|
 |
|
Subtropiese
vrugte
Baie soorte vrugte floreer in die warm of matige
temperatuur van die aarde se subtropiese streke en dié met ’n
Mediterreense klimaat. Onder die gewildstes is olywe, dadels, vye en
sekere soorte avokado’s. Nog algemener is die uiters gewilde
sitrusvrugte, waarvan in ’n ander
artikel vertel word...
|
|
Granate

REGS: ’n Granaat aan die
boom.
Foto: ARS / U.S. Department
of Agriculture
IN die Griekse en Romeinse mitologie word die
pragtige godin Persephone deur Hades, die god van die doderyk,
geroof en na sy onderwêreldse koninkryk gebring. Haar ma, Demeter,
die godin van die landbou en vrugbaarheid, is so verbysterd omdat
haar dogter nie meer daar is nie dat sy alle oeste laat misluk.
Om die grond weer vrugbaar te kry, word Hades aangesê om Persephone
aan haar ma terug te besorg. Maar terwyl sy in die onderwêreld was,
het Persephone die pitte van die granaat geëet, ’n vrug wat die
huwelik versinnebeeld. Dit beteken sy mag nie haar eggenoot verlaat
nie.
As kompromis word Persephone toegelaat om ’n deel van die jaar by
haar ma te bly, wanneer die gesaaides goed groei (somer), en die res
van die jaar moet sy dan weer by Hades deurbring, wanneer die aarde
onvrugbaar word (winter).
Só ’n houvas het die granaat
(Punica granatum)
tog nie op ons gewone mense nie... Maar dié wat dit al geëet het,
sal darem moet saamstem dat die vleisies om daardie pitte
verfrissend smaak.
Die granaat, met sy harde skil, is omtrent so groot soos ’n groot
lemoen. Die binnekant is gepak met pitte, waarvan elkeen met
soeterige, bleekrooi vleis bedek is. Dit kan net so geëet of gebruik
word om dranke te maak. Die skil word vir die maak van medisyne en
in die looiproses gebruik.
Die granaatboom is inheems in tropiese Asië, maar word nou in warm
streke regoor die wêreld gekweek. Die boom is laaggroeiend en
bosagtig.

BO: ’n
Granaatblom.
REGS: ’n Illustrasie van die granaat en sy pitte.
Foto: ARS /
USDA. Illustrasie: kunstenaar
Amanda A. Newton
/ U.S. Department of
Agriculture |
 |
|
|

BO: ’n Olyftak met
olywe.
Foto: J.L. Hansen / ARS / U.S.
Department of Agriculture
Olywe
OLYFBOME word reeds baie, baie lank deur die
mens gekweek. Die bome kom oorspronklik van die oostekant van die
Middellandse See, maar word nou regoor die wêreld gekweek in streke
met ’n Mediterreense klimaat—ook in die Wes-Kaap.
Die olyfboom dra ’n menigte klein wit blommetjies wat tot vrugte
ontwikkel.
REGS:
Olyfblommetjies.
Foto: J.L. Hansen / ARS / U.S.
Department of Agriculture
Die
olyf is ’n klein vruggie, langwerpig of ovaalvormig, met die vleis
rondom ’n harde pit. Die skil is glad en groen wanneer die olyf nog
onbekwaam is, maar dit verdonker tot rooi en dan tot ’n persagtige
swart namate die vrug ryp word.
Baie olyfbome word vir hul vrugte gekweek, wat eers verwerk moet
word om ’n bitter bestanddeel te verwyder wat dit oneetbaar maak.
Die pitte word partykeer uitgehaal en die holtes dan met ander
lekkernytjies gestop. Party olywe word net so geëet, maar
uitvoervrugte word gewoonlik in olie of soutwater geblik of
gebottel.
’n Veel groter deel van die wêreld se olywe word verbou vir hul
olie, wat verkry word deur die olywe in hidrouliese perse fyn te
druk en te pars. Die olie wat met ’n enkele parsing verkry word, is
van die hoogste gehalte. Olie uit twee of meer parsings word soms
met ander soorte plantolies vermeng. Olyfolie word in kos en as ’n
slaaisous gebruik.
Die olie wat uit die laaste parsing verkry word, is oneetbaar en
word in die vervaardiging van seep, skoonheidsmiddels, wasmiddels en
medisyne gebruik.
LINKS:
’n Olyfboom.
Foto: J.L. Hansen / ARS / U.S.
Department of Agriculture
Olywe wat geëet word, is gewoonlik met die hand gepluk, maar olywe
wat vir hul olie gekweek word, word met masjiene geoes. Party
olyfbome word ook vir hul hout gekweek.
Sekere bome aan die Middellandse See is vermoedelik meer as 2 000
jaar oud. Die stam van ’n olyfboom raak metteryd knoesterig.
Olyfbome aard goed op arm grond, mits dit goed gedreineer is. Boere
plant dikwels hul bome op geterrasseerde hellings.
Olywe word op baie verskillende maniere geniet—ook op pizzas.
|
|
Vye
REGS:
Vye aan die boom.
Foto: ARS / U.S. Department
of Agriculture
DUISENDE jare lank het lede van die
moerbei-familie Moraceae ’n belangrike rol in die lewe van die mense
van Suid-Asië en aan die Middellandse See gespeel. Die Asiatiese
wildevyeboom is ’n waardevolle skaduboom. Nog ’n vyeboomsoort word
deur die Boeddhiste en Bramane met groot agting bejeën. Die
baniaanboom dra weer heerlike vrugte.
Selfs daardie rubberboom
(Ficus elastica)
wat by ons dikwels as ’n tuin- of potplant gekweek word,
is
in der waarheid ’n soort vy. (Moet dit egter nie verwar met die
Para-rubberboom, Hevea brasiliensis, die bron van feitlik al
die wêreld se natuurlike rubber nie.)
Vyebome van verskillende soorte dien dus die mens al baie lank, maar
dit is die doodgewone ou vyeboom (Ficus carica) wat deur die
lange eeue heen werklik sy waarde bewys het. Dit is dan ook onder
die eerste plante wat in die Bybel genoem word—in Genesis 3:7 waar
beskryf word hoe Adam en Eva hulself met vyeblare bedek het toe
hulle agterkom dat hulle naak is.
Wat
meer sê, vye is reeds duisende jare
gelede deur die antieke Egiptenare, Grieke en Romeine gekweek . En
vandag is dit steeds ’n belangrike uitvoerproduk in baie lande met
warm, droë somers en koel, nat winters—veral in dele van Griekeland,
Turkye, Portugal en Italië.
Vyebome groei selde hoër as 8 m. Die stam is sowat 1 m in deursnee,
en die boom het mooi, gelobde blare. Blomme vorm binne-in ’n hol,
vlesige struktuur en ontwikkel tot vrugte.
Vye is klein en rond of peervormig, en by die meeste soorte is die
skil ’n persagtige bruin wanneer die vye ryp is. Vye kan net so
geëet, geblik of in suiker gepreserveer word, maar word meestal in
die son of in oonde gedroog voordat hulle bemark word.
ONDER: Twee verskillende
soorte vye.
Foto’s: Wpclipart / Public Domain
Photo’s
|
|

BO: ’n Deurgesnyde
avokado waarvan die pit verwyder is.
Foto: U.S. Centers for DIsease
Control and Prevention
Avokado’s
DIE avokado (Persea
americana),
ook advokaatpeer genoem, het die vorm van ’n peer, maar daar hou die
ooreenkoms op. Die peer is ’n somervrug van die gematigde streke,
met ’n gladde, delikate skil en ’n soet smaak. Die avokado,
daarenteen, groei aan immergroen bome in die trope en subtrope, het
’n ferm, oneetbare skil, bra neutrale smaak en ’n botterige
tekstuur.
REGS:
Twee soorte avokado’s—’n groenskillige een en die Hass-kultivar met
die growwe, donker skil.
Foto: U.S. Centers for
DIsease Control and Prevention
Die avokado is hoogs gewild as voorgereg, toebroodjiesmeer,
slaaibestanddeel en dies meer. Wat meer sê, sy rykheid aan olie,
proteïen, minerale en die vitamiene A, C en E maak van hom die
voedsaamste rou vrug wat algemeen geëet word.
REGS:
Avokadoblommetjies.
Bron: MSKARG
Die
avokadoboom het uitspreiende takke met donkergroen, gepunte blare en
bleek groenwit blomme. Party soorte kan tot 18 m hoog groei. Die
vrug se vleis is geelgroen en daar is ’n pit in die middel.
Avokado’s kom oorspronklik van Sentraal-Amerika, en daar is
getuienis dat dit reeds nagenoeg 10 000 jaar gelede in Mexiko
gekweek is. Mexiko is vandag een van die groot verskaffers, asook
Brasilië, Israel en Suid-Afrika. |
|

BO: ’n Plantasie
dadelpalmbome, aangeplant vir die kweek van dadels vir die mark.
Foto:
R.F. Lee
/ ARS / U.S. Department of Agriculture
Dadels
DIE dadelpalm is een van die eerste gewasse
wat deur die mens verbou is, reeds minstens 5 000 jaar gelede. Daar
is verskeie lede van die familie Palmae, maar die gewone dadelpalm,
Phoenix
dactylifera, word meestal gekweek.
Die dadelpalm is inheems in Noord-Afrika, Suidwes-Asië en Indië,
maar word nou in warm, droë streke regoor die wêreld aangetref, ook
in die Noord-Kaap. Die wêreld se grootste dadelprodusente is Egipte,
Saoedi-Arabië, Algerië, Iran, Irak en Pakistan.
Dadelpalms kan tot 30 m hoog groei. Die stam is reguit en ru. ’n
Groep veeragtige blare van tussen 3 en 6 m vorm bo-aan. Manlike en
vroulike blomme groei aan afsonderlike bome. Dadels, wat in trosse
vooraan stele groei, word met die hand geoes.
’n Enkele tros bevat tussen 200 en 1700 dadels, afhangend van die
boom se ouderdom en variëteit. ’n Enkele boom kan jaarliks tot 270
kg dadels dra—wat des te indrukwekkender is as ’n mens daarop let
dat sekere dadelpalms byna honderd jaar lank gedy.
|
REGS:
Daar kom dadels van! In teenstelling met die
spreekwoord, wat beteken dat daar niks van sal kom nie,
kom daar beslis ’n gesogte soetigheid van die dadelpalm.
Foto:
Stan Shebs /
ARS / U.S. Department of Agriculture |
 |
|

BO: Dadels.
Foto: ARS / U.S.
Department of Agriculture |
Soos in die verlede is dadelpalms die vernaamste aardse besitting
van baie mense in Afrika en die Midde-Ooste, en die vrugte vorm ’n
wesenlike deel van hierdie mense se dieet.
Dadels se suikerinhoud is hoog en dit bevat ook proteïen, minerale
en vette. Hulle kan vars of gedroog geëet word. Gedroogde dadels kan
tot ’n poeier gemaal word of dit kan ook vergis word tot ’n
alkoholiese drank genaamd arak. ’n Plaasvervanger vir suiker kan uit
die sap van die boom onttrek word.
Die dadelpalm bied voorts ’n skaduwee aan reisigers in die woestyn.
Die stam en blare kan as boumateriaal gebruik en die blare tot
mandjies, sakke, matte en ander voorwerpe geweef word. Vesels van
die bas kan gebruik word om ’n sterk tou te maak. Selfs die pitte
van die vrugte word as brandstof of veevoer gebruik.
Geen wonder die Arabiere beskou die dadelpalm as die boom van die
lewe nie. |
|
Klik
hier om terug te keer na die inhoudsblad |