Animasie van vlieënde vlermuis‘Nare’ ou 
Animasie van vlieënde vlermuis mensevriend! 

Vrugtevreter
  
’n Sedige vrugtevreter...
  


Vampier
  

...en ’n bloeddorstige jagter

Vlermuise is diere met nare reputasies. Maar hulle verdien dit nou rêrig nie. Eintlik tel hulle onder die grootste vriende van die mens... nou ja, ten minste sekere van die 850 tot 900 fassinerende spesies wat die lugruim
met die voëls deel...


B

AIE dinge wat mense dink hulle van vlermuise weet, is glad nie waar nie. Vlermuise is byvoorbeeld nie blind nie. Hulle is ook nie muise nie; trouens, hulle is nie eens knaagdiere nie. En—glo dit tog—hulle klou nie soos klitsgras aan ’n mens se hare vas nie!

Die waarheid is dat vlermuise onder die sagsinnigste, nuttigste en nodigste diere op aarde tel.

En noudat jy dít weet, weet jy reeds meer van hierdie vlieënde diere as die meeste mense op aarde. Die tyd is ongelukkig nog lank nie verby dat oningeligtes skoon histeries raak wanneer vlermuise om hulle rondvlieg nie.

Dan hardloop hulle selfs met besems, tennisrakette en ander slaandinge rond om dié weerlose diertjies summier te probeer doodslaan. Dis omdat hulle nog glo die vlermuise gaan hulle byt—of aan die stokou snertstorie bly kleef dat hierdie nagdiertjies in hul hare verstrengel sal raak.

DraculaDaarby het die bekende gruwelverhaal oor die bloeddorstige graaf Dracula (REGS) sekerlik ’n ander belaglike bygeloof lewend help hou. Dit is dat sekere vlermuise—die vampiere wat dierebloed drink—eintlik lewend geworde dooie mense (zombies) in ’n ander gedaante is. Hulle sou snags rondbeweeg en onskuldige mense ook in bloedsuiende vampiere verander deur hulle aan die nek te byt.

Die arme vlermuis verdien mos nie hierdie nare reputasie nie!

 

M

AAR presies wat is hierdie diere dan nou eintlik? Veral die insektevretende soorte tel onder die grootste vriende van die mens deurdat hulle help keer dat die aarde deur insekte oorstroom raak.

Snags wanneer ons slaap, kom hulle uit hul skuilplekke om allerhande vlieënde goggas ewe kordaat in hul vlug te verslind. Dit doen hulle nogal met ’n vernuftige soort radar. Hulle stuur kort trillings van ultrasoniese klankgolwe met ’n frekwensie van sowat 50 000 trillings per sekonde uit.

As hierdie golwe ’n voorwerp soos ’n insek tref, word hulle in die vorm van ’n eggo of weerklank teruggekaats. Die vlermuis kan dus sy prooi selfs in stikdonkerte vind.

Baie vlermuis-spesies, soos die vrugtevreters, speel ook ’n belangrike rol in die bestuiwing van plante en die verspreiding van sade.

Vlermuise behoort tot die klas Mammalia, en maak die orde Chiroptera uit. Hierdie orde word onderverdeel in twee subordes—die Megachiroptera (``groot vlermuise'') en die Microchiroptera (``kleinvlermuise'')—en sewentien families.

Een van hierdie families sluit alle mega-vlermuise (meer as 150 spesies) in; die ander sestien families is mikro-vlermuise.

Die voorvoegsels mega- en mikro- kan egter misleidend wees, omdat baie mega-vlermuisspesies kleiner as die grootste mikro-vlermuise is. Die verskille tussen die twee sub-ordes is eerder op die onderskeie vorms van hul tande en skelette gegrond as slegs op grootte.

Daar is altesaam 850 tot 900 vlermuisspesies, baie meer as in enige ander soogdier-orde buiten die knaagdiere—en dit is moontlik dat daar in getal selfs meer vlermuise as knaagdiere op die aarde kan wees.

Die Chiroptera kom dan ook regoor die wêreld voor, buiten in die Noordpoolstreek, Antarktika en sekere afgeleë eilande. Suid-Afrika het ’n hele paar dosyn vlermuise.

Die wêreld se grootste vlermuis word in Java gevind, met ’n vlerkspan van sowat 1,7 m en ’n liggaamslengte van meer as 40 cm. Die kleinste is weer ’n boorling van Wes-Thailand: slegs sowat 3 cm lank, met ’n gewig van net ongeveer 2 g.

Voëls en vlermuise is die enigste gewerwelde diere wat werklik kan vlieg. Daar is wel ander wat lang ente deur die lug kan sweef, maar net voëls en vlermuise het rêrig vlerke.

Baie soorte vlermuise het ’n lae weerstand teen sekere insektedoders soos DDT, wat hul liggame deur middel van die voedselketting kan binnedring en daarin kan opbou. Sekeres op die lys van bedreigde spesies het juis al erg gely weens die gebruik van plaagdoders in die landbou.

Dit maak bewaringsbewustes bekommerd. Die verdwyning van slegs een spesie van die aardbol het ’n invloed op die ekologie. Niemand kan werklik beweer dat ons nederige vlieënde soogdiertjies van minder belang is as enige ander diere wat op die rand van uitsterwing huiwer nie.

Lank lewe die vlermuis.


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad