|
ET jou huiskat
(Felis catus)
dalk agt slymerige vangarms? Nee. Kruip kietsie gereeld op die
seebodem rond op soek na prooi? Natuurlik nie. Het katte geen tande
nie, maar iets wat soos ’n snawel lyk, is hulle sonder inwendige
geraamtes en beweeg hulle polsend deur die oseane deur water in te
trek en weer uit te blaas? Nooit gesien nie!
Nou waarom noem ons dan ’n seekat
’n see-KAT?
Goeie vraag. Vir die Nederlanders
is “de gewone zeekat” die Europese inkvis of tjokka (Sepia
officinalis), wat
in die Noordsee en elders voorkom. Hulle noem dit ook die sepia en
in Engels heet dit die “European Common Cuttlefish”.
Min mense sal stry dat hy en ’n kat
bloedmin na mekaar lyk (kyk die foto hierbo), behalwe as jy straks
absurb wil raak en sy vangarms met ’n kat se snorbaarde wil
vergelyk. Maar dalk is dit sy roofsugtige jaggewoontes wat die Nederlanders aan
die katte laat dink het. Of miskien is dit die Engelse cuttle—uitgespreek
“kattel”—wat tot kat in Nederlands afgekort is, as ’n mens
nou oor die herkoms van die woord seekat moet bespiegel.
Ons het die woord uit Nederlands
oorgeneem en die betekenis daarvan só verbreed dat ons geen
bepaalde ou agtarm as “ ’n gewone seekat” sal uitsonder nie.
Soos die Engelse met hul “octopus” is alle seekatte dus
maar vir ons gewoon—of eintlik hoogs ongewoon, as ’n mens mooi
daaroor dink. Die meeste
van ons lewe immers nie so naby aan die see soos die mense van
Nederland nie en ken nie veel meer seediere as dié wat as visvingers
of so iets op ons borde beland nie!
Hoe ook al, seekatte
behoort tot die weekdierklas van die koppotiges
of sefalopode, wat ook ewe monsteragtige kreature soos die pylinkvisse insluit.
Ander as die klas van buikpotiges, wat sowel op land as in vars en
sout water aangetref word, is hulle natuurlik slegs seelewend.
Daar is nie seekatte in varswatermere of in die varswater-bolope van riviere
nie.
Eintlik word altesaam
nege of tien klasse weekdiere erken, waarvan twee heeltemal
uitgesterf het. Hulle kom in ’n groot verskeidenheid van omgewings
voor.
Party, soos die sefalopode, is goed bekend. Ander, soos die
monoplasofore, word net in fossielskulpe gekry, of in die diepste
waters van die Stille, Indiese en Atlantiese Oseaan. ’n Aantal van
die klasse wat almal in die see woon, word hieronder van nader
bekyk.
Cephalopoda
• Kyk ook uitgebreide
Mieliestronk-artikel oor
die seekatte en hul verwante—klik
hier
SEEKATTE, pylinkvisse, inkvisse en seilslakke
vorm ’n groep weekdiere wat die sefalopode genoem word. (Cephalopoda
is die Latynse klasnaam.) Die sefalopode, of koppotiges, word
gekenmerk deur ’n duidelik waarneembare kop, met ’n kring van
aanhangsels rondom die mond wat arms of pote genoem word. Daar is
dikwels suiers of suigorgane aan hierdie arms of vangarms. Hul oë is
buitengewoon goed ontwikkel, byna net soveel as by die hoër
gewerwelde diere.
Op die oog af is
die kopotiges glad nie soos die
ander weekdiere nie. Dié is in die reël klein. Sefalopode,
daarenteen, is onder die grootstes van alle ongewerweldes van die
see.
Die reuse-pylinkvis van die diepsee se liggaam kan byvoorbeeld 6 m
lank word en, as sy arms bygereken word, langer as 20 m. Hy kan meer
as twee ton weeg.
Weekdiere soos slakke en naakslakke is regte trapsuutjiese, en
klipmossels byna onbeweeglik, terwyl hulle meestal plantdeeltjies
vreet. Maar sefalopode is blitse wat hul prooi met straalaandrywing
agtervolg en dit vinnig verorber soos roofsugtige karnivore.
Anders as by die meeste ander weekdiere, is die sefalopode se skulpe
óf inwendig óf heeltemal afwesig. Die papier-nautilus of
papier-seilslak is egter ’n uitsondering: die wyfie bou ’n sierlike
wit skulp wat sy kan vergroot om haar eiers te huisves of kan
herstel as dit beskadig raak. Maar die spiere is nie aan die skulp
vas nie.
Die mannetjie bou nie sy eie skulpe nie, maar skuil in dié van die
wyfie.
Die ware nautilus woon in die Stille Oseaan. Hy het vyftig of meer
tentakels.
Polyplacophora (voorheen
bekend as Amphineura)
DIE skulpe van hierdie primitiewe groep
weekdiere lyk na miniatuur-wapenrustings.
Die skulp bestaan uit agt oormekaar vouende plate al met die rug
langs. Die plate word omring deur ’n vlesige gordel van
mantelweefsel wat hulle bymekaar hou en die dier toelaat om maklik
te buig.
Hierdie diere het nóg oë nóg voelarms, maar is sensitief vir lig en
beweeg net snags rond.
Hulle word wèreldwyd aangetref, veral in tussengety-gebiede, waar
hulle hardnekkig aan rotse of skulpe vasklou met ’n enkele breë,
plat voet. As hulle van ’n rots losgemaak word, rol hulle hul op.
Hulle is meestal ovaalvormig en klein, hoewel die grootste tot sowat
35 cm lank kan word.

BO: In die klas
Polyplacophora, voorheen bekend as Amphineura—die
gemonteerde chitienskulp van Acanthopleura spinosa. As jy
nie kop of stert van hierdie oog- en armlose skepseltjie kan
uitmaak nie: sy voorkant is links.
Foto deur
Peter Halasz (Pengo)
van Melbourne, Australië,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web
gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 2.5
-lisensie. Kortom, vrye
gebruik en afgeleide werke van die foto word vergun op
voorwaarde dat die lisensiehouer behoorlik erken en dit
slegs versprei sal word ingevolge ’n lisensie wat identies
is aan hierdie een.
Amptelike lisensie
Lamellibranchia (die tweekleppiges)
REGS:
’n Ou illustrasie van verskillende tweekleppiges.
Uit Ernst Haeckel se Kunstformen der
Natur (1904). Openbare besit (“in the public domain”) vanweë die
verval van kopiereg weens ouderdom
ONDER hierdie groot klas van weekdiere, wat ook
bekend staan as die tweekleppiges, tel die skulpdiere soos mossels
en oesters wat die mens graag eet.
’n Beroemde lid van hierdie groep, die pêreloester, lewer een van
die meeste gesogte juwele, naamlik die pêrel.
Soos die naam aandui, word die tweekleppiges se skulpe deur twee
skeibare dele gekenmerk. Die kleppe beweeg aan “skarniere”.
Terwyl hulle rus, hou die diere hul skulpe oop. Maar wanneer hulle
bedreig word, laat spiere wat aan die skulpe vas is die kleppe
toeklap.
Namate die dier begin ontspan, of as die spiere moeg word, gaan die
skulp geleidelik oop. Dan is die gevaar meestal verby.
Die meeste tweekleppiges woon in vlak seewater, maar ’n paar word in
mere en groot rivierbeddings aangetref. Baie begrawe hulself in
sand en modder, en ander kleef weer aan rotse.
Scaphopoda (die
“olifantstande”)
|
REGS: ’n
Skulp van die tandskulp-spesie Antalis vulgaris
(van Roscoff, Frankryk).
Foto deur
Hans Hillewaert,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web
gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 2.5-lisensie. Kortom, vrye
gebruik en afgeleide werke van die foto word vergun op
voorwaarde dat die lisensiehouer behoorlik erken en dit
slegs versprei sal word ingevolge ’n lisensie wat identies
is aan hierdie een.
Amptelike lisensie
|
 |
IN die omgang word hulle tandskulpe of
olifantstande genoem, en die diere van hierdie klas lyk inderdaad soos
klein olifantstande.
Die skulpe is hol buise wat ietwat geboë is en aan die een kant
nouer word. Die meeste is wit, hoewel party rooi, groen of geel kan
wees.
Die skulpe is weerskante oop. Die voete is aan die onderkant en is
toegerus om in die sand of modder van die seebedding te grawe.
Lang, dun tentakels groei uit die kop en dien as sensoriese en
kosvang-organe. Die prooi sluit klein organismetjies soos protosoë
en jong tweekleppiges in.
Monoplacophora
IN 1952 is ’n verstommende ontdekking gedoen.
Verskeie lewende weekdiere van die spesie Neopilina galatheae,
wat geleerdes gereken reeds in die aarde se jong dae uitgesterf het,
is in ’n monster seebedding-modder gevind wat aan die kus van Costa
Rica uitgehaal is.
REGS:
Neopilina galatheae.
Gegrond op ’n foto deur / Based on a
photo by Dr. John B. Burch, Ph.D. Mollusk Division, Museum of
Zoology, University of Michigan
Sedertdien is nog lede van dieselfde klas op groot dieptes aan die
kuste van Sentraal- en Amerika gevind. Drie moderne spesies word
vandag erken.
Hierdie primitiewe diere het ’n enkele pieringvormige skulp en lyk
op die oog af na klipmossels, hoewel hul liggame simmetries is en
hulle meer inwendige organe soos niere en kieue het.
Soos ’n paar ander diere wat eers as uitgesterf beskou en toe gevind
is, is hierdie “lewende fossiele” net ’n paar van die ontelbare
menigte verrassings in die natuur.
|