|
||||||
|
||||||
Nee,
nie werklik nie. Dit het bloot verdamp—van ’n vloeistof in ’n gas
verander. Byna
al die water op aarde is in ’n blywende kringloop vasgevang. Water val
op die aarde in die vorm van reën uit die wolke, spoel oor die grond of
sink daarin weg en vind uiteindelik sy pad see toe as rivier- of
syferwater. Water
verdamp dan vanuit die nat grond, vanuit mere en riviere, vanaf die
blare van plante en veral vanuit die see. Die verdampte water versamel
in die wolke, wat by afkoeling weer die water verloor—en die
kringloop begin van voor af. Water
word dus oor en oor gebruik. Hoewel dit op een plek kan wegraak, vind
dit uiteindelik sy pad elders terug na die aarde. Dit gaan nooit verlore
nie. Aangedryf
deur die hitte van die son en die swaartekrag van die aarde, is hierdie
blykbaar eindelose siklus van die aarde se water van wesenlike belang
vir die lewe. Geleerdes
beskryf die watersiklus of waterkringloop as die voortdurende sirkulasie
van water tussen die seë, atmosfeer, biosfeer en die grond en
gesteentes van die geosfeer. Dis die aanwesigheid van enorme hoeveelhede
water wat die aarde van alle ander bekende planete onderskei en dit is
die aktiewe sirkulasie van water in die siklus wat die lewe hier
moontlik maak. Op ons waterryke planeet is meer as 1,4 miljard kubieke kilometer water. Verreweg die meeste daarvan (’n hele 96,5 persent) is die soutwater van die oseane. Van die oorblywende 3,5 persent varswater is die meeste (byna sewe tiendes) in ’n nagenoeg blywende bevrore toestand as poolysbedekkings, gletsers en sneeu. Sowat drie tiendes daarvan is onder die grondoppervlak—die waters onder die aarde, waarvan ons in die Bybelboek Genesis lees. Mere bevat ’n verdere kwart persent en riviere ’n piepklein 0,006 persent van die aarde se water. Die atmosfeer bevat slegs 0,04 persent water.
Die
verdamping ’N
GROOT
deel van die reën of ander soort neerslag (bv. sneeu) wat in ’n
gegewe gebied uitsak, keer regstreeks na die atmosfeer terug vanaf klam
kolle, poeletjies, damme en mere. Plante neem ook water uit die grond op
en gebruik dit in fotosintese. Die water keer na die atmosfeer terug
vanuit die blare en bas van die plante deur middel van ’n proses wat
transpirasie genoem word. ’n
Groot boom kan deur hierdie proses sowat 300 liter water per dag in die
atmosfeer vrystel. As ’n mens daaraan dink dat groot dele van die
aarde dig bebos is, kan jy jou dalk vaagweg voorstel watter massiewe
hoeveelheid waterdamp deur die aarde se plante afgeskei word. Tog,
soos gesê, geskied verreweg die meeste van die verdamping nie vanaf
bosse nie, maar vanuit die see. Wat
gebeur dan wanneer water verdamp? Water is vanselfsprekend materie en
materie kom, afhangende van die temperatuur van ’n bepaalde soort, in
drie vorms voor, naamlik as vaste stof, vloeistof en gas. Water vries
(word ’n vaste stof in die vorm van ys) by 0 grade Celsius en kook
(verander heeltemal in ’n gas of damp in die vorm van stoom) by 100
grade Celsius. Maar
’n deel van water word ook ’n gas of waterdamp by laer temperature,
soos juis oor die oseane waar die watertemperatuur selde hoër as 27
grade Celsius is. Die verdamping vind in die reël in ’n tempo van
duisend gram waterdamp per vierkante meter per uur plaas. Iemand het op
grond daarvan bereken dat daar in een uur sowat 361 500 000 ton water
uit die see uit verdamp! Die
verdigting van waterdamp en hoe dit na die aardoppervlak terugkeer DIE
water wat in die atmosfeer verdamp, vind in verskillende vorms weer sy
pad terug na die aardoppervlak. Die mees algemene soort neerslag is reën,
maar daar is natuurlik ook die ander soorte soos sneeu en hael. Wolke
is massas baie klein druppeltjies water of yskristalletjies wat in die
lug hang... eens onsigbare waterdamp wat nou tot spikkeltjies vloeistof
of ys verdig het. Mis of newels is as 't ware slegs wolke wat op of naby
die grond lê. Wolke word volgens hul vorm en hoogte in verskillende
soorte ingedeel. Met die beweging van die druppeltjies binne-in ’n
wolk word elektriese ladings opgebou. Die biljoene reëndruppels in ’n
enkele wolk kan ’n elektriese lading van miljoene volts opwek indien
hulle vinnig genoeg beweeg—wat dan as weerlig ontlaai. Reën
ontstaan wanneer die piepklein druppeltjies in ’n wolk saamkom en
druppels vorm wat weens die aarde se swaartekrag na benede stort. Reëndruppels
is in die reël meer as 0,5 mm in deursnee en kan tot omtrent 3 mm in
deursnee wees. Hulle kan, namate hulle groter word, teen tot 7,6 meter
per sekonde uit die hemel val. ’n
Reënvalsyfer is die diepte van die reënwater wat in ’n gegewe
tydsbestek op ’n plat oppervlak versamel het. Dit word met ’n reënmeter
tot die naaste 0,25 mm gemeet. Die
grootste gemiddelde neerslag op aarde, sowat 10 900 mm (byna elf meter)
per jaar, kom voor by Cherrapunji, in Noordoos-Indië. Tot
26 466 mm (of meer as 26 meter) reën het al in een jaar daar
uitgesak. En
sneeu dan? Ons Afrikaanssprekendes praat mos van sneeu (of kapok) vir
sneeu in al sy onderskeie vorms, maar die Eskimo’s, vir wie dit baie
belangrik is, tref ’n duidelike onderskeid tussen qanit
(vallende sneeu) en aput (sneeu wat lê). Sowat 50 persent van
die aarde se landmassas en 10,5 persent van die see is permanent of
tydelik met sneeu bedek. Sneeu
is bevrore waterkristalle wat in wolke gevorm is terwyl die temperatuur
van die lug onder die vriespunt was. As daar genoeg vog in die koue
bolug is, kan sneeu selfs uit ’n wolkelose hemel val. ’n
Sneeukristal is een van die wonderwerke in die natuur. Hoewel elke
kristal ses punte het, is geen twee kristalle ooit dieselfde nie.
Sneeukristalletjies se deursnee wissel tussen een en vier millimeter en
elk weeg maar ongeveer een 200ste van ’n gram. As hulle saamsmelt,
vorm hulle ’n sneeuvlokkie. Sneeu is gewoonlik skitterwit, maar rooi en selfs groen, blou of swart sneeu is moontlik. Die kleursel kom van klein swammetjies of stofdeeltjies wat deur die vlokkies vergader word.
Hael,
die groot verwoester, word in donderstormwolke gevorm—in die bodeel
van die wolk, sowat drie of meer kilometer bokant die grond, waar die
temperatuur onderkant 0 grade Celsius is. Die haelstene word deur
stygende en dalende lugstrome in die wolk op- en afgeslinger. In dié
proses word die stene ál groter totdat hulle naderhand so swaar word
dat die stygwind hulle nie langer kan dra nie. Dan stort hulle vinnig na
benede. Haelstene
so groot soos duifeiers en selfs heelwat groter is niks ongewoons in
Suid-Afrika nie. Party mense kan selfs getuig dat hulle al haelstene
soos tennisballe gesien het wat groot verwoesting gesaai het.
En
dan het jy miskien al in die vroeë oggend die druppels aan ’n spinnerak
of blom BO
bewonder wat soos kraletjies daaraan kleef. Dit is doudruppels. Dou word
gevorm wanneer die waterdamp in die lug met ’n koeler voorwerp op die
aardoppervlak in aanraking kom. Omdat waterdamp ’n gas is, kondenseer
dit (word dit ’n vloeistof) wanneer dit afkoel, en dou vorm gewoonlik
saans, snags of vroegoggend op voorwerpe op die aarde wat dan kouer is
as die omringende lug. Ryp
is weer waterdamp in die
lug wat tot yskristalle kondenseer sonder die tussenstap waar die damp
eers in water verander. Sekere insekte is baie gehard daarteen, maar
talle soorte plante is weerloos. Plante word deur ryp vernietig deurdat
die wateragtige oplossings in die plantselle vries en die selle bars. Die
weë van die gekondenseerde water ONS
het hierbo gelees hoe die waterdamp op verskillende maniere in die lug
kondenseer om weer die aarde te bereik. Maar dis belangrik om te weet
dat nie al sulke waterkondensasies die grond bereik nie. Party daarvan
word deur plante onderskep, veral bome, en herverdamp regstreeks in die
atmosfeer. Die verlies aan water vanweë onderskepping kan baie groot
wees. Die afkap van bome om gewasse te plant (ontbossing) kan die
hoeveelheid reën op die grond en die snelheid waarmee dit die grond
tref aansienlik verhoog, met gepaard gaande grondverspoelings en
oorstromings. Wanneer
neerslagwater die grond bereik, syfer dit gewoonlik in die grond in,
maar wanneer die grond reeds deurweek is, vloei die oortollige water
bogronds afdraand na die naaste spruit of rivier. Water kan egter ook
ondergronds in ’n rivier of groter watermassa invloei. Van
hier af verdamp dit weer en om later weer te kondenseer!
Die waterdamp in die lug word maklik deur lugstrome meegevoer en
ook na droër streke voortgedra waar dit in die bolug verkoel. Dit is
die ewige kringloop wat ook die drama van die dampkring genoem kan word. Soos
een geleerde dit so mooi gestel het: Die winde en die wolke, die
donderslae en die weerlig, die haelstorm en die sneeuvlokkies, die reënboog
en die nagtelike ryp—almal is karakters in daardie drama, die sigbare
gestaltes waardeur die eindelose gedaantewisselings van die dampkring
tot uiting kom. Soms
is die handeling stil en ingetoë, ander tye weer is daar spannende
botsings en af en toe word ons na ’n klimaks in die stryd van die
elemente meegevoer. Maar in elke geval is daar in die hele drama
gedurige afwisseling en nuwe skoonheid vir hom wat ’n oog het om te
sien. Dit is die wonderlike woelinge en die watersiklus van die lewende aarde.
|
||||||