Verwering en die vorming van los grond uit vaste gesteentes

Bergformasies geskep deur verwering en erosie
Ons verwerende wêreld

 
Rotsformasies geskep deur verwering en erosie

Foto van bergformasies heel bo: PD-Fotos Background Archive (detail)
Foto’s van rotsformasies bo: John Lockridge / NOAA

Lewegewende grond uit die dood van ’n rots

Tot in die uithoeke van haar enorme ryk maak Moeder Natuur haar vertoonstukke (soos op die anderlandse foto’s BO en HEEL BO). Pagodes, torings, naalde, brûe, boë en selfs “grootkop-wesens” van rots word deur verwering gevorm—ook ander interessante rotsformasies soos dié in ons eie wêrelddeel in die Vallei van Verlatenheid by Graaff-Reinet (twee foto’s ONDER). Só word selfs imposante berge van die aarde onop­houdelik omgevorm en weggevreet. Alles deur die pro­ses van verwering wat uiteindelik barre rotse in lewe­gewende grond verander...

Vallei van Verlatenheid met Spandauskop by Graaff-Reinet

BO: ’n Wilde samehoping van rotse wat in ’n warboel oor die terrein ge­strooi is... só het ’n Stellenbosse teologiese professsor dit vroeg in die twintigste eeu in ’n Engelse boek beskryf. Hy het verwys na die indruk­wekkende Vallei van Verlatenheid by Graaff-Reinet. Miskien sou ’n mens dit ook met die meedoënloos kouende tand van die tyd kon vergelyk wat vir homself ’n monument in die vorm van grynsende draketande geskep het. Saam met die bekende Spandauskop op die agtergrond op hierdie foto is die Vallei van Verlatenheid immers ’n goeie voorbeeld van verwering en erosiewerking in ons eie land.

Foto bo met spesiale vergunning aan Mieliestronk.com van
©
Carola van Duiven, alias Koffiemetkoek, op hierdie bladsy by Flickr op die wêreldwye web. Kyk ook Carola se hele fotoversameling by hierdie skakel:
http://flickr.com/photos/koffiemetkoek/ 

Vallei van Verlatenheid by Graaff-Reinet

   
BO:
Nog rotsformasies in die Vallei van Verlatenheid.

Foto bo met spesiale vergunning aan Mieliestronk.com van
© Amahlati Excursions. Kyk hul webblad by http://www.amahlatiexcursions.co.za/


Lees ook: •  Grond en wat dit vir ons beteken
•   Erosie: hoe om verwaarloosde grond te red


IN ’n mikrosekonde van die ewigheid word ’n berg gebore en sterf hy. Hoë kranse wat jy vandag sien, is dalk net die grynsende oorblyfsels van dit wat eens ’n imposante landmassa was.

Só word die berge van die wêreld aanhoudend weggevreet, selfs terwyl hulle gevorm word. Die skuldige? Verwering.

   
Die verskil tussen
verwering en erosie

 


VERWERING is nie dieselfde as erosie nie. Basies kan ons sê dat as ’n rotsdeeltjie los raak van die rots—hetsy op ’n chemiese of meganiese manier—maar nie daarvan wegbeweeg nie, word dit verwering genoem. Sodra daardie deeltjie weggevoer word, soos deur die wind of reënwater en dies meer, praat ons van erosie.

 

 •  By chemiese verwering is daar ’n chemiese verandering in ten minste sekere van die minerale binne-in ’n gesteente.

 

 •  By meganiese verwering word rotse fisiek in brokstukke opgebreek sonder dat die chemiese samestelling van die minerale daarin enigsins verander word.

 

 •  Erosie is die wegvoering van losgeraakte rotsdeeltjies deur ’n bewegende bewerker soos die lug, water of ys (byvoorbeeld die wind, lopende water en gletsers). By water- en yswerking geskied die verskuiwing in die reël na ’n laer liggende plek vanweë swaartekrag.

 

Sekere bewerkers kan sowel verwerend as eroderend werk. Ys wat in rotsskeure vorm, het byvoorbeeld ’n verwerende funksie deurdat dit ’n drukking op die rotswande uitoefen en die gesteentes afbreek. Ys in gletsers het weer ’n eroderende funksie deurdat dit afgebreekte materiaal wegvoer.
  

Verwering is die ontbinding en verbrokkeling van rots. Dit word veroorsaak deur die wisselwerking van die klimaat en biologiese faktore op die struktuur en chemiese samestelling van die rots. Verwering kan as die teenoorgestelde beskou word van die prosesse waardeur berge gevorm word.

Vergeleke met die werking van riviere, gletsers, winde en branders, dra die klimatiese, chemiese en biologiese aftakeling nie veel by tot die formasie van asemrowende landvorms nie. Maar moenie die belangrike proses van verwering onderskat nie. Dis verantwoordelik vir die afbreek van rots en berei dit voor om weggevoer te word en neerslae elders te vorm. Die eindresultaat is die vorming van grond.

So magtig is dié proses dat dit, soos ons gesien het, mettertyd hoë berge kan laat verbrokkel. En wanneer dit met eroderende elemente soos lopende water of wind kombineer, kan verwering vorm gee aan die vreemdste natuurlike boë en toringspitse op aarde.

In droë wêrelddele veroorsaak die verskille in dag- en nagtemperature dat die onderskeie minerale in rotse in verskillende tempo’s uitsit en krimp. Boonop bak die buitenste lae van die rots in die fel hitte van die son, terwyl die binneste lae koel bly. Dit lei tot spanninge binne-in die rots, wat meebring dat die ontblote dele afkrummel of afsplits.

Soms word groot landgebiede wat voorheen onder geweldige druk was weens massas rots wat bo-op gelê het, deur erosie blootgelê. Bevry van hierdie "las", sit die rots na bo uit en bars—en massiewe blokke materiaal breek van die moederrots af weg.

Kom die reën, loop water in rotsskeure in. En as die temperatuur dan tot die vriespunt daal, soos dikwels snags gebeur, vries die water in die skeure en vorm yskristalle wat, namate hulle groei, geweldige druk teen die rotswande uitoefen.

Die herhaalde bevriesing en ontvriesing van die water werk soos ’n koevoet om klein stukkies rots af te breek in ’n proses wat verbryseling genoem word. Sulke verbryselde rotsstukkies is gewoonlik skerp en hoekig.

Ewe vernietigend vir rots is soutverwering in droë klimate. Tydens droogtes word grondwater na die oppervlak van die rots getrek, waar dit verdamp om klein soutkristalletjies agter te laat. Dié kristalle groei en oefen druk uit op die omliggende sandsteen, wat verkorrel. Die sandkorreltjies word later deur die wind weggewaai en die reën weggespoel.

Soutverwering is verantwoordelik vir die interessante nisse, vlak grotte, rotsboë en putte wat in sandsteenformasies gevind word. In die suidwestelike VSA was baie van dié diep nisse die tuistes van Indiane, wat nie net daar skuiling teen die elemente gevind het nie, maar ook beskutting teen aanvalle.

Maar nie alle verwering word deur lewelose kragte veroorsaak nie. In woude dring plante en boomwortels in sandgevulde hoeke in rotse in en splits mettertyd die rots bloot deur te groei. Plantwortels wat ondergrondse water deur barste in die rotsbodem soek, het ’n soortgelyke skeurkrag. Sommige plantwortels, veral dié van korsmos, kan die rotse selfs oplos.

Plantwortel beur deur 'n rots en breek dit stukkendREGS: ’n Plantwortel beur deur 'n rots en breek dit stukkend. Deur verdere verwering verander die gesteente in grond.

Foto: U.S. National Park Service
 

Verskeie grawers in die diereryk, soos erdwurms, molle, hase, miere en meerkatte, dra tot die proses van verwering by deur in die grond te dolwe, dit op te breek en die rotse aan die atmosfeer bloot te stel.

Sommige rotse verweer omdat hul bestanddele so vatbaar vir chemiese verwering is. In dié proses word nuwe stowwe gevorm. Dié is oplosbaarder en fyner van tekstuur. Dis hulle wat die meeste van ons grondsoorte vorm.

Wanneer gasse in die atmosfeer met rots in aanraking kom, verbind sommige met die minerale en veroorsaak ’n chemiese verandering in die rots.

Suurstof verbind dikwels met minerale en wanneer daar yster in die rots is, word dit roesrooi gekleur. Wonderlike voorbeelde hiervan kan gesien word in die toringspitse en dongaveld in Bryce Canyon, Utah, in die VSA.

Toneel in Bryce Canyon, UtahLINKS: ’n Toneel in Bryce Canyon, Utah.

Foto: Marli Miller / U.S. Geological Survey
 

Onoplosbare minerale soos kalksteen word opgelos deur reënwater wat met koolsuurgas (koolstofdioksied) in die lug verbind het om ’n swak suur te vorm. Die kalksteen word stadig weggevreet, weggevoer en slaan weer elders neer om miskien asemrowende ondergrondse spelonke soos die Kangogrotte by Oudtshoorn te vorm.

Die belangrikste produk van chemiese verwering is grondvorming. Planeet Aarde se grond is vir die mens van lewensbelang. Daarin groei en floreer die plante waarvan ons so afhanklik is.

En in groot mate het grond die verloop van ons beskawing bepaal—sonder die vroeë ontwikkeling van die groot landboubeskawings sou ons geskiedenis stellig heeltemal anders gelyk het...
 

Monument Valley in die Amerikaanse Weste

BO: Die bekende Monument Valley in die Amerikaanse Weste is ’n treffende voorbeeld van hoe verwering en erosie ’n landskap gevorm het.

 Krediet: NASA / GSFC / METI / ERSDAC / JAROS & U.S. & Japan ASTER Science Team


Woestynkaktusse... bakterieë in hul wortels maak in ’n japtrap vir hulle vrugbare grond uit rotse, reken geleerdes


Kaktus en vulkaanrotsLINKS: ’n Foto van die kaktusspesie Pachycereus pringlei gesuperponeer op ’n foto van vulkaniese gesteentes. Hierdie plantspesie floreer juis op steriele vulkaanrots—danksy ’n simbiotiese verbintenis met sekere bakterieë, word gemeen.
  

   

DAAR is min plante wat sonder grond kan groei en nog minder wat op niks anders as kale rotse kan bly lewe nie, maar sekere woestynkaktusse gedy tog knus op sulke barre gesteentes. Hoe? Navorsers reken hulle voer ’n simbotiese bestaan met bepaalde bakterieë wat die rotse oplos om vrugbare grond te vervaardig en in die kaktusse se wortels voorkom.

Die doringplante sorg na vertel word boonop dat van die bakterieë in hul sade opgeneem word sodat toekomstige kaktusgeslagte ook van die lewensnoodsaaklike rotsbrekers in hul wortels kan hê.

'n Bioloog van Mexiko, dr. Yoav Bashan, en andere het in ’n studie probeer vasstel hoe die woestynkaktusse op die rotse kan oorlewe, want sonder minerale en stikstof kan ’n plant mos nie voortbestaan nie. Maar minerale bestaan net in vaste verbindings in die rotse en daar is geen beskikbare stikstof in die onvrugbare klip nie.

Vir die navorsers was die enigste verklaring dat daar mikrobes moet wees wat tot die kaktusse se redding kom deur enersyds die minerale in die rotse op te los en andersyds die stikstof in die lug vir hulle te bind sodat hulle dit kan opneem. Die geleerdes het na die mikroörganismes gaan soek en toe aangekondig dat hulle die mikrobes gevind het. Die plante sorg van hul kant vir die mikrobes deur koolstof aan hulle te verskaf.

Op hierdie manier word grond vinnig gevorm, ’n proses wat andersins dalk lange eeue sou geduur het.
  

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad