VISAREND:
“Die roepstem van Afrika”
Een
van die mooiste roofvoëls onder die son... só is die visarend al genoem,
die valkagtige visvreter van ons eie wêrelddeel. Maar dis daardie wilde,
sinistere kreet wat hom eintlik beroemd gemaak—en die benaming "die
roepstem van Afrika" besorg het...

DAARDIE
wilde kreet moet ’n mens oral herken... kou, kou, koukoukou... die roep
van die visarend, met sy kop ver teruggetrek oor sy skouers. Selfs terwyl
hy vlieg, neem hierdie roofvoël só ’n houding aan terwyl hy skreeu.
Die
visarend (Haliaëtus vocifer) woon langs mere, riviere en damme
regoor Afrika suid van die Sahara. Hy word ook dikwels langs die oop kus
aangetref waar hy besig is om te jag, veral by beskutte riviermondings en
lagunes.
Anders
as die meeste ander arende wat hul prooi soek terwyl hulle deur die lug
sweef, betrag die visarend dikwels visse wat vlak by die wateroppervlak
swem vanuit ’n verhewe sitplek soos ’n boomtak.
Sodra
hy ’n moontlike happie raaksien, vlieg hy vinnig ondertoe, gryp sy
slagoffer met sy kragtige kloue uit die water uit en keer terug na sy
sitplek. As die vis swaar is, kan die arend laag vlieg en dit op die
oppervlak saamsleep voordat hy opstyg en weer sy sit kry.
’n
Mens sien dit selde, maar af en toe jag die visarend ook terwyl hy sweef.
Dan draal hy oor mere en damme en skiet ondertoe wanneer hy ’n prooidier
gewaar. Hoewel hy meestal visse vreet, sal hy ook rotte, jong krokodille
en waterskilpaaie, ander voëls en hul eiers en aas verorber.
REGS:
’n Afrika-visarend in vlug—aanpassing van ’n illustrasie op ’n
posseël van die Sentraal-Afrikaanse Republiek.
Hy
het ook die onhebbelikheid om die prooi van ander visvretende voëls te
steel. Visarende sak op visvangers, reiers, pelikane, bleshoenders en
selfs ander visarende toe en, wanneer hulle hul prooi in die proses laat
val, gryp hulle dit en vlieg daarmee weg.
Daar
is stellig baie mense wat die visarend sy ''luilekker'' lewe sal beny. ’n
Volgroeide voël het net sowat 1,3 kg vis nodig om aan die gang te bly—en
dié kan hy dikwels met ’n enkele vangs kry. Hy jag baiemaal slegs ’n
kwartier per dag.
Hy
bly ’n bietjie besig deur ander voëls van hul prooi te beroof—maar
die res van die tyd sit hy eenvoudig op ’n tak of iewers in die son...
Het
jy geweet?
Foto:
U.S. Fish & Wildlife Service
•
Die visarend van Afrika is familie van die witkoparend
(''bald eagle'')—die nasionale voël van die Verenigde State van
Amerika. Baie mense reken hy is Afrika se mooiste voël.
•
Visarende gebruik dieselfde neste oor en oor, en met die gedurige
byvoegings word die neste naderhand taamlik diep en groot. Twee of drie
eiers word gewoonlik per keer gelê. Die oudste kuikens maak baiemaal die
jongstes dood, maar af en toe sal twee van hulle darem bly lewe.
Klik
hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser
Klik
hier om terug te keer na die inhoudsblad
|