|
REGS: Die berg Etna in Sicilië, een van die aarde se bekendste aktiewe vulkane. Drukkings op die warm,
gesmelte maag van die aarde laat hom vurig vomeer... deur openinge by
swak plekke in sy vel! Só kan ’n mens die rede vir vulkaniese
uitbarstings kortliks grafies vir die leek beskrywe. Maar die leer van
vulkane en vulkaniese verskynsels (vulkanologie) is ’n uitgebreide
wetenskap...
|
||||||||
|
N
die jong dae van die aarde het Suid-Afrika heeltemal anders gelyk as
vandag. Siedende vulkane het hul vuurstrome oor die landskap uitgegiet
en hul digte rookdampe in die atmosfeer ingeblaas. Trouens,
paleontoloë vertel dat alles wat in die Karoo gelewe het, eenmaal in
die verre verlede uitgewis is deur vulkaniese uitbarstings waarvan ons
nog die oorblyfsels in die vulkaanklip van die Drakensbergpieke kan
sien. Nog
getuienis van vulkanisme baie lank gelede is te sien in Lebombo, die
Suurberg, asook die Karookoppies en Paarlrots in die Boland. En
natuurlik in ons land se ontsaglike mineraleryk. Suid-Afrika
is ’n belangrike mynbouland met die wêreld se grootste reserwes van
goud, chroom, vanadium, mangaan en metale van die platinum-groep.
Daarbenewens is ons ’n wêreldleier in die diamantbedryf en beskik ons
ook oor uraan, koper en nog meer. Alles danksy die vulkane van ouds wat
die rykdomme uit die aarde se maag so gul oor Suidelike Afrika
opgerisp het. Die
bekende kimberlietpype met hul blou grond waarin soveel kosbare diamante
uit doodgewone koolstof saamgepers is, is baie sigbare oorblyfsels van
lank gelede se vuurspuwende berge. Ons goud het weer in ’n vloeibare
vorm uit die aarde se binneste gekom om goudare in krake in die
aardoppervlak te vorm. Vandag
het ons gelukkig weinig te vrees van omgesukkelde vulkane. Hul blus is
plaaslik lankal uit en ons aardkors is deesdae genadiglik dik en
bestendig genoeg om vulkaniese uitbarstings te keer (hoewel aardbewings
tog nog plaasvind weens ons baie mynboubedrywighede en ander faktore). Só
’n betreklik vaste bodem is egter miljoene ander mense nie beskore
nie, dié wat willens en wetens elders op aarde in die skadu van aktiewe
of sluimerende vulkane woon. Hoekom tart hierdie mense dan as ’t ware
die dood deur hul landerye selfs teen die hange van sulke vuurspuwende
berge aan te lê? Die vernaamste rede is natuurlik dat vulkaangrond
uiters vrugbaar is. Daarom sal groot getalle mense hulle steeds soos die
antieke volkere in die omstreke van vulkane bly vestig, al eis dié
onstuimige berge ook hul tol soos byvoorbeeld die berg Pinatubo in 1991
in die Filippyne gedoen het. Pinatubo
het in die middel van daardie jaar ’n geraamde 550 mense die ewigheid
ingestuur en ver meer as ’n halfmiljoen hul bestaansmiddele ontneem.
Die uitbarsting het boonop getoon hoe gevaarlik dit is om te glo dat
dooie vulkane blywend uitgedoof is, want Pinatubo het meer as ses eeue
tevore laas uitgebars. Die lewensverlies was
gelukkig nie naby die 40 000 lewens wat in 1902 geëis is toe die stad
St. Pierre op die Wes-Indiese eiland Martinique deur die vulkaan Mont
Pelée in puin gelê is nie. Daar word vertel dat al die stad se
inwoners gesterf het. Die enigste oorlewende was glo ’n moordenaar wat in die ondergrondse stadstronk opgesluit was. Ook hierdie
vulkaan was eeue lank rustend. Dit herinner ’n mens aan
die berg Vesuvius in Suid-Italië wat in 79 n.C. uitgebars en die stede
Pompeji, Herculaneum en Stabiae
begrawe het. Eers byna duisend jaar later het Vesuvius weer lawa gespuug
(in 1066) en in 1631 het ’n uitbarsting vyf dorpe verwoes. In 1794 het
’n hewige uitbarsting die dorp Torre del Greco in puin gelê. Ná ’n
reeks kleiner uitbarstings was daar weer ’n kwaai een in 1906, gevolg
deur geringer uitbarstings in 1913, 1926, 1929 en 1944. En is Vesuvius nou
uitgewoed? Moenie glo nie. Meer as drie miljoene mense woon steeds in
die omgewing van Napels, hoewel almal weet dat die vulkaan weer op ’n
dag skielik gaan uitbars. In die middel van die jare negentig was daar
juis vroeë aanduidings dat Vesuvius besig was om uit sy slaap te
ontwaak. Die
enigste aktiewe vulkane in Afrika vind ons vandag in die Demokratiese
Republiek van die Kongo. Daar is omtrent vyf van hulle en daar is
blykbaar ook nog lank geen rus in hul ingewande nie. In die begin van
2002 het die vulkaan Nyiragongo
byvoorbeeld meer as 200.000 mense uit hul wonings verjaag. Lawa met
snelhede van sowat 60 km/h het oor die dorp Goma gestroom. Maar
watter geweldige kragte woed daar dan onder die aarde se oppervlak wat
sulke ontsettende rampe veroorsaak? Kom ons bekyk dit ’n bietjie van
naderby.
Waar
en hoe vulkaniese uitbarstings ontstaan VREEMD
genoeg kan die aarde nogal vergelyk word met ’n verweerde ou tennisbal
wat aan die binnekant vol warm modder gestop is, met ’n albaster reg
in die middel van die modder. Ons lewe op die buitekantste dop van die
"bal", maar so 30 tot 60 km onder ons voete is daar ’n
vuurwarm taai-vloeibare stof wat magma genoem word. Plek-plek
is daar egter swak plekke in die aardkors (soos in ’n voos tennisbal)
en sodra druk binne-in opbou, word die magma met geweld na buite
uitgeforseer. Dit geskied ook letterlik soos met die druk van ’n
pitsweer, om ’n ander grafiese vergelyking te tref! Meer
wetenskaplik lê die sleutel tot die kennis van vulkane in die teorieë
van vastelandskuiwing en plaat-tektoniek. Volgens geoloë bestaan die
oppervlak van die aarde uit 'n mosaïek van beweeglike eenhede wat plate
genoem word. Die vastelande is op hierdie plate geleë en skuif gedurig
oor die aardoppervlak namate die plate beweeg. Daar
is groot aktiwiteit aan die rande van die plate. Gesmelte rots styg van
onder af op. Gewoonlik stol dit om ’n nuwe kors op die plate te vorm,
maar partykeer bars dit deur die oorliggende rots in die vorm van ’n
vulkaan. Die meeste van die
huidige aktiewe vulkane word in die sogenaamde "Vuurgordel"
aan die kuste van die Stille Oseaan aangetref. Daar is vandag sowat 500
aktiewe vulkane op aarde en baie onder die see, plus duisende
uitgedoofdes.
REGS: ’n Sogenaamde lawafontein spuit ’n vurige boog in Hawaii. Foto’s: U.S. Geological Survey
Bronne verskil oor die gemiddelde
hittegraad van die magma onder die aardkors (minstens 700 tot 1300 grade
Celsius word genoem). Die uitwerping kan ewenwel stadig of blitsig
geskied. Soms is daar ’n hewige ontploffing soos by ’n drukpot
waarvan die stoomklep onklaar geraak het, maar die uitbarsting kan ook
meer langsaam plaasvind soos die pruttende water in ’n verhitte pot. Die
magma is nie bloot gesmelte gesteentes nie, maar bevat ook baie gas. Die
gas bly opgelos in die magma totdat die druk van bo genoeg verminder het
dat dit kan ontsnap—partykeer by wyse van 'n ontploffing. Die gesmelte
materiaal wat na buite uitgewerp word, word lawa genoem. Dit bevat
betreklik min opgeloste gas en is dus minder vloeibaar as die magma. Magma
bestaan hoofsaaklik uit die oksiede van silikon, aluminium, yster,
magnesium, kalsium, natrium en kalium, asook uit water in die vorm van
superverhitte stoom. Op pad na die aardoppervlak kan die magma
omliggende gesteentes in die aardkors laat smelt, en ook as plate tussen
hulle indring. Interessant
genoeg bereik die meeste vloeibare rotsmateriaal wat boontoe beweeg,
nooit die oppervlak van die aarde nie. Ná
'n vulkaniese uitbarsting ontwikkel daar naamlik ’n drukbalans in die
magma, en die vulkaan word geblus. Die magma wat opgestyg het, koel af
en stol, en die pyp word soos deur ’n prop gesluit. As die prop nog
dampe en gasse laat ontsnap, word gesê dat die vulkaan
"rustend" is. Indien die pyp egter so dig gesluit is dat geen
gasse of dampe daardeur kan ontsnap nie, word die vulkaan as geblus
beskou. Ná 'n tyd—’n paar jaar of selfs eeue—kan die druk in die
magma egter weer só toeneem dat die siklus opnuut begin: die magma druk
so kragtig teen die prop dat dit in ’n ontploffing na buite
uitgeslinger word. Die vulkaan is dan weer aktief.
Die
bou van ’n vulkaan
OP die illustrasie REGS word die verskillende dele van ’n vulkaan aangetoon.
Die
krater is wat oorgebly het van die bek van die tonnel wat die magma na
die aardoppervlak gemaak het. Die
pyp is die "aar" wat die magma na die aardoppervlak gevolg
het. Pype kan enkel of samegesteld wees. Produkte van vulkane
•
Lawas: Verskillende
soorte lawa—soos
magma genoem word wat op die oppervlak uitstoot—verskil
baie van mekaar, in voorkoms sowel as in temperatuur en samestelling.
Geen twee vulkane het presies dieselfde soort lawa nie. Basalt, die
volopste soort, is tipies van die sogenaamde basiese lawas. Dit bevat
’n betreklik mindere hoeveelheid silikondioksied, die vernaamste
bestanddeel van alle lawas. Dit is donker van kleur, uiters warm en
taamlik vloeibaar. Suurlawas,
wat ryk aan silikondioksied is, is oor die algemeen lig van kleur,
relatief dik, gasserig en bars dikwels ontploffend uit. Die temperatuur
van só ’n lawa is in die reël ietwat laer as dié van die basiese
tipe. Baie lawas is iets tussenin hierdie twee soorte. Nadat dit gestol
het, word die eens gesmelte stof ook lawa genoem. •
Gasse: Gasse,
waarvan party giftig is, ontsnap gewoonlik in groot hoeveelhede wanneer
vulkane uitbars. Die geweldige krag agter die uitsetting van hierdie
gasse is die vernaamste oorsaak van vulkaniese ontploffings. Stoom is
verreweg die volopste gas, maar daar is ook koolstofdioksied, waterstof,
stikstof, suurstof, swaweldampe en ander gasse.
Brokstukke so groot soos okkerneute word lapilli genoem, die Latynse woord vir klippies. Al hoe kleiner stukke heet slak, as en stof, in daardie volgorde. Waar fyn deeltjies, veral as, in dik lae neergelê word en kompak raak, vorm hulle ’n sagte gesteente wat tufsteen genoem word. Puimsteen, ’n ligte poreuse en sponsagtige vulkaangesteente wat op water kan dryf, word deur die vinnige afkoeling van skuimerige lawa gevorm.
BO:
Aangeslikte lapilli, Hawaii. |
||||||||
|
|
|
|
REGS: Dis nie net
aardbewings en vulkane wat verklap dat daar iets vreemds binne-in die
aarde aan die gang is nie. Ook warmbronne en spuitbronne getuig daarvan.
Hulle word gevorm waar ondergrondse water met warm vulkaniese
gesteentes in aanraking kom. |
|
|
|
|