Volstruis
— die volbloed wondervoël

Ons volstruise was ’n tyd gelede weer taamlik in die nuus deurdat hele kolonies op sekere plase weens voëlgriep van kant gemaak moes word. Maar die volstruisnasie volhard en draf volstoom voort... 

 

Bewegende volstruis

Twee volstruise, ’n mannetjie (links) en wyfie

BO: Twee volstruise, ’n mannetjie (links) en wyfie, afgeneem by Kaappunt in die Kaapse Skiereiland. Dit is nie om dowe neute dat hul vere so ver­skillend is nie, want dit het eienaardig genoeg te doen met die verskil­lende tye wanneer meneer en mevrou op die eiers in die nes broei. Die man­netjie, met sy swart vere wat met die nag saamsmelt, broei van laat in die middag af tot die volgende môre. Die wyfie broei bedags, omdat haar vere aan die bokant weer soos die grond om haar lyk.

Foto deur Andrew Massyn, wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)

Poot van die volstruis


LINKS: Poot van die volstruis, die enigste voël met twee tone.


Foto deur Jpbarrass, wat dit tot openbare besit verklaar het (“released to the public domain”)
 

H

YS DIE GROOTSTE voël wat op die aarde oorgebly het en hy kan nie vlieg nie, maar hy kan hol of sy lewe daarvan afhang. En dan verskil hy ook van ander voëls deur slegs twee tone (pleks van vier) aan elk van sy twee skurwe pote te hê.

Sy oë kyk boonop besonder skerp. Daar word vertel dat hy ’n vyand tien kilometer ver kan gewaar. Hy sal nietemin vlug van enigiets wat hom bedreig, maar moenie jou geluk te ver met die volstruis beproef nie. As hy in ’n hoek gedryf word, sal hy sy aanvaller se ingewande met ’n regte volstruisskop uitruk.

Kop in die sand...Een ou gelofie omtrent die volstruis is darem niks anders as ’n onbillike wolhaarstorie nie. Pleks van sy kop in die sand te druk, soos die Romeinse natuurkundige Plinius die Ouere geglo het, is hy ’n bobaas-kamoefleerder.

Met sy kop en nek plat om die grond, maak hy sy lyf rond soos ’n bal, sodat hy net soos ’n bossie, rots of miershoop lyk.

Boonop sorg die volstruis vir ’n menigte baie nuttige produkte—van biltong tot verestoffers—wat hierdie koddige voël oorgenoeg rede gee om ook spreekwoordelik sy kop hoog te hou. Omtrent niks gaan verlore wanneer ’n volstruis geslag word nie.

VolstruiseierNog ’n aardigheid van volstruise is hul eiers. Dit gaan maar bars as jy ’n volstruiskuiken is en uit jou dop moet kruip om die wêreld aan te durf. Volstruiseiers is naamlik klipsteenhard en kan glo tot 250 kg weerstaan. Maar dan is ’n baba-volstruis mos darem ook nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie!

Al moet die klein Struthio camelus spartel dat dit kraak om uit die ekwivalent van 24 hoendereiers te kom, is hy ’n moedige kalant en heel kapabel met sy snawel. Kort voor lank is hy dan ook ’n volwaardige volstruis—nog nat agter die ore, maar reeds so groot soos ’n hoender.

Volstruisies kom in broeisels van vyf tot ’n dosyn of meer voor. ’n Wyfie kan elke dag of twee ’n eier lê, maar nadat sy omtrent vyftien gelê het, hou sy op en begin broei. Volstruisboere fop gevolglik die voël deur sekere van haar eiers weg te gaps. Wyfies waarvan die eiers gereeld weggeneem word, kan tot tagtig eiers in ’n seisoen lê.

REGS: ’n Volstruiskuiken. Praat van ’n gevreet wat net ’n ma kan liefhê!

Foto: BACKGROUNDS ARCHIVE / PD

Die ekstra volstruiseiers kan dan in broeimasjiene geplaas word—kunsmatige ma’s wat die liggaamstemperatuur van broeis volstruise naboots. In die broeikas word die eiers selfs gereeld omgerol soos in die natuur, wat keer dat die embrio’s binne aan die doppe vassit.

Die broeityd by volstruise is 42 dae, twee keer so lank as by hoenders. Eiers word in ’n groot sandholte gelê, waar Ma hul bedags warm hou, terwyl Pa snags die broeiwerk behartig.

Die volstruise broei nie altyd net op hul eie eiers nie, maar ook op ander wyfies s’n wat ewe vrypostig hul toekomstige spruite in dieselfde nes kom deponeer het. Maar as daar te veel eiers in ’n nes is, stoot die groot voëls die oortolliges na die buiterand van die nes waar die kans om te oorleef maar baie skraal is.

Ons het hierbo geïmpliseer dat volstruiskuikens taai is, maar in der waarheid vrek baie van hulle sommer vroeg-vroeg.

Volstruise is Afrika-voëls en vir Suid-Afrikaners veral sinoniem met die wêreld rondom Oudtshoorn. Hulle is vroeër ook in die Midde-Ooste gevind, maar dit lyk nie of daar vandag nog êrens enige inheemse volstruise tussen die Arabiere is nie.

 

Nabyfoto van 'n omgesukkelde volstruisMet hul lang nekke, klein koppies, groot oë en kort, breë snawels, staan volstruise omtrent 2,4 meter hoog in hul skurwe sokkies. Dit maak die volstruis die grootste lewende voëlsoort, hoewel groter soorte, soos die Nieu-Seelandse moa, maar betreklik onlangs eers uitgesterf het.  

 

Die volstruis kan tot sowat 135 kg weeg. Die twee tone aan elke poot eindig in dik naels.

 

Die klein vlerke word uitgesprei wanneer hy ooplê oor die veld —met ’n snelheid van tot 65 km/h. (Op die klein animasie hier langsaan word die uitgespreide vlerke egter nie gewys nie!)

 

Die spoggerige volstruismannetjies het meestal swart vere met wit pluime aan die vlerke en stert, maar die wyfies is bra vaal met hul grysbruin vere. Dis slegs die mannetjies se vere wat gebruik word.

Die aflos-broeiery van die mannetjies en wyfies hou verband met hul verskilende kleure vere. Die mannetjie, met sy swart vere wat met die nag saamsmelt, broei van laat in die middag af tot die volgende môre. Die wyfie broei bedags, omdat haar vere weer soos die grond om haar lyk.

Een ontleding het ook getoon dat die mannetjies dikker velle as die wyfies het. Die gemiddelde dikte met die ontleding was 0,93 mm vir mannetjies teenoor 0,82 mm vir wyfies.

Volstruise vreet meestal plantlote, blare, blomme en saad, hoewel hulle akkedisse en skilpadjies (of wat ook al) sal vreet as hulle dit in die hande kry.

Soos alle voëls het hulle geen tande nie. Hulle sluk dus baie klippe in om hul spysvertering aan te help. Wanneer dié klippe, wat maagstene of gastroliete genoem word, glad en rond raak, bring die volstruis hulle op.

Volstruise in gevangenskap sluk allerhande goed in—kameras, filmspoele, halssnoere, sakdoeke, penne, potlode, naelknippers, horlosies...

Daar is al selfs gesien hoe een ’n liter-koeldrankbottel deur sy slanke keelgat  laat verdwyn!

Waarvoor is volstruise die heel bangste? Miskien, glo dit, ’n helikopter! Daar word vertel dat hulle skoon histeries raak vir só ’n gevaarte in die lug, wat daarop kan dui dat daar in hul oerverlede ’n vlieënde roofvyand kon gewees het wat hulle gejag het.

Maar gelukkig vir die volstruis is sy sig is baie skerp. Daarbenewens het geen landdier sulke groot oë as hy nie. En die dik ooghare is opvallend.  

Die mannetjie se stem klink soos ’n diep gegrom—eienaardig genoeg nogal soos dié van ’n leeu!

En dan is die mannetjies ook nog veelwywers. Hulle sal met drie of vier wyfies ronddool, of in groepe van vier of vyf mannetjies met hul maats en kleintjies.

 Volstruis-geskiedenis 

DIE VOLSTRUISBEDRYF in Suid-Afrika het al ’n ongekende bloeitydperk, maar ook veelbewoë dae beleef. Ons land se voëls is reeds van vroeg af om hul pluime vir die Europese mark gejag. Teen 1860 was daar so min van hulle oor dat etlike boere hulle probeer mak maak het.

Sover bekend is die eerste volstruise in 1853 ingekamp om getem te word. In 1865 was daar reeds tagtig volstruise op plase en is byna 8000 kilogram vere ter waarde van £65 736 uitgevoer. (Vanweë inflasie is dit niksseggend om die ponde van destyds tot vandag se rande te probeer omreken, maar dit was ’n groot klomp geld).

Daarna het die bedryf vinnig ontwikkel. Dit was in die Oos-Kaap gekonsentreer en in die omgewing van Graaff-Reinet. Groot winste is gemaak en tot £1000 is vir ’n paar teelvolstruise betaal.

Die eerste groot oplewing in die volstruismark was tussen 1880 en omstreeks 1885. Dit is gevolg deur ’n selfs groter oplewing van 1910 tot 1913 toe vere van sowat £3 000 000 van 746 736 volstruise (feitlik almal in die destydse Kaapland) uitgevoer is.

BO: By Oudtshoorn in 1913... ’n volstruisboer en kinders, met volstruispluime, by ’n trop van die destyds uiters kosbare voëls.

Foto: New York State Archives

Toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, het die mark ineengestort en die bedryf het daarna nooit heeltemal herstel nie. Die meeste van die voëls is vir volstruisleer geslag pleks daarvan om hul vere te verkoop.

'n Volstruis in die veldVandag is die volstruise van veral die distrik Oudtshoorn ’n kuriositeit en word toeriste by volstruisplase herinner aan die vergange era van die skatryk volstruisveer-baronne.

Die plaaslike volstruisbedryf beweeg ook moedig voort, al het dit sedert die jare tagtig te kampe met kommerwekkende mededinging—uit ander lande waar boere Suid-Afrikaanse volstruise bekom het.

Voëlgriep is nog ’n bedreiging en gevoelige verliese is tyd gelede as gevolg daarvan deur sekere van ons volstruisboere gely. Hele kolonies volstruise moes op sekere plase onder kwarantyn geplaas en van kant gemaak word. Gelukkig vir ons is dit nie die dodelike soort voëlgriep wat ook na mense versprei en onlangs oor vyftien maande minstens 47 menselewens in Suidoos-Asië geëis het nie.

En hier’s ons volstruis se Australiese neef...


Die emoe

Emoe

Emoe

  
BO en LINKS: Die emoe van Australië is, ná die volstruis, die grootste voël op aarde en die ooreenkoms met ons ou Vollie is nogal opvallend. Ook die emoe is ’n kranige hardloper en kan nie vlieg nie. Die vere is bruin, gevlek met grys. Emoes hou in klein troppies en lewe van vrugte.

   Foto’s: Larry Rana  / USDA / ARS

...en die “volstruisagtigheid”  van Suid-Amerika...

Nandoe

BO: Die nandoes (uit die Spaans ñandu, maar rhea in Engels) is op hul beurt groot drietonige voëls van Suid-Amerika, wat eweneens nie kan vlieg nie. Daar is twee nog bestaande spesies, te wete die groot of Amerikaanse nandoe (Rhea americana) en die klein of Darwin se nandoe (Rhea pennata). Volwassenes van die eersgenoemde staan omtrent 1,5 meter hoog, terwyl Darwin se nandoe ’n hoogte van nagenoeg 90 tot 100 cm bereik. DIe foto is van ’n groot of Amerikaanse nandoe.

Detail van foto deur Adrian Pingstone, wat dit tot openbare besit verklaar het (“placed in the public domain”)

.....en les bes, die bielies onder die groot loopvoëls, wat in Nieu-Seeland uitgesterf het

Moa

DIE moas (LINKS) was die “volstruise” van Nieu-Seeland—en watter bielies was sekeres van hulle nie gewees nie! Maar die laaste van die tien of elf moa-spesies, waarvan die grootstes tot 3,5 meter of hoër kon word, het ’n aantal eeue gelede uitgesterf. Die uitsterwing het saamgeval met die kolonisasie van Nieu-Seeland deur die Maori’s. Die loopvoëls is meedoënloos gejag, terwyl die troeteldiere van die Maori’s eweneens alte lekker gebaljaar het om die groot maar weerlose moas te verdelg.

Dit was moontlik
teen die einde van die vyftiende eeu n.C. dat die laaste moa jammerlik in die stof gebyt het.

Die moas was die enigste vlerklose voëls en selfs die onontwikkelde vlerke wat by ander volstruisagtiges voorkom, het ontbreek. Die grootste spesies was
Dinornis robustus en Dinornis novaezelandiae, en hulle kon ’n yslike massa van sowat 230 kg hê.

Ou voorstelling van ’n kiwi en die geraamtes van die volstruis en die moa Dinornis robustus, met hul onderskeie eiers
Die vyf spesies kiwi-voëls van Nieu-Seeland word  ook as lede van die volstruisagtiges beskou, hoewel hulle maar net so groot as hoenders is. Die kiwi’s is skugter nagvoëls.

 

Op die foto REGS is ’n ou vergelykende voorstelling van ’n kiwi en die geraamtes van die volstruis en die moa Dinornis robustus. Ons ou vollie kom maar sleg tweede as dit by hoogte kom, dog die kiwi word totaal deur die ander twee oorskadu.

 

Illustrasie en foto: Histories (“Public Domain Old”)

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad