Uitvoerpogings het misluk... en toe kom P. Molteno...
 

 

 
Ons boere en kwekers pluk vandag die goeie vrugte (spreekwoordelik!) van hul voorgangers se lang stryd om ons land ’n internasionaal gerekende leweransier van hierdie gesogte opbrengsels van die boorde te maak!

 
SA vrugte vir
die wêreld

  Ons vrugte en boorde

Uit ons vrugbare valleie kom daar vruggenot vir vreemde lande. Maar vir die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf het sake nie altyd so voorspoedig verloop nie...

     

Foto’s en sekere van die inligting in hierdie artikel met spesiale vergunning aan Mieliestronk-com van HORTGRO Services (voorheen SA Sagtevrugte-Produsentetrust)

 

•   HORTGRO Services se kontakbesonderhede is in ’n PDF-item by hierdie skakel op die web

 


 

Van die boom tot ’n verkooppunt... plaaslik of oorsee
 

Oestyd
  

Paktyd
  

Verskepingstyd
  

Kooptyd
 

 

DIT is Februarie 1892—skuins duskant 120 jaar gelede. Wagtende markgangers in Londen se Covent Garden kyk gretig toe terwyl veertien kiste sappige perskes voor hulle oopgemaak word...

 

Sappige perskes? Mmm, goed en wel, maar na die begin van ’n sappige storie klink ons inleiding hierbo darem nie naastenby nie. Britte van ’n lank vergange tyd wat so belus was op ’n sekere pitvrug dat hulle hul haas legendariese stywe bolippe vir waterende monde verruil het! Meen te sê wie gee werklik om?

 

Maar wag ’n bietjie, kom ons vertel verder, dit raak veel interessanter...

 

Hierdie perskes het destyds van doer in die Kaap in Engeland aangekom. Daarbenewens was dit die eerste keer in die geskiedenis dat Suid-Afrikaanse vrugte so ver vervoer is en nog so vars en smaaklik by hul bestemming aangekom het as die dag waarop hulle gepluk is.

 

Die geleentheid was beslis ’n hoogtepunt in ons vrugtebedryf se annale. “Met groot genoeë,” het ’n Kaapse koerant destyds geskryf, “het ons gesien hoe kis ná kis oopgemaak word met die inhoud in ’n uitstekende toestand... Die openbare verkoping van hierdie vrugte het ’n sensasie in die vrugtewêreld veroorsaak.”

 

Met die verbouing en verspreiding van ons sagtevrugte het dit in die begin egter glad nie so voorspoedig gegaan nie. Boere het werklik noustrop getrek. Die wingerdluisplaag het dikwels die wingerde verniel. Hoewel die vrugte buitengewoon goed gegroei het, was die Kaap die enigste afsetplek.

 

Vervoer was beperk tot die ossewa. En verbygaande matrose kon tog ook nie méér aan die vars vrugte weglê as waarvoor hulle die lus en die plek in hul seemansbuike gehad het nie.

 

Hoekom het die pioniers dan volhard in hul pogings om Kaapse vrugte uitgevoer te kry? Om dit te beantwoord, moet ons teruggaan na 1652.

 

Die begin van ons vrugtebedryf

TOE Jan van Riebeeck in die Kaap aankom, het hy gevind dat daar nie eetbare wilde vrugte was nie. Maar die plek se potensiaal as vrugteproduserende gebied is besef, en reeds in Augustus 1652 het hierdie volksplanter ook mispels en kwepers geplant—en daarmee spreekwoordelik die saad vir vandag se vrugtebedryf van miljarde rande gesaai.

 

Kort daarna is appel- en lemoenbome en wingerdstokke geplant, en in 1659 is die eerste wyn gelewer. Namate die nedersetting tot ’n kolonie uitgebrei het, het die boorde en wingerde oor die nuut bevolkte valleie versprei.

 

In goewerneur Simon van der Stel se tuin was daar glo talle soorte vrugtebome. Van sy seun Wilhelm Adriaen word vertel dat hy 400.000 druiwestokke op sy plaas Vergelegen gehad het.

 

Spoedig het die probleem ontstaan oor hoe om die milde oes van die hand te sit. Die Kaapse mark was self versadig, maar om sake te vererger, was die Kaapse boere boonop ver van die Europese landboukundiges. Tussen 1775 en 1875 het die gehalte van die vrugte agteruitgegaan.

 

Toe, met die ontdekking van diamante en goud in die binneland in die laat negentiende eeu, ondervind die vrugtebedryf ’n oplewing. En teen hierdie tyd het boere en finansiers ook reeds hul oë op ’n nuwe teiken gevestig gehad—die vrugtehonger markte van die Ou Wêreld.

 

Geskiedenis van uitvoer

DIE man wat tereg die vader van die uitvoerbedryf genoem word, was Percy Alport Molteno, seun van sir John Molteno, eerste minister van die Kaapkolonie. Dit was onder sy leiding dat die legendariese perskes in 1892 in Engeland aangekom het.

 

Sy sukses is egter voorafgegaan deur ’n reeks mislukkings.

 

Die eerste Suid-Afrikaanse vrugte wat in Londen aangekom het, is blykbaar uit Natal verskeep. Die besending het onder meer lemmetjies, piesangs, perskes en appels bevat en was bestem vir ’n uitstalling van 1887 vir koningin Victoria se goue jubileum.

 

Die volgende jaar is twee besendings appels na Engeland gestuur. Baie het egter vrot aan die ander kant aangekom. In dieselfde jaar is Kaapse skouvrugte na Londen verskeep, maar die meeste het ook sleg geword.

 

In 1888 het twee ton druiwe, wat in koelbewaring verskeep moes word, in Kaapstad aangekom etlike ure nadat die skip reeds vertrek het. ’n Week later is die druiwe op ’n skip gelaai wat geen koelruim gehad het nie. Die hele spulletjie was ’n ramp.

 

Die volgende jaar is die RMS Grantully Castle met ’n koelruim toegerus en vyftien ton druiwe is daarin gelaai. Ook hierdie onderneming het misluk.

 

Percy MoltenoToe kom Percy Molteno. Sy ondersoek na die Grantully Castle-voorval het hom laat besef dat die verkeerde soort vrugte uitgevoer is en dat die verskepingsmetodes gekontroleer moes word. Sy aanbevelings het die uitvoer van krag tot krag laat gaan.

 

Kundiges soos die finansier Cecil John Rhodes, die kweker Harry Pickstone, die vrugteboer Piet Cillie en andere het onskatbare bydraes gelewer, onder meer met die stigting van die Wellingtonse Vrugtekwekersvereniging—die eerste koöperasie in sy soort in Suid-Afrika.

 

Probleme soos primitiewe vervoermetodes en ’n wisselende mark het middel 1899 gelei tot die stigting van die Westelike Provinsie-Vrugteuitvoerdersvereniging.

 

Die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in Oktober het die vereniging se planne ’n tyd lank gekortwiek, ofskoon die vrugtebedryf nie alte nadelig daardeur geraak is nie.

 

In die jare daarna is gehaltebeheer opgeknap en teen 1914 het die uitvoer ná tien jaar feitlik twintigvoudig toegeneem.

 

Die Eerste Wêreldoorlog het die bedryf min geknou. Suid-Afrika is wel gedwing om sy uitvoer in te kort, maar nuwe markte in Afrika is in die plek daarvan gevind.

 

In 1921 is die SA Koöperatiewe Vrugtebeurs in die lewe geroep om al die bestaande vrugtekoöperasies van daardie tyd saam te snoer. Dit is ná vyf jaar opgevolg deur die SA Koöperatiewe Sagtevrugtebeurs. Die twee organisasies het baie baanbrekerswerk gedoen, maar nie die nodige gesag gehad om algemene gehaltestandaarde af te dwing nie.

 

Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het Suid-Afrikaanse vrugte-uitvoer tot stilstand gebring, maar dié keer het Suid-Afrika vinnig stappe gedoen. Slegs dae nadat Duitsland Pole binnegeval het, is die Sagtevrugteraad in die lewe geroep.

 

Wesenlik kon geen sagtevrugtekwekers in Wes-Kaapland en die Langkloof vrugte elders verkoop as aan die Raad of aan ’n verspreider wat by die Raad geregistreer was nie.

 

Die verwagte uitvoerkrisis het nie voor Desember 1940 ontwikkel nie. Die vrugte-uitvoerbedryf het nou voor een van sy ernstigste bedreigings nog te staan gekom.

 

’n Aantal maatreëls is getref, waaronder subsidies aan boere, die instelling van drogingswerwe om vrugtevermorsing te voorkom en die vestiging van wynkelders en stokerye.

 

Nuwe afsetgebiede is in Wes- en Oos-Afrika en die Midde- en Verre Ooste gevind. Ander uitvoer is in 1946 hervat.

 

In die vyftigerjare is ’n enkele handelsmerk, “Cape”, vir Kaapse vrugte ingestel. Dié handelsmerk het regoor die wêreld beroemd geword as waarborg vir vrugte van hoë gehalte.

 

Al hoe meer vrugte is geproduseer, veral met die ontwikkeling van gebiede soos die Langkloof. Nuwe markte is in Duitsland gevind en onregstreekse verskepings is na België, Nederland en Frankryk gedoen.

 

In 1962 het die Europese Ekonomiese Gemeenskap tot stand gekom. Produsente was onseker oor hoe die invoerbeheerstelsels en minimum-standaarde van gradering hul uitvoermark sou raak.

 

Maar die uitvoer na die betrokke lande het steeds toegeneem, en in die laat sestiger- en die sewentigerjare het verkope in Duitsland en Nederland in ’n verstommende tempo vermeerder.

 

Omstreeks die jare tagtig was daar voortgesette groei op al die hoofmarkte, hoewel belangrike veranderings ook plaasgevind het met die verlies aan markte in Amerika, Kanada en die Skandinawiese lande as gevolg van sanksies.

 

Die vrugtebedryf vandag

DIE einde van apartheid in die jare negentig—saam met die opsegging van openlike of verskuilde sanksies teen Suid-Afrika—sou die vrugtebedryf van die land in ’n heeltemal ander liga plaas.

In Maart 2009 is bereken dat ons land se vrugtebedryf in sy geheel nie minder nie as R12,8 miljard werd is.

 

Hoogs ontwikkeld en deeglik gerat vir die verskaffing van vrugte aan ’n gretige wêreldpubliek, voer die bedryf vandag tonne en tonne daarvan uit. Appels, rosyntjie- en tafeldruiwe, pere, perskes, pruime, appelkose, nektariens...  meer as 74 000 hektaar Suid-Afrikaanse grond was in 2008 met hierdie vrugtesoorte beplant. Sagtevrugte sorg vir omtrent vyftien persent van Suid-Afrika se totale inkomste uit uitgevoerde landbouprodukte.

 

Die bedryf is in 1997 gedereguleer en aanvanklik was daar heelwat ontwrigting. Maar toe is die SA Sagtevrugte-Produsentetrust (SPT) in die Paarl in die lewe geroep, gestig deur die drie vernaamste produsenteverenigings wat met die lewering van vars sagtevrugte gemoeid was. As ’n sambreelliggaam wat daarna gestreef het om dienste en funksies van die bedryf te bevorder, te koördineer, te befonds en te bestuur, is dit op 1 Oktober 2009 amptelik deur ’n nuwe diensentiteit, HORTGRO Services, vervang.

 

Waar die SPT, benewens die sagtevrugtebedryf, reeds etlike jare lank ook ’n reeks aanverwante bedryfsverenigings gedien het, sou HORTGRO soomloos voortgaan met hul werksaamhede en dienste aan die groeperings aan wie voorheen dienste gelewer is.

 

Die “hort” in die naam is ’n afkorting vir hortologie (horticulture of tuinbou), wat die groepering van bedrywe en entiteite beter reflekteer as byvoorbeeld “sagtevrugte”.  Die “gro” sou op grow sowel as growers dui, maar ook op group, te wete die kundigheidsgroep wat by HORTGRO betrokke is.

 

In 2008 het die verbouing van appels, tafeldruiwe, pere, perskes, pruime, appelkoste en nekatariens werk aan meer as 100 000 mense (met meer as 400 000 afhanklikes) verskaf. En dit sluit nie eens ander vrugte soos sitrusvrugte, kersies, piesangs, pynappels, ens. in nie.

 

Om af te sluit: ons vrugteboere roem nie verniet daarop dat die gehalte van ons vrugte onder die beste ter wêreld is nie. Die vernaamste uitvoerstreek is Europa. Maar ’n bedryf wat vandag soveel goeie vrugte dra—in die figuurlike sin van die woord—het kennelik ook sy eie groeipyne gehad in die veelbewoë geskiedenis van Suid-Afrika.

 

 

  Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad