|
AP ’n bietjie kraanwater in ’n proefbuis en bestudeer dit goed.
Tien teen een is die water baie skoon. Loop nou die veld in en skep
vir jou water in ’n vlei of dam, en jy sal miskien fyn beweginkies
daarin sien as jy goeie oë het.
Selfs in ’n enkele druppel is daar roeringe en lewe. En as jy dit
eers deur ’n mikroskoop beskou, sal jy sien watter magdom van lewe
daar nou werklik is. Trouens, daar kan honderde plantjies en
diertjies in só ’n waterdruppel woon, en baie is so klein dat hulle
uit net een sel bestaan.
In kraanwater is die organismes dikwels in die suiweringsproses
verwyder, of hulle is doodgemaak deur die chloor wat by die water
gevoeg is. Ons bepaal ons dus grootliks net by ons druppel vlei- of damwater.
Dis mos daarin dat die dinge gebeur!
DIE basis van die voedselketting in só ’n gemeenskappie is die
eensellige alge. Hulle is die eenvoudigste plantjies, maar soos die
meeste plante kan hulle hul eie kos uit sonlig en minerale in die
water vervaardig.
REGS:
Eensellige groen alge, Chlamydomonas reinhardtii.
Al is hy so klein, het só ’n alg darem ’n geraamde
15.000
gene!
Foto: U.S.
Department of Energy
Alle lewende wesens bestaan uit klein kompartementjies wat selle
genoem word, maar by die kleinste diertjies en plantjies is daar net
een sel. Die wonder van hierdie eenselliges is dat hul enkele sel
verskillende take kan verrig wat by meersellige organismes deur
onderskeie selle uitgevoer word.
Onder die wêreld se alge is daar sowat 20 000 plantsoorte, wat van
die eensellige organismetjies in ons waterdruppel tot reusagtige
seewiere wissel. Maar hierdie heel verskillende plante het tog twee
dinge gemeen. Vir eers is hulle almal sonder wortels, stingels of
blare.
Dan het hulle ook nie die ingewikkelde stelsels pype wat ons in die
meer gevorderde plante kry nie, met die gevolg dat hulle in die
water of op vogtige plekke moet lewe.
Daar is baie soorte eensellige alge. Baie van hulle het ’n groen
kleur. Een tipe vorm ’n groen skuim op damme en ’n ander gee ’n
groen skynsel aan die bas van borne.
(Terloops, die groen van alge is natuurlik chlorofil, die pigment
wat beslis een van die interessantste dinge in die natuur is. Maar
die interessantste nog is seker dat chlorofil en die rooi pigment
van bloed skeikundig byna-byna dieselfde ding is en slegs in een
baie klein besonderheidjie van mekaar verskil. As een magnesiumatoom
in ’n molekule chlorofil deur een ysteratoom vervang word, verander
die chlorofil in rooi bloed!)

BO:
Fassinerend vreemd en totaal anders as enige
lewende ding in ons makrowêreld. Hierdie
eensellige alg, Gephyrocapsa oceanica, is
weliswaar nie van die varswater nie, want dié
soorte is feitlik geheel en al seelewend.
Foto deur
NEON ja, verkleur deur
Richard Bartz.
Dit verskyn op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die
wêreldwye web, waar dit gelisensieer is
ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 2.5-lisensie
Diatome is eensellige alge wat baie in die see en vars
natuurlike water voorkom. ’n Diatoom—dalk niks groter as ’n
vyfhonderdste van ’n sentimeter nie—het ’n glasagtige skulp wat die
sel deur afskeiding skep. Die skulp bestaan uit twee dele, waarvan
die een oor die ander pas, soos die deksel van ’n pildosie.
Groot rotsagtige neerslae van hierdie skulpies word diatomiet
genoem. Dit word ontgin en het ’n menigte gebruike—van die suiwering
van water tot die uitfiltrering van radioaktiewe stowwe uit
vloeistowwe in kernkraginstallasies.
|
REGS: Diatome lyk so fyn en broos dat ’n
mens skaars kan glo dat hulle ’n geweldig
belangrike deel vorm van die lewensketting
op aarde. In hul verbysterende menigtes
dobber, drywe en gly hulle deur die see- en
varswaters op ons planeet—miskien tot ’n
miljoen van hulle in ’n enkele liter water.
En benewens die feit dat hulle die heel
basiese soort kos in die water is, is die
mens en alles wat op die land asemhaal
afhanklik van hulle. Deur fotosintese
produseer hulle immers baie van die suurstof
wat ons inasem. |
 |
DIE tweede skakel in die voedselketting is die eensellige
diertjies (protosoë; enkelvoud: protosoön), wat van die eensellige
plantjies of van mekaar lewe. En watter rykdom van vorms en soorte
het hierdie mikro-organismes ook nie. Daar is meer as 30 000 lewende
spesies op aarde, en oral waar daar water en suurstof is, tref ’n
mens hulle aan.
Voortplanting van die protosoë vind gewoonlik plaas deurdat die
liggaampie splits of verdeel. Die twee dele skei van mekaar en
elkeen word ’n afsonderlike organisme.
Onder die bekendstes is die amebe, ’n eenvoudige diertjie wat beweeg
deur te vloei. Sy liggaam is ’n sakkie jellie waaruit tydelike
uitsteeksels, die sogenaamde pseudopodia of skynpote, vloei. Maar
baie protosoë het ’n ingewikkelder bou.
|

BO: ’n Amebe.
Foro: GSFC / NASA

BO:
Rotaria neptunia. Die rotifere of
raderdiertjies kom regdeur die wêreld
algemeen in varswateromgewings voor en
daar is ook ’n paar soutwaterspesies.
Die
meeste is tussen 0,1 en 0.5 mm lank.
Detail van ’n foto van
PLoS (Public
Library of Science),
volgens hul
hul webwerf gelisensieer ingevolge
die
Creative Commons
Attribution 2.5-lisensie

BO:
Paramecium aurelia. Die
Paramecia kom wydverspreid in
varswater voor, waar hulle van
mikroörganismes soos bakterieë en
alge lewe. Die diertjie maak van
sweephare gebruik om sy kos so
veeg-veeg na hom toe aan te bring.
Foto
deur
Barfooz en
Josh Grosse,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia
Commons op die wêreldwye web
gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution-ShareAlike 3.0-lisensie
|
Net soos die diatoomplantjies met hul diatomiet, is daar ook eensellige
diertjies wat in die aarde se verlede weer massiewe lae kalksteen in
groot oseane gevorm het. Die uitgebreide kalksteenformasies
(“chalk”) van Engeland, en nog kalksteenneerslae in ander
wêrelddele, bestaan hoofsaaklik uit die skulpies van verskillende
soorte protosoë. In een vierkantige blokkie kalksteen met sye van
twee en ’n halwe sentimeter is sowat ’n miljoen sulke skulpies
saamgekoek.
’n Menigte soorte eenselliges lewe egter nie vry soos dié in ons
waterdruppel nie, maar in die bloedvate, spysverterings- en ander
organe van mense en diere. Sommige veroorsaak ernstige en minder
ernstige siektes (malaria, slaapsiekte, appelkoosmaag, noem maar
op).
Daar is egter ook baie onskuldige en selfs vir ons voordelige
mikroskopiese diertjies. Geweet dat daar tussen jou tande en in die
slymvliese van jou mond nie minder nie as sewe afsonderlike
eensellige parasiete woon? Selfs met warm vloeistowwe of tandepasta
raak jy nie van hulle ontslae nie. In ons spysverteringskanaal is
daar verskeie soorte wat die rol van skoonmakers speel en op
afvalprodukte, slym en dooie dermwandselle teer.
REGS:
Die bakterie Enterococcus faecalis, ’n mikrobe
wat in die menslike dermkanaal leef.
Foto: U.S.
Genome.gov
Daar is ook die wonderbaarlikste eensellige parasiete wat in die
spyskanaal van rysmiere en ander houtvretende insekte woon. Ons weet
dat hout se sellulose eintlik heeltemal onverteerbaar is, maar die
mikro-gaste verander dit só dat dit as voedsel opgeneem kan word.
Soortgelyke eensellige parasiete word in die blaarpens van herkouers
soos beeste, skape, bokke en antilope aangetref, wat ’n vername rol
speel om plantvoedsel se sellulose tot iets verteerbaars af te
breek.
Maar ons het ’n bietjie weggedwaal van ons waterdruppel. Droogtes of droë omgewings is die groot vyand van die eenselliges en
sodra dit droog word, skei hulle ’n soort omhulsel af en verkeer dan
in ’n rustoestand. Eers wanneer dit weer reën, ontplof die
mikro-wêreld nogmaals. In ’n nuwe druppel is daar dan ’n herbore
uitbundigheid van lewe.
DIE derde skakel in die voedselketting is steeds piepklein
skaaldiertjies en insektelarwes, wat van die eenselliges lewe. Baie
van die larwes word natuurlik mettertyd groter insekte, veels te
groot om in ’n druppel in te pas.
REGS:
’n Varswatermyt (Hydrachnidia), vermoedelik
Hydrodroma sp.; deursnee: 0,7 mm.
Detail van
“n foto deur
Markus Nolf (Mnolf),
wat die oorspronklike op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye
web gelisensieer het ingevolge die
GNU Free Documentation-lisensie,
Weergawe1.2 of enige latere weergawe wat deur die Free
Software Foundation gepubliseer word
Maar aan die spits van die kleiner diertjies in die
voedselketting-hiërargie is die watermyte, die oorwinnaars in die
ekosisteem van ons waterdruppel. Hulle is nefies van die spinnekop,
teel besonder vinnig aan, en hul pootjies beweeg vinnig in die water
as hulle mikro-organismes jag en opvreet.
Almal klein diertjies in ’n kosmos wat vir die mens verborge sou
gebly het—as ons nie die mikroskoop gehad het om totaal verwonderd
tot in hul wonderwêreld deur te dring nie.
|