Wolraad Woltemade

Held van die stormsee

 

Wolraad Woltemade se reddingsdaadDie skimmelhings wring deur die see;

die ruiter spoor hom aan.

Matrose wanhoop waar hul skip

in wind en weer vergaan.

“Kom, ek wil julle red!” skreeu hy,

die durfal op sy ros.

Weet hy dan nie sy heldemoed

gaan ook sy lewe kos?

 

Die onbaatsugtige daad van Wolraad Woltemade, wat op 1 Junie 1773 veertien skipbreukelinge gered het deur herhaaldelik die Kaapse stormsee op sy perd te trotseer—en in dié proses self verdrink het—word vandag steeds as een van die grootste heldeverhale in die Suid-Afrikaanse geskiedenis beskou…

 

Illustrasie word tot openbare besit gereken (“in the public domain”) vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom
 


D

IS die jaar 1773 by die Kaap van Storms. En ’n skip is aan die vergaan. ’n Bejaarde weldoener wat dit nie kan aanskou dat die skip se matrose sommerso omkom nie, jaag vreesloos met sy perd in die see in om hulle te help.

 

In en uit worstel ruiter en dier Wolraad Woltemade se reddingsdaaddeur die beukende golwe. Van die drenkelinge word twee-twee deur die onbaatsugtige redder na die land gebring. Sewe keer slaag hy, maar nie die agtste slag nie en sy laaste reddingspoging eindig tragies.

 

Geskokte toeskouers op die strand sien hoe hy saam met sy uitputte perd in die onstuimige see verdwyn.

 

Die reddingsdaad van Wolraad Woltemade op 1 Junie 1773 word vandag steeds gehuldig as een van die grootste heldeverhale in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Selfs in ons veranderde tye word sy onverskrokkenheid met diepe ontsag onthou.

 

Maar presies wie was hierdie Woltemade? En watter skip se bemanningslede het hy so te hulp gesnel? Die laaste vraag moet miskien eerste beantwoord word, voordat ons van naderby met hierdie held kennis maak en meer verneem omtrent die heroïese dag toe hy sy naam in die Suid-Afrikaanse annale verewig het.

 

DIE SKIP was De Jonge Thomas, ’n seilskip van 1150 ton wat aan die Verenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) behoort het. Die VOC was die Nederlandse maatskappy wat destyds die Kaapse nedersetting bestuur het—trouens reeds sedert Jan van Riebeeck se koms in 1652—want die Kaap was ’n verversingspos vir VOC-skepe op die handelsroete tussen Nederland en die Ooste.

 

Die Verenigde Oost-Indische Compagnie het bestaan uit ’n handjievol handelskamers, byvoorbeeld dié van Amsterdam, Delft en Rotterdam, wat uit vroeëre kompanjies gevorm is. De Jonge Thomas is in 1764 in die Amsterdamse skeepswerf vir die Amsterdamse handelskamer gebou.

 

Hoewel sowat ’n dosyn ander skepe oor die jare in Tafelbaai vergaan het weens storms wat deur die venynige noordwestewind opgeklits is, sou niemand toe nog kon geweet het dat dieselfde tragiese lot ook De Jonge Thomas te beurt sou val nie.

 

Die nukke van die noordwester, wat in die wintermaande die somer se berugte suidooster aan die Kaap vervang, was so gevaarlik vir die brose seilskepe van ouds dat die ou Kaapse goewerneurs skepe verbied het om van Mei tot Augustus in Tafelbaai anker te gooi. Pleks daarvan moes hulle die kalmer waters van Simonstad, aan die ander kant van die Skiereiland, gaan opsoek.

 

Maar party kapteins onderweg na Batavia in die Ooste was so haastig dat hulle hierdie instruksie geïgnoreer het—en soos dit moes gebeur ook die kaptein van De Jonge Thomas. Die skip het van Texel in Noordwes-Nederland vertrek en is reeds op sy eerste skof, teen die weskus van Afrika af, so deur teëspoed getref dat die dood van 70 mense aan boord in die Kaap aangemeld is. Boonop was daar 41 siekes, wat toe in die Kaapse hospitaal opgeneem is.

 

Tot oormaat van ramp word die groot waagstuk om in die winter in Tafelbaai voor anker te lê, op Sondag, 30 Mei 1773 duidelik toe die skip in ’n hewige noordwestelike storm beland. Spanningsvolle ure sleep verby en die storm raak al hoe hewiger, soseer dat die ankertoue later een vir een breek. Uiteindelik, in die vroeë ure van 1 Junie, word De Jonge Thomas by Woodstock-strand naby die monding van die Soutrivier op die sand gedryf.

 

Die golwe slaan verwoed teen die skip. Die einde is in sig. Paniekbevange matrose staar ’n waterdood in die gesig.

 

Baie van die 191 siele—of, volgens ’n ander bron, 207—sterf dan ook terwyl die skip begin opbreek. Tog is daar ’n aanmerklike aantal oorlewendes wat aan die romp van die skip bly vasklou. Omdat die skip nie te ver van die land is nie, probeer sekeres nietemin om land toe te swem, net om deur die onstuimige koue water gestuit en deur die stroom van die Soutrivier dieper die see ingesleur te word en te verdrink. Net die heel sterkste swemmers bereik die strand.

 

Op die land staan mense magteloos en toekyk hoe die drenkelinge sterf en die skip verbrokkel. Ongelukkig is daar egter ook die onvermydelike spul menslike aasvoëls wat net wag om iets te gaps van die skeepsvrag wat besig is om op die land uit te spoel.

 

Om die orde te bewaar, stuur goeweneur Joachim van Plettenberg dus ’n dertigtal soldate soontoe. Onder hulle is daar ook ’n korporaal, ene Christian Ludwig Woltemade, wat ná dagbreek verras word toe sy bejaarde pa te perd daar aankom en vir hom kos bring. Dis ’n bottel wyn en ’n brood.

 

Die pa se naam is Wolraad Woltemade. Hy ry op sy perd Vonk. En die lot van die weerlose klomp skipbreukelinge gryp die ou man aan die hart....

 

WOLRAAD WOLTEMADE (glo eintlik Woltemathe) is nagenoeg in 1708 gebore in Hesse-Schoumberg, ’n deel van die huidige Duitsland, wat egter toe nog ’n lappieskombers van talle min of meer onafhanklike state was. Soos baie ander Duitse en Nederlandse avonturiers, wat in bestendige stroom na Amsterdam in Nederland gegaan het, het Woltemade hom mettertyd ook soontoe begewe en by die VOC se werwingskantoor in die stad aangeklop.

 

Nie elke safte Jan Rap en sy maat is daar in diens geneem nie. Kompanjieswerkers moes sterk wees, opgewasse vir die taak. Die manne is in groepe van tien, vyftien op ’n slag gekeur. Elkeen het om die beurt ’n geweer gekry en moes ’n paar militêre oefeninge uitvoer.

 

’n Offisier het die geskikte mans uitgesoek en hul name en geboorteplekke aangeteken. Nadat een groep mans gekeur was, is die volgende groep toegelaat. Soms was die gedrang glo iets ysliks. Soos een bron dit stel: “Dis verbasend om te merk dat die drukte van die aansoekers so groot is dat mans af en toe doodgedruk of ernstig vermink word in die stormloop na die deure van die werwingskantoor.”

 

Hoe ook al, Woltemade het sy aanstelling gekry, hoewel dit nie aan ons bekend is presies wanneer en met watter skip hy Kaap toe gekom het nie. Sy naam verskyn egter in 1752 vir die eerste keer op die VOC-rol wanneer daar na hom verwys word as ’n 44-jarige korporaal in bevel van die Kompanjiespos by Steenberg.

 

Daar word vermoed dat hy daarna weer tydelik teruggekeer het na Europa—sy vrou, ’n sekere Janna Charlotta, het hom immers nooit Kaap toe gevolg nie—maar in 1770 was hy weer aan die Kaap en wel as poshouer in Muizenberg. ’n Jaar later was hy voorman van die Kompanjie se melkery, en in die jaar toe hy oorlede is, was hy die opsigter van die Kompanjie se dieretuin.

 

Woltemade het twee seuns gehad, sy enigste kinders, en sy oudste seun was ten tyde van sy dood in Batavia in diens van die VOC. Dit was egter sy jongste, Christian Ludwig, wat op daardie geskiedkunige dag in 1773 ook ’n getuie sou wees van sy heldhaftigheid en dramatiese einde.

 

TOE die nagenoeg 65-jarige Wolraad Woltemade die strand nader op sy getroue Vonk, sien hy die jammerlike toneel voor hom: talle van die skip se bemanningslede wat magteloos aan die wrak klou, hul paniese hulpkrete oordonder deur die onbeteuelde pletterhoue van die see.

 

Is daar dan niks wat iemand kan doen nie? Is daar geen mens wat hulle kan help nie? Woltemade se meegevoel oorheers sy sin vir selfbehoud en hy kap sy hakke in ou Vonk se lieste. Oor die sandhelling pyl ou man en perd tot in die branding, dan beur hulle ylings voort in die rigting van die gestrande skip.

 

Of daar geen tou op die strand is nie en of Woltemade in sy ywer nie dink om dit te gebruik nie, is onbeantwoorde vrae. Die feit is dat hy die golwe sonder ’n verbinding met die land aandurf. Die perd is in elk geval ’n goeie swemmer wat sy baas slaafs gehoorsaam en moedig sy pad deur die onrustige waters baan.

 

Toe hulle die wrak van De Jonge Thomas nader,  swenk Woltemade sy perd en roep dat twee manne in die see moet spring en ou Vonk se stert moet gryp. Twee van die matrose maak soos Woltemade hulle gevra het en word in veiligheid na die strand gesleep.

 

WoltemadeWeer, weer en weer—altesaam sewe keer—worstel die meelewende ou Duitser met sy perd na die wrak en terug, elke keer om twee mans te red, totdat hy naderhand veertien aan land gebring het. Maar ná die sewende keer steier die perd van volslae uitputting. Woltemade klim af om die arme dier te laat rus. Dog ’n kreet van wanhoop styg van die wrak af op, wat hom aanspoor om ’n agtste reddingspoging aan te durf.


Woltemade se seun smeek sy pa om nie weer die see in te ry nie. Sy gesoebat val op dowe ore. Van die matrose wat besef dat dit waarskynlik Woltemade se laaste rit is, verloor hul selfbeheersing. ’n Sestal spring in die water en klou aan die perd vas. Een onbedagsame matroos gryp Vonk se toom en trek sy kop onder die water in. Die einde kom vinnig toe die perd, sy ruiter en die matrose almal onder die water verdwyn.

 

Geen verdere pogings word aangewend om van die oorblywende manne op die wrak te red nie. Toe dit nag word, kyk die skipbreukelinge hoe die strand leegloop, en regdeur die nag klou hulle steeds in hul deurweekte ellende aan die wrak. Die weer klaar geleidelik op.

 

Op die oggend van 2 Junie is die see steeds onstuimig, maar die oorlewendes kan van die wrak af na die strand toe waad. Woltemade se lyk word ook op dié dag gevind.

 

Bronne verskil oor hoeveel van die 191—of 207—manne op De Jonge Thomas die skipbreuk oorleef het en stel dit wisselend op altesaam 67 of slegs 53. Oor die 14 van die totaal wat deur Woltemade gered is, is daar egter eenstemmigheid. Dit lyk of daar ’n verwarring bestaan of die 14 reeds by die totaal gevoeg was of nie.

 

Só het dit dan gebeur dat ’n Kaapse melkman en dieretuinopsigter met sy eie lewe betaal het om die lewens te red van ’n hele klompie mense wat hy nie eens geken het nie. Wanneer ons ons dapperstes vereer vir dade van selfopofferende moed, is dit gepas ons die naam van Wolraad Woltemade en sy gewillige perd sal onthou.

 

WOLTEMADE is wel nie onmiddellik as ’n held beskou nie. By die Kasteel is wyd gereken dat hy ’n bemoeisieke dwaas was wat onnodig sy eie dood gesoek het. Maar die Sweedse plantkundige Carl Thunberg, wat die reddingsdaad aanskou het, en die bioloog Anders Spaarman, wat ook destyds in die Kaap was, het altwee die verhaal gepubliseer en dit wyd en syd verkondig.

 

Boonop het oorlewende skipbreukelinge ook van Woltemade se heldedaad vertel, en mettertyd het die Here Sewentien, die beheerliggaam van die VOC in Nederland, daarvan verneem. Uiteindelik is ’n aansienlike bedrag aan sy weduwee betaal en gelas dat sy twee seuns ook vergoed word uit erkentlikheid vir sy “grootmoedige, getroue en allesins merkwaardige daad”. Selfs ’n nuwe VOC-skip is na hom genoem: De Held Woltemade.

 

Latere geslagte van Suid-Afrikaners sou Woltemade nie vergeet nie. Iets meer as twee eeue ná sy reddingsdaad, in 1976, is die sleepboot Wolraad Woltemade van 94,6 meter lank in Brittanje gebou, wat jare lank aan die Suid-Afrikaanse kus sou opereer.

 

Enkele jare voor die ingebruikneming van die sleepboot , op 2 Junie 1973, is ’n reeks gedenkseëls ter ere van Woltemade se heldedaad in Suid-Afrika uitgereik.

 

Die Woltemade-Dekorasie vir Dapperheid, wat in 1970 ingestel is as die hoogste burgerlike dekorasie vir dapperheid, is in 1988 deur die Woltemade-Kruis vir Dapperheid vervang. In 2002 het die toekenning van die Woltemade-Kruis verval met die oog op die instelling van ’n nuwe Suid-Afrikaanse vereringstelsel.

 

Maar ’n groot begraafplaas in Kaapstad dra steeds Woltemade se naam. Daar is ook ’n Woltemade-stasie. Voorts is Klein Zoar in Milnerton, wat vermoedelik sy huis was, vandag ’n nasionale gedenkwaardigheid.

 

En dit waarvoor Wolraad die hoogste offer gebring het—onselfsugtige barmhartigheid tot elke prys—was miskien nog nooit so navolgenswaardig as in ons moderne tyd nie waarin talle mense liewer anderpad kyk as om mekaar te help en hulle so min aan ware medelye steur.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad