Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein… waarvoor staan hierdie eenvoudige obelisk (gedenknaald) van sandsteen werklik? En het dit irrelevant geraak in die moderne Suid-Afrika?

 

Naald van onreg

Somber suil wat ons aan die tragiese dood van 26 000 vroue en kinders herinner

 

Die Nasionale Vrouemonument


BO: Die Nasionale Vrouemonument.

Foto: Kopiereg © Leo Koolhoven,
met spesiale vergunning aan Mieliestronk.com. Besoek Leo Koolhoven se indrukwekkende foto-album op flickr by
hierdie skakel.

 

Die Nasionale Vrouemonument — ietwat vervorm om die naald te benadruk“De la Rey,’’ sing Bok van Blerk. “Jy moet die Boere kom lei, De la Rey, De la Rey.” En baie is al in sy woorde ingelees wat Bok stellig nooit so bedoel het nie. Want eintlik sing hy bloot oor ’n halfvergete episode in die geskiedenis van die Afrikaner… ’n tyd toe die Boere hul heel donkerste uur beleef het en gesmag het na iemand wat hulle daaruit kon verlos. Trouens, by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein word die nasate van die Boere eweneens fel herinner aan daardie dae—soseer dat hulle nooit durf vergeet wie hulle is en waar hulle vandaan kom nie…

 

Enige kopiereg op die historiese foto’s by hierdie artikel het na die beste van ons wete regtens in Suid-Afrika verval weens hul ouderdom

 


D

IE Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein is op 16 Desember 1913 onthul. Dit is opgerig om die tragedie te gedenk van sowat 26 000 Afrikanervroue en -kinders wat enkele jare tevore in die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 gesterf het.

 

Eers veel later sou besef word hoeveel swartmense ook as gevolg van die oorlog oorlede isen staan die monument vandag eweneens as ’n somber herinnering aan die lyding in alle konflikte wat met brute geweld besleg is sonder om onskuldiges in ag te neem.

 

Beeldfigure voor die gedenknaaldDie oprigting van die monument het destyds plaasgevind te midde van groot verdeelheid onder Afrikanerleiers oor wat hulle as in die beste belang vir die land geag het. Die een groep het noue bande met die veroweraar, Brittanje, gepredik. Vir hulle was die nuwe Unie van Suid-Afrika immers ook ’n deel van die sogenaamde Britse Gemenebes. Die ander groep het gevoel dat Boerevolk (Afrikaners) steeds sy eie heil weg van Brittanje moes uitwerk.

 

Die Vrouemonument was egter die één samebindende faktor… want niemand kon die oë sluit vir die skreiende onreg wat die Boere deur die destydse Britse militêre aangedoen is met hul hoogs omstrede beleid van “verskroeide aarde” nie. Toe die Britte bemerk dat hulle die Boerekrygers nie tot oorgawe kon dwing nie, het hulle ’n drastiese plan in werking gestel. Hulle het naamlik besluit om die Boere se plase af te brand en hul vroue, kinders,  bejaarde mans en werkers kamma “vir hul eie beskerming” in konsentrasiekampe aan te hou.

 

As die kampe behoorlike geriewe gehad het, kon die Britse militêre miskien nog hul optrede vergewe gewees het. Die ontsettende teendeel was egter waar…

 

Die ontsettende oorlogtydse vergryp wat tot die oprigting van die Vrouemonument gelei het

 

BRITTANJE het besef dat die oorlog teen die Boere-guerrillas van die destydse Vrijstaat en Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) veel langer voortsleep as waarvoor hy ooit voorsiening gemaak het. Toe moes die Boere reg in die hart bygekom word. Plaashuise moes verbrand word, gesaaides en veestapels vernietig word, alles wat oor geslagte opgebou is, moes weggeruk word uit die hand van die Boer. Ook almal wat vir hom dierbaar was, moes weggeneem word om so te ly dat hy sou knak: sy vrou, sy kinders, sy ou mense, sy werkers.

 

Konsentrasiekamp-ellende... ’n jong Afrikaner-ma en haar erg uitgeteerde kindLINKS: Konsentrasiekamp-ellende... ’n jong Afrikaner-ma en haar erg uitgeteerde kind.

 

Dit het alles so militêr sober begin. Toe formele gevegte eindig en die Boere met hul guerrilla-taktiek begin, is gelas dat alle plaashuise van waar aanvalle op Britse soldate of die spoorweë gedoen was, afgebrand moes word. Maar hierby het dit nie gebly nie. Uiteindelik is talle plase ook verwoes slegs omdat Boerevegters daar in staat sou kon gewees het om voorrade en ’n betreklik veilige rusplek te bekom.  

 

En namate die plaasmense weggevoer is, was daar naderhand sowat vyftig konsentrasiekampe, waarin 161 000 mense geïnterneer is. Die kampe is so ondoeltreffend georganiseer en bestuur dat hulle spoedig regoor die wêreld berug geraak het.

 

Mense is van die verwoeste plase af per ossewa, trollie of trein soontoe vervoer—gewoonlik in oop steenkool- of beeswaens sonder enige sanitêre geriewe—of hulle is te voet soontoe aangedryf. Hulle is ''higgledy-piggledy'' (hot en haar) saamgebondel, om lord Alfred Milner se uitdrukking te gebruik. En geen behoorlike reëlings is getref om hulle te huisves nie. Talle moes in die begin in die oop veld probeer regkom totdat tente—baie van dié feitlik onbruikbaar—verskaf is, of hulle is in barakke in die kampe of elders aangehou.

 

Selfs ’n Britse kommissie van ondersoek het bevind dat van die huisvesting, soos hulle dit gestel het, skaars geskik vir varke was.

 

Omdat daar nie genoeg komberse, klere en ander beskerming was nie, en partykeer nie eens beddens en matrasse nie, is die geïnterneerdes, veral dié op die Hoëveld van die Vrystaat en Transvaal, aan die uiterste ontberings blootgestel wat hul kragte ondermyn het.

 

Die groot aantal klein kindertjies is die ergste getref. En die swart mense. Hul behandeling, vertel geskiedkundiges, was hagliker as haglik, waar hulle deur die Britte in aparte kampe aangehou is. Daar is van hulle verwag om hul eie akkommodasie op te rig en met selfs kleiner rantsoene as die geïnterneerde wit vroue en kinders tevrede te wees.

 

Want vir swart en wit was daar nie net hopeloos te min kos in die gevaarlik oorvol kampe nie, maar die kos wat daar was, veral vleis, suiker en meel, was aanvanklik van ’n swak gehalte. Boonop was daar geen groente, vrugte en ander noodsaaklike kosse nie. Gevolglik het die kampbewoners, veral die kindertjies, binne maande tot lewende geraamtes weggeteer.

 

’n Britse kampdokter het hom gedwonge gevoel om te rapporteer dat ''veral die kinders weens die gebrek in die dieet vermaer en baie min krag het om teen siekte weerstand te bied''.

 

Die sanitasie was ook uiters onvoldoende. Daar was geen behoorlike geriewe vir die weggooi van vullis nie, en latrines was so primitief dat hulle die teelaarde van siektekieme en infeksies geword het. Die gevolg was dat siektes, veral masels, in 1901 in die kampe uitgebreek het en, omdat daar nie genoeg dokters en ander mediese sorg was nie, was daar onrusbarend baie sterftes.

 

Só het daar dan van die 118 000 Boeremense en 43 000 swartes wat in die konsentrasiekampe was, duisende gesterf. ’n Hele geslag potensiële Afrikaners is uitgewis, altesaam 22 074 Boerekinders en 4 182 Boerevroue, terwyl die sterftesyfer onder die swart mense op minstens 14 154 bereken word. Daar is al geskat dat daar vandag nagenoeg 600 000 meer Afrikaners kon gewees het as dit nie vir die sterftes in die konsentrasiekampe was nie. Sowat 1 500 Boeremans  (meestal bejaardes) het ook in die kampe omgekom.
 

In die Bloemfonteinse konsentrasiekamp

BO: In die Bloemfonteinse konsentrasiekamp moet hierdie groepie Afrikanervroue en -kinders die beste probeer maak van hul omstandighede. Maar die vroue is almal in rou—hulle dra swart rokke.

 

Die onthulling van die Vrouemonument

 

DIT was Marthinus Theunis Steyn, gewese president van die Vrystaat, wat die oproep gedoen het dat ’n monument opgerig moet word ter nagedagtenis van die vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe dood is.  In Februarie 1907 is die eerste konferensie hieroor in Bloemfontein gehou, en daar is besluit om £10 000 vir die oprigting van ’n gedenknaald in te samel.

 

Die hoogs verarmde Afrikanervolk het gereageer ondanks die geringe middele tot sy beskikking en vier jaar later was meer as die vasgestelde bedrag bymekaar. Die beeldhouer Anton van Wouw en die argitek Frans Soff het opdrag gekry om die ontwerp uit te voer wat hulle voorgelê het.

 

Vrouemonument die dag voor die onthullingREGS: ’n Skare op die rantjies by die Vrouemonument die dag voor die onthulling op 16 Desember 1913.

 

Op 16 Desember 1913 is die Vrouemonument in die teenwoordigheid van meer as twintigduisend mense deur mev. Steyn, vrou van die oudpresident, onthul. Emily Hobhouse, ’n uiters meelewende Britse vrou wat ondanks teenstand in haar eie land baie gedoen het om die aandag op die lyding van die Boerevroue en -kinders in die kampe te vestig, het spesiaal uit Engeland gekom om die plegtigheid waar te neem, maar het weens swak gesondheid nie verder kon kom as Beaufort-Wes nie. (Nadat mej. Hobhouse op 8 Junie 1926 in Londen oorlede is, is haar as na Suid-Afrika gebring en op 26 Oktober 1926 in die basis van die gedenknaald ter ruste gelê.)

 

Ook M.T. Steyn was glad nie meer gesond tydens die onthulling nie. Hy het dit wel bygewoon, maar sy boodskap moes voorgelees word. Diep ernstig het hy sy mense daaraan herinner dat dit nie baat om monumente vir die dooies op te rig terwyl die lewendes toegelaat word om in armoede en ellende te versink nie. Hy het ook gewaarsku dat die Afrikaner sou ophou bestaan as hy volhard met sy verdeeldheid. (Dit was ’n klaarblyklike verwysing na die verskille in die destydse politiek en die breuk in Afrikanergelederekort daarna het die Nasionale Party tot stand gekom.)

 

Afrikaners in 1938 voor die gedenknaald van die Vrouemonument tydens die eeufeesvieringe om die Groot Trek van honderd jaar tevore te gedenk

BO: Dit kan vir ’n nuwe geslag so oudmodies en vreemd lyk... Afrikaners in 1938 voor die gedenknaald van die Vroue­monument tydens die eeufeesvieringe om die Groot Trek van honderd jaar tevore te gedenk. Hierdie mense het onthou om hul verlede en herkoms in ere te hou... iets wat in ons tyd selde nog gebeur. Maar baie meningsvormers sê dit beteken hoegenaamd nie dat ons ook nou weer moet teruggaan na velskoene, Voortrekkerkappies en ossewaens nie—ook nie dat ons moet laer trek en onsself van ander bevolkingsgroepe moet afsonder nie. Dit beteken slegs dat ons nie moet vergeet wie ons is en waar ons vandaan kom nie. Niemand durf dit ook van ons verwag om ons voorouers se geskiedenis netso uit ons geheue te skrap nie.

 

Hoe die Vrouemonument lyk

 

INDRUKWEKKEND in sy eenvoud, is die Nasionale Vrouemonument ’n 37 meter hoë obelisk (gedenknaald) van sandsteen aan die suidekant van Bloemfontein, met historiese panele weerskante op die voetstuk en twee halfmaanvorige uitbousels wat ’n ringmuur na voor vorm.

 

Aan die voorkant van die naald is die roerende beelde van twee vroue, een wat ’n sterwende kind vashou. Die as van die Britse skryfster en filantroop Emily Hobhouse (1860-1926), wat soveel vir die lydende Boerevroue beteken het, rus in ’n urn in die basis van die naald.

 

Daar is ook enkele grafte binne die ringmuur, onder meer dié van pres. M.T. Steyn, wat in 1916 oorlede is kort nadat hy ’n toeval gekry het terwyl hy besig was om ’n kongres van die Oranje-Vrouevereniging toe te spreek. Ook genl. Christiaan de Wet, wat hom besonder onderskei het in die Boere se beweeglike guerrillastryd teen die Britte, is hier aan die voet van die Vrouemonument begrawe.

 

’n Entjie van die monument is ’n sementblad met wawielspore, wat daar aangebring is tydens die Simboliese Ossewatrek van 1938. Om die Groot Trek van honderd jaar vroeër te gedenk, was daar in 1938 weer verskillende geselskappe wat met ossewaens deur die land getrek het en daarom is dit die “Simboliese Ossewatrek” genoem. Ontleders sê hierdie eeufees het ’n besondere rol gespeel om die Afrikaners as ’n volk te herenig.

 

Ook by die Vrouemonument staan die sogenaamde Oorlogsmuseum, met memorabilia van die Anglo-Boeroorlog, onder meer wapens en ander voorwerpe uit daardie tyd.

 

Wat beteken die Vrouemonument vandag vir ons in ’n grootliks veranderde Suid-Afrika?

 

BESTAAN die Afrikaner nog as ’n volk—binne ’n veelrassige Suid-Afrikaanse nasie? Is die rol van die Boer uitgedien ná sy politieke dominansie in die apartheidsjare? Daar is mense wat ernstig reken dat die Afrikaners eintlik nooit ’n volk in die enge sin van die woord gevorm nie, dat hulle slegs die nasate was van ’n aantal uiteenlopende avonturiers uit Nederland, Duitsland en Frankryk, wat in ’n ruwe, vreemde land moes oorlewe (en nooit eintlik werklik kon saamstaan nie, omdat daar te veel leiers onder hulle was).

 

Maar vir vele ander is dit ondenkbaar om te wil beweer dat die Boere geen volk is of ooit was nie. In die smeltkroes en worstelstryd van hul pioniersbestaan is hulle gelouter totdat hulle uiteindelik as ’n eie volk op die wye, wuiwende Suid-Afrikaanse velde verenig het. Dit was veral die Anglo-Boereoorlog, met al sy ellende, wat hulle so saamgesmee het dat die burgers van die twee Boererepublieke en die Afrikaner-rebelle in Kaapland hulself kennelik as ’n eenheid beskou het. As die Afrikaners konsuis geen volk sou vorm nie, vra volkekundige ontleders, tot watter volk of volkere behoort hierdie eiendomlike groep mense dan? Nederlanders, Duitsers of Franse is hulle immers baie lank nie meer nie.

 

En die lede van ’n volk het ’n trots en dit word versterk deur die herinneringe aan wie hulle was en waar hulle vandaan kom. Die Vrouemonument, in al sy eenvoud, is dus geen steriele bouwerk wat miskien bloot om sy geskiedkundige waarde in stand gehou behoort te word nie. Dit is allereers ’n simbool van ’n eie identiteit. Ons moet nooit skaam wees om Afrikaners te wees binne die kader van ons Suid-Afrikaanse nasieskap nie, word dikwels gesê.

 

Maar die Vrouemonument  is veel meer as bloot ’n Afrikanersimbool, soos ook in die begin van hierdie artikel gesê is. Swartmense het ook in die oorlog gely en gesterf en die gedenknaald dien eweneens as ’n sombere waarskuwing wat soos ’n vermanende vinger omhoog reik. Dit is om ons te herinner dat niemand die reg het om menselewens te neem soos dit hom pas nie. Ons is almal lede van die menseras. Sonder liefde kan ons nie voortbestaan nie.


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad