Vuur!
Die gewiglose woelgees

Vuur en vlam...Vuur en vlam...Vuur en vlam...Vuur en vlam...Vuur en vlam...
 


  
Vuur is geen stoflike “ding” nie maar ’n chemiese reaksie—wat so vinnig plaasvind dat ons die woelinge daarom heen kan sien. Nog sulke sigbare reaksies is die opbruisings wat ’n mens in water ver­oorsaak wanneer jy bruispoeiers daarin gooi. Of waar ’n skeut chloorkorrels gou-gou die troebel swembadwater helder maak...
  


’n “Dwarrelvuur” illustreer die uitwerking wat verskillende lugstrome en ventilasie op ’n brand kan hę

BO: ’n “Dwarrelvuur” illustreer die uitwerking wat verskillende lugstrome en ventilasie op ’n brand kan hę. Die demonstrasie is deel van ’n kursus om brandbestryders en ondersoekers van brandstigting meer omtrent die eienskappe van vuur te leer.

 Foto: U.S. National Institute of Standards and Technology (NIST)
 

W

AT OP AARDE is vuur regtig? Dis nie vas of vloeibaar nie, en dit is ook nie ’n gas nie. Dit het geen massa nie en jy kan dit onmoontlik op ’n skaal probeer weeg. Tog ken ons almal die lekkende, vonkende tonge van vure, die gloeiende tentakels van hete energie wat omtrent alles wegbrand wat voorkom.

Vuur is nie werklik stoflik nie. En tog is dit iets.

Die mense van die Oudheid het gedink alles tasbaars is uit net vier dinge opgebou: vuur, lug, aarde en water. In werklikheid is daar sowat honderd “boustene” (elemente) in die heelal, maar vuur is nie een van hulle nie.

Dit het eeue geduur voordat die mens vasgestel het wat vuur in der waarheid is: die blitsige verbinding van die suurstof in die lug met die koolstof in brandbare stowwe.

(Of so is dit in verreweg die meeste van die gevalle. Want koolstof en selfs suurstof is nie altyd nodig vir ’n vuur nie. Die gas asetileen, ’n verbinding van waterstof en koolstof wat vir sweis gebruik word, stel byvoorbeeld by sekere temperature lig en hitte vry selfs al is suurstof nie teenwoordig nie. En ’n paar soorte metale kan selfs in die minder aktiewe gas stikstof brand.)

 

Vuurhoutjies en boksie

 

 

 

 

Hoekom brand
’n vuurhoutjie?

HOEKOM brand ’n vuurhoutjie? Klink na ’n simpel vraag, want ’n vuurhoutjie brand mos maar net omdat dit deur wrywing aan die brand gesteek word. Maar die volledige antwoord is ’n klein bietjie ingewikkelder.

’n Vuurhoutjie bestaan natuurlik uit ’n kop, wat vuur kan laat opvlam, sowel as ’n brandstof-bron, te wete die hout van ’n stokkie, wat die steeltjie vorm. Populierhout (en selfs karton) word deesdae gebruik, dog die stokkies was vroeër van dennehout. Die eerste vuurhoutjies het koppe van swawel gehad, maar dié het ’n vonk van ’n vuursteen nodig gehad om te kon ontvlam.

’n Vuursteen of vuurklip is ’n stuk gesteente waaruit die vonke spat wanneer dit met ’n vuurslag (’n stuk staal) geslaan word.

Friksie-vuurhoutjies—wat deur skuring of wrywing aan die brand geslaan het wanneer hulle teen enige growwe oppervlak gevryf is—is in die jare dertig van die 1800’s uitgevind. Hierdie vuurhoutjies se koppe het bestaan uit mengsels wat wit fosfor bevat het, ’n stof wat besonder maklik vlam vat. Soos verwag kon word, is baie ongelukke veroorsaak deurdat die vuurhoutjies per ongeluk teen iets geskuur het. Die vuurhoutjies wat ons vandag gebruik, is egter soveel veiliger dat daar van hulle as “veiligheids­vuurhoutjies” gepraat word.

By veiligheidsvuurhoutjies (in 1844 uitgevind deur die Sweedse skeikundige Gustaf Erik Pasch) is daar rooi fosfor wat vir die ontvlamming sorg. Dit sit aan die kant van die vuurhoutjieboksie, nie in die kop van die vuurhoutjie nie. Die kop bevat kaliumchloraat, ’n bron van suurstof, asook swawel. Wanneer die vuurhoutjie getrek word, verhit ’n klein deeltjie van die rooi fosfor op die boksie en laat dit die kop opvlam. Die kop brand lank genoeg om die hout in die vuurhoutjie aan die brand te steek.

Gelatien word as bindstof in vuurhoutjiekoppe gebruik.

Die eerste vuurhoutjies is, sover bekend, in die jaar 577 deur die Chinese gebruik, wat ook die uitvinders van buskruit was. Na vertel word, was die vuurhoutjies dennehoutstafies wat met swawel behandel was.

Selfs ons eie voorouers het van ’n vuurhoutjie as ’n swaweltjie of swaeltjie gepraat, maar dit kon maklik verwar word met daardie voëltjie wat met die seisoene heen en weer oor die aardbol vlieg! Ons woord vuurhoutjie is ’n egte inheemse skepping wat, sover vasgestel kan word, in die beginjare van Afrikaans as skryftaal deur ’n vindingryke joernalis bedink is en ook in die volksmond gevestig geraak het. Die Nederlanders noem ’n vuurhoutjie ’n lucifer, hoewel ou Nederlandse woorde hiervoor ook vuurstokje en zwavelstokje was.

In Brittanje is vuurhoutjies aanvanklik onder die naam lucifer matches op die mark geplaas, en die Nederlandse woord is hiervan afgelei. Lucifer is ’n Latynse woord, wat letterlik “draer van die lig” beteken (hoewel dit in die Christendom ook baiemaal as ’n naam van die duiwel gebruik word). Die Engelse woord match kom blykbaar van ’n ou woord macche, wat in Engeland “pit” (soos in die pit van ’n lamp) beteken het. Dié kan weer teruggevoer word na die woord mesca (“lamppit”) in Volkslatyn.                                   •

Brandende vuurhoutjiie, vuurhoutjieboksie en vuurhoutjies

Vuur is bloot ’n chemiese reaksie wat so vinnig plaasvind dat ons die woelinge daaromheen kan sien.

Die vlamme wat jy byvoorbeeld waarneem wanneer jy na die brandende steenkool in die kaggel kyk, is gloeiende deeltjies koolstof wat van die steenkool opstyg. ’n Vlam kan ook ’n sameflansing van rooiwarm stofdeeltjies in die lug wees. Hulle glim wanneer hulle in verbinding kom met die warm gasse wat in die verbrandingsproses gevorm word.  

Dis terloops interessant dat die soute van verskillende metale verskillende kenmerkende kleure aan ’n vlam gee: natrium genereer geel, koper sorg vir blou, stronsium verwek rooi en barium veroorsaak ’n groen kleur, om ’n paar te noem. Van hierdie verskillende kleureienskappe van elemente word baie nuttig gebruik gemaak in die vervaardiging van vuurwerk.

Vuur is dus ’n proses van snelle verbranding. Ons kry egter ook verbranding wat so stadig plaasvind dat die hitte verstrooi word, met die gevolg dat daar glad geen vlam is nie.

Dit is wat in ons liggame plaasvind. Die kos wat ons eet om aan die liggaam energie te verskaf, word gedeeltelik “verbrand” deur die suurstof wat deur die bloed in die longe geabsorbeer word.

DIE aandeel van vuur in die ontwikkeling van die menslike beskawing was enorm, om die minste daarvan te sę. Onder die mens se eerste aanwendings van vuur was die gaarmaak van kos en die wegbrand van bosse vir die jag. Dit is ook in godsdienstige rituele gebruik, en die eerste industriële aanwending was vir pottebakkery.

Volgens die Griekse godeleer het die halfgod Prometheus op ’n dag vuur op die godeberg Olimpus gesteel en dit in ’n hol riet na die aarde gebring. lemand het al geskryf dat Prometheus geen beter geskenk vir die mens kon gekies het nie. Ons kan ons immers glad nie die menslike bestaan sonder vuur voorstel nie.

Dis vandag steeds onontbeerlik in al ons nywerhede en die vervoerwese, en daarom een van die heel beste dienaars van die mens.

Maar as vuur ’n goeie dienaar is, is dit ook ’n baie slegte baas. Dit het die mense van die aarde al baie lank gelede agtergekom. Wat meer sę, die woord “brand!” het een van die ontstellendste uitroepe in enige taal geword.

Onder die heel eerste brandwere in die opgetekende geskiedenis was dié in ou Rome. Die Romeine het eers slawe as brandbestryders gebruik, maar hulle het nie juis gedeug nie, en later het die vigiles (wagters) gekom wat Rome vyf eeue lank teen brande beskerm het.

Seweduisend van hierdie wagters was nodig om die stad met sy miljoen inwoners te beskerm. Hulle moes snags deur die strate loop, elkeen met ’n emmer wat van esparto-gras gemaak was.

Daarom het hulle die bynaam Sparteoli (die emmermanne) gekry. Wanneer ’n brand uitgebreek het, moes hulle met die emmers water op die vuur gooi.

Daar was ook reeds vierduisend jaar gelede brandweerkorpse in ou Egipte.

Vandag se brandwere is uit die aard van die saak egter baie meer gesofistikeerd. Hulle kan spog met uitstekend toegeruste brandweerwaens en pompmasjiene wat tot duisende liters water per minuut op tierende vlamme kan spuit.

En in Suid-Afrika met sy wye ruimtes is brandbestryders soms selfs bedrywiger buite in die natuur as in die stede of dorpe.

Veld- en bosbrande kan verskeie oorsake hę: weerlig, die vonke van rotse wat van berge aftuimel, maar in verreweg die meeste gevalle is die oorsaak die nalatigheid van die mens.

 

Partymaal stig die mens darem ook heel onbedoeld brande, soos vroeër dikwels wanneer gloeiende kole uit ons stoomlokomotiewe die veld langs die spoor aan die brand gesteek het. Dit was voor die elektrifisering van ons vernaamste spoorweë.

 

 
Brand! Die groot verskrikking

’n Bosbrand bedreig ’n woongebied

BO: ’n Bosbrand bedreig ’n woongebied.


Foto: DLS / U.S.Fish and WIldlife Service
 

DELE van ons land is blykbaar hoeka uitermate “ontvlambaar”, as ’n mens dit so kan stel. Die Portugese ontdekker van die seeweg na Indië, Vasco da Gama, het dit eeue gelede al agtergekom tydens sy verbyvaart langs die Suid-Afrikaanse kus. Die rook van die veldbrande wat hy hier gesien het, het so ’n indruk op Da Gama gemaak dat hy die land Terra de Fume (Land van Rook) genoem het.

Later het Jan van Riebeeck op ’n keer twee Saldanha-Khoisan met tabak beloon omdat hulle ’n veldbrand geblus het.

En die eerste Kaapse goewerneur, Simon van der Stel, het in 1687 ’n dekreet uitgevaardig dat enige stigter van ’n veldbrand lelik afgeransel moet word as dit sy eerste oortreding was. As hy ’n tweede keer só sou oortree, moes die roekelose piromaan met die dood gestraf word. (As hierdie wet vandag nog gegeld het, sou talle van ons onverskillige vleisbraaiers seker baie meer in hul pasoppens gebly het!)

WeerligIn Februarie 1869 was ’n bosbrand ’n nasionale ramp in Suid-Afrika. Altesaam 480 km van die landstreek van Swellendam in die weste tot Humansdorp in die ooste het in ligte laaie gestaan. Honderde plaashuise is verwoes, 31 mense het omgekom en duisende stuks vee en tallose wilde diere is dood.

Ook in die woongebiede was brande veral vroeër ’n groot gevaar in ons land. Dit was omdat die meeste huise destyds grasdakke gehad het. In 1710 het ’n brand die dorp Stellenbosch omtrent heeltemal in puin gelę nadat ’n grasdak vlam gevat het.

Die brandstigter was glo iemand wat onnadenkend gerook het terwyl ’n sterk suidooster op die dorp gewaai het.

Binne ’n paar uur is die Stellenbosse kerk, die raadsgebou en alle woonhuise behalwe vier tot as verbrand. Om die brandgevaar te verminder het die goewerneur van die Ou Kaap die mense verbied om in die strate te rook.

Vandag is ons rokers se tuitmonde wel in openbare geboue gesnoer, maar hulle is nog ewe vuur en vlam in die strate!


  
Ou vuurvegter!

BO: ’n Brandweerwa van weleer.
   
Illustrasie: Webster’s New International Dictionary of the English Language, 1911.Kopiereg het verval weens verjaring

SA veld aan die brand — ’n ruimtefoto

Suid-Afrika... “Land van Rook”

BO: Land van Rook, het die ou ontdekkingsreisiger Vasco da Gama ons węrelddeel genoem omdat hy met sy verbyvaart soveel rook van veldbrande gesien het. Só lyk dit uit die ruimte wanneer die veld oor ’n breë gebied in Suid-Afrika brand.

Foto: NASA / JSC / ES&IA

ONDER: Nog Suid-Afrikaanse veldbrande soos dit vanuit die ruimte waargeneem is. Hewige brande het op 28 Julie 2007 in die oostekant van ons land gewoed toe instrumente aan boord van NASA se Aqua-satelliet hierdie beeld vasgevang het.

Foto met vergunning van Jeff Schmaltz, MODIS Land Rapid Response Team, NASA GSFC

SA veld aan die brand — ’n ruimtefoto

Die “rookpannekoeke”
van die Kalahari

BO: Brand en rook in die Kalahari-woestyn in Suidelike Afrika is ’n algemene gesig vir ruimtevaarders, hoewel hierdie foto reeds meer as ’n dosyn jaar gelede (Junie 1996) geneem is. Die foto is uniek omdat die rookpluime nie deur laevlakwinde weggedra word nie. Pleks daarvan styg die rook op en sprei dit egalig bokant die vuur uit—wat dit vanuit die ruimte na “rookpannekoeke” laat lyk. Party van die brande is warm genoeg om klein cumulus-wolke bo-op die rook te ondersteun (die wollerige wit wolkies in die middel van die “pannekoeke”).

Foto: Earthweb / NASA

Helikopter giet water oor brand uit

Vlieënde brandweer

BO: Helikopters wat groot hoeveelhede water oor die vuur uitgiet, is ’n baie nuttige moderne hulpmiddel in die bestryding van weghol-veldbrande.

Foto: Bob Nichols / USDA / ARS met grafiese alterasie deur Mieliestronk.com

Klik hier vir nog vuurfoto’s in foto-artikel oor brandweer