Vingerafdrukke

Die wonderwêreldjie aan jou vingertoppe

 

Vingerafdrukke soos geneem deur middel van die hipermoderne proses van mikro-X-straal-fluoressensie (MXSF)Daardie boë, lusse en kolke op die kussinkies aan jou vingers bewys onteenseglik dat jy jy is en niemand anders nie. Maar het jy dit slegs oorgeërf? Nee, wag ’n bietjie, daar is duidelik iets meer as net oorwerwing in die spel, want selfs die vingerafdrukke van identiese tweelinge is nie dieselfde nie…

 

FOTO HIERBY: Vingerafdrukke soos geneem deur middel van die hipermoderne proses van mikro-X-straal-fluoressensie (MXSF), waaroor ook kortliks in die artikel hieronder vertel word.

 

Photo of Micro-X-ray fluorescence © Copyright 2006 Los Alamos National Security, LLC. All rights reserved. Copying and usage permitted only if statement of authorship is reproduced on all copies. Photo available online at:
http://www.lanl.gov/orgs/pa/newsbulletin/images/fingerprints.jpg

 


Teks en grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com

D

IE voornemende dief sluip in die maanlig na die baksteenkleurige huis op die hoek van die straat. Hy klim versigtig oor die heining, maar loop ongeërg deur die tuinakkers op pad na een van die vensters aan die sykant van die huis. Hy trap diep spore in die nat klei. Dit het vroeër in die nag gereën.

 

Die venster staan op ’n skrefie oop en daar is geen diefwering voor nie. Dit is vir die booswig maklik om met sy een hand teen die vensterruit te druk en met die ander hand die skroef op die glybalkie oop te draai sodat hy die venster wawyd oop kan maak. Hy klim deur die venster. Nou kan hy na hartelus steel...

 

Die volgende dag word die diefstal van baie van hul besittings deur die geskokte huisbewoners aangemeld, wat daardie nag uitstedig was en nie hul huis geslaap het nie. Die polisie word soontoe ontbied. Hulle begin met hul ondersoek. Die spore in die tuin trek wel die polisie se aandag, maar dit lyk of hulle straks ’n groter belangstelling toon in die venster waar die dief ingeklim het.

 

VingermerkHoekom? Wel, die skelm het skoene gedra en daar moet baie ander skoene wees waarvan die afdrukke presies met dié van syne ooreenstem. Maar die vingerafdrukke wat die dief op die vensterruit gelaat het, is uniek. Trouens, daar is geen mens in die hele wye wêreld wat nog leef of ooit gelewe het wie se vingerafdrukke in alle opsigte soos syne is nie.

 

Só kan die polisie dan hul rekords van vingerafdrukke nagaan en, as hulle die dief s’n op rekord het, weet hulle presies wie hy is. Of as hy ’n eerste oortreder is, kan hulle die vingerafdrukke aan die venster en syne met mekaar vergelyk word sodra hulle hom as die verdagte aangekeer het. Dit is ’n onomstootlike feit dat vingerafdrukke nie kan lieg nie. Hierdie waarheid word ook oral in die geregshowe aanvaar.

 

Interessant genoeg is unieke afdrukke van liggaamsdele nie slegs eie aan die mens nie. Die neusafdrukke van honde word byvoorbeeld gebruik om honde te identifiseer net soos vingerafdrukke gebruik word om mense te eien. Vroeër is pootafdrukke gebruik om ons blaffende vriende uit te ken, maar dit is nie so akkuraat as neusafdrukke nie.

 

Hoe ook al, ’n mens kan tereg wonder wat vingerafdrukke eintlik is, hoekom geen twee mense s’n dan dieselfde is nie en presies hoe hulle volgens patrone geklassifiseer word. Die bestudering en die neem van vingerafdrukke is immers ’n baie interessante studieveld.

 

Wat vingerafdrukke in der waarheid is

 

V

INGERAFDRUKKE is afdrukke van die kontoere en riffies op die kussinkies aan die voorpunte van ’n mens se vingers.

 

Die afdrukke word gelaat deur die olierige afskeiding in die sweet aan ’n mens se hande en is meestal onsigbaar, maar kan sigbaar gemaak word deur die oppervlak waaraan geraak is met poeier af te stof of met spesiale chemikalieë te behandel.

 

Om ’n vingerafdruk vir amptelike dokumentasie te verkry, word spesiale ink aan die “sooltjie” van ’n mens se duim aangebring waarna ’n mens dan op ’n kaart of papier moet druk om ’n presiese afdruk van die miniskule kronkelinge en plooitjies aan jou duim agter te laat.

 

Die neem van vingerafdrukkeREGS: Die neem van vingerafdrukke op ’n ou foto wat in in 1940 geneem is.

 

Foto: New York National Library of Medicine / NLM / NIH

 

Vingerafdrukke word nie net van verdagte misdadigers geneem nadat hulle aangekeer is nie. Ook wanneer mense byvoorbeeld vir paspoorte aansoek doen, moet hulle daar genoeë mee neem om hul duime plegtig met ’n geïnkte kussinkie te laat besmeer voordat hulle hul merk maak!

 

Die geskiedenis van vingerafdrukking en hoe vingerafdrukke op grond van patrone geklassifiseer word

 

D

IT lyk of die mens vroeg-vroeg reeds die uniekheid van elke persoon se vingerafdrukke besef het. Só is dit bekend dat die antieke Assiriërs en die ou Chinese hoeka reeds daarvan gebruik gemaak het waar wetlike dokumente onderteken is. Maar daarna sou eeue verloop waarin die mensdom die waarde van vingerafdrukking as ’t ware letterlik deur sy vingers laat glip het.

 

Die eerste mens is die moderne tyd wat vingerafdrukking bestudeer het, was bes moontlik die Tsjeggiese fisioloog Johannes Evengelista Purkinje, wat in die eerste helfte van die 1800’s ’n soort indelingstelsel daarvoor voorgestel het. Maar in ’n tyd wat min of meer met die Groot Trek in Suid-Afrika saamgeval het, het selfs ontwikkelde Europeërs hulle blykbaar min aan hierdie Johannes se idees gesteur.

 

Die eerste praktiese aanwending van vingerafdrukking as ’n identifiseerder van invidue in die moderne tyd het in die 1860’s gekom. Indië was destyds onder Britse beheer, en sir William Herschel, ’n koloniale administrateur in Brits-Indië, het van vingerafdrukke gebruik gemaak om vals eise vir pensioene aan die lig te bring.

 

In ’n strafsaak van 1892 in Argentinië het Juan Vucetich weer die eerste ondersoekbeampte geword wat vingerafdrukke gebruik het om te help sorg dat ’n moordenares aan die pen ry. Sy was Francis Rojas, ’n ma wat haar twee seuns vermoor en toe haar eie keel gesny het in ’n poging om aan te toon dat dit nie sy was wat die moorde gepleeg het nie. Haar bloedige vingerafdruk aan ’n deurkosyn sou egter bewys dat sy inderdaad bloed aan haar hande gehad het, sowel letterlik as spreekwoordelik.
 

Groot belangstelling sou indertyd ook gaande gemaak word deur die voorstel van die Britse wetenskaplike sir Francis Galton vir ’n nuwe klassifikasiestelsel waarin die afdrukke van al tien vingers gebruik word. Dit vorm trouens die grondslag van identifikasiestelsels wat vandag steeds gebruik word.

 

Sir Edward HenryIn die 1890’s het sir Edward Henry, ’n Britse assistent-polisiehoof in Bengale, Indië, eweneens vingerafdrukke begin gebruik om skelms uit te ken. In die begin van die 1900’s (die twintigste eeu) het Henry toe die eerste Britse leggers met vingerafdrukke in Londen gevestig. Die gevolg was dat die gebruik van vingerafdrukke gou na ander lande versprei het en die ou stelsel vervang het waarvolgens liggaamsafmetings vir uitkenning gebruik is.

 

Tipiese boog-patroon

BO: Tipiese boog-patroon  (“arch pattern”), 1900.

Tipiese lus-patroon

BO: Tipiese lus-patroon (“loop pattern”), 1900.


REGS: Tipiese kolk-patroon (“whorl pattern”), 1900.

 

Uit: E. R. Henry, Classification and Uses of Fingerprints, London
U.S. National Library of Medicine

Tipiese kolk-patroon

Vingerafdrukke geklassifiseer volgens die Henry-stelsel

 

Volgens die Henry-klassifikasiestelsel is daar drie basiese patrone van vingerafdrukke, te wete boog , lus en kolk (“arch, loop and whorl”). Daar is ook ingewikkelder indelings waarvolgens bepaalde soorte boë, lusse en kolke verder in onderafdelings gegroepeer word.

 

Maar nou moet ons eers stilstaan by die bou van die menslike vel en daarna verduidelik waar ek en jy dan aan daardie unieke patrone van die vel aan ons vingers kom.

 

Die bou van die menslike vel en hoe elke mens se unieke vingermerke ontstaan

 

D

IT is die vel, die grootste orgaan in ons liggame, wat ons van die buitewêreld skei. Dit hou die liggaamsvloeistowwe binne, sodat ons nie uitdroog nie, en dit hou skadelike mikrobes buite—daarsonder sou ons hoegenaamd nie kon stand hou teen al die infeksies wat ons arme mense bedreig nie.

 

Lae van die menslike velMaar veel meer as slegs ’n houer en ’n beskermende bedekking, is die vel ook ’n hoogs dinamiese netwerk van selle, senuwees en bloedvate. Saam met sy derivate (hare, naels, sweet- en oliekliere) vorm dit die dekstelsel van die menslike liggaam.

 

Die vel bestaan uit ’n beskermende buitelaag (epidermis), ’n lewende binnelaag (dermis) en dan is daar die onderhuid (hipodermis). Die bolaag van die epidermis bestaan uit dooie selle wat keratien bevat, daardie horingagtige stof waaruit hare en naels ook opgebou is. Dis in die dermis waar ’n mens die netwerk van kollageen en elastiese vesels, bloedvate, senuwees, vetlobbetjies en die basisse van die haarsakkies en sweetkliere sal vind. Die belangrikste taak van die onderhuid of hipodermis is om energie in die vorm van vet op te berg, hoewel dit ook as ’n buffer dien en die liggaam isoleer.

 

Hare is kenmerkend oral op die menslike vel, al is dit ook fyn en op baie plekke feitlik onsigbaar. Aan die onderkante van vingers en in die handpalms asook op die voetsole is daar egter nie hare op die vel nie. Die riffels bo-op die epidermis is egter daar baie duidelik omlyn en neem die vorms van boë, lusse of draaikolke, of vervormings daarvan, aan die vingers aan.

 

Geen twee mense se patrone is, soos gesê, dieselfde nie, en daar word dikwels gedink dis om dieselfde rede dat geen twee mense geneties dieselfde is nie—behalwe identiese tweelinge. Maar die waarheid is dat selfs identiese tweelinge verskillende vingerafdrukke het, hoewel hulle dieselfde DNS (of erflike samestelling) het.

 

VelgroeweVingervel-patrone is dus nie ’n heeltemal oorgeërfde eienskap nie. Dit word bepaal deur die wisselwerking tussen ’n individu se gene (erffaktore) en die omstandighede in sy ma se baarmoeder in die ontwikkelingstyd voor sy geboorte.

 

Daar word naamlik geglo dat die uiteindelike vorm van die vingervel-partrone beïnvloed word deur sulke omgewingsfaktore in die loop van die swangerskap soos voeding, bloeddruk, posisie van die fetus in die baarmoeder en die groeitempo van die vingers aan die einde van die eerste drie maande. ’n Mens sal dus wel soortgelyke kolkings en riwwe in die vingerafdrukke van identiese tweelinge vind, maar daar sal ook verskille wees—net soos daar verskille tussen die vingers van enige individu se hande is.

 

Omdat die aantal moontlike patrone vanweë al die erf- en omgewingsfaktore so oneindig groot is, kan verskillende mense s’n eenvoudig nie dieselfde wees nie. Selfs as die patrone van twee mense op die oog af eenders sou lyk, sou dit uit enige nadere ondersoek blyk dat daar inderdaad duidelike verskille is. Dis dieselfde lukrake vermenging van bydraende oorsake wat elke sneeuvlokkie uniek maak.

 

Goed, een slimkop het al bereken dat die kanse dat selfs ’n deeltjie van ’n vingerafdruk gedupliseer kan word een uit
100 000 000 000 000 000 000 is. Maar dit op sigself is iets om van te duisel. Kenners volstaan dus maar deur te sê dat die duplikasie van ’n volledige vingerafdruk onmoontlik is. En wie sal stry?!

 

Hoe die afdrukke van vingers op die toneel van ’n misdaad opgespoor word

 

D

IE tradisionele metodes vir die opsporing van vingerafdrukke is om verdagte plekke met poeiers te besprinkel of vloeistowwe of dampe daar aan te wend ten einde die vingerafdrukke te verkleur sodat dit maklik gesien en gefotografeer kan word.

 

Tog is dit met hierdie metodes partymaal moeilik om vingerafdrukke waar te neem op sekere stowwe, byvoorbeeld bont voorwerpe, veselrige papier of materiaal, hout, leer en plastiek. Die vingerafdrukke van kinders word veral moeilik opgespoor weens die afwesigheid van huidvet, ’n olierige stof aan die vel wat deur die vetkliere afgeskei word.

 

Deesdae kan sogenaamde mikro-X-straal-fluoressensie (MXSF) egter ook ingespan word om die glimmende kontoere van vingerafdrukke uit te wys, danksy soute soos natriumchloried en kaliumchloried wat soms in voldoende hoeveelhede in menslike sweet uitgeskei word. Die elemente natrium, kalium en chloor wat in daardie elemente voorkom—asook baie ander elemente, indien hulle teenwoordig is—word deur MXSF opgespoor en maak dit dan moontlik om ’n vingerafdruk se patrone te sien waar die soute gedeponeer is.

 

Dit is ten slotte baie interessant dat ’n mens se vingerafdrukke jou hele lewe deur onveranderd bly. Ander karakteristieke trekke van die menslike liggaam verander—jou neus kan kennelik verdik en jy kan ’n yslike boep ontwikkel waar jy vroeër so plat soos ’n plank was, maar die patrone aan jou vingertoppe bly jaar in, jaar uit dieselfde. Toegegee, as jy die dag oud is, is die lyne waarskynlik glad nie meer so duidelik op die verdunde vel van jou bewerige hande nie, maar die boë, lusse en kolke bewys steeds dat jy jy is en niemand anders nie.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad