|
IE
groot ontdekkingsreisiger staar gefassineer
na sy kompas. Hy vaar naby die noordooskus van Australië, en sy kompas
toon vreemde afwykings. Oplaas kom hy die rede daarvoor agter: ’n
pragtige koraaleiland verrys uit die blou see.
Magneeteiland, besluit die ondernemende Brit om dit te noem. Op stuk van
sake is hy en sy makkers asof deur ’n magneet soontoe aangetrek.
Dis die jaar 1770 en die ontdekker, James Cook, verken die węreld hier
verder. Hy kom agter dat die eiland net een van baie is. Kort daarna
tref sy skip, die Endeavour, ’n rif. Angs en vertwyfeling heers. Maar
Cook kry dit reg om sy skip te herstel en sy epiese reis te hervat.
Wat Cook in der waarheid destyds ontdek het, is die beroemde Groot
Australiese Walrif (“Great Barrier Reef”)—die grootste
aaneenlopende koraalmassa ter węreld, sowat 2300 km lank. Dit bestaan
uit banke, eilande en koraalriwwe van 15 tot 150 km wyd.
(Lees ook oor Cook en sy Oos-Australiese
avontuur in die Mieliestronk-artikel oor
Australië.)
REGS:
Skouspelagtige koraal van die Groot Australiese Walrif.
Foto: GSFC / NASA
Lees ook:
•
Die
kort artikel oor koraal
in Mieliestronk se
Laslappie-afdeling
•
Die afdeling
oor koraal in die Mieliestronk-artikel oor
Die 7 wonders van die see
Korale oortref alle ander seediere wat kleur- en
vormrykheid aanbetref. Hulle roem egter ook op ’n ander
prestasie waarmee hulle nie alleen alle ander diere nie,
maar ook die mens oortref. Met al ons verstand en vernuf
het ons nog nie daarin gestaag om ’n eiland in die
oseaan te bou nie. Dis egter niks vir die
koraaldiertjies nie—soos bewys word deur die Groot
Koraalrif en hoeveel ander riwwe wat hulle met ontelbare
kalk-skelette opgebou het.
Tussen hierdie korale beweeg ’n duisternis seediere.
Meer soorte visse lewe in en tussen die riwwe as op
enige ander plek ter see. Dit wemel van krappe, garnale,
sponse, stervisse, anemone en barrakudas in hierdie
magiese węreld.
Daar is ook ander kreature, soos die skerpioenvis,
waarvan die aantreklike doppe en stekels dodelik vir die
niksvermoedende onderwater-verkenner kan wees. Of
reusagtige gapermossels soos die een op die foto
hieronder.
REGS:
’n Duiker by die Groot Australiese Walrif word deur ’n
reuse-gapermossel begroet.
Foto: Jan Derk,
wat dit by Wikimedia Commons
op die węreldwye web tot openbare besit verklaar het
(“released to the public domain”)
Soorte riwwe
IN 1842 het
Charles Darwin drie hoofsoorte riwwe omskryf:
kusriwwe, walriwwe en atolle. Seebioloë
gebruik vandag nog hierdie indeling, hoewel daar
natuurlik ’n paar variasies hiervan is.
•
’n
Kusrif is die eenvoudigste soort. Dit ontwikkel
aanvanklik as ’n smal strook koraal naby die kus en
ewewydig daarmee. Mettertyd verbreed die strook om ’n
platform onder die water te vorm wat na die kus toe
uitstrek.
Party kusriwwe is kilometers lank, en ’n strandmeer vorm
dikwels tussen die rif en die kuslyn. Kusriwwe is baie
toeganklik vir mense en is baiemaal so naby die kus en
in sulke vlak waters dat hulle sonder ’n boot bereik kan
word.
•
Walriwwe
volg ook die kuslyn, maar word deur ’n breë kanaal water
van die land geskei. Hulle kan uit lang reekse riwwe
bestaan.
Seebioloë is nie doodseker hoe walriwwe gevorm word nie,
maar dit hou skynbaar verband met wisselende seevlakke.
•
Om
atolle word drome en legendes geweef.
’n Atol is ’n naastenby ronde (maar
soms ook andersvormige) koraaleiland wat ’n kalm lagune
daarbinne heeltemal of gedeeltelik omring. Atolle kom
algemeen in die Stille Suidsee en Indiese Oseaan voor.
Hulle word, soos gereken word, deur die opbou van koraal
ál om die rand van uitgewerkte vulkaaneilande gevorm.

BO: ’n Ruimtefoto van Prataseiland in die
Suid-Chinese See met sy lagune en hoefvormige
koraalrif.
Foto: JSC / NASA

BO: ’n Ruimtefoto van ’n vyfkantige atol in
die Stille Oseaan, ook met die kenmerkende
lagune daarbinne, wat egter ten volle deur
koraal omring word.
Foto: JSC / NASA
Riwwe in gevaar
SEKERE van die
węreld se grootste koraalriwwe dateer na alle
waarskynlikheid uit die jong dae van die aarde. Jammer
genoeg is die mens hoeka besig om hulle te vernietig.
Koraalpoliepe en diere wat in die riwwe woon, lei ’n
baie stabiele lewe. Selfs die geringste verandering in
hul omgewing kan hulle laat doodgaan.
Baie tropiese seë, veral dié by vakansieoorde, word erg
besoedel. Dit maak nie slegs die węreld lelik nie, maar
bakterieë wat organiese vullis opbreek, stel nitrate vry
wat, selfs in die geringste hoeveelhede, dodelik is vir
koraal.
Tot oormaat van ramp word sekere koraalriwwe as
stortterreine vir giftige afval gebruik.
Ook oliebore dra tot die vernietiging van die riwwe by.
In die sestiger- en sewentigjare van die vorige eeu is
aansoek gedoen om by die Groot Australiese Walrif vir
olie te boor. Daar was soveel openbare verset dat die
plan gekelder is, maar ander riwwe kon nie dié soort
verwoesting vryspring nie.
Selfs die stokperdjie om visse in akwariums aan te hou,
kan nadelig vir die ekologie van koraalriwwe wees. Baie
van die fraai tropiese visse wat al ons vistenks versier
het—word vertel—is wild gevang en nie op visplase geteel
om verkoop te word nie. Die handel in tropiese visse het
tot ’n enorme uitwissing gelei, te meer omdat talle
visse gevrek het voordat hulle hul bestemming bereik
het.
Baie rifbewoners, veral visse, krewe en oesters, word
deur die mens geëet. Ander word weer as versiersels of
aandenkings versamel. Koraal word ook as boumateriaal
ontgin.
Baie skade is al deur duikers veroorsaak wat op koraal
trap en dit per ongeluk breek—of met opset ’n stuk
afbreek om huis toe te vat.
Buiten die mens, is daar nog ’n aaklige rifverwoester:
’n groot, lelike seester wat die doringkroon genoem
word. Hierdie dierasie besmet die riwwe van die Indiese
en die Stille Oseaan. Hy leef van koraalpoliepe en laat
net leë koraalgeraamtes agter.
Ons koraalriwwe, een van die groot sierade van ons
wonderlike planeet aarde, is kennelik baie kwesbaar.

BO: Groot seesterre soos hierdie doringkroon
(Acanthaster planci) kruip stadig oor
koraalriwwe en verteer al die lewende
koraalweefsels waarmee hulle in aanraking kom.
Foto: NOAA
|