REEKS IN DRIE HOOFSTUKKE
 
 Ons Wonderlike Weekdiere (1):

    
Buikpotiges van die land en vars water
 

 Met ’n slakkegang...

Tuinslak
  
BO: ’n Tuinslak sit sy beste beentjie voor—en dit is
natuurlik ook sy enigste beentjie (of voet)!

Foto deur die Flickr-gebruiker “macrophile”/ John D.,
wat dit op hierdie bladsy by Flickr op die wêreldwye web geplaas en gelisensieer het ingevolge die  Creative Commons Attribution 2.0 Generic-lisensie

Slibberig, glibberig, vraatsugtig en traag... die woord “slak” is al ge­noeg om eni­ge tui­nier te ver­toorn. En die slak se skulp­lose neef, die naak­slak, is ewe on­wel­kom in ons tuine. Waar jy kom, word die slak­ke on­der voete ver­trap. Maar kyk goed na hier­die so­ge­naam­de “ver­pes­tings” op die plan­te: hul ver­nuf­tig ge­vormde skul­pe, hul son­der­linge ogies voor­aan hul voel­ho­rings, die ver­stom­men­de ma­nier waar­op hul­le be­weeg. Ook húlle is deel van die won­der­like skep­ping. Lees verder, en sta­dig maar se­ker sal jy ook met an­der oë na die slak kyk. Waar hy nie tot ’n in­dringer­spe­sie be­hoort nie, vorm hy ook ’n be­lang­rike deel van die bro­se ewe­wig in die na­tuur...

    IN HIERDIE REEKS:     
Klik op die skakel vir die
 hoofstuk van jou keuse >>>

1. Buikpotiges van die land en vars water
2. Buikpotiges van die oseane
3. Ander weekdiere

S

KULPE by die waterkant, siersels in die spierwit sand... Wie het nog nie langs die see geloop om die pragtige kalkomhulsels van die oseaan se weekdiere op te tel en te bewonder nie?

Maar die nederige tuinslak is die stiefkind. Pleks van bewonder te word, word hy versmaad. En met gifstowwe uitgeroei omdat hy allerweë as pes en planteverwoester beskou word. Spore van slym laat hy na waar hy ook al beweeg... en sy skulp is gewoonlik ’n bra doodse bruin of grys en sal beslis geen prys vir skoonheid kan wen nie.

Dog die tuinslak is, waar hy natuurlikerwys voorkom, wel ’n deel van die groot natuurplan. Saam met die naakslak speel hy ’n kardinale rol in die ekologiese kringloop. Hy verskaf kos vir tallose amfibieë, reptiele, voëls, soogdiere en ander slakke en naakslakke, en plaas onmisbare chemikalieë terug in omloop.

In hul natuurlike habitat word die slakke se getalle deur hul vyande in bedwang gehou. Hul teenwoordigheid in vreemde omgewings, waar hulle onberekenbare skade aan oeste kan aanrig, is egter die gevolg van die inmenging van die mens.

WingerdslakREGS: ’n Hoogs onwelkome indringer—’n “ingevoerde” Europese wingerdslak wat in ’n tuin in Bellville in die Kaap gekry is. Sy soort is baie volop in hierdie deel van die land, veral omdat dit nie sy natuurlike hougebied is nie en hy dus byna onbeteueld kan voortwoeker.

Krediet: MSKARG


Die verwenste wingerdslak van die Wes-Kaap is byvoorbeeld ’n immigrant uit Europa. En dan is daar die reuse-Afrika-slak wat ’n vreeslike vernieler van peulpante en sitrusbome is. Omdat hy so groot is—sowat 15 cm lank—moet hy baie vreet. Hy teel ook ontsettend vinnig aan. Net een slak kan tot vierhonderd eiers op ’n slag lê—verskeie kere in ’n jaar. Hy het nou, weens die mens se bedrywighede, na Madagaskar, Indië, die Filippyne, Taiwan en Hawaii versprei.

Daar is wel ’n paar landslakke, veral die boomslakke van die trope, wat mooi gekleurde en dikwels glansende skulpe het wat net so pragtig is as sommige van die gesogte seeskulpe.

REGS, Die reuse-Afrika-slak, Achatina fulica, is buite sy natuurlike habitat een van die skadelikste landslakke op ons planeet. Hy kom oorspronklik van ’n gebied suid van die Sahara in Oos-Afrika, maar het nou ook al verskeie ander vastrapplekke elders op die aardbol gevind. Die slak is ’n regte bielie—altesaam 20 cm lank, met die skulp wat die helfte van die lengte uitmaak. Reuse-Afrika-slakke kan tot nege jaar lank lewe en elk kan duisende afstammelinge genereer.   Elke slak het natuurlik boonop sowel vroulike as manlike voort­plantings­organe.  En hulle het nie net ’n reuse-aptyt deurdat hulle minstens 500 soorte plante vreet nie, maar is boonop die draers van ’n parasiet wat een soort meningitis by mense verwek.

Illustrasie: APHIS / U.S. Department of Agriculture

Reuse-Afrika-slak

 ’n Landslak van binne

 ’n Landslak van binne

Illustrasie deur Al2, met wysigings deur Jeff Dahl,
wat die Engelse weergawe op hierdie bladsy by Wikimedia Commons geplaas het. Afrikaanse skrif op die verdere gewysigde weergawe hierbo is deur Mieliestronk.com. Kopiëring, verspreiding en/of modifisering van die item word vergun ooreenkomstig die bepalinge van die lisensie GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige latere weergawe wat deur Free Software Foundation gepubliseer word; sonder Invariante Seksies, sonder Omslagtekste vir die Voorkant en sonder Omslagtekste vir die Agterkant. ’n Kopie van die lisensie is vervat in die seksie getiteld "GNU Free Documentation License".


 

Bou van ’n slak

DIE opvallendste kenmerke van ’n tipiese tuinslak is die spiraalskulp en gespierde voet.

Binne-in die skulp is die viserale boggel, wat baie van die organe bevat. Die liggaam begin by die vlesige kop, met sy twee paar intrekbare tentakels (voelhorings). Die langste paar bevat gewoonlik die oë.

Onder die tentakels is die mond, met daarbinne ’n vyl-agtige tong, die radula, wat plantmateriaal opskeur. Die groot gespierde voet word gebruik om te beweeg. Die voet kan uit die skulp reik en weer daarin terugtrek. Daar is ’n klier  aan die voet wat ’n gladmakende slym afskei.

By die meeste naakslakke bestaan die skulp uit ’n paar korreltjies of ’n dun plaat wat onder die mantel versteek is. Maar by slakke is die skulp ’n indrukwekkende kalkagtige struktuur wat die spysverteringstelsel, hart, niere en voortplantingsorgane huisves.

 

Naakslakke van die landREGS: Naakslakke van die land.

 

Foto: U.S. National Park Service

 

 

Die meeste slakke het ’n harde, dekselagtige struktuur, die operkulum genoem, wat hulle kan gebruik om hulself binne-in die skulp te verseël.

Binne-in die skulp is sekere vlesige weefsel wat die mantel genoem word. Spesiale kliere in die mantel vervaardig die stof wat die skulp word. Die mantelruimte word vir gaswisseling gebruik. Alle landslakke haal met longe asem.

Die slak het ’n oop bloedstelsel, wat beteken dat die bloed die bloedvate verlaat op pad na die weefsels, wat direk in bloed gebaai word.

 

Klassifikasie

SLAKKE en naakslakke behoort tot die belangrike phylum Mollusca. Dit is die naasgrootste phylum in die diereryk (die Arthropoda, wat insekte en spinnekoppe bevat, is die grootste) en omvat nagenoeg 93 000 erkende, tans lewende spesies.

Molluske of weekdiere is ekonomies van groot belang. Seemolluske, soos mossels en oesters, is gunstelinge by die fynproewers van seekos. En, hoewel sekere mense nog bra neusoptrekkerig daarvoor is, word landslakke ook op baie spyskaarte gevind.

Die skulpe van molluske word gebruik om talle nuttige dinge te maak, van asbakkies tot juwele. In die ou tyd was dit selfs ’n betaalmiddel. En die pêrels uit die pêreloesters is waarskynlik die waardevolste weekdierproduk.

Uiteraard vorm molluske ’n belangrike skakel in die voedselkettings op land en in die water. Sonder hulle sou baie diere ander soorte kos moes vind.

Altesaam nege of tien klasse weekdiere of mulluske word erken, waarvan twee heeltemal uitgesterf het. Hulle kom in talle verskillende omgewings voor. Verreweg die volopste sover dit die groot verskeidenheid van spesies aangaan,  is die Gastropoda, of buikpotiges, wat slakke en naakslakke insluit. Die ander klasse sluit weer in bekende seediere soos mossels, pylinkvisse, tjokka en seekatte, maar ook minder bekendes.

Van die Gastropoda (uit die Grieks gaster vir buik en podos vir voet) is daar  tienduisende spesies, wat deur verskilende bronne op nagenoeg 60
.000 tot 75.000 en selfs soveel as 80.000 gestel word. Daar is tans 409 families, maar  fossiele toon dat nog minstens 202 families vroeër bestaan het.

 

Die lang voet waarop hierdie diere gly, is inderdaad ’n onderskeidende kenmerk. Alle landmolluske behoort tot hierdie klas, asook talle weekdiere van die water.
 

Habitat

DIE buikpotiges van die land word in die meeste natuurstreke gevind, hoewel hulle in die droë gebiede skaars is. Hul vermoë om hulle in die mikroklimate van hul skulpe te verseël, het sekere spesies in staat gestel om hulle in onwaarskynlike hougebiede te vestig. Slakke is byvoorbeeld selfs al op die besneeude pieke van die Himalaja gevind.

Die woestynslak Helix desertorum woon weer naby oases in die Sahara. Daar word vertel dat twee van hierdie woestynslakke in 1846 aan karton vasgegom en in die Britse Museum uitgestal is. Vier jaar later het ’n navorser gewonder wat sou gebeur as die uitgedorde kreatuurtjies in water geplaas word. Hy het hulle toe inderdaad in die water gedompel en een van die slakke het werklikwaar die lang dors oorleef!

Die meeste van die buikpotiges van die land word in klam, vogtige, beskutte gebiede aangetref waar daar volop humus is. Hulle maak hulle tuis in gras, boomstompe, onder klippe, op moerasagtige plekke, mos, sandduine en in woud-afval. Party woon in ondergrondse holtes.

Hul verspreiding hang af van die beskikbaarheid van kalsium en geskikte humus of ander kos, asook van ’n geskikte vogtige omgewing.
 

Hoekom so stadig?

VIR baie mense is die slak die toonbeeld van stadigheid, altyd aan’t voortskuifel en nie gebore in staat om haastig te wees nie.

Baie mense reken hy is so traag omdat hy sy huis op sy rug moet dra. Maar die skulp het niks te doen met die slak se gebrek aan spoed nie. Trouens, die naakslakke het geen skulpe nie, maar is net sulke harmansdruppe.

Die langsame beweging word deur die struktuur van die voet bepaal. Dit lyk of die slak met sy lyf kruip, maar hy beweeg eintlik op sy voet. Spiere binne-in die voet beweeg met ’n golfbeweging en stu die liggaam vorentoe.


Huis, paleis...

’N SLAK se skulp moet sy trots en vreugde wees. Die skulp bestaan gewoonlik uit drie lae—’n buite-, middel- en binnelaag—waarvan elk ’n sekere vorm van kalsiumkarbonaat bevat.

By sekere buikpotiges ontbreek die buitedeel, en by vele ouer skulpe het dit gewoonlik weggeslyt.

Die kalsiumkarbonaat van die binneste lae word deur die mantel afgeskei. Die kleure kom meestal van pigmente wat terselfdertyd neergelê word.

Die meeste buikpotiges het ’n enkele, ongekompartementeerde skulp, hoewel sommige—die naakslakke—ná die larwestadium geen skulp het nie. Daar is ook ’n paar slakke met ’n tweeledige skulp.

 

Piesang-naakslakkeBO: Die paringsdans van twee (vir ons) eienaardige naakslakke. Dit is nie moeilik om te sien hoekom hulle in Amerika piesang-naakslakke (“banana slugs”) genoem word nie.

 

Foto deur Andy.Goryachev,
wat dit tot openbare besit verklaar het (released to the public domain at the Wikipedia project)

   



In Maleia en Borneo is ’n groep slakkies waarvan die skulp so klein is—omtrent so groot soos ’n speld se kop—dat dit nie die hele liggaam kan herberg nie.

Die ouderdom van ’n slak kan geraam word deur na die getal windinge in sy skulp te kyk: elke seisoen kom ’n paar by. ’n Slak met agt kolke kan sowat twee jaar oud wees.

 

Voortplanting

ALLE landslakke is hermafrodiete, met ander woorde hulle besit sowel manlike as vroulike voortplantingsorgane. Maar omdat selfbevrugting onwenslik is omdat daar dan nie ’n vermenging van die gene in die nakomelinge sal wees nie, is daar meganismes in die slak se samestelling wat dit meestal verhinder.

 

Wanneer twee slakke mekaar vir paring ontmoet, begin die kopulasie by een van die twee wat die huid van die ander een met ’n kalkagtige “liefdespyl” deurboor. Geleerdes weet nog nie presies wat die doel van die “liefdespyl” is  nie, maar dit lyk of dit die ander slak stimuleer om klein pakkies sperma met slak nommer een uit te ruil. Ná die paring sal die slakke hul eiers inwendig  bevrug deur die sperma wat uitgeruil is.

 

Slak lê eiers in gat in die grondTuinslakke lê hul eiers vyf tot tien sentimeter diep in die vlak bogrond in ’n gat wat met hul voet in die grond gegrawe is. Hulle doen dit gewoonlik wanneer die weer warm en vogtig is.

 

Slakke is geweldig teelkragtig. Hulle kan tot honderd eiers op ’n slag lê en hul  nageslag tot een keer per maand só in die grond deponeer. En die feit dat daar twee “moeders” ná elke paring is, sorg natuurlik vir ’n verdubbeling van die populasie—met skrikbarende gevolge as daar geen of nie genoeg natuurlike vyande is om die slakke se getalle in toom te hou nie.

 

As die weer vir hulle gunstig is, kan die kleintjies ná twee tot vier weke hul verskyning uit die eiers maak. Hul skulpies is aanvanklik klein en broos, maar die meeste landsakke is ná sowat ’n jaar in staat om self ’n nageslag te begin genereer.

 

Al gaan die stadige slakke dus letterlik die slakkegang in hul handel en wandel, vermenigvuldig hulle baie vinniger as vele ander skepsels in die natuur.


Varswaterslakke

DAAR is ’n groot groep varswaterslakke in die damme, waterpoele, strome en riviere van die tropiese en gematigde streke. Soos die landslakke haal die meeste van hulle met longe asem. Hulle moet van tyd tot tyd bo die water uitkom om die lug te kry wat hulle nodig het. Dan hoef hulle nie weer voor verskeie ure te kom asem skep nie.

Baie varswaterslakke kan hulself swaarder of ligter maak deur lug onder hul skulpe in te neem of vry te laat. Daar is egter ’n paar varswaterslakke wat nie met longe asemhaal nie. Hulle het kieue soos die seeslakke.

 

Appelslak

 

BO: ’n Varswaterslak wat as ’n appelslak bekend staan en in die bekende vleilandgebied die “Everglades” in die Amerikaanse staat Florida aangetref word.

Foto: News Release / South Florida Water Management District in the U.S.

    IN HIERDIE REEKS:     
Klik op die skakel vir die
 hoofstuk van jou keuse >>>

1. Buikpotiges van die land en vars water
2. Buikpotiges van die oseane
3. Ander weekdiere

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad