|
Hoe
die waters maak en breek... |
|
ATER spel lewe. Daarsonder sou ons sterf. Maar oral rondom ons laat dit sy invloed op ’n duisternis ander maniere geld. Die kragte van water is met een woord ontsagwekkend... |
|
|
Die kragte van water
WATER
kan krag uitoefen in al drie sy vorms, naamlik as vaste stof (ys), as
vloeistof en as gas (stoom).
|
|
|
Die invloed van kragte op water
KRAGTE
wat op water kan inwerk, is byvoorbeeld die reeds genoemde swaartekrag,
die wind en aardverskuiwings. Maar ook elektrisiteit, hitte en selfs die
wenteling van die aarde om sy eie as, laat hul invloed terdeë op water
geld.
In
die Internasionale Ruimtestasie, wat om die aarde wentel, is hierdie
swaartekrag egter byna geneutraliseer, sodat die ruimtevaarders nie eens
’n gewone stortbad kan neem nie. Die
stort het geen sproeikop nie, omdat
die swaartekrag hier in die ruimte ’n miljoen keer swakker as op die
aarde is.
Stortwater
kan nie sproei nie, maar dryf rond pleks van om te val. Elke
ruimtevaarder ontvang dus net ’n paar liter water om saam met seep aan
die vel te smeer. Nadat ’n mens jou afgedroog het, word die
waterbobbeltjies rondom jou met ’n suigapparaat opgesuig. Teenoor
die swaartekrag van die aarde, bewerk die aantrekkingskragte van die son
en die maan op hul beurt die getye in die see op ons planeet. Ons oseane
• Die hoeveelheid hitte wat aanwesig is, laat water soos reeds genoem verys, vervloei of verdamp. Maar die ongelyke verwarming van ons planeet deur die son, gepaard met die draaiing van die aarde om sy as, het eweneens ’n geweldige invloed op die oseane deur seestrome op te wek en dit in bepaalde rigtings te laat vloei. • Winde is grootliks verantwoordelik vir die golwe en branders in die see. Saam met die getye hou hulle die oseane in beweging sodat dit nie soos vleiwater stagneer en begin stink nie! •
Elektrisiteit
wat gestuur word deur water wat ’n bietjie aangesuur is,
veroorsaak dat water in sy twee bestanddele, naamlik die gasse waterstof
en suurstof opbreek word, soos op die illustrasie hieronder.
|
|
|
Hoe water met ander stowwe reageer
WATER
kan met baie ander stowwe verbind en nuwe stowwe vorm. Dit kan ook baie stowwe oplos. Dit
speel voorts ’n kataliserende rol in ’n menigte chemiese reaksies.
Al hierdie eienskappe is noodsaaklik vir die lewensprosesse op aarde.
Water kan ook baie dinge, soos modder, in suspensie hou—nie werklik
die modder oplos nie, maar piepklein deeltjies daarvan saamdra en
byvoorbeeld in riviere meevoer, waarna die modderdeeltjies uiteindelik
in hawens ondertoe afsak waar dit voortdurend gebagger (met spesiale
masjiene verwyder) moet word.
•
Water
as draer van stowwe in suspensie: Modderdeeltjies wat dikwels dam- en
rivierwater verkleur, asook dinge soos emulsieverwe los nie regtig in
die water op waarin dit voorkom nie.
Die water dra eintlik net die mikroskopiese klein deeltjies van
die kleurstowwe. |
|
|
Die
kragte van kohesie en adhesie in water
ALLE
stowwe—ook water— bestaan uit baie klein deeltjies wat molekules
genoem word. Hierdie molekules vibreer gedurig en baie vinnig, en hulle
trek mekaar aan asof hulle klein magneetjies is. Ons kan hierdie
deeltjies en hul voortdurende beweging hoegenaamd nie sien deur bloot na
die stowwe te kyk nie. Die molekules en die ruimtes daartussen is so
uiters klein dat, sê, stilstaande water vir ons na een kompakte massa
lyk. Die
aantrekkingskrag tussen die molekules van ’n spesifieke stof wat die
deeltjies van daardie stof bymekaarhou, word kohesie
genoem. Daarteenoor
kry ons ook adhesie.
