|
 |
|
Vrugte
van
die
trope

BO: Verskillende
soorte tropiese vrugte.
FotoL
Peggy Greb
/ ARS / U.S. Department of Agriculture
Van al die streke op aarde is die trope se
plantegroei die weligste. Hier reën dit immers oorvloedig en is dit
regdeur die jaar warm. Dit spreek dus vanself dat talle soorte
eetbare vrugte uit die tropiese gebiede kom. Tropiese vrugte is
onder meer die bekende piesang, pynappel en papaja, maar baie soorte
aard ook goed in die subtropiese streke. Hieronder word meer van dié
smaaklike vrugte vertel...
|
|
Wat is ’n vrug?
AIE plante plant voort deur middel van saad—wat ontkiem en presies dieselfde plantsoort as die ouerplante
voortbring. Maar plante kan nie rondbeweeg om hul saad te versprei
nie. Pleks daarvan produseer hulle vrugte.
’n Vrug is die volgroeide vroulike deel of dele van ’n blom—die
vrugbeginsel. Die doel van die vrug is om die saad of sade daarin te
beskerm en om te help dat dit versprei word. Die mens, en baie
soorte diere, is nie verniet so lief vir vrugte nie. Omdat vrugte so
lekker is, word hul saad wyd en syd verstrooi, wat telkens die
oorlewing van dié bepaalde plant beteken.
Dit is interessant dat ons woord “vrug” ontleen is aan die Latynse
woord fructus. Dié hou blykbaar verband met die Latynse fruere, wat
“geniet” beteken.
|
|

PIESANGS (genus Musa)
kom oorspronklik uit Indië, maar word nou in tropiese lande
elders in Asië, asook in tropiese Afrika en Suid- en
Sentraal-Amerika gekweek. Brasilië, Uganda, Indië en die
Filippyne is toonaangewende piesangprodusente. In Suid-Afrika word
die vrug kommersieel verbou in KwaZulu-Natal, wat eintlik ’n
subtropiese streek is.

LINKS BO en REGS BO:
Piesangtrosse—aan die boom en groen afgesny om na die een of
ander mark gestuur te word. Met verloop van tyd sal die piesangs
los van die boom vergeel en ryp word.
Foto links bo:
ARS / U.S. Department of Agriculture.
Foto regs bo:
Scott Bauer
/ ARS / U.S. Department of Agriculture
Hoewel die piesangplant tot 10 m hoog kan word, het hy nie ’n
houtagtige stam en takke nie. Hy is dus nie werklik ’n boom nie,
maar eintlik ’n familielid van die kanna en die strelitzia.
REGS:
Die bekende strelitzia (kraanvoëlblom)... verwant aan die
piesang.
Foto:
Scott Bauer
/ ARS / U.S. Department of
Agriculture
Nuwe piesangplante word gekweek van suiers wat deur die moederplant
gevorm word. Die ondergrondse deel van die plant staan bekend as die
risoom of wortelstok. Bogronds ontwikkel die plant blare en ’n
sogenaamde skyn- of pseudostam, wat eintlik ’n reeks blare is wat
dig teen mekaar gerangskik is.
Wanneer die plant sowat ’n jaar oud is, stoot ’n groot blomsteel
deur die middel van die skynstam aan die bokant uit. Dit kantel
sywaarts namate dit ál langer word totdat die bloeiwyse uiteindelik
onderstebo hang. Die blomme verander in piesangtrosse, wat boontoe
draai na die son toe. Daar kan van honderd tot tweehonderd piesangs
aan een steel wees.
Piesangs is ryk aan koolhidrate, wat energie verskaf, en bevat ook
fosfor, kalium en die vitamiene A en C. Hulle woord meestal rou
geëet, maar kan ook vir nageregte en koeke gebruik word. Hulle kan
gedroog, tot meel gemaal en laat gis word om bier en asyn te maak.
REGS:
Piesangs in ’n verpakkingaanleg in Honduras.
Foto: Rainforest
Alliance / via USAID
Ons woord “piesang’’ is ontleen aan die Maleise woord “pisang’’.
’n Ander woord daarvoor is natuurlik “banana’’ wat nie, soos baie
mense miskien dink, bloot die Engelse benaming is nie. Eintlik kry
Afrikaans én Engels die woord uit Portugees en/of Spaans, maar
oorspronklik uit Arabies. Dit hou verband met die Arabiese
“banan’’, wat volgens sommige “vinger’’ beteken en volgens ander
“smaaklik’’.
Daar is sowat honderd soorte piesangs, waaronder harde, groen
piesangs wat meelpiesangs genoem word. Dit word in Brasilië as ’n
groentesoort gekook.
Anders as in die soorte wat ons ken, kan daar
talle harde saadjies binne-in wilde piesangs wees.

BO: Alles wat
blink, is nie goud nie, en alles wat halfmaanvormig en geel
is, is nie piesangs nie... Wat jy hier sien, is eintlik ’n
beeld van die son se magneetveld, soos gegenereer deur ’n
rekenaar.
Krediet:
A. Gary et al. (NASA /
MSFC), NASA
|
|
Pynappels
• Kyk ook
Mieliestronk-artikel: Pynappel—die
pynlose heerlikheid
DIE pynappel is ’n vrug wat
tot die familie Bromeliaceae behoort. Dit is een van die gewildste
tropiese vrugte, met sowat 8 300 000 ton wat jaarliks regoor die
wêreld gekweek word.
Hoewel dit ’n tropiese vrug is, word dit in Suid-Afrika in die
Oos-Kaap en die kusstrook van KwaZulu-Natal verbou. Thailand lewer
sowat ’n kwart van die wêreld se pynappels.
REGS:
Daar is verskillende variëteite van
die pynappel (Ananas comosus). Hier is ’n gladdeblaar-tipe
met welige loof bo-aan die vrugkeël. Die pynappel is ’n veelvuldige
vrug,
bestaande uit verskillende vruggies wat tot een versmelt het.
Foto: ARS / U.S. Department of Agriculture
Voortplanting van pynappels geskied deur middel van steggies, krone,
suiers en opslaglote. Die pynappelplant het ’n roset skerp,
swaardvormige blare wat uit die grond groei. Die groot vrug in die
middel, wat op ’n kort stingel gedra word, het ’n doringagtige
skilpaddop-voorkoms met ’n roset blare op die punt. Wanneer dit ryp
is, het dit ’n oranjegeel kleur.
Pynpappels het oorspronklik wild gegroei in Suid- en
Sentraal-Amerika. Christopher Columbus en sy manne was waarskynlik
die eerste Europeërs wat dit geëet het. Die vrug is moontlik deur
Jan van Riebeeck na Suid-Afrika gebring.
Pynappels word vars geëet of in poedings, koeke en snoepgeregte
gebruik. Hulle word ook ingemaak en versap. ’n Nuttige neweproduk is
die vesel van die blare, wat tot tou geweef word of tot ’n
kledingstof wat pina genoem word.
Interessant genoeg kry die pynappel sy naam van die dennebol, die
vrugkeël van die denneboom—of pynboom soos dit ook genoem word.
Die vorm en ruwe dop van die ware pynappel het die Europeërs aan die
“appel’’ van die pynboom herinner, en toe gee hulle hom dieselfde
naam.
|
|

BO: ’n Heel
papaja, met ’n deurgesnyde een daarnaas waarin die talle
saadjies duidelik te sien is.
Foto: ARS / U.S. Department of
Agriculture
HEERLIK, gesond en veelsydig is die vrug van die
papaja, wat tot die familie Caricaceae behoort. Die plant is ’n
kruidagtige boom met ’n hol, veselrige stam. Manlike en vroulike
blomme word aan aparte bome gedra.
Die groot, spanspekvormige vrugte, wat in trosse bo-aan die stam
groei, weeg sowat 2 kg, hoewel party meer as 7 kg kan weeg. Die
vrugte is groen of geel met ’n intens rosige oranje vleis en
honderde grys-swart saadjies aan die hol binnekant.
REGS:
Papajas aan die boom.
Foto: ARS / U.S.
Department of Agriculture
Die wit, melkagtige sap in groen papajas bevat papaïen, ’n
belangrike stof vir die vervaardiging van spysverteringsmiddels. Dit
is so kragtig dat taai vleis sag word as dit ’n ruk lank in
papajablare gehul word.
Papajas is inheems in Sentraal-Amerika, maar word vandag in tropiese
gebiede regdeur die wêreld gekweek. Brasilië, Chili, Indonesië,
Indië en Mexiko is toonaangewende produsente. In Suid-Afrika
word dit in die Laeveld en in ’n mindere mate in die kusstrook van
KwaZulu-Natal verbou.
Die vrugte is ryk aan die vitamiene A en C en het ’n hoë
veselinhoud. Papajas smaak die lekkerste as dit ryp van die boom
geëet word. Dit is smaaklik in vrugteslaai of kan by ander geregte
en poedings gevoeg word.
|
|

BO: ’n Heel
en ’n deurgesnyde koejawel
Foto: ARS / U.S. Department of
Agriculture
’N HARDEKOEJAWEL—só praat ons van ’n eiewyse
en koppige mens. En as daar iets is wat nog altyd teen die koejawel
getel het, is dit sy baie en harde pitte. Van die nuwe variëteite
het egter baie meer vleis en minder pitte, en suikersoet, ingelegde
koejawels en koejawel-koeldranke is vandag gunstelinge in menige
huis.
|
 |

LINKS:
Bloeiwyse van die koejawel.
BO:
Koejawels aan die boom. |
Foto van bloeiwyse:
Scott
Henderson @ USDA-NRCS PLANTS Database
(“not copyrighted, but credit
appreciated”)
Foto’s van vrugte
aan die boom: U.S. Geological Survey
Die immergroen koejawelboom met sy gladde, glansende bas en
hangtakke behoort tot die mirte-familie Myrtaceae. Die vrug is groen
tot geel aan die buitekant, maar pienk, wit of geel binne, met
daardie harde, maar eetbare pitte in die middel.
Die koejawel (of guava) kom oorspronklik uit die tropiese dele van
Amerika, tussen Mexiko en Peru, maar word vandag in byna alle
tropiese en subtropiese dele van die wêreld aangetref. In
Suid-Afrika het die koejawel van groot ekonomiese belang geword toe
dit in die Tweede Wêreldoorlog vanweë sy rykheid aan vitamien C as
’n waardevolle beskermende voedsel vir die troepe in Noord-Afrika
beskou is.
|
|

BO: Lietsjies aan die
boom.
Foto:
Barry Fitzgerald /
ARS / USDA
REGS:
Lietsjies (Litchi chinensis).
Foto:
Peggy Greb /
ARS / USDA
Lietsjies
IN Suid-Asië word die lietsjie al langer as
2000 jaar gekweek, dalk reeds tot 4000 jaar. Veral by die Chinese staan dit hoog
aangeskrewe as ’n lekkerny en die naam is trouens Chinees. Dit is ’n
Chinese gebruik om met Nuwejaar geskenke van gedroogde lietsjies te
gee.
Die immergroen lietsjieboom dra groenerige blomme wat tot trosse
vrugte ontwikkel. Die vrug se deursnee wissel tussen omtrent 1,5 cm
en 4 cm. Dit word bedek deur ’n bas-agtige dop wat afgetrek kan word
om die wit vleis met sy enkele bruin pit te ontbloot.
Lietsjies word vandag in China, Australië, Indië, Amerika en
Suid-Afrika gekweek. Hulle word vars geëet of word ingemaak of
gedroog.
|
|

BO: ’n Mango.
Foto:
Wilhelmina Wasik
/ ARS / U.S. Department
of Agriculture
Mango’s
DIE
mango (of veselperske) word die “koning van tropiese vrugte’’
genoem. En wanneer ’n mens een eet, weet jy presies waarom, want die
lemoengeel vleis het ’n verkwikkende smaak, of jy dit nou op sy eie
nuttig of as deel van ’n nagereg.
Eintlik bestaan mango’s uit talle spesies van tropiese vrugdraende
plante in die familie Anacardiaceae.
Die vrug ontwikkel uit trosse pienkwit bloeisels en kan rond, ovaal
of niervormig wees. ’n Gladde, taai skil bedek die vleis en daar is
’n groot, plat pit in die middel. Die vleis is dikwels veselrig,
hoewel baie variëteite deesdae veselloos is.
REGS: ’n Mangopit.
FOTO:
Steve Hurst
@ USDA-NRCS PLANTS Database (“not copyrighted, but credit
appreciated”)
Die mango word beskou as die vrug wat al die langste deur die mens
gekweek word. Dit is reeds 4000 jaar gelede in Indië en Maleisië
verbou. Europese ontdekkersreisigers het die vrug na ander tropiese
lande gebring—waar dit vandag steeds floreer. Toonaangewende
produsente is onder meer Brasilië, Indië, Mexiko en die Filippyne.
Mango’s kan vars geëet of ingemaak word en kan ook vir die maak van
konfyt en blatjang gebruik word. Die vrug is ryk aan die vitamiene A
en C.

BO: ’n Ontkiemende
mangopit.
Foto deur “zenryaku”,
wat dit op
hierdie bladsy by
flickr op
die wêreldwye web geplaas en gelisensieer het ingevolge die lisensie
Attribution-Non-Commercial-Share Alike 2.0 Generic
|
|
Klik
hier om terug te keer na die inhoudsblad |