|
|
||||
|
Vliegtuie |
||||
|
||||
UG
is die gasse wat ons omring en die skynbare ruimte bokant ons koppe. Die
“oseaan” van lug wat die aarde omgeef, is etlike honderde kilometers
dik. Lug druk van alle kante af en oral teen ons aan en, as alle lug
skielik van die aarde af moet verdwyn, sal al wat leef en beef hier
letterlik tot niet gaan soos ploffende ballonne. Dit klink verskriklik,
maar dis waar.
Lug
is dus nie slegs daar sodat ons sy suurstof kan gebruik om asem te haal
nie, maar dit is ook op ander maniere van kardinale belang vir die aardse
ekologie en die voortbestaan van lewe.
Dat
lug nie “niks” is soos dit lyk nie, moes al vir die vroegste mense
duidelik gewees het toe hulle die winde (bewegende lug) voel waai het of
gesien het hoe voëls net so gemaklik in die lug “swem” soos visse in
die water. Of hulle egter werklik só aan lug gedink het, is natuurlik
’n ope vraag. In baie antieke beskawings is verhale vertel van mense en
selfs perde wat op eie stoom in die lug kon vlieg, sonder dat daardie ou
volkere die vaagste benul gehad het van ’n wetenskap wat die fisieke
onmoontlikheid van so iets sou kon uitwys.
Dat
die mens uiteindelik wel in staat was om—natuurlik met hulpmiddels—die
lugruim in te vaar, was te danke aan sy verbredende kennis van ons
atmosfeer en van die aërodinamika, dit wil sê die wetenskap van
lugvaart. Tog was selfs die beheerde kragvliegtuig, wat vandag so ’n
integrerende deel van die moderne lewe geword het, net iets meer as ’n
eeu gelede nog ’n onbereikbare droom.
Weliswaar het ’n Engelandse wetenskaplike met die naam Roger Bacon reeds in 1250 vorendag gekom met die idee vir ’n tuig wat met klappende vlerke sou kon vlieg. En meer as twee eeue later, in 1490, het Leonardo da Vinci, die befaamde Italiaanse kunstenaar en wetenskaplike van die Renaissance, sketse van verskillende soorte vliegmasjiene gemaak en selfs ’n masjien wat soos ’n moderne helikopter gelyk het. Ongelukkig vir Leonardo het die tegnologie om sulke masjiene in die lug te kry in sy tyd nog lank nie bestaan nie.
Die
eerste aardgebonde skepsels wat opgestyg het na die leefgebied van die voëls
VOORDAT
mense in vliegtuie die lug ingevaar het, het hulle wel reeds gevlieg met
ander toestelle waarmee hulle die swaartekrag van die aarde te bowe gekom
het. In 1783 het twee Franse broers, Joseph-Michel en Jacques-Étienne
Montgolfier, ’n groot papierballon met warm lug gevul en dit tot ’n
hoogte van sowat 1.800
meter laat opstyg. Die eerste passasiers was ’n skaap, ’n eend en
hoederhaan, maar kort daarna, in dieselfde jaar, het die broers Montgolfier
twee mense in ’n warmlugballon in die blou hemel ingestuur. In
die daaropvolgende eeu—die 1800’s—het mense met verskillende soorte
swewende vaartuie geëeksperimenteer, wat uiteindelik tot twee hoofgroepe
lugvaartuie sou lei, te wete: Ontsaglike
lugskepe, soos die beroemde Zeppelins, waarvan die ballonne met gasse ligter
as lug gevul is, het teen 1930 ’n hoë graad van ontwikkeling bereik, maar
dit het nietemin al hoe duideliker geword dat sulke vaartuie nie werklik met
vliegtuie sou kon meeding nie. Hulle was immers moeilik om te hanteer, duur
om vas te meer, betreklik stadig en—tensy hulle met die onaktiewe gas
helium gevul was—geneig om aan die brand te slaan. Lugskepe is uiteindelik
uitgerangeer tot ’n heel onderskikte rol in die lugvaartbedryf, hoewel hul
geskiedenis op sigself ’n baie interessante verhaal is. Swewende ballonne
is ook nog altyd vir weerkundige waarnemings gebruik.
Maar
die wêreld het op die twee vindingryke Amerikaanse broers Orville en Wilbur
Wright gewag om die eerste beheerde
vlugte per vliegtuig in die geskiedenis uit te voer. Dit sou in die
begin van die twintigste eeu gebeur. Broers
Wright—die eerste beheerde vlugte per vliegtuig DIE
ondernemende broers Wilbur Wright (1867-1912)
en Orville Wright (1871-1948) was van Dayton in die Amerikaanse staat
Ohio. Hulle was aanvanklik drukkers van beroep, maar het in die jare
negentig van die negentiende eeu hul kans benut om net nie fietse te
repareer nie, maar ook self fietse te vervaardig vanweë die gier vir
fietsry wat die Amerikaners indertyd beetgepak het. Maar toe die koerante in
1896 vol nuus van kragvlugte was, was die broers se koppe éérs behoorlik
in die wolke. Hier was nou iets waarin hulle met hart en siel belang gestel
het. Die
broers Wright het gelees dat die primitiewe vliegmasjiene van destyds nie
geskikte beheermeganismes gehad het nie. Wilbur en Orville het toe begin
wonder hoe ’n vlieënier ’n vliegtuig in die lug kon balanseer net soos
’n fietsryer dit met sy fiets op die pad doen. In
1899 het Wilbur ’n eenvoudige stelsel geprakseer waarvolgens die vlerke
van ’n tweedekkervliegtuig gedraai kon word om dit na links of regs te
laat swenk. Hulle het hierdie stelsel eers met ’n vlieër (“kite”) en
toe met ’n reeks sweeftuie getoets. Hulle
het hul toetsvlugte aan die Atlantiese kus by Kitty Hawk in Noord-Carolina
onderneem, waar die sterk winde gehelp het om die sweeftuie in die lug te
kry en die sagte sand gehelp het om die val te versag wanneer hulle
neergestort het. Hul eerste sweeftuie, waarmee in 1900 en 1901 gevlieg is,
het nie aan die broers Wrights se verwagtinge voldoen nie. Die sweeftuie het
nie genoeg stygkrag gehad nie en was boonop nie ten volle beheerbaar nie. Wilbur
en Orville het vervolgens ’n windtonnel gebou en proewe gedoen om vas te
stel wat watter vorm die beste vir ’n vliegtuigvlerk sou wees. Dit het
hulle in staat gestel om ’n sweeftuig met voldoende stygkrag te bou en om
op die probleem van vlugbeheer te konsentreer. Teen die einde van die
vliegseisoen van 1902 het hul derde sweeftuig die eerste ten volle
beheerbare lugvaartuig geword, met stuurmeganismes vir die nodige maneuvers
in die lug. Met
die hulp van hul werktuigkundige, Charlie Taylor, het die Wrights hierna
’n petrolenjin ontwerp en gebou wat lig en kragtig genoeg was om ’n
vliegtuig aan te dryf. Hulle
het ook die eerste ware vliegtuigskroewe (“propellers”) ontwerp en ’n
nuwe kragvliegtuig gebou. Terug in Kitty Hawk, op 17 Desember 1903, het
Orville en Wilbur Wright die eerste ononderbroke, beheerde vlugte in ’n
kragvliegtuig onderneem. Die heel eerste vlug, met Orville
as die vlieënier, het twaalf sekondes geduur en was 37 meter ver. Teen 1905 het die broers Wright egter reeds hul vliegmasjien sodanig verbeter dat dit 39 kilometer in 38 minute kon aflê. Uit hierdie beskeie begin het die magtige internasionale lugvaartbedryf gegroei.
Die
eerste dekades van die vliegtuig IN
die
Eerste
Wêreldoorlog
(1914-1918)
het die beskikbaarheid van vliegtuie die aard van oorlogvoering begin
verander. Mense
het nog ’n hele paar jaar ná die Wrights se baanbrekende vlugte skepties
teenoor die vliegmasjien gestaan, maar hierdie oorlog het eintlik die
ontwikkeling van vliegtuie genoodsaak—iets wat in vredestyd miskien baie
langer sou geduur het. Al
was die vliegtuie van die
Eerste Wêreldoorlog maar
koddige en lamlendige masjiene wat nie besonder vinnig was nie, het hulle
hul waarde terdeë bewys. En waar hulle aanvanklik net vir vir verkenning
uit die lug gebruik is, is uiteindelik besef dat hulle gebruik kon word om
bomme op teikens te gooi. Die lug het dus ’n gevegsterrein geword waar
vlieëniers mekaar die stryd aangesê het.
Dit
was ook die tyd van die eerste baasvlieëniers, helde wat hulle op ’n
besondere wyse onderskei het.Jeugdiges van selfs sewentien, agttien,
negentien jaar het hulle in die vliegkuns bekwaam en wondere in die
tingerige luggevaartes verrig.
Die
tydperk tussen die twee wêreldoorloë—van 1918 tot 1939—was ’n tyd
van waaghalsige vlugte en van verskillende "eerstes" op die gebied
van die lugvaart. Só het die Britte John Alcock en
Arthur Whitten Brown in 1919 die eerste ononderbroke vlug oor for
Atlantiese Oseaan, van Newfoundland
na Ierland, onderneem. ’n Amerikaanse lugpos-vlieënier, Charles
Lindbergh, het weer in 1927 beroemd geraak vanweë die eerste alleenvlug in
een skof oor die Atlantiese Oseaan, terwyl Amelia Earhart in 1932 as ’n
vrou Lindbergh se Atlantiese prestasie geëwenaar het. Amelia Earhart het in
1937 op ’n ander vlug saam met haar navigator oor die Stille Oseaan
verdwyn en hulle is nooit gevind nie.
Baie
lugdienste het in die jare twintig en dertig van die twintigste eeu tot
stand gekom, maar die eerste passasiersvliegtuie kon slegs beperkte dienste
lewer omdat hulle nie oor hoë berge kon vlieg nie en dikwels moes land om
brandstof in te neem. Die tweemotorige DC-3, wat sy eerste vlug in 1936
onderneem het, was die eerste geslaagde kommersiële diensvliegtuig. Ook
ons eie Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), wat vandag heel gerekend is op die
internasionale toneel, het maar ’n baie nederige begin gehad. Die lugdiens
Union Airways is in 1934 deur die Suid-Afrikaanse regering gekoop en tot die
South African Airways / Suid-Afrikaanse Lugdiens herdoop. Kaapstad, Durban
en Johnnesburg was die eerste stede wat bedien is. Die
SAL kon darem in die jare dertig sy vlerke sprei met buitelandse vlugte na
Kenia en Uganda, maar die lugdiens se stadige groei is in die oorlogsjare
van die veertigs voortgesit. In 1945 is ’n lang gekoesterde doelwit
uiteindelik verwesenlik met die instelling van ’n roete na Europa, toe
’n Avro York in Bournemouth, Engeland, geland het ná ’n lang vlug van
Palmietfontein. Die
einste Tweede Wêreldoorlog (1939-1945)
het ook getoon hoe belangrik dit is om in ’n oorlog die botoon in die lug
te voer. Brittanje en Frankryk moes dit ontgeld toe die Duitse lugmag met sy
blitzkrieg (blitsoorlog) begin het. In die Stille Oseaan het Japanse
bomwerpers weer ’n groot deel van die Amerikaanse vlootbasis by Hawaii
se Pearl Harbor vernietig, wat Amerika genoop het om tot die oorlog toe te
tree. Die
eeu van die stralers
DIE
Brit Frank Whittle het juis die aandrywing van vliegtuie in gedagte gehad
toe hy die straalenjin uitgevind het. Whittle se enjin is in 1942 die eerste
keer in ’n vliegtuig gebruik, maar straalaangedrewe vliegtuie het eers ná
die Tweede Wêreldoorlog werklik tot hul reg gekom. Die meeste
straalvliegtuie is aanvanklik vir militêre doeleindes aangewend. Vuurpylaandrywing
het tot selfs vinniger vaarte gelei. In 1947 het die Amerikaanse lugmag-vlieënier
Chuck Yeager in ’n vuurpylaangedrewe vliegtuig genaamd die Bell X-1 die
eerste mens geword wat vinniger as die snelheid van klank gevlieg het. (Die
klankgrens word op seevlak by 1.228
km/h bereik.) Sedertdien het die mens nog baie vinniger gevlieg, veral in
vuurpyle wat hom na die buitenste ruimte geneem het. Maar vuurpyle is natuurlik
nie vliegtuie nie. Selfs die pendeltuie, wat soos vliegtuie lyk, is eerder
sweeftuie wat maar net met vuurpylkrag na die ruimte gelanseer word. Dit
is dan ook belangrik dat ’n mens mooi sal besef wat die verskil tussen die
aandrywingsmeganisme van ’n straler en dié van ’n vuurpyl is. ’n
Straler trek voortdurend 'n stroom lug voor in en stoot dit agter uit. Dit
kan dus slegs beweeg in die lug wat om die aarde is. Die vuurpyl,
daarenteen, is onafhanklik van die aarde se lug. Die vlamkas van ’n
vuurpyl word deur sy eie brandstof gevoed en het geen lug nodig nie,
aangesien dit sy eie suurstof saamdra, wat met die brandstof gemeng word
(byvoorbeeld waterstof, soos vir die pendeltuie). ’n Vuurpyl kan dus in
die hemelruim ver buite die grense van die aarde se lug voortsnel, mits hy
genoeg brandstof kan saamdra.
Die
eerste straler wat vir burgerlike of nie-militêre vervoer aangewend is, die
Britse De Havilland Comet, het in 1949 in gebruik gekom. In die jare vyftig
is die stralereeu ook in Suid-Afrika ingelui met die toevoeging van die
Amerikaanse Boeing 707 tot die vloot van die Suid-Afrikaanse Lugdiens.
Die
SAL se eerste 707 het in Oktober 1960 in Europa geland. Twee jaar later kon
die SAL se stralers sorg vir die eerste ononderbroke vlugte van Suid-Afrika
na Brittanje en ander plekke in Europa. In 1971 is die Boeing
747-makrostraler (“Jumbo Jet”) tot die SAL se vloot toegevoeg. In
1958 is die Comet 4 en die Amerikaanse Boeing 707 ingespan vir gereelde
stralervlugte oor die Atlantiese Oseaan tussen Europa en Amerika. Die eerste
kommersiële straler wat vinniger as die snelheid van klank gevlieg het, was
die Concorde. Hierdie vliegtuig is deur Brittanje en Frankryk ontwikkel en
het in 1976 tussen Europa en Amerika begin vlieg. Die Concorde is egter nie
vir vlugte oor land gebruik nie, weens die uiters steurende soniese knalle
wat gehoor word wanneer vliegtuie vinniger as klank vlieg. Die
eerste ononderbroke vlug om die wêreld is in 1986 deur die Amerikaners Dick
Rutan en Jeana Yeager met ’n eksperimentele ligte vliegtuig onderneem. Die
vliegtuig is Voyager genoem en hulle het nege dae aaneen gevlieg sonder om
êrens te land.
Hoe
vliegtuie in die lug bly
HOEWEL
die aërodinamika ’n baie ingewikkelde wetenskap is, kan die beginsel van
vlug in een eenvoudige sin opgesom word: ’n Vliegtuig styg in die lug op
omdat sy gespesiaal gevormde vlerke in hul voorwaartse beweging die lugdruk
aan hul bokant minder maak as die lugdruk aan hul onderkant. Dit word “stygkrag”
genoem. ’n
Vliegtuig genereer slegs daardie stygkrag wanneer dit beweeg. Dit is
heeltemal verskillend van ’n ballon wat opstyg omdat dit met ’n gas
gevul is wat ligter as lug is. Daar
is vier aërodinamiese kragte wat op ’n vlieënde vliegtuig inwerk.
Hierdie vier kragte is die genoemde stygkrag, die swaartekrag (of gewig),
die remkrag en die trekkrag.
Terwyl
’n vliegtuig deur die lug beweeg, word hy deur die lugweerstand gerem. Dit
staan bekend as remkrag. Om hierdie remkrag te bowe te kom, is trekkrag
nodig om die vliegtuig vorentoe te laat beweeg. Hierdie trekkrag word deur
die vliegtuig se motore opgewek. Anders
as ’n sewende ballon is ’n vliegtuig swaarder as lug. Weens swaartekrag
sal hy soos ’n klip grond toe val, tensy stygkrag toegepas word om hom te
laat opstyg. Die vliegtuig se vlerke sorg vir die nodige stygkrag vanweë
hul vorm. Die boonste oppervlak van die vlerk is gekrom, terwyl die onderste
oppervlak platter is. Om oor die kromming te kom, moet die lug wat oor die
vlerk gaan verder beweeg—en gevolglik vinniger vloei—as die lug wat aan
die onderkant deurvloei. Dit skep ’n verskil in lugdruk tussen die bo- en
ondervlakke onderwyl die vliegtuig vorentoe beweeg. Die lug aan die
onderkant is onder groter druk en druk gevolglik die vlerk opwaarts. Hoe
vinniger die lug oor die vlerke beweeg, des te groter is die stygkrag. Om
hierdie rede styg ’n vliegtuig makliker op as hy in die rigting beweeg
waaruit die wind waai. Solank
die opwaartse druk nou groter is as die krag wat die vliegtuig op die grond
wil hou, sal hy aanhou styg. Wanneer die die twee kragte mekaar balanseer,
handhaaf hy ’n konstante hoogte. Deur
die flappe van die vlerk te laat sak, word die geboë oppervlak van die
vlerk vergroot, wat selfs meer stygkrag tot gevolg het. Wanneer die flappe
opgelig word, word die stygkrag verminder en die vliegtuig daal. En daarmee eindig ons interessante vertelling oor die aviatiek. En nou weet ons almal waar vliegtuie vandaan kom en ook dat hulle nie sommerso uit die lug geval het nie! |
||||