Adhesie is weer die aantrekkingskrag tussen die oppervlakke van twee
stowwe wat chemies heeltemal van mekaar kan verskil. As
ons byvoorbeeld ’n glasskerf van ’n vensterruit in ’n houer met
water insteek en dit dan weer uittrek, sal sekere van die water aan die
glas bly vaskleef (adhesie), terwyl die res teruggetrek sal word na die
water in die houer (kohesie). Hierdie
koherente en adherente kragte van water word duidelik in die natuur geïllustreer
wanneer dit reën. As die grond dor en droog en die reënval betreklik
lig is, sal baie van die water in die grond insyfer (adhesie). In die
geval van ’n stortreën op grond wat boonop reeds deurweek is, sal
baie van die reënwater saam in ’n massa wegvloei (kohesie) tot in
spruite of riviere. Kohesie
is voorts deeglik in die spel wanneer waterdamp (’n gas) tot water
(’n vloeistof) verdig en ook wanneer water as ’n vloeistof weens
afkoeling in ys (’n vaste stof) verander. Kohesie is altyd die
sterkste in ’n vaste stof, omdat die molekules nader aan mekaar is. In
’n vloeistof is die molekules verder van mekaar af en die krag is
minder. Kohesie is die swakste in ’n gas, waarin die molekules so wyd
verspreid lê dat die gas enige vorm of volume kan hê. Wanneer
waterdamp tot water verdig, is daar ’n kragtige saampersing van ’n
aantal molekules met ’n vermeerderde aantrekkingskrag wat genoeg is om
die struktuur van ’n vloeistof daaraan te verleen. Kohesie
word in vloeibare water weerspieël deur die oppervlakspanning wat
veroorsaak word vanweë die ongebalanseerde binnewaartse trekkrag op die
molekules by die oppervlak. Dit
is weens hierdie oppervlakspanning van water dat ’n soort
"vlies" daarop voorkom, wat dit vir insekte soos waterkewers
moontlik maak om daarop rond te skarrel sonder om te sink. ’n Mens sal
selfs ’n naald op water kan laat dryf as jy dit hiperversigtig op die
oppervlak sou kon neersit. Tot
muskietlarwes hang onderstebo aan hierdie "vlies" om te kan
asemhaal by die wateroppervlak. Sodra olie egter op die water gegooi en
die oppervlakspanning verbreek word, vrek die larwes omdat hulle nie
verder kan hang nie. Ook
water wat stadig uit ’n kraan drup, toon die uitwerking van kohesie en
oppervlakspanning. Elke druppel word stadig groter, is eers rond en word
dan peervormig. Sodra die druppel ’n kritieke grootte bereik het, val
dit. Met die valslag word dit bolvormig. ’n Reëndruppel word tot die
vorm van ’n peer verwring as gevolg van die snelheid waarmee dit na
benede val.
Oppervlakspanning gee die borrel sy ronde vorm en die lugdruk binne-in keer dat dit inmekaarval. Weerkaatste lig gee die borrel sy verskillende kleure. Maar die aantrekkingskrag van die aarde veroorsaak dat die water na die onderkant van die borrel vloei—en uiteindelik raak die vliesie bo so dun dat die borrel bars. Foto van SciTech Center, Aurora, Illinois, deur Beacon News / Met vergunning van US National Science Foundation |
|
|
Kragte wat afwesig is in water
WATER
is kragteloos of onaktief in die sin dat dit nie kan verbrand nie—om
die eenvoudige rede dat dit reeds "verbrand" het tydens die vurige
vereniging van die waterstof en suurstof waaruit dit
saamgestel is. Maar dis juis hierdie afwesige krag wat meebring dat dit
so doeltreffend ’n vuur kan blus. Water
is dus sekerlik darem nie alles in ons stoflike lewe nie. Maar dit is
’n goeie ent voor enigiets wat die tweede plek kan inneem! |
|