|
Soeklig op die
vreeslike huisvlieg en sy verstommende hebbelikhede |
|
|
Die
vlieg
is ’n verbasende fynproewer, maar eienaardig genoeg proe hy met sy
voete. Hy doen dit deur middel van
haartjies wat aan die binnekant hol is.
HY'S ratser as ’n wildekat en soms veel lastiger as ’n kleuter... wanneer hy om jou ore kom neul of op jou neus kom sit op die presiese oomblik wanneer jy indut. Maar dit is nog lank nie al wat die huisvlieg die groot verpesting maak wat hy is nie. Vlieë is, soos ons almal weet, die draers van die onheiligste siektekieme. Dit maak dit des nodiger dat ons ’n slag weer sal kennis dra wat die huisvlieg alles aanvang... Een paar vlerke... dis wat die vlieg ’n vlieg maak
Huisvlieë (soos die een op die illustrasie hierby) is natuurlik wel—asook muggies, brommers, steekvlieë en selfs muskiete. Hierdie
ware vlieë behoort tot die orde Diptera, en hulle het almal net
een paar vlerke, pleks van die twee pare van die meeste ander insekte. In
die plek van die agtervlerke is daar twee balanseerkolwe wat die vlieë
se vlug stabiliseer. As jy ’n brommer se balanseerders afsny, vlieg hy
teen voorwerpe of teen die grond vas. Maar sodra jy dan ’n stukkie
garing aan die punt van sy agterlyf vasmaak—soos die stert van ’n
vlieër—kan hy weer normaal vlieg. Eintlik
is daar tienduisende verskillende soorte vlieë. Die jongste beskikbare
syfer net vir Brittanje is nagenoeg 6 000 verskillende spesies, met ’n
stuk of 90 000 spesies wêreldwyd. Presies hoeveel daar op ons eie ver,
verlate vlaktes rondkerjakker, bly ’n ope vraag. Om
te vermenigvuldig en te vermenigvuldig... JARE gelede het iemand ’n berekening gedoen. Hy of sy het uitgewerk dat, indien ’n paar huisvlieë een somer lank met vrede gelaat word om hul eie ding te doen—en as al hul nasate bly lewe—daar aan die einde van die somer genoeg vlieë sal wees om die hele aarde tot ’n hoogte van sowat 15 meter te bedek. Later het vlieëkenners die syfer herbereken en sak Sarel gesê. Hulle het van die standpunt uitgegaan dat elke wyfievlieg tot 900 eiers kan lê en dat ’n vlieg in die heel beste omstandighede binne agt dae van ’n eier tot ’n volwassene kan ontwikkel. Volgens hulle sal daar egter steeds genoeg vlieë wees om ’n gebied naastenby so groot soos die gewese Transvaal onder ’n ses verdieping hoë hoop te begrawe. Eers in die volgende somer sou die wêreld self onder die vlieë vergaan. Wees
uiters, uiters dankbaar dat die huisvlieg so baie roofvyande het . . . Wat
die huisvlieg so jiggie maak HUISVLIEË
verober hul kos in ’n vloeibare vorm. As iets waarvan hulle hou, droog
is, gooi hulle eenvoudig verterende ensieme daaroor op. Dan suig hulle
die oplossing op. Eienaardig
genoeg proe hulle met hul voete. Hulle doen dit deur middel van
haartjies wat binne hol en van senuwees voorsien is. As
suikerwater selfs op net een haartjie gesmeer word, laat die vlieg
dadelik sy suigslurp sak en begin hy daarmee na kos soek. Vlieë
is verstommende fynproewers. Suikerwater wat so flou is dat ’n mens
dit net-net kan proe, kan nog 200 keer met water verdun word en dan sal
hulle steeds die smaak daarvan ervaar. Hulle
is egter nie kieskeurige vreters nie. Trouens, hul vorige maaltyd
voordat hulle op jou suikerpot toesak, kon maklik ontlasting gewees het.
En dan vomeer die verpestings op jou suiker. Die
nare ''appelkoosmaag'' wat selfs vandag nog Suid-Afrikaanse kinders so
laat les opsê in die lente, is nie weens groen appelkose nie. Die
diarree word stellig in ’n groot mate deur vlieë versprei. En dis
baie lank nie die enigste en gevaarlikste siekte wat deur hulle oorgedra
word nie. Daar word immers bereken dat elke vlieg tussen twee en drie
miljoen bakterieë met hom saamdra. Maagkoors,
tering, polio is almal deel van ’n lang lys siektes waarvan die vlieg
’n belangrike draer is. ’n Mens kan sekerlik sonder vrees vir
teenspraak sê dat vlieë reeds meer mense doodgemaak het as al die
oorloë in die geskiedenis. Terloops,
daardie ''vlieëvuil''—klein kolletjies wat vlieë op enige voorwerp,
selfs die plafon, agterlaat—is dalk nie ontlastingstowwe nie. Die
vlieg bring dikwels ’n druppel vloeistof op, asof sy krop te vol was,
wat dan droogword om ’n klein visitekaartjie te laat. Maar
vlieë is sowaar ook nuttig! JA,
GLO
DIT, vlieë is ook geweldig nuttig. Ná bye is hulle die belangrikste
bestuiwers van blomme. En sonder die misvlieë en dié wat ontbindende
dooie diere vreet, sou ons begrawe gewees het onder al die vuil. Daarbenewens
kan sekeres van hierdie groep insekte ook medisinale waarde hê. Reeds
in die sestiende eeu het die Franse dokter Ambroise Paré vasgestel dat
soldate se koeëlwonde vinniger genees wanneer brommer-maaiers gebruik
word om die wond skoon te vreet. In
die afgelope tyd het sulke maaiers weer hul opwagting in sekere Europese
hospitale begin gemaak. Trouens, volgens berigte is die praktyk vinnig
besig om veld te wen. Gelukkig
is die groen aasvlieg (Lucilia sericata) se maaier of larwe ’n
regte fynproewer. Van gesonde weefsel wat goed deur bloed gevoed is, wil
hy niks weet nie. Daarteenoor is skadelike bakterieë, wat al hoe meer
bestand teen antibiotika raak, sy voorliefde. Boonop
skei hy ’n ensiem (soort organiese stof) af wat help dat wonde gouer
gesond word. In
Swede en Duitsland het dié groen gonser se kleintjies al enkele
amputasies voorkom by pasiënte met diabetiese gangreen, die sogenaamde
kouevuur. Praat
van ommer as ’n brommer . . . Dit gee ook ’n heeltemal nuwe
betekenis aan die uitdrukking ''daar’s ’n vlieg in die salf''! Die
vliegfamilie se 'Draculas' DIE
OU mense het baiemaal gesê dat die reën naby is wanneer die vlieë
begin byt. Die
waarheid is dat daar ’n paar soorte vlieë is, soos die stalvlieg, wat
net soos die huisvlieg lyk, maar eintlik bloedsuiers is. Die
onderlip van volwasse vlieë en brommers is soos ’n suigslurp gevorm.
Die slurp is normaalweg onder die kop teruggevou, maar kan uitgestrek
word om vloeibare kos op te suig. By die bloedsuigende vlieë is die
onderlip hard en skerp. Hulle gebruik dit as ’n geniepsige dolkie om
die vel van mense en diere oop te steek sodat hulle die bloed kan opsuig. In
bedompige weer, net voordat dit begin reën, raak die bloedsuiers baie
lastig. Hulle is byvoorbeeld lief daarvoor om veral op honde se ore toe
te sak en dit oop te kerf dat die bloed loop. Die
bekendste bytende vlieë is natuurlik die muskiete, met talle siektes
soos die dodelike malaria op hul kerfstok. Maar omdat ons nie geneig is
om aan muskiete as vlieë te dink nie, laat ons hulle maar vir eers daar. Hoe ’n vlieg op die
plafon land
DIE
APPARAAT wat ’n vlieg in staat stel om selfs aan die gladste oppervlak
te klou, is ’n paar kloue en twee vogtige suigkussinkies aan elke voet.
Wanneer hy op die plafon wil land, vlieg hy gewoon horisontaal met sy
onderkant ondertoe. Dan lig dan sy voorpote op om kontak met die plafon
te maak. Die
voorpote kleef ferm aan die plafon vas en die momentum laat die vlieg se
lyf omswaai sodat sy vier ander pote ook kontak maak. Die vlieg hang nou
onderstebo aan die plafon—met sy kop in die rigting gedraai van waar
hy gekom het. Hoe
vinnig vlieg ’n vlieg? DIE
vinnigste vlieg kan op sy vinnigste byna-byna 40 km per uur haal. Dalk
klink dit nie so vreeslik vinnig nie, totdat jy dit met die liggaamslengte
van die vlieg vergelyk. Op
volle vaart kan party vlieë 250 liggaamslengtes per sekonde aflê. Die
vinnigste menslike naelloper kan slegs sowat vyf liggaamslengtes per
sekonde haal. Maar
hoekom is dit rêrig so moeilik om ’n vlieg met jou hand dood te klap?
Die
vaagste sweempie van ’n skaduwee wat na die vlieg toe aankom, het ’n
blitsvinnige reaksie tot gevolg—’n reaksietyd van ’n vyftigste
van ’n sekonde, teenoor die menslike reaksietyd van slegs sowat ’n
kwart sekonde. Vir
die vlieg moet jou naderende hand lyk soos iets vir ons wanneer ons dit
in die flieks in stadige aksie sien. As jy van ’n besonder lastige vlieg ontslae wil raak, is die beste raad om die kamer donker te maak sodat die lig net van een venster af inskyn. Die vlieg sal daarheen vlieg. En of jy hom daar gaan doodslaan (as jy kan) of die venster gaan oopmaak om hom te laat wegkom, is jou keuse. Die meeste mense sal nie eens twyfel dat hulle hom summier moet probeer vermorsel nie! |
|
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |