Die herkoms van perskes, appelkose, appels, pere, lemoene, druiwe, papajas, aarbeie, waatlemoene en spanspekke

Bord met vrugte10 van die bekendste soorte vrugte en waar hulle vandaan kom


Foto van bord met vrugte: Cepolina.com / Freephoto
Foto van salmonella-bakterieë:
CDC /  Janice Carr
Al die ander foto’s in hierdie artikel is deur die Amerikaanse departement van landbou se afdeling landbounavorsing uitgereik (USDA / ARS) en is as sodanig ingevolge Amerikaanse wetgewing in die openbare domein. Die vergunning geld wêreldwyd.


PerskesDie perske... uit China

PLANTKUNDIGES reken die perske kom oorspronklik uit China. En dis nie maklik om só aan hierdie sappige vrug te dink nie, maar hy is eintlik verwant aan die roos. Die botanici deel hom in by die familie Rosaceae.

Om die waarheid te sê, heelparty van ons bekendste vrugte behoort tot hierdie familie. Die roosfamilie bestaan dan ook ook uit ’n verstommende 107 geslagte en sowat  3100 spesies.

Perskebome is van middelmatige grootte. Hulle is in die lente vol mooi ligroos bloeisels, wat dan tot vrugte ontwikkel.

Afhangende van of die pit vas of los in die vrug sit, word perskes in die reël in lospit- of taaipit-variëteite ingedeel. Daar is altesaam ongeveer driehonderd soorte. Die skil van die vrug is gewoonlik donsig, maar die “haarlose” nektarien (of kaalperske) is ook ’n soort perske.

Perskebome word nie maklik ouer as sowat dertig jaar nie, maar ’n boom is eintlik minder as ’n dekade lank ’n wafferse vrugtedraer. Daarna is dit nie juis van kommersiële belang vir die vrugteboer nie, en sulke bome word dus dikwels uitgekap en vervang.

AppelkoseDie appelkoos... uit Oos-Asië

DIE appelkoos—waarvan meer as twintig soorte bekend is— behoort saam met perske tot die familie Rosaceae en is inheems in Oos-Asië. Hierdie lekker geel of oranje vrug is besonder gewild vir die maak van konfyt.

Die pitte is dikwels bitter, maar daar is ook die eetbares wat as neute omtrent so gesog kan wees soos amandels (moet net nie te veel eet nie, sê die kenners, want sowel amandels as appelkoospitte bevat glo bietjies van die gevaarlike sianied!)

Die bladwissselende appelkoosboom bloei wit in die lente en die bloeisels verskyn nog voordat blare begin uitkom.

Die siekte wat appelkoosmaag genoem word, word deur ’n kiem veroorsaak en het niks te doen met die eet van groen appelkose nie, hoewel daar in die ou dae gedink is dat die arme appelkoos die skuld daarvoor moet kry. Dit was glo omdat die siekte juis geneig was om toe te slaan in die tyd wanneer die appelkose nog hard en groen was toe hulle deur baie kinders van die bome afgepuk en geëet is. Die diarree en maagkrampe is egter heel moontlik bewerk deur salmonella-bakterieë soos dié
op die
foto’tjie HIERBY.

AppelsDie appel... waarskynlik van die Kaukasus

WAAR kom die appel vandaan? Ons weet nie presies nie, maar geleerdes reken dat dit deur die verbastering van verskillende soorte waarskynlik in die Kaukasus ontstaan het. (Die Kaukasiese gebergte word as die grens tussen Europa en Asië beskou.)

Hoe ook al, die vrug was reeds ’n gunsteling van die ou Grieke en Romeine—en die blote feit dat ons van ’n adamsappel praat, dui daarop hoe dit in die verlede selfs as die verbode vrug van die Paradys beskou is wat konsuis steeds in Adam se nasate se kele sou vassteek!

Ook die appel behoort tot die familie Rosaceae, maar is duidelik van ’n ander geslag as die perskes, appelkose en pruime. Daar is in der waarheid ’n bonte menigte appelvariëteite, met vrugte wat van groen en geel tot ’n donker swartrooi wissel—party skaars groter as kersie en ander so groot soos ’n middelgroot pomelo.

Appels word nie net as vrugte geëet nie, maar ook versap. Appelsap word net so bemark of tot appelwyn (en selfs tot brandewyn) verwerk.

PerePere... uit Europa en die Ooste

DIE gewone peer word as Pyrus communis geklassifiseer en, as ’n mens stuitig wil wees, kan jy sê dat dit baie soos “pure Kommunis” klink! Enige moontlike ooreenkoms is egter bloot toevallig!

Hierdie geurige en sappige vrug is volgens een bron inheems in Suidwes-Asië, maar ander gesaghebbende plantkundiges dui weer die herkoms as Europa aan. Volgens hulle sou dit 'n ander peersoort wees, die sandpeer Pyrus pyrifolia, wat uit die Ooste kom. Altwee soorte behoort tot die familie Rosaceae.

Peerbome wat in boorde groei, kan tot nege meter hoog word met stamme van tot dertig sentimenter in deursnee. Die vrugte word van die bome gepluk voordat hulle heeltemal ryp is om agterna ryp te word.

Mense wat pere verpak, weet dat koue die rypwordingsproses vertraag en dat hitte dit versnel. Só kan die lewering van ryp vrugte aan die mark gereguleer word. Pere word óf vars geëet óf in fabrieke in blikke ingemaak.

LemoeneDie lemoen... uit Suidoos-Asië

DIE lemoen is ’n boorling van Suidoos-Asië. Die vrug is eintlik ’n soort bessie, en “lemoen” is in der waarheid die sambreelnaam vir die vrugte van verskeie soorte sitrusbome. Pitlose, soet lemoene is baie gewild.

Van die sitrusse op sigself is daar heelparty soorte, soos ook die suurlemoene, pomelo’s, nartjies, bitter Seville, lemmetjies, tangelo’s en kumkwatte. Sitrusse is al meer as 4000 jaar gelede deur die Chinese verbou. Hulle is ryk aan vitamiene en minerale, veral vitamien C, en kruisings lewer allerlei nuwe variëteite. 

LINKS: Daar is ’n hele verskeidenheid van sitrussoorte en boonop word allerhande nuwe variëteite deur kruisings bewerkstellig.

Foto: Scott Bauer / USDA / ARS

Sitrusvrugte word vars geëet of in fabrieke tot vrugtesap en konfyt verwerk. Die vrugte bestaan uit ’n aantal sagte huisies—wat vol sap-selletjies is en wat maklik van mekaar geskei kan word—in ’n dik skil wat oliekliere bevat. 

Van lemoene self word drie belangrike olies verkry: van die skil kom lemoenessens, wat veral as geursel gebruik word; van die blare en takkies kom lemoenblaarolie vir die parfuumbedryf; en uit die bloeisels word lemoenblomolie onttrek, vir gebruik in geursels en parfuums.

Lemoen- en ander sitrusbome is immergroen—hulle verloor nie hul blare in die winter nie. Lemoenbome is van gemiddelde grootte en “reuse” hoër as nege meter is die uitsondering. 

DruiweDruiwe... uit die wêreld by die Kaspiese See

DAAR is verskillende soorte druiwe, maar die soort wat veral in ons land, Wes-Europa, Kalifornië, Australië en nog sekere ander wêrelddele verbou word, is die sogenaamde Europese druif (Vitis vinifera).

Plantkundiges reken dat die wêreld by die Kaspiese See die oorspronklike tuiste van die Europese druif was. Daarbenewens het die mens egter reeds van die antieke tye af druiwe gekweek en is oorblyfsels daarvan in byvoorbeeld ou Egiptiese grafkelders gevind. Wingerde, wingerdstokke en natuurlik wyn word ook op baie plekke in die Bybel genoem. Die Nagmaal word vandag steeds met brood en wyn gevier.

Die korrelvrugte van die rankende druifstruik word in trosse gedra. Die kweek van druiwe vir vars eet, droging tot rosyntjies of vir wynverwerking word wingerdbou genoem. ’n Wingerd is ’n land wat met druiwestokke beplant is.

DIe eerste druiwe aan die Kaap is in 1655 deur Jan van Riebeeck aangeplant. Die wynkultuur is onder meer deur die Franse Hugenote in die Boland uitgebou en dié is vandag steeds by die uitstek ’n wynboustreek.

Druiwe word deur baie siektes en insekteplae geteister. Een daarvan is filloksera, ’n insek wat die wortels aanval.

PapajasPapajas... uit tropiese Afrika en die tropiese Amerikas

PAPAJA is die algemene naam vir vir ’n groepie van sowat dertig sagtehoutbome van die familie Caricaceae. Hul plekke van herkoms is die tropiese wêrelde van Wes-Afrika en die Amerikas.

Daar is afsonderlike manlike en vroulike plante, wat almal ’n soort melksap bevat. Waar hulle wild in die natuur groei, word hulle omtrent net so groot soos ’n uitgegroeide mens, maar gekweekte bome kan selfs sewe meter of hoër wees.

Die vrugte word vars as slaai of nagereg geëet.

AarbeieAarbeie... van Noord-Amerika, Europa en Asië

GLO dit, ook die nederige, maar baie smaaklike, aarbei behoort tot die familie van die rose (Rosaceae)! Daar is wilde aarbeispesies in sowel Europa en Asië as Noord-Amerika, maar die soort wat as die tuinaarbei (Fragaria x ananassa) bekend staan, is deur verbastering uit Noord-Amerikaanse aarbeie ontwikkel.

Alle gekweekte aarbeie het uit die wildes en die tuinaarbeie ontstaan, en daar is vandag talle verbasterings en kultivars.

WaatlemoenSpanspekke

Waatlemoene uit Midde-Afrika... spanspekke uit Iran en Transkaukasië

DIE soet en sappige waatlemoen, só word gereken, kom oorspronklik uit Midde-Afrika. En daar is getuienis dat dit al meer as 4000 jaar lank deur die mens gekweek word.

Daarteenoor sou spanspekke se plekke van herkoms Iran en Transkaukasië wees, voordat die ou Egiptenare, Grieke en Romeine begin het om hulle te kweek.

Sowel waatlemoene as spanspekke behoort natuurlik tot die familie Cucurbitaceae, wat ook die pampoene insluit, al word pampoene as groente geëet en dink ons aan waatlemoene en spanspekke as vrugte. Die Cucurbitaceae is eintlik ’n uitgebreide tweesaadlobbige plantfamilie, wat goed honderd geslagte met sowat agthonderd spesies omvat.

Die meeste lede van dié familie is eenjarige rankplante wat baie vinnig groei—óf al op die grond langs óf as klimplante met hegrankies teen stellasies op. Plantkundiges beskou die vrugte as bessies. Die meeste van die vrugte het ’n taamlik harde skil (epikarp) en ’n dik, eetbare vrugvlees (mesokarp), waarin die sade ingebed lê.

Die oerplant waaruit die huidige pampoenvariëteite ontwikkel is, is inheems in die tropiese dele van Amerika. Die variëteite van die spesie wat as komkommers geklassifiseer word, word meestal rou geëet in die vorm van komkommerslaai. Die oer-komkommer kom glo uit Suid-Asië.

En ’n brokkie oor ’n bekende groentesoort... wat deesdae nie meer altyd sy naam werd is nie...

Geelwortels van allerlei kleureGEELwortels? Wat wou, dis die reënboognasie van die groentewêreld!

ONS ken hom as die géélwortel, maar navorsers van die Amerikaanse department van landbou het deur selektiewe kweking geelwortels ontwikkel wat omtrent alle kleure van die reënboog het, soos die foto REGS toon. Op die koop toe is hierdie bontspul glo ook baie gesond.

Die geelwortel (Daucus carota) is inheems in Eurasië en Noord-Afrika, maar word tans wyd en syd oor die gematigde streke van die wêreld heen as ’n groentesoort gekweek. Gerasperde rou geelwortels in slaaie is ook baie gewild.

Die wilde soort het 'n taai, houterige wortel, wat ’n mens nie juis kan eet nie. Die gekweekte tipe se langwerpige, ondergrondse knol is egter ’n smaaklike, hoogs eetbare soort kos. Daar is ’n hele aantal variëteite van die gekweekte geelwortel.

Die kleurstof wat die geelwortel geel maak (eintlik is dit dikwels meer oranjerooi) is karotien. Hierdie karotien is ’n belangrike bron van vitamien A. Dit is nie duidelik presies watter voedingswaardes daar in die nuwe “reënboog-wortels” ingebed is nie!
 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad