Raakgeboor ná meer as twintig jaar...    

Die wondermeer
onder die ys

’n Radar-satellietfoto van die Vostok-varswatermeer

BO: ’n Radar-satellietfoto van die Vostok-varswatermeer, wat in der waarheid sowat vier kilometer diep onder die ys in Antartika lę.

Foto: GSFC / NASA
  

’n Kunstenaar se voorstelling van die boorwerk deur die ys na die Vostok-meer

BO: ’n Kunstenaar se voorstelling van die boorwerk deur die ys na die Vostok-meer.

Illustrasie: Zina Deretsky / US National Science Foundation

Artikel op die web geplaas op 11 Februarie 2012

O

MTRENT vier kilometer diep onder die ys van ’n enorme ysplaat in Antarktika lę ’n massiewe varswatermeer—die grootste van die sowat 140 met ys bedekte mere op die koudste kontinent.

Die Vostok-meer, met sy geraamde 5400 kubieke kilometer water, bevat ruweg twee keer soveel water as Victoria-meer, die grootste meer in Afrika.

Die bestaan  van die Vostok is hoeka wetenskaplik vasgestel, maar dit was eers in Februarie 2012 dat Rusiese wetenskaplikes die opspraakwekkende aankondiging kon doen dat hulle daarin geslaag het om dwarsdeur die ys na die meer toe deur te boor. Die boorwerk het  meer as twintig jaar in beslag geneem.

Valeri Lukin, hoof van die Russiese Arktiese en Antarktiese Navorsingsinstituut, het aan die roer van die boorprojek gestaan.

Een groot wonder van dit alles is dat die meer, aldus die wetenskaplikes, twintig miljoen jaar totaal van die buitewęreld afgesluit moet gewees het—en mikrobes of enige ander lewe wat miskien daarin voorkom, sal natuurkundiges geweldig fassineer. Die toestande daar is soortgelyk aan dié wat na verwagting onder die ys op Mars, Jupiter se maan Europa en Saturnus se maan Enceladus bestaan.  Enige lewensvonds in die Vostok sal dus boonop nuwe verwagtinge laat opvlam dat lewe straks ook nog eendag elders in die sonnestelsel gevind sal word, knus gekoester onder ysdekke in die guurste omgewings.

Die Russiese belangstelling in die Vostok-meer kom al van ver af. Reeds in die negentiende eeu het die Russiese wetenskaplike Peter Kropotkin die gedagte geopper dat daar vars water onder die ysplate op Antartika kan wees. Hy het gereken dat die geweldig baie ys van duisende meters dik só op die onderste lae sou druk dat die temperatuur daar sou styg en die ys sou smelt.

Die een ding het tot die ander gelei totdat die Russe begin boor het. Noudat hulle uiteindelik die Vostok onder die ys bereik het, is daar egter groot kommer onder wetenskaplikes elders dat hulle dalk nie skoon genoeg te werk gegaan het nie. Die sestig ton smeermiddels en teenvriesmiddel wat hulle in die boorproses gebruik het, kon onherroeplike skade aan die maagdelik reine Vostok-meer berokken het, sę die doemprofete.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad