Subtropiese vrugte

Baie soorte vrugte floreer in die warm of matige temperatuur van die aarde se subtropiese streke en dié met ’n Mediterreense klimaat. Onder die gewildstes is olywe, dadels, vye en sekere soorte avokado’s. Nog algemener is die uiters gewilde sitrusvrugte, waarvan in ’n ander artikel vertel word...
 

Granate

   

’n Granaat aan die boom

REGS: ’n Granaat aan die boom.

 

Foto: ARS / U.S. Department
of Agriculture

 

IN die Griekse en Romeinse mitologie word die pragtige godin Persephone deur Hades, die god van die doderyk, geroof en na sy onderwêreldse koninkryk gebring. Haar ma, Demeter, die godin van die landbou en vrugbaarheid, is so verbysterd omdat haar dogter nie meer daar is nie dat sy alle oeste laat misluk.

Om die grond weer vrugbaar te kry, word Hades aangesê om Persephone aan haar ma terug te besorg. Maar terwyl sy in die onderwêreld was, het Persephone die pitte van die granaat geëet, ’n vrug wat die huwelik versinnebeeld. Dit beteken sy mag nie haar eggenoot verlaat nie.

As kompromis word Persephone toegelaat om ’n deel van die jaar by haar ma te bly, wanneer die gesaaides goed groei (somer), en die res van die jaar moet sy dan weer by Hades deurbring, wanneer die aarde onvrugbaar word (winter).

Só ’n houvas het die granaat
(Punica granatum) tog nie op ons gewone mense nie... Maar dié wat dit al geëet het, sal darem moet saamstem dat die vleisies om daardie pitte verfrissend smaak.

Die granaat, met sy harde skil, is omtrent so groot soos ’n groot lemoen. Die binnekant is gepak met pitte, waarvan elkeen met soeterige, bleekrooi vleis bedek is. Dit kan net so geëet of gebruik word om dranke te maak. Die skil word vir die maak van medisyne en in die looiproses gebruik.

Die granaatboom is inheems in tropiese Asië, maar word nou in warm streke regoor die wêreld gekweek. Die boom is laaggroeiend en bosagtig.

 

’n Granaatblom

BO: ’n Granaatblom.
REGS: ’n Illustrasie van die granaat en sy pitte.

Foto: ARS / USDA.  Illustrasie: kunstenaar Amanda A. Newton / U.S. Department of Agriculture

Granaat en pitte

 

Olyftak met olywe

 

BO: ’n Olyftak met olywe.

 

Foto: J.L. Hansen / ARS / U.S. Department of Agriculture

 

Olywe

OLYFBOME word reeds baie, baie lank deur die mens gekweek. Die bome kom oorspronklik van die oostekant van die Middellandse See, maar word nou regoor die wêreld gekweek in streke met ’n Mediterreense klimaat—ook in die Wes-Kaap.

Die olyfboom dra ’n menigte klein wit blommetjies wat tot vrugte ontwikkel.

 

OlyfblommetjiesREGS: Olyfblommetjies.

 

Foto: J.L. Hansen / ARS / U.S. Department of Agriculture

 

 

Die olyf is ’n klein vruggie, langwerpig of ovaalvormig, met die vleis rondom ’n harde pit. Die skil is glad en groen wanneer die olyf nog onbekwaam is, maar dit verdonker tot rooi en dan tot ’n persagtige swart namate die vrug ryp word.

Baie olyfbome word vir hul vrugte gekweek, wat eers verwerk moet word om ’n bitter bestanddeel te verwyder wat dit oneetbaar maak. Die pitte word partykeer uitgehaal en die holtes dan met ander lekkernytjies gestop. Party olywe word net so geëet, maar uitvoervrugte word gewoonlik in olie of soutwater geblik of gebottel.

’n Veel groter deel van die wêreld se olywe word verbou vir hul olie, wat verkry word deur die olywe in hidrouliese perse fyn te druk en te pars. Die olie wat met ’n enkele parsing verkry word, is van die hoogste gehalte. Olie uit twee of meer parsings word soms met ander soorte plantolies vermeng. Olyfolie word in kos en as ’n slaaisous gebruik.

Die olie wat uit die laaste parsing verkry word, is oneetbaar en word in die vervaardiging van seep, skoonheidsmiddels, wasmiddels en medisyne gebruik.

 

OlyfboomLINKS: ’n Olyfboom.

 

Foto: J.L. Hansen / ARS / U.S. Department of Agriculture



Olywe wat geëet word, is gewoonlik met die hand gepluk, maar olywe wat vir hul olie gekweek word, word met masjiene geoes. Party olyfbome word ook vir hul hout gekweek.

Sekere bome aan die Middellandse See is vermoedelik meer as 2 000 jaar oud. Die stam van ’n olyfboom raak metteryd knoesterig.

Olyfbome aard goed op arm grond, mits dit goed gedreineer is. Boere plant dikwels hul bome op geterrasseerde hellings.

Olywe word op baie verskillende maniere geniet—ook op pizzas.

 

Vye

 

Vye aan die boomREGS: Vye aan die boom.

 

Foto: ARS / U.S. Department
of Agriculture

 

DUISENDE jare lank het lede van die moerbei-familie Moraceae ’n belangrike rol in die lewe van die mense van Suid-Asië en aan die Middellandse See gespeel. Die Asiatiese wildevyeboom is ’n waardevolle skaduboom. Nog ’n vyeboomsoort word deur die Boeddhiste en Bramane met groot agting bejeën. Die baniaanboom dra weer heerlike vrugte.
 

Selfs daardie rubberboom (Ficus elastica) wat by ons dikwels as ’n tuin- of potplant gekweek word, is in der waarheid ’n soort vy. (Moet dit egter nie verwar met die Para-rubberboom, Hevea brasiliensis, die bron van feitlik al die wêreld se natuurlike rubber nie.)

Vyebome van verskillende soorte dien dus die mens al baie lank, maar dit is die doodgewone ou vyeboom (Ficus carica) wat deur die lange eeue heen werklik sy waarde bewys het. Dit is dan ook onder die eerste plante wat in die Bybel genoem word—in Genesis 3:7 waar beskryf word hoe Adam en Eva hulself met vyeblare bedek het toe hulle agterkom dat hulle naak is.

 

Wat meer sê, vye is reeds duisende jare gelede deur die antieke Egiptenare, Grieke en Romeine gekweek . En vandag is dit steeds ’n belangrike uitvoerproduk in baie lande met warm, droë somers en koel, nat winters—veral in dele van Griekeland, Turkye, Portugal en Italië.

Vyebome groei selde hoër as 8 m. Die stam is sowat 1 m in deursnee, en die boom het mooi, gelobde blare. Blomme vorm binne-in ’n hol, vlesige struktuur en ontwikkel tot vrugte.

Vye is klein en rond of peervormig, en by die meeste soorte is die skil ’n persagtige bruin wanneer die vye ryp is. Vye kan net so geëet, geblik of in suiker gepreserveer word, maar word meestal in die son of in oonde gedroog voordat hulle bemark word.

 

ONDER: Twee verskillende soorte vye.

 

Foto’s: Wpclipart / Public Domain Photo’s
 

Vye

Vye

 

BO: ’n Deurgesnyde avokado waarvan die pit verwyder is.

 

Foto:  U.S. Centers for DIsease Control and Prevention

 

Avokado’s

DIE avokado (Persea americana), ook advokaatpeer genoem, het die vorm van ’n peer, maar daar hou die ooreenkoms op. Die peer is ’n somervrug van die gematigde streke, met ’n gladde, delikate skil en ’n soet smaak. Die avokado, daarenteen, groei aan immergroen bome in die trope en subtrope, het ’n ferm, oneetbare skil, bra neutrale smaak en ’n botterige tekstuur.

 

Twee soorte avokado’sREGS: Twee soorte avokado’s—’n groenskillige een en die Hass-kultivar met die growwe, donker skil.


Foto:  U.S. Centers for DIsease Control and Prevention

 


Die avokado is hoogs gewild as voorgereg, toebroodjiesmeer, slaaibestanddeel en dies meer. Wat meer sê, sy rykheid aan olie, proteïen, minerale en die vitamiene A, C en E maak van hom die voedsaamste rou vrug wat algemeen geëet word.

 


AvokadoblommetjiesREGS: Avokadoblommetjies.

 

Bron: MSKARG

 

 

Die avokadoboom het uitspreiende takke met donkergroen, gepunte blare en bleek groenwit blomme. Party soorte kan tot 18 m hoog groei. Die vrug se vleis is geelgroen en daar is ’n pit in die middel.

Avokado’s kom oorspronklik van Sentraal-Amerika, en daar is getuienis dat dit reeds nagenoeg 10 000 jaar gelede in Mexiko gekweek is. Mexiko is vandag een van die groot verskaffers, asook Brasilië, Israel en Suid-Afrika.

’n Plantasie dadelpalmbome

BO: ’n Plantasie dadelpalmbome, aangeplant vir die kweek van dadels vir die mark.

Foto: R.F. Lee / ARS / U.S. Department of Agriculture

 

Dadels

DIE dadelpalm is een van die eerste gewasse wat deur die mens verbou is, reeds minstens 5 000 jaar gelede. Daar is verskeie lede van die familie Palmae, maar die gewone dadelpalm, Phoenix dactylifera, word meestal gekweek.

Die dadelpalm is inheems in Noord-Afrika, Suidwes-Asië en Indië, maar word nou in warm, droë streke regoor die wêreld aangetref, ook in die Noord-Kaap. Die wêreld se grootste dadelprodusente is Egipte, Saoedi-Arabië, Algerië, Iran, Irak en Pakistan.

Dadelpalms kan tot 30 m hoog groei. Die stam is reguit en ru. ’n Groep veeragtige blare van tussen 3 en 6 m vorm bo-aan. Manlike en vroulike blomme groei aan afsonderlike bome. Dadels, wat in trosse vooraan stele groei, word met die hand geoes.

’n Enkele tros bevat tussen 200 en 1700 dadels, afhangend van die boom se ouderdom en variëteit. ’n Enkele boom kan jaarliks tot 270 kg dadels dra—wat des te indrukwekkender is as ’n mens daarop let dat sekere dadelpalms byna honderd jaar lank gedy.

 

REGS: Daar kom dadels van! In teenstelling met die spreekwoord, wat beteken dat daar niks van sal kom nie, kom daar beslis ’n gesogte soetigheid van die dadelpalm.

 

Foto: Stan Shebs / ARS / U.S. Department of Agriculture

Dadels—die vrugte aan die boom

 
Dadels

BO: Dadels.
Foto:  ARS / U.S. Department of Agriculture


Soos in die verlede is dadelpalms die vernaamste aardse besitting van baie mense in Afrika en die Midde-Ooste, en die vrugte vorm ’n wesenlike deel van hierdie mense se dieet.

Dadels se suikerinhoud is hoog en dit bevat ook proteïen, minerale en vette. Hulle kan vars of gedroog geëet word. Gedroogde dadels kan tot ’n poeier gemaal word of dit kan ook vergis word tot ’n alkoholiese drank genaamd arak. ’n Plaasvervanger vir suiker kan uit die sap van die boom onttrek word.

Die dadelpalm bied voorts ’n skaduwee aan reisigers in die woestyn. Die stam en blare kan as boumateriaal gebruik en die blare tot mandjies, sakke, matte en ander voorwerpe geweef word. Vesels van die bas kan gebruik word om ’n sterk tou te maak. Selfs die pitte van die vrugte word as brandstof of veevoer gebruik.

Geen wonder die Arabiere beskou die dadelpalm as die boom van die lewe nie.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad