Eerste Węreldoorlog 

Slagskepe vs. duikbote
— die verbete stryd ter see

Op die oop see het Brittanje en sy bondgenote koning gekraai met hul slagskepe, maar in die dieptes onder die golwe het die vindingryke Duitsers met hul duikbote hul eie skrikbewind gevoer…

Die Britse "Grand Fleet" in die slag by Jutland

’n Duitse UC-1-klas-duikboot BO: Die Britse "Grand Fleet" in die slag by Jutland, die enigste groot seeslag in die Eerste Węreldoorlog. Dit was ook die laaste groot seegeveg waar kanon teen kanon ingespan is. Die koms van die vegvliegtuig — en vliegdekskepe later — sou die hele aard van die seeoorlog ingrypend verander.


BO: ’n Duitse UC-1-klas-duikboot. In die Eerste Węreldoorlog het die Duitsers duikbote as hul vernaamste seewapen aangewend en ’n hele vloot daarvan gebou. In 1917 het Duitsland soveel Geallieerde skepe met torpedo’s uit duikbote gekelder dat selfs gevrees is dat die duikboot dalk die oorlog kon beslis.

Foto’s openbare besit vanweë verjaring van kopiereg
 

  Hierdie artikel moet in samehang gelees word met veral hierdie ander artikels oor die Eerste Węreldoorlog:

  Die oorsake, die verloop, die bitter duur prys
  
  Die bloedige stryd in die loopgrawe en revolusionęre nuwe wapens
 


A

AN die een kant was daar die Geallieerde Magte—vernaamlik die Britse Ryk, waaronder Suid-Afrika, asook Frankryk, Italië, die keiserlike Rusland en mettertyd ook Amerika. Ter see het hulle met hul sterker vlote ’n blokkade probeer afdwing om die vyand se noodsaaklike toevoerroetes af te sny. 

 

Aan die ander kant was daar die Sentrale Magte. Gelei deur Duitsland, Oostenryk-Hongarye en die Ottomaanse Ryk, het hulle op hul beurt deur die blokkade probeer breek of gepoog om self Brittanje en Frankryk met hul duikbote en roofskepe doeltreffend te blokkeer.

 

Die uiteinde was ’n afgedankste nederlaag ter see vir Duitsland en sy bondgenote, net soos dit op die land gebeur het. Die Eerste Węreldoorlog se stryd op die oseane by Europa sou nie die dodelike sofistikasie van dié van die Tweede Węreldoorlog hę nie, maar as ’n oefening vir die andersoortige seeslagte van die latere jare bly dit steeds van groot historiese belang.

 

Dit is interessant dat van die oorlogskepe wat in die Eerste Węreldoorlog gebruik is, selfs sekere basiese ooreenkomste toon met oorlogskepe wat vandag nog bestaan. Maar daar is natuurlik ook enorme verskille.

 

Die skepe van die destydse oorlogsvlote het byvoorbeeld aanvanklik hul seegevegte met  kanonne en torpedo’s besleg—en die beste skip met die beste kanonne het altyd die beste kans gehad om te wen.

 

Maar daardie era was nie bestem om veel langer as die negentiende eeu te duur nie. Trouens, die seeslag by Jutland in die Eerste Węreldoorlog tussen die vlote van Brittanje en Duitsland was die laaste groot seegeveg waar kanon teen kanon ingespan is.

 

Teen daardie tyd was ’n nuwe wapen aan die ontwikkel—die vliegtuig. Dié sou nie net die aard van die seeoorlog ingrypend verander nie, maar ook aan alle toekomstige oorloë ’n nuwe, aakliger wending gee.

Reeds voordat die Eerste Węreldoorlog in 1918 geëindig het, is die vliegtuig nuttig aangewend, maar feitlik nog slegs as ’n verkenningswapen. Vandag kan geen vloot egter doeltreffend funksioneer sonder sy honderde vliegtuie wat hom moet beskerm en wat ook moet aanval nie. Dit het ’n nuwe soort oorlogskip laat ontstaan: die vliegdekskip.

Die Eerste Węreldoorlog was ook ’n belangrike impetus vir die neiging om al hoe groter slagskepe te bou. Aan die enigste groot seeslag in daardie oorlog—juis dié van Jutland—het skepe deelgeneem wat reeds 30 000 ton geweeg  het. Party van die skepe van die Eerste Węreldoorlog is selfs nog in die Tweede Węreldoorlog gebruik, wat meer as twee dekades later uitgebreek het.

Maar hoe het die seestryd eintlik verloop in daardie "Great War"—soos dit genoem is— die oorlog van 1914 tot 1918?

Die Geallieerde baasskap op die oop see

VAN 1916 af het albei kante nuwe planne beraam om die oorlog in hul voordeel te beëindig, en in dieselfde jaar het die Duitse vloot, wat nog altyd by die hoofbasis in die Oossee-hawe Kiel gelę het, die oop see probeer bereik.

Die slag by Jutland het die vloot egter na Kiel teruggedwing, waar dit vir die res van die oorlog gebly en die heerskappy ter see in Geallieerde hande gelaat het. Die groot Duitse vloot—die naasgrootste vloot ter węreld, waarmee keiser Wilhelm II van Duitsland so behep was en wat soveel gedoen het om betrekkinge tussen Brittanje en Duitsland te versuur—het geblyk ’n tandelose bulhond te wees.

Die oppergesag van die Geallieerdes op die oop see was dan ook die vernaamste faktor vir Brittanje se behoud, want daardeur kon die onontbeerlike kosvoorrade aangebring word, terwyl die kuste geblokkeer is waardeur die Sentrale Moondhede belangrike oorlogsvoorrade en voedsel moes kry. Voorts is die Britse vloot gebruik om vyandelike kolonies te verower, die seeweë oop te hou en troepe en voorrade na die gevegsterreine te vervoer.

Duikbote: die Duitse skrikbewind onder die golwe

DIE Duitsers het egter nie die Geallieerde oppermag op die oop see so gelate aanvaar nie. Hulle het hulle tot duikbote gewend wat in die donker dieptes onder die see kon opereer en uit die bloute kon toeslaan waar en wanneer hulle die minste verwag is.

Wat meer sę, die Duitsers het duikbote as hul vernaamste seewapen aangewend en ’n hele vloot daarvan gebou. In 1917 het Duitsland soveel Geallieerde skepe met torpedo’s uit duikbote gekelder dat selfs gevrees is dat die duikboot dalk die oorlog kon beslis.

Met behulp van hul duikbote het die Duitsers die toevoer van kos en krygstuig na Brittanje probeer afsny. Hulle het alle skepe getorpedeer waar hulle hulle ook al kon bykom, of die skepe nou aan onverbonde of aan oorlogvoerende lande behoort het.

Die VSA, wat eers nie by die oorlog betrokke was nie, het heftig hierteen beswaar gemaak en aangevoer dat hy as onverbonde land ongehinderd met enige vegtende land moes kon handel dryf.

Toe die Duitsers egter volhard en aanhou om die Amerikaanse skepe tot sink te bring, het Amerika hom in 1917 by die Geallieerdes aangesluit en oorlog teen Duitsland verklaar. Die toetrede van vars troepe uit Amerika, met sy haas onuitputlike bronne van geld en voorrade, het die gety ten gunste van die Geallieerdes laat keer—en dit het grootliks tot die Duitse neerlaag in 1918 bygedra.

Die ontwikkeling van dieptebomme om duikbote te vernietig het ook ’n rol gespeel om die Duitse ondersese skrikbewind te knielhalter. Van buite gesien was die dieptebom weinig meer as ’n klomp plofstof in ’n blik of trommel, wat in die water gegooi is op die plek waar ’n duikboot min of meer sou wees.

Die dieptebom het dan in die diepte afgesak, en wanneer die drukking van die water groot genoeg was, het dit ontplof. Só ’n ontploffing onder die water was hewig genoeg om elke duikboot in die omgewing summier inmekaar te pers.

Hoe het die duikbote destyds gefunksioneer?

DIE duikbote wat in die Eerste Węreldoorlog (en ook in  die Tweede Węreldoorlog) gebruik is, het almal dieselmasjiene gehad.

Wanneer só 'n duikboot op die oppervlak vaar, is daar ’n regstreekse koppeling tussen die masjien en die skroef wat die boot aandryf. Maar omdat hierdie masjiene so baie lug vir die ver­branding van die dieselolie nodig het, kan hulle glad nie gebruik word wanneer die duikboot onder die water is nie. Dan word elektriese motore in werking gestel wat deur ’n groot stel batterye van krag voorsien word.

Die duikboot moet egter telkens weer na die oppervlak kom, sodat die dieselmasjiene die batterye kan herlaai voordat hulle kragteloos word. Só 'n herlaaiing kan verskeie ure duur, en in dié tyd kan die duikboot deur vyandelike vliegtuie opgespoor en vernietig word. Menige duikboot is gekelder terwyl dit op die opper­vlak gelę het om batterye te laai.

Hierdie probleem is eers in 1955 (ná altwee die Węreldoorloë) opgelos toe die Amerikaners die eerste duikboot voltooi het wat deur kernkrag aangedryf is. Omdat geen lug of suurstof vir die opwekking van kernkrag nodig is nie, kan dieselfde motore ewe goed onder as bo-op die water gebruik word. ’n Kernduikboot kan dus dae en selfs weke en maande lank ononderbroke onder die water rond­vaar. Daar moet net gesorg word dat die bemanning genoeg vars lug het.

Radiokommunikasie ter see in die Eerste Węreldoorlog

DIE ontwikkeling van radiokommunikasie aan die einde van die negentiende en die begin van die twintigste eeu, het aan al die strydende magte in die Eerste Węreldoorlog ’n tydige hulpbron besorg—nie die minste nie aan die soldate en matrose ter see.

Op die Italiaanse ingenieur Guglielmo Marconi se prestasie in 1901 om die eerste radiosein oor die Atlantiese Oseaan te stuur, het allerhande innovasies gevolg. Een van die eerste gebruike van die radio was juis om senders en ontvangstoestelle op skepe aan te bring. Die belangrikheid daarvan is in 1909 prakties gedemonstreer toe al die passasiers deur middel van die radio gered is toe die twee skepe Republic en Florida ter see gebots het.

Die militęre beperkinge van die Eerste Węreldoorlog het wel ’n onderbreking in die ontwikkeling van kommersiële radio-uitsendings beteken, maar daar was groot vooruitgang in radiokommunikasie op militęre gebied. Aan die einde van die oorlog in 1918 was al die tegniese toerusting beskikbaar wat nodig was om van die radiowese ’n groot bedryf in diens van die mensdom te maak.

Dis ironies dat daar dikwels ook baie nuttige dinge uit verwoestende oorloë te voorskyn kom.


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad