS: ’n Moordwalvis in ysige water.

Foto: NOAA

By Alaska is die kos oorvloedig en troppe van tot 200 kan versamel om veral salm te vang. Gewoonlik lewe hulle egter in troppe van omtrent 50, met een ''kaptein'' wat die visskole vir hulle moet opspoor. Hulle is ook lief vir robbe. In die gesin is die bul die kosversamelaar, terwyl sy naasbestaandes sowat 300 tot 400 meter van die jagveld vir hom wag.

Walvisse en dolfyne se besondere kommunikasievermoë kon nog nooit heeltemal begryp word nie, maar hulle ''gesels'' oor groot afstande met mekaar deur middel van ultrasoniese klanke. Die moordwalvis se ''taal'' bestaan uit sowat twaalf klanke en is die basis van sy sosiale lewe. Só word gekommunikeer, inligting oorgedra en selfs gevoelens uitgedruk. Ook die manier waarop ’n springende moordwalvis die water tref, is ’n deel van sy taal.

Die moordwalvis se Latynse naam is orca, wat die ''duiwel uit die hel'' beteken—en slegs die leeu as landdier kan as sy eweknie beskou word. Maar hierdie ''koning van die see'' het ook ’n deernisvolle sy, soos in Free Willy te sien is. Inderdaad dié soort dier waarom legendes geweef kan word...


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad