Die verhaal van die worstelende Nederlandse meester wat in sy hele lewe slegs een skildery verkoop het—maar wie se beroemde werke nou vir miljoene opgeveil word



Vincent van Gogh—’n selfportret
Van Gogh

Wroegings van die geteisterde genie

Vincent Willem van Gogh (1853-1890) se werk het die hele kunstoneel van die twintigste eeu en tot in ons tyd beïnvloed. Van Gogh selfportret HIERBY was ’n emosionele bondel kunstenaarsdrif—die opperste toonbeeld van die wroegende kunstenaar. En in ’n kort skeppingslewe van ontsettende werkwoede het hy homself totaal uitgebrand...


F

ORSE massas van helder kleure, kolkende emosies wat op die doek ontplof, energieke beelde wat die kyker herinner aan die brose grens tussen normaliteit en waansin—só lyk die beroemdste werke van Vincent van Gogh, die geteisterde genie.

 

In sy kort en tragiese lewe kon hy slegs een skildery verkoop, maar vandag word verbysterende bedrae vir sy nagelate kunswerke betaal. Trouens, ná Rembrandt word hy beskou as die grootste Nederlandse kunstenaar wat ooit gelewe het.

 

Met sy intense kwashale het hy in minder as tien jaar honderde onvergeetlike landskappe, helder stlllewes en verbeeldingryke portrette geskilder met ’n haas ongeëwenaarde raserny van wroeging en ekstase. Sy reputasie is egter grootliks gegrond op die werke van sy laaste drie jaar.

 

Koringland met SipresseLINKS: Koringland met Sipresse,1889, deur Van Gogh.

 

 

Van Gogh se besondere vermoë om die wese van sy onderwerp uit te druk—met ongeslypte eenvoud soos hy dit gedoen het—word ekspressionisme genoem. Ekspressionistiese skilders gee nooit fotografies weer nie. Trouens, hulle gebruik die uiterlike vorms van dit wat hulle skilder slegs as ’n leidraad. Hulle wil hul eie gevoelens oor hul onderwerpe uitdruk deur onnodige besonderhede uit te laat en ander dinge weer te benadruk.

 

Met vuur, gewelddadigheid en onverbloemde eerlikheid het Van Gogh hom hierin by uitnemendheid onderskei.

VINCENT Willem van Gogh is op 30 Maart 1853  in Zundert, Nederland, gebore as die seun van ’n Protestantse predikant. Die grootste deel van sy lewe was dit sy begeerte om die kerk te dien en maatskaplike werk te doen. Hy was in ’n stadium wel ’n onderwyser in Engeland, eers in Ramsgate, in Kent, en toe in Isleworth, naby Londen. As Sondagskoolonderwyser het hy ook af en toe gepreek, maar sy begeerte om in die teologie te studeer het hom na Nederland laat terugkeer.  

Van Gogh se wêreldREGS: Van Gogh se wêreld.
    

Toe hy egter die toelatingseksamen van die kweekskool druip, het hy hom as evangelis in ’n arm myndistrik in België probeer vestig. Maar hy was so ’n onortodokse sendeling dat hy ná maande van fanatieke diens weens "ontoelaatbare ywer" ontslaan is.

 

Niks is immers ooit vir Van Gogh maklik gemaak nie. ’n Meisie het op ’n keer sy liefde botweg verwerp met woorde in dié trant: "Nee, nooit ooit nie." Hoewel hy in sy gees besonder mensliewend was, het sy persoonlikheid mense eerder afgeskrik as aangetrek.

 

Die AartappeletersREGS: Die Aartappeleters, 1885.

 

Hy het eers in 1880-1881 ’n voltydse kunstenaar geword, toe hy 27 jaar oud was. Van Gogh die kunstenaar het meestal sy dae geslyt deur te teken, te teken en weer te teken. Dit was egter eers later toe sy broer Theo, ’n kunshandelaar, hom genooi het om by hom in Parys te kom woon dat Vincent die wonderlike proefnemings met kleur gesien het waarmee die Franse skilders besig was en dat sy eie besondere kleursin ontluik het.

 

Hy het heetemal onder die invloed gekom van die Franse impressioniste, soos dié groep kunstenaars genoem is. Die impressionisme was ’n stylrigting in die negentiende-eeuse Frankryk wat gekenmerk is deur ’n weergawe van die eerste algemene indruk van ’n toneel of voorwerp. Nog ’n onderskeidende eienskap  was die gebruik van ongemengde primêre kleure en klein penseelstrepe om die werklike weerkaatste lig na te boots.

Maar daar was geen rus vir Van Gogh se onstuimige gemoed nie. Hy het hom eindelik na Arles in Suid-Frankryk begewe om warmte en sonlig te soek, iets wat vir hom die goddelike Liefde gesimboliseer het. Dit was hier waar hy hom van die impressionisme losgemaak het om die natuur en die lewe in fel, vlak kleure weer te gee—die lewe nie soos hy dit gesien het nie, maar soos hy dit met sy hele hart gevoel het.

In vyftien maande het hy 200 doeke geskilder, waarvan hy egter niks verkoop het nie omdat mense hierdie "ekspressionisme" nog nie verstaan het nie. Armoede en persoonlike konflikte (onder andere met die Franse skilder Gauguin) en afmat­tende arbeid het sy gees al hoe meer versteur laat raak. Ernstige meningsverskille wat tussen hom en Gauguin ontstaan het, het hom selfs sy eie oor laat afsny toe die Fransman in Arles by hom gekuier het.

Kort hierna, aan die einde van 1888, is Van Gogh in ’n inrigting vir sielsiekes by St. Remy, naby Arles, opgeneem. Hier het hy met ’n ontsettende drif gewerk en 35 meesterwerke geskep: landskappe in diep kleure, wat in eindelose beweging is.

In 1890 is Van Gogh op versoek van sy broer Theo, wat hom steeds geldelik onderhou het, eers na Parys en toe vir waarneming na ’n inrigting by Auvers, naby Parys, waar hy in ’n laaste opbloei werke van kosmiese skoonheid geskilder het voordat hy selfmoord gepleeg het.

Kraaie in die Koringlande
 
BO: Kraaie in die Koringlande, 1890.

Vincent se grafLINKS: Vincent se graf. Dit is langs die graf van sy broer Theo.
 
Foto: Remy Overkempe / PD (detail)

Vandag spreek sy skilderye steeds tot die siel en tot die oog. Vincent van Gogh se werk het die hele kunstoneel van die twintigste eeu en tot in ons tyd beïnvloed.

Die verhaal van een van die wêreld se grootste skilders kan miskien die paslikste afgesluit word met Vincent se eie woorde in ’n brief aan Theo. "Die beste manier om God te leer ken," het hy geskryf, "is om baie dinge lief te hê."

Want Van Gogh het sy vele onderwerpe met ’n passie liefgehad. En daarin kon hy vir die wêreld preek met ’n onsterflike ontboeseming wat hy nooit op die preekstoel, waarop hy aanvanklik wou staan, aan soveel miljoene sou kon verkondig het nie.


Sterrenag (1889)
BO: Sterrenag, 1889.

Sterrenag en sonneblomme

ONDER Van Gogh se belangrike werke is Die Aartappeleters (1885), Selfportret met Grys Vilthoed (1887-1888), Vaas met Veertien Sonneblomme (1888), Kafeeterras op die Place du Forum  (1888), Vincent se Slaapkamer in Arles (1888), Selfportret met Toegebinde Oor (1889), Koringland met Sipresse (1889), Irisse (1889), Kraaie in die Koringlande (1890). En natuurlik sy Sterrenag (1889), wat in ons tyd verder in Don McLean se lied Vincent (Starry Starry Night) verewig is:

Starry Starry night
Paint your palette
blue and grey
Look out on a
summer's day
With eyes that know
the darkness in my soul...

Een van verskeie sonneblom-studies deur Van GoghLINKS: Een van verskeie sonneblom-studies deur Van Gogh.

   ’n Sonneblom-studie deur Van Gogh is 1987 uit ’n private versameling vir £24,75 miljoen aan ’n Japanse versekeringsmaatskapy verkoop. ’n Kenner het egter die wêreld geskok deur te kenne te gee dis ’n nabootsing deur ’n onsuksesvolle Franse kunstenaar. Van Gogh het wel verskeie sonneblomstudies geskilder. Die sonneblomstudie wat deur die Japanners gekoop is, is nie die Vaas van Veertien Sonneblomme (1888) nie. Dié het hy in Augustus 1888 afgeskilder van regte blomme in ’n vaas en dit is tans in die National Gallery in Londen; in 1889 het hy ’n kopie daarvan gemaak en hierdie weergawe is steeds in ’n private versameling in Amsterdam.


Van Gogh-skildery uit Egiptiese museum gesteel

PapawerblommeREGS: Papawerblomme.

   ’n Skildery deur Van Gogh, getiteld Papawerblomme, het in Augustus 2010 voete gekry uit die Mohammed Mahmoud Khalil-Museum in Kaïro, Egipte. Die geraamde waarde van die skildery is tussen 50 miljoen en 55 miljoen Amerikaanse dollar. In 1977 is dieselfde skildery ook uit die museum gesteel, en dit is eers tien jaar later in Koeweit teruggevind. Van Gogh het Pawerblomme—geel en rooi papawers in ’n vaas—vermoedelik in 1887 geskilder.


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad