Thomas Jefferson, skrywer van die Verklaring van OnafhanklikheidThomas Jefferson en die Amerikaanse vryheidstryd (ook die Amerikaanse Revolusie genoem)

LINKS: Thomas Jefferson (1743-1826), skrywer van die Verklaring van Onafhanklikheid.

Vryheidstandbeeld (Statue of Liberty)

 

Die geboorte van die VSA

REGS: Die beroemde Amerikaanse Vryheidstandbeeld (Statue of Liberty) op Liberty Island in die hawe van New York. Die standbeeld stel vryheid voor in die vorm van ’n vrou met vloeiende klere wat ’n spigtige kroon op haar kop het en ’n fakkel in haar regterhand omhoog hou. In haar linkerhand dra sy ’n boek met die inskripsie “July 4, 1776”. Dit gedenk die Verklaring van Onafhanklikheid van 4 Julie 1776 (geskryf deur Thomas Jefferson), in wese die geboorte van die Verenigde State van Amerika. Die standbeeld is ’n eeu later deur die Franse regering aan die VSA geskenk toe die Amerikaners hul eerste eeufees as onafhanklike nasie gevier het. Die beeldhouer was die Fransman Frédéric Bartholdi. Die enorme beeld staan 93,5 meter hoog van die onderkant van die voetstuk tot by die bokant van die fakkel. Liberty verwelkom besoekers en nuwe immigrante in die New Yorkse hawe.

Foto: U.S. National Park Service

Agtergrond van die vryheidstryd

Die dertien Britse kolonies wat aanvanklik die Verenigde State gevorm hetDIE Verenigde State van Amerika het tot stand gekom vanweë ’n vryheidstryd wat die oorspronklike dertien Britse kolonies aan die oostekant van Noord-Amerika teen hul moederland, Brittanje, gevoer het. Dit staan in die VSA bekend as hul “War of Independence”, en ook as die “American Revolution”. Die konflik het van 1775 tot 1783 geduur.

   Frankryk het mettertyd tussenbeide getree as ’n bondgenoot van die state wat hulself onafhanklik van Brittanje verklaar het, en die gevolg van die oorlog was dat die kolonies ’n afsonderlike land, die Verenigde State van Amerika, geword het. Later is al hoe meer state op die Noord-Amerikaanse vasteland gevorm wat hulle by die VSA aangesluit het, met die gevolg dat dit vandag ’n federale republiek met vyftig state is. In Amerika word nie na hierdie state as provinsies verwys nie. Elke staat het immers ’n groot mate van selfregering, hoewel die federale regering as oorkoepelende liggaam saam met die Amerikaanse president altyd as die hoogste regeringsgesag eerbiedig word.

   Op 4 Julie 1776 het die Kontinentale Kongres van die Amerikaanse Kolonies die Verklaring van Onafhanklikheid aanvaar en is die Verenigde State van Amerika gebore. Ofskoon die Verklaring van Onafhanklikheid oorspronklik net bedoel was om die vrywording van die Amerikaanse volk te verkondig, het dit sedertdien een van die wêreld se invloedrykste politieke geskrifte geword.

   In hierdie artikel kom die ontstaan van hierdie dokument en sy skrywer onder die loep… en word ook oorsigtelik vertel van die Amerikaanse Vryheidsoorlog met sy epiese gevolge wat steeds die gees en handelinge van die Amerikaanse nasie rig...

Hoofteks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com van eie materiaal asook historiese en ander afbeeldings wat ingevolge die Amerikaanse reg tot openbare besit (“public domain”) gereken word

   ''Ons ag hierdie waarhede as vanselfsprekend, dat alle mense gelyk geskape is, dat hulle deur hul Skepper met sekere onvervreembare regte toebedeel word, waaronder lewe, vryheid en die nastrewing van geluk. Dat, om hierdie regte te beveilig, regerings onder die mense ingestel is, wat hul magte verkry met die instemming van diegene oor wie hulle regeer; dat, wanneer enige regeringsvorm hierdie doelwitte begin vernietig, dit die reg van die mense is om dit te wysig of af te skaf.''

— Uit die Verklaring van Onafhanklikheid [1776], geskryf deur Thomas Jefferson.

 

DIS ’n lentemôre in 1775. Die kerkie op die Virginiese dorpie Richmond is so stampvol dat mense selfs buite aan die vensters hang om te hoor wat binne aan die gang is. ’n Regsgeleerde met rooi hare en ’n vurige natuur staan op en spreek die geesdriftige skare toe.

 

''Die verskille tussen Virginiërs, New Yorkers en Nieu-Engelanders bestaan nie meer nie,'' dreun Patrick Henry se stem. ''Ek is geen Virginiër nie. Ek is ’n Amerikaner!'' Die skare—mense uit elke uithoek van die Brits-Amerikaanse kolonies—juig hom luid toe.

 

Patrick Henry: “Ek is ’n Amerikaner!”LINKS: Patrick Henry: “Ek is ’n Amerikaner! ... Gee my vryheid! Of gee my die dood!”

 

''Hoekom staan ons hier ledig?'' gaan hy voort. ''Die oorlog is reeds op ons. Die volgende stormwind wat vanuit die noorde snel, sal die gerammel van weergalmende wapens na ons ore bring ... Gee my vryheid! Of gee my die dood!''

 

Die skare brul. In die gehoor is ’n ander lang Virginiese regsgeleerde. Sy naam is Thomas Jefferson. Hoewel hy stemmiger as Henry is, is hy ewe geesdriftig oor die vooruitsig van vryheid. Maar wie was die mense in die kerkie —en waarom was hulle so gretig om hul vryheid te verkry?

 

Hier volg die verhaal van die Amerikaanse vryheidstryd in ’n neutedop...

 

VANDAT Christopher Columbus in 1492 die Nuwe Wêreld ontdek het, het Amerika die tuiste van baie setlaars geword. Eerste het die Spanjaarde gekom, wat kolonies op die Karibiese Eilande en in Mexiko, Nieu-Mexiko, Arizona en Kalifornië gevestig het. Toe was daar die Franse, wat langs die riviere St. Lawrence en Mississippi versprei het.

 

Van die 1620’s af het duisende immigrante uit Brittanje hulle langs die Atlantiese kus begin vestig, tussen Maine en Florida.

 

Die kolonies wat hulle gestig het, is deur die Britse regering regeer—en belas. Met verloop van tyd wou die koloniste egter onafhanklik wees. Daar was verskeie redes daarvoor.

 

Vir eers is Amerika immers baie groter as Engeland. Dit het vir die koloniste belaglik gelyk dat hul groot vasteland deur ’n klein eilandjie regeer word.

 

Ten tweede is Londen so ver van Boston af dat ’n seereis tussen die twee stede destyds tot drie maande geduur het.

 

Ten derde was die Amerikaners verplig om belastings aan hul moederland te betaal, hoewel hulle nie parlementslede kon kies om hulle te verteenwoordig nie.

 

Om dié toedrag van sake reg te stel, het die Amerikaners besluit om Britse goedere te boikot, en teen 1770 is die meeste van die belastings afgeskaf. Maar Brittanje het steeds die belasting op tee behou —iets wat die Amerikaners ontstig het.

 

Ten vierde was die Amerikaners baie ongelukkig oor die manier waarop hul regeerders hulle behandel het. Dié, het hulle beweer, het gedurig ingemeng in hul politiek, handel en nywerhede, boeresake, die houtkapbedryf en die jag, selfs met hul godsdiens.

 

In die 1760’s en 1770’s het die spanning tussen die kolonies en Brittanje vererger en het die beweging vir onafhanklikheid sterker geword.

 

Een opspraakwekkende gebeurtenis was die sogenaamde ''Bostonse Bloedbad'' van 1770.

 

Paul Revere se uitbeelding van die  “Bostonse Bloedbad”REGS:  Paul Revere se uitbeelding van die  “Bostonse Bloedbad”.

 

’n Groep skoolseuns van Boston het die Britse soldate, wat rooibaadjies genoem is, eers met sneeuballe en toe met klippe begin gooi. Die soldate is gelas om te skiet en spoedig het drie mense in die sneeu dood gelê. Die ongelukkige voorval het die indruk gelaat dat die rooibaadjies tiranne is en die Amerikaners nog verder vertoorn.

 

Nog ’n berugte konflik was die ''Bostonse Teeparty'' van 1773. Die Amerikaners was destyds groot teedrinkers. Maar die Britte het tee wat in Amerika ingevoer is, swaar belas. Die Amerikaners het besluit om tee te boikot. Toe ’n skip met 342 kiste Indiese tee die Bostonse hawe binnevaar, het ’n groep koloniste vermom as Mohawk-Indiane die Dartmouth bestorm en die tee in die water gegooi. Dae lank was die Bostonse hawe soos een reuse-teekoppie.

 

“Bostonse Teeparty”

  
BO: Die “Bostonse Teeparty”—’n klassieke litografiese voorstelling wat in 1846 gemaak is.

Die Bostonse Teeparty sou die vonk word wat die Revolusionêre Oorlog teen die moederland ontketen het. Die Britse regering, wat nie wou hê die wêreld moes sien dat hy die beheer oor sy kolonies verloor het nie, het gereageer deur die hawe te sluit totdat daar vir die tee betaal is—iets wat die stad se ekonomie kon verwoes.

 

Gewapende koloniste genaamd ''Minute Men''—só genoem omdat hulle gereed vir aksie sou wees die einste minuut wanneer hulle opgeroep is—het gewere en buskruit in pakhuise op verskeie plekke begin opgaar. Toe die Britte dit besef, het hulle in April 1775 na Lexington en Concord opgeruk om op die skietgoed beslag te lê. Skote is geskiet—en agt Minute Men het gesneuwel. Hiermee het die oorlog in al sy felheid losgebars.

 

Toe dit alles verby was—agt jaar later—was die nuwe Verenigde State van Amerika daar. Hoe het dit gebeur? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons terugkeer na daardie stemmige heer in die gehoor van die Virginiese kerkie, van wie ons in die begin vertel het.

 

THOMAS JEFFERSON  (1743-1826) was een van die sleutelfigure in die Amerikaanse Revolusie. Maar, anders as die meeste revolusionêre, wat die vyand met woord en geweld beveg het, het Jefferson stilweg die toekoms van sy land beplan. Sy belangrikste bydrae was vroeg in die oorlog toe die Kongres hom in Junie 1776 versoek om ’n verklaring van onafhanklikheid op te stel, bygestaan deur ’n komitee van vyf lede.

 

As ’n man van vele talente het Jefferson ook ’n slag met woorde gehad, en die politieke oortuigings soos hy dit in die verklaring verwoord het, het sedertdien regoor die wêreld beroemd geraak. Die idees en woorde daarvan het leiers onder alle nasies besiel, want dis geskryf in ’n tyd toe die wêreld deur hooghartige en aanmatigende konings regeer is. Mense is as minderwaardig beskou as hulle nie soveel geld en mag as ander gehad het nie en vele het geen menseregte gehad nie.

 

Jefferson se worstelstryd op papier om presies die regte woorde te vind...

BO: Jefferson se worstelstryd op papier om presies die regte woorde te vind, is hier baie duidelik.

Benewens sy beginsels oor vryheid en demokrasie, bevat die verklaring ook ’n lang beskrywing van die Amerikaanse griewe jeens koning George III van Engeland, wie se regering die koloniste onwettig sou belas en wreed sou behandel het.

 

Nadat ’n paar veranderings aan besonderhede aangebring is, is Jefferson se Verklaring van Onafhanklikheid op 4 Julie 1776 deur die Kongres aanvaar. Sedertdien word 4 Julie elke jaar as Onafhanklikheidsdag in die VSA gevier.

 

Die ondertekening van die Verklaring van OnafhanklikheidREGS: Die ondertekening van die Verklaring van Onafhanklikheid.

 

Die oorlog teen Brittanje het sewe jaar ná die Verklaring van Onafhanklikheid voortgeduur. Hoewel die Britte slag ná slag gewen het, kon die Amerikaanse magte taks terugtrek om te hergroepeer. Uiteindelik het hul onkunde omtrent die groot vasteland, asook die vernuf van die Amerikaanse opperbevelhebber George Washington, sy tol by die Britte begin eis.

 

Die laaste strooi was toe koning Lodewyk XVI van Frankryk ’n vloot en troepe gestuur het om die Amerikaners te help. In 1783 het Brittanje uiteindelik ingestem om die kolonies hul onafhanklikheid te gee.

 

In 1787 is die Grondwet vir die nuwe Verenigde State van Amerika in Philadelphia opgestel. George Washington is as die land se eerste president gekies, terwyl Thomas Jefferson die minister van buitelandse sake geword het. Jefferson het self later die derde president van die Verenigde State geword.

 

George Washington, eerste president van die VSAREGS: George Washington, eerste president van die VSA.

 

Jefferson was ’n begaafde regsgeleerde wat hom vir maatskaplike hervorming beywer het. Hy het geglo slawerny is moreel verkeerd en het aanbeveel dat alle slawe vry word wat ná ’n sekere datum gebore is.

 

Hy het egter gou besef dat die tyd nog nie ryp was vir só ’n verandering nie. Hy het egter wel daarin geslaag om die invoer van slawe tot ’n einde te bring. "Niks is meer gewis in die boek van lotsbestemminge geskryf nie,'' het hy gesê, ''as dat hierdie mense vrygestel gaan word.''

 

Jefferson was net 33 jaar oud toe hy die Verklaring van Onafhanklikheid geskryf het. Sy opvattings—soos dat ''alle mense gelyk geskape is''—was veral besonders omdat hy self as aristokraat gebore en grootgemaak is.

“Stars and Stripes”—landsvlag van die VSA

 

“Stars and Stripes”—die eerste en die huidigeHEEL LINKS: Die Amerikaanse landsvlag soos dit op 14 Julie 1777 deur die Kongres aanvaar is: dertien sterre, wat die dertien oorspronklike kolonies verteenwoordig het op ’n paneel links bo, en dertien rooi en wit strepe op die res van die vlag. Die Kongres het nie bepaal hoe die sterre gerangskik moes word nie. Die kring was maar net een van vele rangskikkings.

 

REGS BO: Die Amerikaanse vlag soos dit vandag lyk. Met die toevoeging van ál meer state tot die VSA het die sterre ook met verloop van tyd vermeerder—een ster vir elke staat. Daar is egter steeds dertien rooi en wit strepe. Aanvanklik is die strepe ook vermeerder in die mate dat nuwe state toegevoeg is, maar in 1818 is ’n wet aangeneem waarkragtens tot dertien strepe teruggekeer sou word en slegs die sterre voortaan meer sou kon word.  Op 4 Julie 1960 het die “Stars and Stripes” sy vyftigste ster gekry nadat die groep eilande van Hawaii die status van ’n staat verwerf het.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad