’n Samevoeging van verskillende

notas oor die WVK


Die Waarheids- en

Versoeningskommissie


Desmond Tutu

BO: Aartsbiskop Emeritus Desmond Tutu, wat destyds die voorsitter van die Waarheids- en Versoeningskommissie was.

Foto: U.S. National Park Service / Martin Luther King Jr. National Historic Site (foto effens gewysig)

D

IT is die Waarheid- en Versoeningskommissie (WVK) genoem. Die waarheid waarom dit hier gegaan het, was om die korrekte feite omtrent ou vergrype te openbaar. Die doel was om slagoffers sowel as diep berouvolle oortreders innerlik te reinig van die onverkwiklike dinge wat in hul verlede gebeur het.

En dit sou dan tot versoening moes lei. Belydenisse enersyds en vergifnisse andersyds sou die weg moes baan tot ’n nuwe samesnoering van die verdeelde Suid-Afrikaanse nasie. Want in die jare van apartheid – só was die persepsie – is mens van mens vervreem en dit boonop op ’n gruwelike skaal.

Desmond TutuDie WVK sou in Kaapstad gesetel wees, maar daar was ook openbare sittings in verskillende ander sentra. Die kommissie is ingevolge die Wet op die Bevordering van Nasionale Eenheid en Versoening van 1995 in die lewe geroep. Aartsbiskop Desmond Tutu is tot voorsitter daarvan benoem, met verskeie ander hooggeplaastes as lede.

Daar was ’n reeks openbare sittings, wat ook van April 1996 tot Junie 1998 deur die televisiediens van die SABC gedek is. Drie komitees het die WVK se werk behartig:

•   Die Komitee rakende Skendings van Menseregte het vergrype teen menseregte ondersoek wat tussen 1960 en 1994 gepleeg is.

•   Die Herstel- en Rehabilitasiekomitee was belas met die herstel van slagoffers se waardigheid en die formulering van voorstelle om met rehabilitasie behulpsaam te wees.

•   Die Amnestiekomitee het aansoeke van individue oorweeg wat ooreenkomstig die bepalinge van die wet om amnestie gevra het. Uiteindelik is net 849 aansoeke om amnestie toegestaan. Altesame 5392 is geweier.

Die WVK sou nietemin “herstellende beregting” ten grondslag hê. Dit verskil lynreg van die “vergeldende beregting” wat ná die Tweede Wêreldoorlog teen die Nazi-oorlogsmisdadigers van Duitsland toegepas is. Die Nazi-leiers is as kriminele verhoor deur die seëvierende Geallieerdes wat die land tot oorgawe gedwing het

HIERONDER word breedvoeriger verduidelik wat die verskil tussen die genoemde twee soorte beregting is:

 

•   Herstellende beregting:   By herstellende beregting word liggaam soos ’n kommissie in die lewe geroep. Dié moet kyk hoe die onregte van die verlede ongedaan gemaak en die verdeelhede van die strydende partye herstel kan word — straf, wraak of vergelding is nie die fokuspunt nie. Sittings van die kommissie kan gekenmerk word deur opregte belydenisse teenoor die veronregtes deur diegene wat die onregte gepleeg het. Die skuldiges kan dit vrywillig doen ná ’n onderneming van owerheidsweë dat hulle daarna vervolging sal vryspring of dit moontlik sal vryspring.  Vanweë hul erkentenisse kan die hand van vergifnis na hulle uitgesteek word. Hierna kan albei partye in die gees van medemenslikheid (“ubuntu” in Suid-Afrika se geval) vorentoe kyk en kan die toekoms sover moontlik sonder verdere haat saam aangedurf word.

•   Vergeldende beregting:  In hierdie geval word die mense wat in die verlede die onregte gepleeg het, militêr of andersins strafregtelik verhoor (voor die hof of ’n tribunaal gedaag) om verantwoording te doen vir hul dade.  Indien hulle skuldig bevind word, word hulle as kriminele gestraf en vonnisse opgelê ooreenkomstig die erns van hul vergrype. Nazi-Duitsers is destyds selfs met die dood en lewenslange opsluiting gestraf.

 

IN die oorgangstyd na volle demokrasie in Suid-Afrika, is die grondslag van die WVK reeds in die tussentydse grondwet gelê.

 

Met die skryf van hierdie tussentydse grondwet het die onderhandelaars aan die einde van die dokument ’n aanhangsel (sogenaamde “naskrif”) toegevoeg. Daarin is amnestie belowe vir misdade wat in die vorige konflik gepleeg is – iets wat die weg gebaan het vir die totstandkoming van WVK en sy vertrekpunt van herstellende beregting.

 

Albie Sachs, grondwetkundige van die ANC, glo dat die verkiesing vir alle Suid-Afrikaners in 1994 bes moontlik nie sonder die amnestie-bepaling sou kon plaasgevind het nie.

 

Dit is volgens waarnemers stellig omdat die onderhandelaars aan die “blanke” kant nooit daarmee genoeë sou geneem het nie. Dit sou immers beteken het dat hordes leiers in die apartheidsregering vervolg sou kon word sodra die ANC oorneem. Dit sou onteegseglik die onderhandelings laat ontspoor het.

 

TWEE woorde waarvan ’n mens die betekenis binne die konteks van die WVK ’n bietjie van nader moet beskou, is amnestie en ubuntu.

 

Amnestie:  Dit sou in die WVK-konteks ’n kwytskelding van straf wees vir growwe menseregte-vergrype wat in die vorige bedeling gepleeg is – in ’n gees van herstel eerder as vergelding.  Die betrokke skendings van menseregte is in die opdrag aan die WVK omskryf as doodmaak, ontvoering, marteling en ernstige mishandeling – in die tyd tussen die Sharpeville-slagting van 1960 en Nelson Mandela se inhulding as president in 1994.

 

Ubuntu:   Ubuntu is 'n hoogs verwikkelde etiese kode, 'n riglyn vir morele waardes wat diep in die Afrika-kultuur gesetel is. In hierdie besondere filosofie word die waardigheid van elke mens nagestreef, asook die intieme ontwikkeling en instandhouding van die verhoudings tussen mense. Die onderhandelaars vir ’n nuwe bedeling in Suid-Afrika het die wysheid gehad om die einste begrip in die tussentydse grondwet vas te lê sodat dit as ’n grondslag vir vergifnis in die Suid-Afrikaanse omstandighede kon dien. Dit was juis ’n sin in die aanhegsel tot die grondwet wat die behoefte aan ubuntu uitgespel het, wat ten grondslag gelê het van aartsbiskop Desmond Tutu se visie vir die taak van die WVK.

 

Aartsbiskop Tutu se verwagtinge vir die WVK was nietemin volgens sekere waarnemers te idealisties vir ’n steeds onvolmaakte wêreld – dat die openbaring van die waarheid wit en swart ten volle sou kon versoen en dat alle wrokke met’n “ekskuus tog”  uit die weg geruim sou kon word. Binne die Suid-Afrikaanse omstandighede van 1996 sou die WVK tog ’n doel dien om erge skendings van menseregte aan die groot klok te hang eerder as om te wag dat eise om vergelding miskien later in hoogs onverkwiklike rassebotsings uitbars. In dié opsig was daar dus tog ’n realisme binne die herskenskim van ’n nuut geskepte broederskap van alle Suid-Afrikaners.

 

’N INTERESSANTE episode in die bestaan van die WVK was toe Winnie Mandela voor die kommissie verskyn het. Tutu pleit by Winnie Mandela om te erken sy is jammer vir haar betrokkenheid by die dood van Stompie Seipei, omdat hy agting het vir haar uitmuntende rol in die vryheidstryd maar hy begeer dat sy dit moet betreur dat iets so “verskriklik, ontsettend verkeerd” geloop het. Hy smeek haar ook om haar jammerte te bely omdat hy haar  “steeds omhels”  en vir haar lief is.

 

Winnie Mandela reageer egter bloot met ’n dankwoord aan die paneel en dan ’n verskoning aan Seipei se ma. Hierna haal sy die heuningkwas uit om haar “vader” Tutu se “wonderlike wyse woorde” te besing en ook sy stelling te beaam dat dinge “ontsettend verkeerd” geloop het. En sy eindig net deur te sê dat sy baie jammer is oor die dinge wat so erg verkeerd geloop het – geen gebieg oor haar eie rol in die tragedie nie. Geen wonder dat baie mense voel dat haar “apologie” eintlik waardeloos was nie!

 

Nog ’n insident wat opspraak gewek het, was toe die gewese Vlakplaas-bevelvoerder Eugene de Kock vir P.W. Botha en ander Nasionale Party-leiers as “lafaards” uitgekryt omdat hulle hul lakeie die vuil werk sou laat doen het, maar hulle in die steek sou gelaat het sodra vrae gestel is oor wie die opdrag gegee het.

 

UITEINDELIK kan met reg gevra word  of amnestie en “herstellende beregting” inderdaad die beste strategie was wat Suid-Afrika in 1994 kon gevolg het.

 

Baie ontleders sal beaam dat daar geen twyfel kan wees dat Suid-Afrika destyds geen beter weg as die verlening van amnestie en die toepassing van “herstellende beregting” kon bewandel het nie.

 

Trouens, as ons deur middel van “vergeldende beregting” die pad sou geloop het van die Geallieerdes teen die Nazi-leiers, sou daar stellig geen minlike skikking gewees het nie – en sou Nelson Mandela en F.W. de Klerk nooit saam die Nobelprys vir vrede in Oslo, Noorweë, ontvang het nie.

Ondanks die vele tekortkominge van die WVK, wat miskien al hoe duideliker word namate die jare aanstap, het die versoenende benadering in die oorgang na die nuwe Suid-Afrika soveel vrugte afgewerp dat die beginsel in sekere mate ook deur ander lande nagevolg is wat ná politieke omwentelings oor skendings van menseregte moes beslis.

Daar was natuurlik ’n ingrypende verskil tussen die situasies in Duitsland en Suid-Afrika. Die Nazi-Duitsers is in die Tweede Wêreldoorlog militêr verpletter. Maar wat altyd onthou moet word – dog steeds nie maklik deur ANC-politici genoem word nie – is dat die ANC die ou regime in Suid-Afrika nie eens naastenby militêr verslaan het nie.

 

Met die ineenstorting van die Kommunisme en die verbrokkeling van die gewese Sowjet-Unie, het die vrees verdwyn van Suid-Afrika se blankes dat hulle deur die “Rooi Gevaar” oorrompel sou word indien die swartmense hier sou oorneem. Die blankes is toe deur die wêreldmening – en nie die minste nie ons mense se eie gewete – gedwing om oor magsdeling te onderhandel.

 

Dit kos baie waagmoed en opoffering van enigiemand in ’n gesagsposisie om met ’n teenstander te onderhandel wel wetende dat jy op ou end jou heerskappy sal inboet. Dit is iets wat nie maklik in enige ander land op aarde herhaal sal word nie. Net deur bloedige gevegte wat selfs miljoene lewens kos, word bewindsveranderings soos dié in die reël bewerkstellig.

 

Suid-Afrika is dus ’n massale bloedbad gespaar, asook die verwoesting van kosbare infrastruktuur landwyd wat noodwendig met sulke burgeroorloë gepaard gaan. Uiteindelik sou daar nie verloorders wees nie – net wenners.

 

Maar as die ANC in die jare negentig nie die versekering wou gee dat apartheidsleiers agterna nie hof toe gesleep sou word nie, kan met reg aangeneem word dat ons vandag nog geen nuwe Suid-Afrika sou gehad het soos ons dit ken nie.

 

Staatsregtelik beteken amnestie meer as blote vergifnis – dit wis letterlik elke wetlike gedagtenis aan die oortreding uit. Die woord het in der waarheid dieselfde wortels as die woord amnesie, wat geheueverlies beteken.

 

In die geskiedenis was daar wel ander gevalle waar amnestie toegepas is as ’n versoenende gebaar van die owerheid teenoor die gemeenskap. ’n Klassieke geval is die amnestie wat Amerika se pres. Jimmy Carter in die 1970’s verleen het aan manne wat vantevore weens gewetensbesware of ander redes die oorlog in Viëtnam ontduik het. Amerika se betrokkenheid by die Viëtnamese oorlog het baie teenkanting in die VSA self gehad.

 

Desmond TutuREGS: Desmond Tutu.

 

Foto: U.S. White House

 

Maar in Suid-Afrika sou amnestie ’n veel dieper dimensie verkry as dit – en sou die ANC-regeerders ook van hul kant af bereid moes wees om ’n eeu van onreg in belangrike opsigte onvoorwaardelik te vergewe. Dat hulle ingestem het om hier toe te gee, spreek eweneens boekdele vir die staatsmanskap van Nelson Mandela en onderhandelaars soos Cyril Ramaphosa.

 

Uiteindelik was dit ubuntu wat geseëvier het. Die wêreld het ’n waardevolle les geleer in die taktiek van genesing eerder as die blinde geroep om vergelding en ’n oog vir ’n oog.

 

Soos die gewese aartsbiskop Tutu onlangs nog aan ’n tydskrifjoernalis vertel het: “Baie mense erken die edelmoedigheid van dié wat die slagoffers (van apartheid) was, het eintlik ons land gered.”

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad