In die luim vir ’n pruim? Of wat van ’n sappige perske, ’n appelkoos of ’n paar kersies?

Tot steun van
ons steenvrugte

Steenvrugte word só genoem omdat hul harde pitte ook as “stene” bekend staan. Hulle is onder ons land se vernaamste uitvoerprodukte. Maar geweet dat hierdie gewilde vrugte eintlik tot die roosfamilie— rosaceae—behoort? Trouens, die einste roosfamilie bestaan verbasend genoeg uit sowat drie- tot vierduisend plantspesies, wat oor die gematigde streke van die aarde versprei is...


D


AAR is geen beter tyd as die lente in Suid-Afrika nie. Dis dan wanneer alle perske-, nektarien-, pruim-, kersie-, en appelkoosboorde gekleur is met pienk of wit bloeisels, wat die aarde soos een massiewe blomtuin laat ruik.

REGS: Perskebloeisels in die lente...

Foto: ARS / U.S. Department of Agriculture
 

Hierdie vrugte behoort almal tot die plantegenus Prunus. Hulle is voorbeelde van steenvrugte. Dit beteken hulle is vlesige vrugte met ’n enkele groot saad binne-in ’n harde dop, pleks van met ’n aantal pitjies, soos byvoorbeeld appels.

Steenvrugte het in die reël ’n dun skil. Van almal is perskes en nektariene die bekendste en wydste versprei.
 

 

 

BO: Perske-lekkerte.

 

Foto: Jack Dykinga / ARS / U.S. Department of Agriculture

 

Perskes en nektariene

PERSKES en nektariene verskil nie veel nie. Die bome waarvandaan hulle kom, is identies en sekere kenners het al erken dat hulle nie weet watter een van die twee die oorspronklike is nie. Die duidelikste verskil is in die skille: dié van die perske is donserig en die nektarien s’n is glad. Geen wonder nektariene word so dikwels kaalperskes genoem nie.

LINKS: ’n Nektarien... die donserige perske se gladde boetie.

Foto: U.S. Centers of Disease Control and Prevention
 

Perskes (Prunus persica) is vermoedelik reeds sowat 4000 jaar gelede al in China gekweek. Vandag is daar perskeboorde in talle warm lande, ook in Suid-Afrika. Perskebome verloor hul blare in die winter (hulle is bladwisselend), en in die lente verskyn die mooi ligroos  selfs nog voor die nuwe blare. Die bloeisels ontwikkel dan tot vrugte.

Daar is baie variëteite, maar almal behoort tot een van twee groepe: taaipitte (of vaspitte) en lospitte. By taaipitperskes kleef die vleis aan die pit vas. Voorbeelde is die soorte Kakamas en Keimos. Taaipitperskes word dikwels vir inmaak en konfyt gebruik.

By lospitperskes, wat gewoonlik vars geëet word, kom die vleis maklik van die pit af los. Lospitte sluit die soorte Culemborg en Van Riebeeck in.

Perskes en nektariene is lekker om vars te eet en is propvol vitamiene A en C. Dit kan ook gedroog, ingemaak, gevries, tot konfyt verwerk of versap word. Perskebrandewyn word ook van die sap gestook.

Perskebome is van middelmatige grootte,  word nie maklik ouer as sowat dertig jaar nie, maar ’n boom is eintlik minder as ’n dekade lank ’n wafferse vrugtedraer. Daarna is dit nie juis van kommersiële belang vir die vrugteboer nie, en sulke bome word dus dikwels uitgekap en vervang.
  

 

 

BO: Sogenaamde Kettleman-appelkose, ’n nuwe variëteit van hierdie gewilde steenvrug.

 

Foto: Craig A. Ledbetter / ARS / U.S. Department of Agriculture

 

Appelkose

APPELKOOSBOME is een van die vele dinge wat Jan van Riebeeck na Suid-Afrika gebring het. Die bome het in die tuin van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie aan die Kaap gefloreer. Die kweek van appelkose het weliswaar ver gevorder sedert daardie proefstadium en vandag is dié delikate vrug een van ons landbou se uitvoerprodukte.

Ons woord appelkoos is ’n volksetimologiese vervorming van die Nederlandse abrikoos, uit die Spaanse albaricoque en/of die Portugese albricoque, wat verder teruggevoer kan word na woorde in ouer tale wat op “vroeg ryp word” dui.

Appelkose (Prunus armeniaca) is, net soos perskes, al nagenoeg 4000 jaar gelede in China gekweek. Omdat die vrug so lank reeds aan die mensdom bekend is, is die presiese herkoms egter onseker. Die eerste aanplantings deur die mens was nietemin bes moontlik in Wes-China en Sentraal-Asië, waarskynlik ook Japan en Korea.

Appekoosbome aard veral in droë, gematigde klimate waar dit nie ryp nie. Die bladwissselende boom bloei wit in die lente en die bloeisels verskyn nog voordat blare begin uitkom.

REGS: Appelkoosbloeisels.

Foto: USDA-NRCS PLANTS Database/Herman, DE, et al. 1996. North Dakota tree handbook (Not Copyrighted)
 

Die oranje-geel vrug, dikwels met ’n effense rooi blos aan die een kant, het ’n ietwat donserige skil. Dit word gewoonlik met die hand gepluk om kneusing te voorkom, hoewel daar boere is wat dit met masjiene oes.

Appelkose word vars geëet, gedroog, ingemaak of konfyt word daarvan gekook. Likeur kan van die pitte in die harde doppe gemaak word.

Die pitte is dikwels bitter, maar daar is ook die eetbares wat as neute omtrent so gesog kan wees soos amandels (moet net nie te veel eet nie, sê die kenners, want sowel amandels as appelkoospitte bevat glo bietjies van die gevaarlike sianied!)

Die siekte wat appelkoosmaag genoem word, word deur ’n kiem veroorsaak en het niks te doen met die eet van groen appelkose nie, hoewel daar in die ou dae gedink is dat die arme appelkoos die skuld daarvoor moet kry. Dit was glo omdat die siekte juis geneig was om toe te slaan in die tyd wanneer die appelkose nog hard en groen was toe hulle deur baie kinders van die bome afgepuk en geëet is. Die diarree en maagkrampe is egter heel moontlik deur salmonella-bakterieë veroorsaak.
 

 

BO: Pruime... ’n nuut ontwikkelde variëteit van die Amerikaanse departement van landbou.

Foto: Peggy Greb / ARS / U.S. Department of Agriculture

 

Pruime

PRUIME is gewilde vrugte, met talle soorte waarvan die kleure van swart, blou, rooi en pers tot groen en geel wissel. Volgens die jongste beskikbare syfers is China die wêreld se grootste pruimprodusent (45 persent ), gevolg deur Amerika (7 persent). Die vrug word egter in baie ander lande met ’n gematigde klimaat gekweek.

 

LINKS: Pruimbloeisels.

Foto: ARS / U.S. Department of Agriculture


Daar is drie hoofsoorte pruime: Japans, Europees en Amerikaans. Die meeste Suid-Afrikaanse pruime is van die Japanse variëteit. Ondanks die naam, kom die Europese pruime oorspronklik uit Asië, maar hulle word nou wydverspreid in Europa gekweek. Amerikaanse pruime kom van bome wat eers wild op daardie vasteland gegroei het.

Pruime is lekker net so vars, of in poedings en konfyt. Soet pruime word gedroog tot pruimedante, wat ryk aan yster en vitamiene is.

’n Interessante nuwigheid is verbasterings tussen pruime en appelkose, met wisselende hoeveelhede genetiese materiaal van die twee vrugte in hul samestellings. Wat sal ’n mens sulke bastervrugte  noem? Pruimkose miskien?


LINKS: “Pruimkose”... verskillende verbasterings lyk verskillend, maar hierdie klompie lyk kennelik meer na pruime.

Foto U.S. Centers of Disease Control and Pevention

 

 

BO: Kersies... dieprooi steenvruggies van die pruimsoort.

 

Foto: Peggy Greb / ARS / U.S. Department of Agriculture

 

Kersies

JARE gelede het kinders kersiepitte bymekaar gemaak om albaster te speel. Hoewel rekenaarspeletjies grootliks die plek van albasterspeletjies ingeneem het, word die kersieboom steeds op prys gestel vanweë sy mooi, geurige bloeisels, en sy keurige dieprooi of geel vruggies vooraan ’n dun steel.

Ons woord kersie was in Middelnederlands kerse, keerse of carse, wat verwant is aan die Franse woord cerise, wat op sy beurt verband hou met die Latynse cerasea en Griekse kerasion (“pitvrug”).

 

Kersies (spp. Prunus) kan soet of suur wees. Die soete variëteite word net so geëet, terwyl die sures geblik of vir konfyt en drankies gebruik word.

Sommige bome word as sierbome gekweek. Die Japanse kersieboom is veral gesog vanweë sy delikate bloeisels. Elke lente wanneer die bome bloei, skuif miljoene Japanners alle formaliteite opsy om die Hanami te vier—’n fees wat eer aan hierdie genoeglike boom betoon.

 

BO: Japanse kersiebome in volle bloei naby die Washington-monument in Washington D.C. in die VSA.
 

Foto: Scott Bauer / ARS / U.S. Department of Agriculture (detail)

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad