|
|
|
|
|
Eier-aardige geveerdes
|
||
|
• Hoofstuk 1: Neste en broeiery • Hoofstuk 2: Hoe jong voëls grootword • Hoofstuk 3: Snawels en pote • Hoofstuk 4: Voëls en hul vere
•
Hoofstuk 5:
Hoe voëls migreer en koers hou
Illustrasies bo: Karen’s Whimsy Public Domain Images Neste
S jy huis bou, grawe jy heel eerste jou slote vir die fondament. Maar waar begin jy met jou nes as jy ’n voël is? Hoe anker die geveerdes aanvanklik hul neste aan die takke van bome? Of teen kranse of die mure van geboue?
En hoe weet ’n voël—sonder enige graad of onderrig in die ingenieurswese hoegenaamd—om sulke sterk strukture te bou wat so volmaak aan hul doel beantwoord?
Die nesbouery van gevleueldes... ook hierin is soveel wondere van die skepping opgesluit dat dit die aardsgebonde mens eenvoudig moet verstom.
Neste is in die eerste plek daar om eiers en kleintjies teen roofdiere en gure weer te beskerm. Dog elke voël skop natuurlik ook nes na sy aard.
Daar is die plakkers onder die voëls wat bloot vir hulle ’n lêplek in die grond skrop. Daar is die onvermoeide yweraars wat takke opeenhoop vir ’n nes wat naderhand swaarder as ’n motor weeg.
En daar is die poghanse en die uithangers—voëls wat die ingewikkeldste neste bou, byvoorbeeld groot balvormige samestellings in bome.
Wat dan van die luilakke wat glad geen neste bou nie? Ja, dié is daar mos ook, al is hulle eintlik maar die uitsonderings onder die voëls. Dié soorte gebruik sommer die een of ander natuurlike uitholling vir ’n nes.
Die waterdikkop-wyfie lê byvoorbeeld soms haar eiers op die mis van diere soos seekoeie, en party voëls lê weer hul eiers in die groot spore van diere. Uile maak hul broeiplekke in natuurlike holtes.
Nagswaels maak plat op die grond nes, terwyl die Kittlitz-sandlopertjie haar twee eiers met ’n vinnige geskuifel van die pote met sand of gruis toeskrop wanneer sy haar nes verlaat.
Neste op die grond is gewoonlik eenvoudig—miskien uitgevoer met gras of klippe, of met ’n paar saamgegooide stokkies of riete. Die eiers en klein voëltjies word meestal deur kamoeflering beskerm.
Volstruise sit huis op deur ’n stuk gras plat te trap en ’n holte in die sand te skrop.
Foto: © South African Tourism / Suid-Afrikaanse Toerisme
Duiwe bou neste van takkies. Reiers en meeue se eenvoudige neste is van materiale uit hul omgewing.
Adéliepikkewyne bou weer hul neste van klippe, wat hulle opeenstapel totdat dit hoog en droog bo die grond is. Dit beskerm die nes teen vloedwater.
Die meeste arende bou groot stokneste in bome, hoewel party hul arendsneste op hoë kranse vestig.
Die mees tipiese neste is egter die komvormige neste wat ons almal ken—uitstekend om die eiers te beveilig en daarby uitmuntende isolators.
Foto: U.S. Department of Defense / U.S. Mil
Party voëls se neste is alte spoggerig. Die hamerkop bou byvoorbeeld ’n reusagtig tuiste met een kamer, dikwels sowat 1,8 m breed, met 0,3 m dik mure. Hy gebruik omtrent 8000 stokkies en bondels gras. Die ingangetjie is so klein dat die voël net-net daar kan deurkom, en dit bied die kleintjies bykomende beskerming.
Foto: U.S. Geological Survey
Die soektog na ’n broeiplek
SOMS
soek die voëlmannetjie en
Neste op die grond is nie so beskerm as dié in die bome nie, en grondnesmakers moet dus onder plante wegkruip of, as daar nie só ’n beskutting is nie, op kamoeflering staatmaak.
Boomneste is beskut teen diere op die grond, maar nie teen boomklimmers en vlieënde diere nie. Voëls soos wewers soek beskerming teen hierdie roofdiere deur hul neste naby of selfs onder dié van bye, perdebye of arende te bou, terwyl swaeltjies by mensehuise kan nes maak.
Foto: Mark Helmlinger / JPL / NASA
Party soorte voëls versprei hul neste sodat ’n roofdier wat straks een nes vind, nie ook ander neste van dieselfde voëlsoort daarnaby sal kry nie.
Hoewel meeue hul neste op die grond bou, kies hulle gewoonlik veilige broeiplekke soos eilande, moerasse en kranswande waar hulle goed beskut teen roofvyande is.
Stoffasie vir die nes NET soos met huis bou, moet daar met nes maak sowel materiale as ’n bouplan wees. En neste se stoffasie moet aan twee vereistes voldoen: dit moet kan stut en dit moet kan isoleer. Party voëls bou die hele nes uit klei, wat ’n uitstekende isolator is.
Maar baie bring net ’n laag klei aan tussen die laaste voering met ander materiale—’n bonte verskeidenheid wat gras, takkies, mosse, vere, saadhuide, dierehare en mensgemaakte voorwerpe kan insluit, trouens enigiets wat ’n voël maar kan aandra.
Die bou van die nes VOËLS bou hul neste met besondere reekse bewegings. Dié wat eenvoudige neste bou, gooi miskien die materiale oënskynlik sommerso lukraak bymekaar, maar daar is tog altyd ’n spesifieke metode. Die kommetjie-bouers gaan egter wel op ’n ingewikkelder manier te werk.
Die kommetjie-bouer plaas die verskillende stukke materiaal eers min of meer op hul plek, beweeg dan self na die middel daarvan en draai al in die rondte terwyl die bors af- en uitwaarts gedruk word. Met hierdie rondomtaliedraaiery word die nes aan die binnekant glad gestryk. Die grootte van die nes hang dus af van die voël se eie grootte.
En terwyl party materiale so versigtig saamgepers is dat dit lyk of die vesels delikaat verweef is, word ander meer losweg saamgevoeg.
Sekere voëls gebruik selfs spinnerakke om die nes te heg, soos ’n mens kleeflint sal gebruik om ’n pakkie te verseël.
Nesbouery is beslis ’n moeisame taak. ’n Paar swaeltjies is al dopgehou wat 1200 vlugte met stukkies klei afgelê het om hul nes te bou. En daar is neste van ander voëls wat met meer as tweeduisend veertjies uitgevoer kan wees.
BO: Die klei-neste van swaeltjies teen ’n krans.
Voëls bou hul neste instinktief. ’n Voël wat kleintyd afgesonder is en nooit gesien het hoe ander voëls van sy soort ’n nes bou nie, sal ewe knap daarmee kan begin as die omstandighede en materiale reg is. Maar oefening maak die voël wel meer bedrewe.
En as die nes voltooi is, is die tyd daar om dit met eiers te vul... en te broei...
• • • • • • • • • •
Broeityd
IE haan op die kerktoring het geen eiertjie te lê nie. Natuurlik nie, hy’s mos ’n haan—en hy is boonop van metaal! Hoe ook al, die ou liedjie daaroor is miskien ons enigste waarin van ’n eier gesing word. Dis tog wel byna ’n bietjie vreemd, want die eier was deur lange eeue nog altyd baie belangrik vir die mensdom.
In die eier sien baie mense immers die geil belofte van nuwe lewe.
Vir ’n voëlouer hou ’n eier ook ’n nuwe lewensbelofte in—en die drang om daardie lewe tot elke prys verwesenlik te sien, is verstommend sterk. Party broeivoëls sal in die grootste gevaar steeds soos nete op hul eiers bly sit, selfs as ’n mens nader kom en omtrent aan die getroue voëlouers sou vat.
Dis nie eens altyd net die ouers wat so verskriklik gaande oor ’n eier kan raak nie. As ’n keiserpikkewyn byvoorbeeld ’n eier in die sneeu laat val, sal elke volwasse voël wat nie self ’n eier of kuiken het nie, daarop afpyl voordat dit vries. Ander eiers en kuikens word selfs in uitsonderlike gevalle platgetrap in die dolle geskarrel om die gevalle Hompie-kedompie te beskerm.
Dis werklik boeiend om die gedrag van broeivoëls te bestudeer. Die eiers moet warm gehou word, sodat die embrio normaal kan ontwikkel. Die meeste voëls ontwikkel ’n broeikol op die bors—’n deel waar die vere uitval en waar ’n ryke voorraad bloedvate die eiers die hele tyd verwarm as dit daarteen gehou word.
Net ’n paar voëlsoorte soos kormorane en malgasse ontwikkel nie broeikolle nie. Hulle vou eenvoudig hul gewebde pote om die eiers om dit warm te hou.
Die meeste eiers kan ’n kort rukkie in die koue oorleef, soos wanneer die ouervoël wegvlieg om kos te gaan soek. As die eiers in ’n nes of holte is, sal hulle taamlik lank hul hitte behou.
In warm streke moet voëls egter weer bontstaan om die eiers koel te hou. Baie staan bo-oor die eiers om dié met hul skaduwee teen die fel son te beskerm.
Hoewel broeityd ’n stil, vreedsame tyd in die lewe van ’n voël is, kan dit party voëls se kragte behoorlik tap. Kyk maar net wat met die keiserpikkewyn van Antarktika gebeur.
Wanneer die wyfiepikkewyn haar enkele eier gelê het, rol die mannetjie dit oor sy pote sonder dat dit aan die sneeu raak, en vou dit dan onder sy broeivel in. Die wyfie gaan dan see toe om te vreet.
In ’n hartverskeurende vertoon van uithouvermoë en gelatenheid bly die mannetjie twee maande lank op een plek sit sonder om enigiets te vreet. Stormwinde kan waai en die wêreld kan vries, maar Pa bly getrou op sy pos.
As die wyfie nie teen die uitbroeityd teruggekeer het nie, sal die mannetjie die kuiken ’n bietjie kos uit sy krop gee—wat ongelooflik is as ’n mens dink hoe lank hy self sonder kos gebly het.
Sy keer egter gewoonlik terug—met kos—net voor die kuiken uitbroei. Nou pyl die uitgeputte, maer geworde mannetjie reguit see toe om te vreet en om kos vir sy spruit terug te bring. Die mannetjie en wyfie voer dan beurtelings hul pasgeborene.
Ontwikkeling van die voëleier HOEWEL die eiers van verskillende spesies nie ewe vinnig ontwikkel nie, is die groeiproses binne-in die dop dieselfde vir alle voëls.
Die eier begin as ’n ryp eiersel wat uit die voëlwyfie se eierstok tot in haar eierleier beweeg. Hierdie eiersel, dié deel van die voëleier wat ons die dooier (eiergeel) noem, is een van die grootste selle wat in die natuur bestaan.
Die genetiese materiaal van die eiersel, net onder die oppervlak, is egter dieselfde grootte as die erflikheidsmateriaal van die voëlmannetjie se sperma.
Indien bevrugting plaasvind, verenig twee mikroskopies klein stukkies lewe om ’n volledige kern te vorm, die begin van ’n nuwe voëltjie. Die sel wat só in die dooier ontstaan, begin nou in twee verdeel, dan in vier, agt, sestien, ens. Maar die verdeling is nog glad nie so vinnig soos later sal gebeur wanneer die volledige eier gelê is en die broeiery begin nie.
Die geel dooier is ’n spens vir die groeiende embrio en bestaan uit die helfte proteïen en vet, en die helfte water.
Namate die dooier ál langs die eierleier van die voëlwyfie beweeg, word ’n laag albumen (eierwit) daarom afgeskei. Die albumen—wat ook proteïen as kos bevat, maar 90 persent water is—beskerm die delikate embrio teen skokke en voorsien dit later van water.
Verder af in die eierleier word ’n halfporeuse membraan deur ander kliere om die eier afgeskei: die vel wat aan ’n hardgekookte eier vaskleef as jy dit probeer afskil.
Naby die einde van die reis kry die eier sy dop, wat van kalsiumkarbonaat gemaak is—eintlik maar dieselfde materiaal waaruit die druipstene van byvoorbeeld die Kangogrotte bestaan.
En sodra die wyfie die eier gelê het, kan die broeiproses begin. In sport word soms van ’n nul-telling as ’n “eier” gepraat, maar ’n regte eier is darem veels te wonderlik om dit met iets niksbeduidends te vergelyk!
Mieliestronk.com
Skakels na hoofstukke in hierdie reeks:
• Hoofstuk 1: Neste en broeiery • Hoofstuk 2: Hoe jong voëls grootword • Hoofstuk 3: Snawels en pote • Hoofstuk 4: Voëls en hul vere • Hoofstuk 5: Hoe voëls migreer en koers hou
|
||
|
|
||