BO: Die Vredefortkoepel soos hy uit die ruimte lyk en (INLAS BO) 'n foto van die terrein.

Foto's: NASA / JPL en Unesco
  

  
Vredefortkoepel Die reuse-rots uit die ruimte wat die aarde soos ’n klok laat tril het

Vanuit die ruimte het ’n voorwerp so groot soos Tafelberg gekom en in ons eie wêrelddeel in die aarde ingeploeg met ’n brute krag wat ons hele planeet geskud het. Dit het net ’n ent suidwes van die teenswoordige Johannesburg gebeur en binne vier minute is die aangesig van die aarde vir ewig verander…
•  Die aanwysing ’n tyd gelede van die oorblyfsels van daardie kataklismiese botsing as Suid-Afrika se sewende Wêrelderfenisgebied is allerweë verwelkom. Dit staan bekend as die Vredefortkoepel. Reis in hierdie artikel saam na hierdie fassinerende terrein wat uit ’n ontsaglike wêreldramp ontstaan het.

BO: ’n Kunstenaarsvoorstelling van ’n massiewe ruimtelike voorwerp wat in die aarde inploeg.

Illustrasie: DONALD DAVIS / NASA

P

RAAT van ’n muggie langs ’n olifant, nee, ’n muggie langs ’n reuse-mammoet.  Daardie wasmasjien-agtige dingetjie wat die Amerikaners ’n tyd gelede so skouspelagtig in die hart van ’n komeet ingeskiet het, was belaglik nietig as ’n mens dit vergelyk met die kolos wat Suid-Afrika in die aarde se prille jeug getref het.

Vanuit die ruimte het ’n voorwerp so groot soos Tafelberg gekom en in ons eie wêrelddeel in die aarde ingeploeg met ’n brute krag wat ons hele planeet soos ’n klok laat vibreer het. Dit het net ’n ent suidwes van die teenswoordige Johannesburg gebeur en binne vier minute is die aangesig van die aarde vir ewig verander.

Gesteentes wat weens daardie kataklismiese botsing uit die dieptes van die aardkors opgerisp is, lê vandag steeds oop en bloot aan die oewers van die Vaalrivier. Die letsel is in die vorm van ’n koepel van sowat 70 km in deursnee—deels omring deur ’n kring van heuwels tussen Vredefort en Parys in die Vrystaat. Die koepel is rondom Vredefort, en word daarom die Vredefortkoepel genoem, maar dit strek ook in die Noordwes-provinsie in.

Unesco-foto van die Vredefortkoepel

REGS: Unesco-foto van die Vredefortkoepel.

Kopiereg © Unesco

Die geologiese formasies hier is besonder fassinerend. Soos iemand dit al beskryf het: Dit lyk of die grond weens die botsing hier agteroor bollemakiesie geslaan het. Die rotslae lê in die teenoorgestelde volgorde as in die omringende gebied. In die middel is daar ’n groot "prop" van graniet.
  

 REGS: Die Vredefortkoepel uit die ruimte. Hierdie foto wat vanuit ’n Amerikaanse NASA-pendeltuig geneem is, toon die halfmaan van die koepel, asook die Vaalrivier (lyn versterk en ligblou gekleur) wat van regs bo tot middel links deur die landskap keep. Die Vaal vloei in die koepel in en swenk dan skerp om dit te verlaat. (Dorpe se liggings is by benadering.)
Foto: NASA/JPL

Die botsing destyds—wetenskaplikes sê dit was sowat 2000 miljoen jaar gelede—het oorspronklik ’n krater gelaat waarvan die deursnee op 250 tot 300 km geraam word. Die krater self het egter lankal verweer en wat ons vandag sien, is die verweerde oorblyfsels van die opstoting van die aarde wat weens die impak in die middel van die krater plaasgevind het.

Dit kan vergelyk word met wat in ’n plas water gebeur wanneer ’n druppel daarin val (animasie REGS). As ons dit in stadige aksie sou kon sien, sou ons die volgende opmerk: Eers is daar ’n duik in die vloeistof, gevolg deur ’n kroonvormige spatsel (krater) rondom die plek waar die druppel die water getref het. Dan val die kroon terug en skiet die vloeistof reg in die middel soos ’n suil in die lug in op.

’n Soortgelyke "suil" het voorgekom in die gesmelte gesteentes van die hete inferno wat destyds deur die botsing tussen die meteoriet en die aarde gegenereer is—en die Vredefortkoepel is vandag die oorblysels van daardie opwellende "suil". Ook interessant: die impak was so aardskuddend, in die heel letterlike sin van die woord, dat 70 kubieke kilometer van die rotse na berekening in ’n damp oorgegaan het.

LINKS: Op hierdie foto wat deur 'n maanomwentelingstuig van NASA van 'n maankrater geneem is, kan die oorblyfsels van 'n sentrale opwelling duidelik gesien word: berge reg in die middel van die krater. Die Vredefortkoepel is op dieselfde manier gevorm,  maar die buiterand van die krater het—anders as by die maankrater—weens verwering verdwyn.  Die aarde het immers 'n atmosfeer, maar die maan het nie.

Foto: Lunar Orbiter-foto, NASA/JPL

Kyk ook die uitmuntende webblad oor die Vredefortkoepel by:
http://www.hartrao.ac.za/other/vredefort/vredefort.html

  


LINKS: Impakkraters op die planeet Venus (die “Aandster”) toon soortgelyke reste van opwellings in die middel.

Foto: NASA/JPL

Die Vredefortkoepel word tans as die grootste en oudste sigbare impak-struktuur van die aarde se 175 bekende impakkraters beskou. Ander sulke geologiese bielies is Sudbury in Kanada, wat volgens die wetenskaplikes se raming 1850 miljoen jaar oud is, en Chicxulub in Mexiko, waardeur driekwart van die lewe op aarde glo 65 miljoen jaar gelede uitgewis is.

Elk van hierdie botsings tussen ons planeet en ’n ruimtelike voorwerp was sterk genoeg om die hele aardse opset en manier van lewe dramaties te verander.

Daar is wel geologiese getuienis dat die aarde veel vroeër ook onder reusagtige meteoriete deurgeloop het—plaaslik by Barberton, asook in Wes-Australië. Maar geen sigbare oppervlak-strukture van hierdie twee botsings het oorgebly soos by Vredefort nie.

Maar kan só ’n botsing weer plaasvind? Nie sommer in die voorsienbare toekoms nie, sê geleerdes, hoewel nog ’n katastrofale ontmoeting tussen die aarde en ’n enorme ruimtelike voorwerp die een of ander tyd nie uitgesluit kan word nie.

Elke nou en dan is daar natuurlik ’n kleiner dwaalklip wat met groot media-belangstelling by die aarde verbyskuur – soos die verloopte asteroïed 2012 DA14, met ’n geraamde deursnee van 30 meter wat ons op 15 Februarie 2013  “naelskraap” met 27 700 km gemis het. Dit is nader as wat sekere kunsmatige satelliete aan die aarde is.

As ’n mens daaraan dink dat die Soutpankrater noord van Pretoria in die verlede deur ’n soortgelyke dwaalklip van moontlik 30 tot 50 meter veroorsaak is – toe dit ons planeet glo met 'n krag van 100 atoombomme getref het – ys ’n mens wat sou gebeur het as
2012 DA14 op, sê, Londen of New York, of selfs Kaapstad of Johannesburg, sou geval het.

As ’n mens egter enige waarde aan statistiese moontlikhede kan heg, is die kans skralerig dat ’n gesteente soos dié in ons leeftyd op die aarde kan neerstort. Dit gebeur maar so eenmaal in 1600 jaar, sê hulle. Maar nou ja, dit kan steeds enige tyd gebeur. Enige plek. Uit die bloute. Heeltemal onverwags (tensy ’n wakker sterrekundige dit vooraf sien aankom het).

 Soutpan-meteoorkrater

BO: Die Soutpankrater (Tswaing genoem in Tswana), sowat 40 km noord van Pretoria, wat lank gelede deur 'n ruimtelike dwaalklip van moontlik 30 tot 50 meter veroorsaak is.

Dit is weliswaar ’n vulletjie in vergelyking met die Vredefortkoepel-impakterrein, maar dit is nietemin self van groot wetenskaplike belang.  Die krater is vandag slegs nagenoeg 1 km breed, maar die botsing destyds moet die oorspronklike landskap geweldig verander het. Daar is al bereken dat alle gesteentes en lewensvorms in ’n straal van tot drie 3 km rondom die krater doodeenvoudig sou verdamp het weens die geweldige hitte wat opgewek is.

Die Soutpankrater is een van (sover bekend) vier impakkraters in Suid-Afrika. Dit is ’n gewilde toeriste-attraksie wat daarop roem dat dit jaarliks 14 000 besoekers lok.

Die water wat die pan in die krater vorm, is 'n samestelling van fonteinwater, grondwater en reënwater, en is, na vertel word, dertien keer souter as die Dooie See by Israel. Vroeër is sout (NaCl) en wassoda (Na2CO3) hier kommersieel onttrek.

Beskikbare bronne dui nie aan waar die sout vandaan gekom het nie (sekerlik nie uit die dwaalklip soos manna uit die hemel nie!), maar daar kan aangeneem word dat ophopings van sout weens verdamping plaasgevind het. Water met opgeloste soute vloei oor millenniums heen in die pan in, maar daar is nie ’n uitloop na, sê maar, ’n spruit of ’n rivier nie. Die water kan slegs die pan verlaat deur in die grond in te syfer en veral deur te verdamp. Dis immers ook hoekom die Dooie See so sout is. Die water “vergaan”, maar die sout bly staan!

Foto deur eienaar “Miyu” tot openbare besit verklaar (“released into the public domain”)
    

Ons aardbewoners kan ons nietemin gelukkig ag dat ons so betreklik naby aan die reusagtige planeet Jupiter in ons sonnestelsel is. Jupiter dien naamlik as ’n doeltreffende skild om baie dwalende brokstukke in die ruimte aan te trek en dus van ander planete soos die aarde af weg te rokkel.

Maar dan weer ... ’n groot homp ruimterommel kan steeds maklik by Jupiter verbyglip, want sy baan om die son is groot en hy kan tog nie tegelyk op alle plekke op daardie baan wees nie.

Dit is dus nie verniet dat ons nou reeds komete beskiet om te kyk hoe hulle saamgestel is nie. Dalk kan dit in die toekoms nog werklik nodig wees om ’n aankomende reuse-rots betyds met projektiele te deflekteer of aan flarde te skiet (soos in die rolprente) voordat só ’n onwelkome indringer weer ons planeet in ’n onnoemlike chaos dompel.

MAAR bloot om oor so ’n bedreiging te spekuleer, is om die negatiewe van sulke bombardemente te beklemtoon. Raar maar waar, daar is uiteindelik ook die positiewe, as ’n mens byvoorbeeld kyk hoe daar uit die Vredefortse choas ook verskillende goeie dinge ontstaan het!

Wat die meteoriet byvoorbeeld kon gedoen het om ten minste ’n deel van Suid-Afrika se ontsaglike mineraalrykdom van diep onder uit die aarde se maag na boontoe op te klits, is ’n studie op sigself. En dan is daar geleerdes wat reken dat daar vandag waarskynlik geen goud aan die Witwatersrand gemyn sou kon word as dit nie vir daardie "berg" uit die ruimte was nie.

Soos prof. Wolf Uwe Reimold, professor in mineralogie by die skool vir geowetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand, aan ’n koerantjoernalis vertel het: "Die heuweltjies in die omgewing van dorpe soos Vredefort en Parys toon die letsels van die geweld van die impak. Van die rotse wat met die slag uitgeruk is, vertel ’n storie wat verder as 3.500 miljoen jaar terugstrek, toe die eerste vastelande op die primitiewe aarde gevorm is en die goudneerslae by die grense van die antieke Witwatersrandse see bymekaargekom het." Die impak van die ruimtelike voorwerp meer as ’n miljard jaar later het die goud bewaar, waar dit andersins sou geërodeer het.

Dog die koepel word om ander redes self as ’n onvervangbare skat beskou. Dit het selfs die Wêrelderfeniskomitee van Unesco (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) genoeg geïmponeer om dit op 14 Julie 2005 as Suid-Afrika se sewende Wêrelderfenisgebied aan te wys. 

WAT is Wêrelderfenisgebiede? Die begrip "erfenis" is iets waarmee ons almal kan identifiseer. Baie van ons het mos al lus gevoel om ’n stamboom saam te stel, of om ons familiegeskiedenis na te speur, nadat ons met ’n ou oom of tante in die familie gepraat het. Dié ou mense weet so baie en ons wil hul kennis vasvang voordat die dood hulle wegneem en daardie kennis vir altyd verlore sal wees.

Só word daar ook in die breër verband vir die bewaring van die groot wêreldfamilie se erfenis gesorg. Gelukkig was daar oor die jare heen mense en owerhede met genoeg wysheid en insig wat die absolute noodsaaklikheid besef het om kosbare dele van die aarde se natuurlike en kulturele rekords vir die nageslagte te bewaar.

Hierdie bewaring vind vandag onder meer plaas deur die aanwysing van Wêrelderfenisgebiede. Dié is ’n uitvloeisel van die Wêrelderfenis-konvensie, wat ten doel het om die wêreld se kultuur- en natuurerfenis te bewaar, en in 1972 deur Unesco aanvaar is. Suid-Afrika het in 1997 die 150ste land geword wat dié konvensie bekragtig het. 

Die aanwysing van die Vredefortkoepel as só ’n Wêrelderfenisgebied is allerweë verwelkom. Dr. Pallo Jordan, minister van kuns en kultuur, het destyds daarop gereageer deur te sê dat die regering baie opgewonde is omdat die Vredefortkoepel se waarde nou universeel erkenning sal geniet.

"Dit is ’n baie trotse oomblik vir Suid-Afrika," het dr. Jordan in ’n verklaring gesê. "Die volgende stap sal wees om stelsels te kry sodat die gebied behoorlik bestuur kan word."

Kort hierna is bekend gemaak dat die departement van omgewingsake en toerisme R18 miljoen bewillig het vir die ontwikkeling van ’n behoorlike infrastruktuur, staproetes en ’n toerismesentrum by die Vredefortkoepel. Indringerplante sou uitgeroei word in die gebied wat die tuiste van honderd plantspesies is. Daar is ook sewentig skoenlapperspesies en driehonderd soorte voëls.

Boonop is die gebied ryk aan tekens van die mens se teenwoordigheid, wat wissel van 30 000 jaar se besetting deur die San (Boesmans) tot gevegte tussen Boer en Brit en tussen wit en swart.

Regoor die wêreld is daar reeds byna 800 Wêrelderfenisgebiede in meer as 130 lande. Suid-Afrika se ander Wêrelderfenisgebiede is die Groter St. Lucia-vleilandpark, die Kaapse Blommeryk, Robbeneiland, die Wieg van die Mensdom-fossielterrein, Mapungubwe, die Ukhahlamba-Drakensbergpark en, in 2007 aangewys, die Richtersveld Kulturele en Botaniese Landskap.

En dan is daar natuurlik ook die oorblyfsels van ’n krater wat ons land se naam as erfenisbewaarder hoog hou. Dit verleen mos ’n heeltemal nuwe betekenis aan die uitdrukking "om jou naam krater te maak"!

A note from the webmaster of the Mieliestronk website

Wolf Uwe ReimoldAFTER we had published the above feature on the Mieliestronk website, we received the following feather in our cap in e-mails from dr. Wolf Uwe Reimold PICTURE , head of the Impact Cratering Research Group and professor of mineralogy at the School of Geosciences at the University of the Witwatersrand:

"Congratulations to a nice presentation about Vredefort impact. You have indeed done a great job! It would also be great if you could post an English version to allow the entire public to access the information."

These compliments are all the more appreciated, coming from a renowned authority like professor Reimold, who is the co-author of a prestigious book on the very topic of the Vredefort Structure.

The book, by W.U. Reimold and R.L. Gibson, 2005, is entitled
METEORITE IMPACT - The Danger from Space and South Africa’s Mega-Impact, the Vredefort Structure.
It is published by Chris van Rensburg Publications, Melville, which can be contacted at CvRpub@mweb.co.za or tel. 011 726 4350 by anyone requiring more information on purchasing this truly excellent and informative work.

Professor Reimold himself may also be contacted at reimoldw@geosciences.wits.ac.za 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad