|
|
||||||
|
BO: ’n Kunstenaarsvoorstelling van ’n massiewe ruimtelike voorwerp wat in die aarde inploeg. Illustrasie: DONALD DAVIS / NASA |
||||||
RAAT van ’n muggie langs ’n olifant, nee, ’n muggie langs ’n reuse-mammoet. Daardie wasmasjien-agtige dingetjie wat die Amerikaners ’n tyd gelede so skouspelagtig in die hart van ’n komeet ingeskiet het, was belaglik nietig as ’n mens dit vergelyk met die kolos wat Suid-Afrika in die aarde se prille jeug getref het. Vanuit die ruimte het ’n voorwerp so groot soos Tafelberg gekom en in ons eie wêrelddeel in die aarde ingeploeg met ’n brute krag wat ons hele planeet soos ’n klok laat vibreer het. Dit het net ’n ent suidwes van die teenswoordige Johannesburg gebeur en binne vier minute is die aangesig van die aarde vir ewig verander. Gesteentes wat weens daardie kataklismiese botsing uit die dieptes van die aardkors opgerisp is, lê vandag steeds oop en bloot aan die oewers van die Vaalrivier. Die letsel is in die vorm van ’n koepel van sowat 70 km in deursnee—deels omring deur ’n kring van heuwels tussen Vredefort en Parys in die Vrystaat. Die koepel is rondom Vredefort, en word daarom die Vredefortkoepel genoem, maar dit strek ook in die Noordwes-provinsie in. Die geologiese formasies hier is besonder fassinerend. Soos iemand dit al beskryf het: Dit lyk of die grond weens die botsing hier agteroor bollemakiesie geslaan het. Die rotslae lê in die teenoorgestelde volgorde as in die omringende gebied. In die middel is daar ’n groot "prop" van graniet.
Die botsing destyds—wetenskaplikes sê dit was sowat 2000 miljoen jaar gelede—het oorspronklik ’n krater gelaat waarvan die deursnee op 250 tot 300 km geraam word. Die krater self het egter lankal verweer en wat ons vandag sien, is die verweerde oorblyfsels van die opstoting van die aarde wat weens die impak in die middel van die krater plaasgevind het.
Die Vredefortkoepel word tans as die grootste en oudste sigbare impak-struktuur van die aarde se 175 bekende impakkraters beskou. Ander sulke geologiese bielies is Sudbury in Kanada, wat volgens die wetenskaplikes se raming 1850 miljoen jaar oud is, en Chicxulub in Mexiko, waardeur driekwart van die lewe op aarde glo 65 miljoen jaar gelede uitgewis is. Elk van hierdie botsings tussen ons planeet en ’n ruimtelike voorwerp was sterk genoeg om die hele aardse opset en manier van lewe dramaties te verander. Daar is wel geologiese getuienis dat die aarde veel vroeër ook onder reusagtige meteoriete deurgeloop het—plaaslik by Barberton, asook in Wes-Australië. Maar geen sigbare oppervlak-strukture van hierdie twee botsings het oorgebly soos by Vredefort nie.
Maar kan só ’n botsing weer plaasvind? Nie sommer in die voorsienbare toekoms nie, sê geleerdes, maar nog ’n katastrofale ontmoeting tussen die aarde en ’n enorme ruimtelike voorwerp die een of ander tyd kan nie uitgesluit word nie. Die reusagtige planeet Jupiter in ons sonnestelsel dien wel as ’n doeltreffende skild om baie dwalende brokstukke in die ruimte aan te trek en dus van ander planete soos die aarde af weg te rokkel. Maar ’n groot homp ruimterommel kan steeds maklik by hom verbyglip, want Jupiter se baan om die son is groot en hy kan tog nie tegelyk op alle plekke op daardie baan wees nie. Dit is dus nie verniet dat ons nou reeds komete beskiet om te kyk hoe hulle saamgestel is nie. Dalk kan dit in die toekoms nog werklik nodig wees om ’n aankomende reuse-rots betyds met projektiele te deflekteer of aan flarde te skiet (soos in die rolprente) voordat só ’n onwelkome indringer weer ons planeet in ’n onnoemlike chaos dompel. MAAR
bloot om oor so ’n bedreiging te spekuleer, is om die negatiewe van sulke bombardemente te beklemtoon. Raar maar waar, daar is uiteindelik ook die positiewe, as ’n mens byvoorbeeld kyk hoe daar uit die Vredefortse choas ook verskillende goeie dinge ontstaan het! Soos prof. Wolf Uwe Reimold, professor in
mineralogie by die skool vir geowetenskappe aan die Universiteit van die
Witwatersrand, aan ’n
koerantjoernalis vertel het: "Die
heuweltjies in die omgewing van dorpe soos Vredefort en Parys toon die
letsels van die geweld van die impak. Van die rotse wat met die slag
uitgeruk is, vertel ’n
storie wat verder as 3.500 miljoen jaar
terugstrek, toe die eerste vastelande op die primitiewe aarde gevorm is en
die goudneerslae by die grense van die antieke Witwatersrandse see
bymekaargekom het." Die impak
van die ruimtelike voorwerp meer as ’n
miljard jaar later het die goud bewaar, waar dit andersins sou geërodeer
het. WAT is Wêrelderfenisgebiede? Die begrip "erfenis" is iets waarmee ons almal kan identifiseer. Baie van ons het mos al lus gevoel om ’n stamboom saam te stel, of om ons familiegeskiedenis na te speur, nadat ons met ’n ou oom of tante in die familie gepraat het. Dié ou mense weet so baie en ons wil hul kennis vasvang voordat die dood hulle wegneem en daardie kennis vir altyd verlore sal wees. Só word daar ook in die breër verband vir die bewaring van die groot wêreldfamilie se erfenis gesorg. Gelukkig was daar oor die jare heen mense en owerhede met genoeg wysheid en insig wat die absolute noodsaaklikheid besef het om kosbare dele van die aarde se natuurlike en kulturele rekords vir die nageslagte te bewaar. Hierdie bewaring vind vandag onder meer plaas deur die aanwysing van Wêrelderfenisgebiede. Dié is ’n uitvloeisel van die Wêrelderfenis-konvensie, wat ten doel het om die wêreld se kultuur- en natuurerfenis te bewaar, en in 1972 deur Unesco aanvaar is. Suid-Afrika het in 1997 die 150ste land geword wat dié konvensie bekragtig het. Die aanwysing van die Vredefortkoepel as só ’n Wêrelderfenisgebied is allerweë verwelkom. Dr. Pallo Jordan, ons minister van kuns en kultuur, het daarop gereageer deur te sê dat die regering baie opgewonde is omdat die Vredefortkoepel se waarde nou universeel erkenning sal geniet. "Dit is ’n baie trotse oomblik vir Suid-Afrika," het dr. Jordan in ’n verklaring gesê. "Die volgende stap sal wees om stelsels te kry sodat die gebied behoorlik bestuur kan word." Kort hierna is bekend gemaak dat die departement van omgewingsake en toerisme R18 miljoen bewillig het vir die ontwikkeling van ’n behoorlike infrastruktuur, staproetes en ’n toerismesentrum by die Vredefortkoepel. Indringerplante sou uitgeroei word in die gebied wat die tuiste van honderd plantspesies is. Daar is ook sewentig skoenlapperspesies en driehonderd soorte voëls. Boonop is die gebied ryk aan tekens van die mens se teenwoordigheid, wat wissel van 30 000 jaar se besetting deur die San (Boesmans) tot gevegte tussen Boer en Brit en tussen wit en swart. Regoor die wêreld is daar reeds byna 800 Wêrelderfenisgebiede in meer as 130 lande. Suid-Afrika se ander Wêrelderfenisgebiede is die Groter St. Lucia-vleilandpark, die Kaapse Blommeryk, Robbeneiland, die Wieg van die Mensdom-fossielterrein, Mapungubwe, die Ukhahlamba-Drakensbergpark en, in 2007 aangewys, die Richtersveld Kulturele en Botaniese Landskap. En dan is daar natuurlik ook die oorblyfsels van ’n krater wat ons land se naam as erfenisbewaarder hoog hou. Dit
verleen mos ’n heeltemal nuwe betekenis aan die uitdrukking "om jou naam krater te maak"! |
||||||
|
A note from
the webmaster of the Mieliestronk website
"Congratulations to a nice presentation about Vredefort impact. You have indeed done a great job! It would also be great if you could post an English version to allow the entire public to access the information." These compliments are all the more appreciated, coming from a renowned authority like professor Reimold, who is the co-author of a prestigious book on the very topic of the Vredefort Structure. The
book, by W.U. Reimold and R.L. Gibson, 2005, is entitled |
||||||