’n Węreld van leef en laat lewe waarin elke vandaal sy druiwe sal teëkom!

Volhoubare landboupraktyke by wingerdbou

Opskrif: Op dreef met die druiwe!

Druiwe van verskillende kleure en geure

BO: Druiwe van verskillende kleure en geure.
Foto: Jack Dykinga / ARS / U.S. Department of Agriculture
 

Wingerd

BO: Die druiwe raak ryp in die wingerd...

 

Foto deur Jerzy Kociatkiewicz,

wat dit op hierdie bladsy by flickr op die węreldwye web  gepubliseer het en dit gelisensieer het ingevolge die

Creative Commons Attribution-Share Alike 2.0 Generic-lisensie,
waarkragtens hergebruik op sekere voorwaardes vergun word

Volhoubaar beteken implisiet dat volhard sal word—dat aangehou sal word om die bodem te benut en dit nie uit te buit nie sodat die geslagte van die verre toekoms ook sy vrugte kan ge­niet. En dit geld natuurlik ook vir wingerdbou, wat in Suid-Afrika so ’n belangrike bedryf is...

 

      Lees ook die Mieliestronk-artikel Deur die wingerd vir die verhaal van druiwe en wyn

Die teks van hierdie artikel is goedgunstiglik vir Mieliestronk.com nagegaan deur Geďntegreerde Produksie van Wyn (IPW) en goedgekeur

D

IE idee van volhoubare wingerdbou—waar die omgewingsimpak beperk word by die maak van wyn—het in die onlangse jare besonder gewild geword.

 

Besware dat dit baiemaal so vaag bewoord word en aan soveel interpretasies onderhewig is dat dit waardeloos sou wees, word weerlę deur belangrike internasionale sowel as plaaslike inisiatiewe wat die gedagte van volhoubaarheid in die wynlande intensief propageer—en goed daarin slaag om die boodskap tuis te bring.

 

Daar is immers niks vaags aan hierdie samevatting van die definisie van die Amerikaanse Kongres van wat volhoubare landbou is nie: Volhoubare landbou is landboupraktyke wat ekonomies lewensvatbaar is, die ekologie beskerm en die mens dien.

 

Vir volhoubare wingerdbou geld natuurlik dieselfde definisie.

 

In Suid-Afrika is die inisiatief deur die wynboubedryf geneem met die bekendstelling in 1998 van ’n vrywillige skema wat op volhoubaarheid in die bewaring van die omgewing gemik is. Die skema staan bekend as Geďntegreerde Produksie van Wyn (Integrated Production of Wine), afgekort as IPW. Wyn van die oesjaar 2000 was die eerste wat ingevolge hierdie skema gesertifiseer is.

 

Hoewel deelname vrywillig is, het 90 persent van ons wynuitvoerders, wat 95 persent van ons geoeste druiwe verteenwoordig, hulle reeds by die skema aangesluit. Vyftien riglyne vir die produksie van druiwe en dertien vir die produksie van wyn vorm die tegniese basis van IPW.

 

Wynkopers word gewaarborg dat produsente wat die skema onderskryf, hul druiwe met die volle inagneming van moontlike omgewingsimpakte verbou het en dat die wyn op ’n verantwoordelike wyse geproduseer is deur die omgewing te bewaar en die wyn veilig vir die verbruiker te maak.

 

IPW vereis dat elke plaas ’n bewaringsplan vir sy natuurgebiede (indien van toepassing) moet hę, sowel as ’n omgewingsbestuursplan vir die bewerkte gedeeltes van die plaas (boerdery-aktiwiteite). Dit is belangrik dat alle werkers en inwoners op die plaas met die bepalings van die omgewingsplan vertroud sal wees.

 

Wyn in ’n glasFoto van wyn in ’n glas:
U.S. National Institute of Environmental
Health Sciences / Free online

 

Internasionaal word volhoubaarheid ook voorgestaan deur die Internasionale Organisasie vir Wingerd en Wyn (akroniem OIV, afgelei van sy naam in Frans, naamlik L'Organisation Internationale de la Vigne et du Vin). Dit is ’n tussenregeringsorganisasie wat met tegniese en wetenskaplike aspekte rondom wingerdbou en wynmaak te doen het. Die OIV het sy basis in Parys, Frankryk, en in 2008 het 44 lande tot die organisasie behoort.

 

Maar wat beteken volhoubare wingerdbou in die praktyk?  Met die onderstaande vertelling oor die bewerkingsmetodes, besproeiing, bemesting, ens. betree ons ’n interessante wynwęreld van leef en laat lewe waarin elke onverskillige vandaal beslis sy spreekwoordelike druiwe sal teëkom!

 

Wingerde op die Meerlust-landgoed buite Stellenbosch

 

BO: Wingerde op die Meerlust-landgoed buite Stellenbosch in die Wes-Kaap.

Detail van ’n foto deur F Malan,
wat dit by die Wikipedia-projek op die węreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)

 

Bewerkingsmetodes

WINGERDSTOKKE word betreklik maklik gekweek en kan baie lank aan die lewe bly. By die Reinethuis-Museum op Graaff-Reinet is byvoorbeeld ’n reusagtige druiwestok wat in 1870 geplant is en steeds druiwe dra. Die verantwoordelike kommersiële wynboer se doel is egter nie net om sy wingerde aan die lewe te hou nie, maar om op ’n volhoubare grondslag gehaltedruiwe vir die mark te lewer en vele jare lank darem ’n behoorlike wins daaruit te maak. Daarom is die kies van ’n geskikte terrein die eerste en mees beslissende stap in die hele proses van volhoubare wingerdbou.

 

Die makroklimaat van ’n streek is ’n belangrike faktor as dit by die keuse van ’n terrein vir wingerdontwikkeling kom. Die voornemende wingerdboer sal hom dus vanselfsprekend allereers laat lei deur feite soos of sy grond in ’n gevestigde wingerdstreek geleë is of nie. Indien nie, moet hy seker maak dat hy druiwekultivars kweek wat die beste in sy eie omgewing sal aard. Hy sal boonop verskillende ander faktore in aanmerking moet neem, byvoorbeeld dat erge ryp ’n groter gevaar in die binneland is as, sę, in die Boland.

 

Maar die mikroklimaat is ewe belangrik, dit wil sę die klimaat in die klein węreldjie in en rondom die wingerd. Dit het ’n groot invloed op die druiwestokke. Die groei kan byvoorbeeld afhang van hoe goed die blare aan die son blootgestel is en hoe lank die plante nat bly en vatbaar is vir siektes nadat dit gereën het.

 

Die terreingesteldheid is dus hier van kardinale belang. Lę die wingerd teen ’n helling, kan grondbewerking nie net moeiliker wees nie, maar ’n mens moet ook deeglik in ag neem in watter rigting op die kompas die helling geleë is. Hellings wat byvoorbeeld noord wys, ontvang meer sonlig as dié wat suid front.

 

Dit bring ons dan by die eintlike bewerking van die wingerd. Respek vir die grond bly deurentyd die hoofsaak in volhoubare wingerdbou. Dis immers die medium wat die wingerdstokke van voedingstowwe voorsien en die druiwe hul kenmerkende geur gee, en die verantwoordelike wynboer sal sorg dat sy grond nie so verniel word dat dit later geslagte lank so goed as onbruikbaar is nie. Met grondvernieling word byvoorbeeld die blindelingse toediening van skadelike chemikalieë bedoel. Goeie grond wemel van voordelige organismes wat deur onbesonne boederymetodes gedood kan word.

 

Voordat ’n mens dus jou lap aarde gereed maak vir ’n wingerd, moet jy die grond laat ontleed om vas te stel watter voedingstowwe (bemesting) nodig sal wees. (Ondertoe word meer oor bemesting vertel.)

 

Raak ontslae van ou wingerdstompe as die grond reeds beplant is, want sulke stompe kan dalk siekteverwekkende organismes herberg. Trouens, jy moet alle plantwortels en onkruid verwyder voordat jy die grond begin omspit om dit los en bewerkbaar te maak.

 

As jy jou stokke plant, gebruik stokke en onderstokke wat vry is van ernstige virussiektes en geskik is vir plaaslike toestande. Spasieer die stokke 2 tot 2,5 meter van mekaar. Besproei gereeld in droë toestande, maar moenie toelaat dat die plante deurweek raak nie, want dit kan veroorsaak dat die wortels vrot.

 

Die plante sal in die lente begin groei as jy hulle in die herfs geplant het. Indien jy hulle in die lente plant, sal hulle wel ’n sekere groei toon, maar bes moontlik sal jy ’n jaar of twee moet wag voordat jy enige druiwe het.

 

In die tweede jaar word die wingerdranke opgelei. Dit word gedoen deur hulle aan priële of stellasies te heg in die rigting waarheen jy wil hę hulle moet groei. Mettertyd sal jy ’n snoeiskęr nodig hę om jou wingerd se ranke terug te sny en sodoende beter druiwe-oeste te verseker. Die beste tyd vir wintersnoei sal van die plaaslike klimaat afhang. Die verantwoordelike wingerdboer sal dan die gevaar van besmetting met siektes na sy beste vermoë probeer beperk. Hy sal ook snoeiwonde beperk om die risiko van houtvrotsiektes te verminder.

 

Onkruidbeheer is noodsaaklik in wingerde, omdat onkruid met druiweplante meeding. Baie onkruiddoders is al ontwikkel wat die wingerd sal “skoonmaak” van die grasse en onkruid wat daarin floreer, maar werkers met skoffels sal die taak beter verrig—en op die koop toe op ’n baie meer omgewingsvriendelike manier. ’n Sekere mate van grondbedekking is boonop wenslik omdat dit gronderosie kan voorkom. Werkers kan dus selektief te werk gaan met hul skoffelpikke waar onkruiddoders die grondbedekkers voor die voet uitwis.

 

Intussen sal die wynboer wat volhoubare praktyke voorstaan, hom ook deurentyd daarvoor bewyer om sy grond in die goeie kondisie te hou wat dit was toe hy sy druiwe geplant het. Sy instandhouding van die grond om die optimale toestande vir goeie wingerdgroei te verseker, behels dat hy maatreëls sal tref teen erosie en grondkompaktering, asook dat hy sal keer dat belangrike voedingstowwe daaruit wegspoel.

 

Die grond kan onder meer beskerm word deur die maak van terrasse en die toediening van ’n deklaag van blare, strooi, kompos of iets dergeliks. Let egter daarop dat organiese bobemesting slegs moet dien om duidelik waarneembare gevestigde tekorte of verwagte tekorte te behandel.

 

Die bestryding van plae in die wingerd moet met groot omsigtigheid gedoen word. Hier kan die geval genoem word waar skimmel so ’n probleem in ’n wingerd geword het, dat die werkers dit elke vyfde dag met kopersulfaat bespuit het. Tog het hulle steeds die helfte van die oes verloor.

 

Koper word in organiese en biodinamiese wingerdbou toegelaat omdat dit “elementęr” is en wingerdstokke dit in baie, baie klein hoeveelhede nodig het. Maar dit breek nie af wanneer dit in die grond is nie en te veel daarvan kan uiteindelik wingerdgroei belemmer.

 
Dit sluit aan by een Italiaanse verslag waaroor ernstige kommer oor die verwording van die grond in wyngebiede uitgespreek word:
“Ongelukkig is daar tans ernstige probleme met baie van die grond selfs in beroemde (wyn-)streke weens die misbruik daaarvan, en die behoud van die grond se vermoë is in ernstige gevaar. Nog ’n bron van kommer is die akkumulasie van vreemde molekules, veral koper en ander swaar metale. Ons sal spoedig oplossings moet vind wat meer aanpasbaar is by volhoubare produksie en ’n langdurige leweringsvermoë van die grond.”

 

Besproeiing

IN ’n publikasie waarin die Internasionale Organisasie vir Wingerd en Wyn (OIV) riglyne vir volhoubare wingerdbou verskaf, kom besproeiing ook onder die loep. Die OIV beveel onder meer aan dat die volgende in ag geneem word (as ’n mens hul ietwat breedsprakerige aanbevelings in die vertaling korrek interpreteer en kondenseer!):

Ř       Allereers moet alle tegnieke toegepas word om waterverkwisting te keer.

Ř       Watertoediening moet in die verskillende stadiums van die wingerd se ontwikkeling gegrond wees op die produksiedoelwit (hetsy wyn, tafelduiwe of rosyntjies).

Ř       Die risiko van ’n nadelige impak op die omgewing, veral sover dit grondversouting en die ondergrondse water aangaan, moet vermy word ten einde volhoubare wingerdbou te verseker.

Ř       Voorkeur moet gegee word aan die doeltreffendste besproeiingstegnieke, soos mikro- en drupbesproeiing, en die uitwerking daarvan op die verspreiding van die wortelstelsel moet in ag geneem word. Kontrolering van die water in die grond en in die wingerdstokke moet ’n prioriteit wees ten einde te bepaal wanneer besproei moet word en hoeveel water die wingerd moet ontvang.

Elders benadruk kenners dat drupbesproeiingstelsels in die begin van elke seisoen nagegaan moet word om seker te maak dat daar ’n egalige waterverspreiding is. Hulle wys ook daarop dat die waterbehoeftes van die wingerd toeneem in die mate dat die blaaroppervlakke in die lente en somer vergroot.

 

Bemesting

OOR bemesting (voeding vir die wingerd) beveel die OIV onder meer aan:

 

Ř       Waar bemesting toegedien word, moet dit net genoeg wees om die produksie van gehaltedruiwe te verseker, die gesondheid van die wingerd te handhaaf en ’n balans in die grondvrugbaarheid te bewerkstellig.

Ř       Die hoeveelheid bemesting, soos stikstoftoeding, moet waar moontlik beperk word en veral gegrond wees op ontledings van die grond en/of plantweefsel en waarnemings van die plante se groeikrag.

Ř       Voorkeur moet aan die herwinning van organiese voedingstowwe gegee word.

Ř       Bemestingstowwe of grondopknappers wat stowwe bevat wat giftig of skadelik vir die omgewing kan wees, soos spoormetale, organiese mikro-besoedelaars of patogeniese mikro-organismes, moet ten volle beheer word.

Ř       Bobemesting met blare moet slegs doen word om duidelik waarneembare gevestigde tekorte of verwagte tekorte te behandel.

 

Prieelbeheer en oeste

Druiwe’N ANDER aspek wat met volhoubare wingerdbou verband hou, is prieelbeheer, met doeltreffende belugting en verligting om te verseker dat die druiwe gesond groei. Dit sluit natuurlik kundige snoeiwerk in, waarna reeds verwys is.

 

En by die oes van die druiwe sal die verantwoordelike wynbouer ook die beginsels van volhoubaarheid voorop stel. Hy sal byvoorbeeld waar moontlik eerder sy werkers gebruik om oesmasjiene skoon te maak as om potensieel skadelike chemiese skoonmakers aan te wend.

 

Maar daarmee moet ’n mens seker volstaan. Die onderwerp van volhoubare wynbou sal immers boekdele kan vul.

 

Gevolgtrekking

DIE begrip volhoubare wingerdbou is nie iets soos ’n modegril wat uit die woordeskat kan verdwyn nie. Dit is ’n noodsaaklikheid in die wynbedryf, soos beklemtoon word deur die feit dat die grootste gros van Suid-Afrika se wynuitvoerders dit volmondig ondersteun.

 

Volhoubaar beteken implisiet dat volhard sal word—dat aangehou sal word om die bodem te benut en dit nie uit te buit nie sodat die geslagte van die verre toekoms ook sy vrugte kan geniet.

 

Dit is iets waarna ons almal behoort te streef.

 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad