|
||||||
|
|
||||||
![]()
|
||||||
Y’S DIE GROOTSTE voël wat op die aarde oorgebly het en hy kan nie vlieg nie, maar hy kan hol of sy lewe daarvan afhang. En dan verskil hy ook van ander voëls deur slegs twee tone (pleks van vier) aan elk van sy twee skurwe pote te hê. Sy
oë kyk boonop besonder skerp. Daar word vertel dat hy ’n vyand tien
kilometer ver kan gewaar. Hy sal nietemin vlug van enigiets wat hom
bedreig, maar moenie jou geluk te ver met die volstruis beproef nie. As hy
in ’n hoek gedryf word, sal hy sy aanvaller se ingewande met ’n regte
volstruisskop uitruk.
Met
sy kop en nek plat om die grond, maak hy sy lyf rond soos ’n bal, sodat hy
net soos ’n bossie, rots of miershoop lyk. Boonop
sorg die volstruis vir ’n menigte baie nuttige produkte—van biltong tot
verestoffers—wat hierdie koddige voël oorgenoeg rede gee om ook
spreekwoordelik sy kop hoog te hou. Omtrent niks gaan verlore wanneer ’n
volstruis geslag word nie.
Al
moet die klein Struthio camelus spartel dat dit kraak om uit die
ekwivalent van 24 hoendereiers te kom, is hy ’n moedige kalant en
heel
kapabel met sy snawel. Kort voor lank is hy dan ook ’n volwaardige
volstruis—nog nat agter die ore, maar reeds so groot soos ’n hoender. Volstruisies
kom in broeisels van vyf tot ’n dosyn of meer voor. ’n Wyfie kan elke dag
of twee ’n eier lê, maar nadat sy omtrent vyftien gelê het, hou sy op en
begin broei. Volstruisboere fop gevolglik die voël deur sekere van haar
eiers weg te gaps. Wyfies waarvan die eiers gereeld weggeneem word, kan
tot tagtig eiers in ’n seisoen lê.
Foto: BACKGROUNDS ARCHIVE / PD Die
ekstra volstruiseiers kan dan in broeimasjiene geplaas word—kunsmatige
ma’s wat die liggaamstemperatuur van broeis volstruise naboots. In die
broeikas word die eiers selfs gereeld omgerol soos in die natuur, wat keer
dat
die embrio’s binne aan die doppe vassit. Die
broeityd by volstruise is 42 dae, twee keer so lank as by hoenders. Eiers
word in ’n groot sandholte gelê, waar Ma hul bedags warm hou, terwyl Pa
snags die broeiwerk behartig. Die volstruise
broei nie altyd net op hul eie eiers nie, maar ook op ander wyfies s’n
wat ewe vrypostig hul toekomstige spruite in dieselfde nes kom deponeer het.
Maar as daar te veel eiers in ’n nes is, stoot die groot voëls die
oortolliges na die buiterand van die nes waar die kans om te oorleef maar
baie skraal is. Ons
het hierbo geïmpliseer dat volstruiskuikens taai is, maar in der waarheid
vrek baie van hulle sommer vroeg-vroeg. Volstruise is Afrika-voëls en vir Suid-Afrikaners veral sinoniem met die wêreld rondom Oudtshoorn. Hulle is vroeër ook in die Midde-Ooste gevind, maar dit lyk nie of daar vandag nog êrens enige inheemse volstruise tussen die Arabiere is nie.
Die
volstruis kan tot
sowat 135 kg weeg. Die twee tone
aan elke poot eindig in dik naels.
Die
spoggerige volstruismannetjies het meestal swart vere met wit pluime aan
die vlerke en stert, maar die wyfies is bra vaal met hul grysbruin vere.
Dis slegs die mannetjies se vere wat gebruik word. Die
aflos-broeiery van die mannetjies en wyfies hou verband met hul
verskilende kleure vere. Die mannetjie, met sy swart vere wat met die nag
saamsmelt, broei van laat in die middag af tot die volgende môre. Die
wyfie broei bedags, omdat haar vere weer soos die grond om haar lyk. Een
ontleding het ook getoon dat die mannetjies dikker velle as die wyfies
het. Die gemiddelde dikte met die ontleding was 0,93 mm vir mannetjies
teenoor 0,82 mm vir wyfies. Volstruise
vreet meestal plantlote, blare, blomme en saad, hoewel hulle akkedisse en
skilpadjies (of wat ook al) sal vreet as hulle dit in die hande kry. Soos
alle voëls het hulle geen tande nie. Hulle sluk dus baie klippe in om hul
spysvertering aan te help. Wanneer dié klippe, wat maagstene of
gastroliete genoem word, glad en rond raak, bring die volstruis hulle op. Volstruise
in gevangenskap sluk allerhande goed in—kameras, filmspoele,
halssnoere, sakdoeke, penne, potlode, naelknippers, horlosies... Daar
is al selfs gesien hoe een ’n liter-koeldrankbottel deur sy slanke keelgat
laat verdwyn! Waarvoor is
volstruise die heel bangste? Miskien, glo dit, ’n helikopter! Daar word
vertel dat hulle skoon histeries raak vir só ’n gevaarte in die lug,
wat daarop kan dui dat daar in hul oerverlede ’n vlieënde roofvyand kon
gewees het wat hulle gejag het. Maar
gelukkig vir die volstruis is sy sig is baie skerp. Daarbenewens het geen
landdier sulke groot oë as hy nie. En die dik ooghare is opvallend. Die
mannetjie se stem klink soos ’n diep gegrom—eienaardig genoeg nogal
soos dié van ’n leeu! En
dan is die mannetjies ook nog veelwywers. Hulle sal met drie of vier
wyfies ronddool, of in groepe van vier of vyf mannetjies met hul maats en
kleintjies. Volstruis-geskiedenisDIE
VOLSTRUISBEDRYF in Suid-Afrika het al
’n ongekende
bloeitydperk, maar ook veelbewoë dae beleef. Ons land se voëls is reeds
van vroeg af om hul pluime vir die Europese mark gejag. Teen 1860 was daar
so min van hulle oor dat etlike boere hulle probeer mak maak het. Sover
bekend is die eerste volstruise in 1853 ingekamp om getem te word. In 1865 was
daar reeds tagtig volstruise op plase en is byna 8000 kilogram vere ter
waarde van £65 736 uitgevoer. (Vanweë inflasie is dit niksseggend om
die ponde van destyds tot vandag se rande te probeer omreken, maar dit was
’n groot klomp geld). Daarna
het die bedryf vinnig ontwikkel. Dit was in die Oos-Kaap gekonsentreer en
in die omgewing van Graaff-Reinet. Groot winste is gemaak en tot £1000 is
vir ’n paar teelvolstruise betaal. Die
eerste groot oplewing in die volstruismark was tussen 1880 en omstreeks
1885. Dit is gevolg deur ’n selfs groter oplewing van 1910 tot 1913 toe
vere van sowat £3 000 000 van 746 736 volstruise (feitlik almal in die
destydse Kaapland) uitgevoer is.
BO: By Oudtshoorn in 1913... ’n volstruisboer en kinders, met volstruispluime, by ’n trop van die destyds uiters kosbare voëls. Foto: New York State Archives Toe
die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, het die mark ineengestort en die bedryf
het daarna nooit heeltemal herstel nie. Die meeste van die voëls is vir
volstruisleer geslag pleks daarvan om hul vere te verkoop.
Die
plaaslike volstruisbedryf beweeg ook moedig voort, al het dit sedert die
jare tagtig te kampe met kommerwekkende mededinging—uit ander lande
waar boere Suid-Afrikaanse volstruise bekom het. Voëlgriep is nog ’n bedreiging en gevoelige verliese is tyd gelede as gevolg daarvan deur sekere van ons volstruisboere gely. Hele kolonies volstruise moes op sekere plase onder kwarantyn geplaas en van kant gemaak word. Gelukkig vir ons is dit nie die dodelike soort voëlgriep wat ook na mense versprei en onlangs oor vyftien maande minstens 47 menselewens in Suidoos-Asië geëis het nie. |
||||||
|
En hier’s ons volstruis se Australiese neef...
|
||||||
|
.....en les bes, die bielies onder die groot loopvoëls, wat in Nieu-Seeland uitgesterf het
DIE moas (LINKS) was die “volstruise” van
Nieu-Seeland—en watter bielies was sekeres van hulle nie gewees nie!
Maar
die
laaste van die tien of elf moa-spesies, waarvan die grootstes tot 3,5
meter of hoër kon word, het ’n aantal eeue gelede uitgesterf.
Die uitsterwing het saamgeval met die kolonisasie van Nieu-Seeland
deur die Maori’s. Die loopvoëls is meedoënloos gejag, terwyl die
troeteldiere van die Maori’s eweneens alte lekker gebaljaar het om
die groot maar weerlose moas te verdelg.
Op die foto REGS is ’n ou vergelykende voorstelling van ’n kiwi en die geraamtes van die volstruis en die moa Dinornis robustus. Ons ou vollie kom maar sleg tweede as dit by hoogte kom, dog die kiwi word totaal deur die ander twee oorskadu.
Illustrasie en foto: Histories (“Public Domain Old”) |
||||||