Vakbonde

Die verenigings wat stry vir
die regte van werkers

 

Troepe in Fordsburg, Johannesburg, tydens die mynwerkerstaking van 1922

 

Regerings oor die węreld heen was in die verlede dikwels haaks met stakende werkers wat hulle as ’n bedreiging van die vrede beskou het—veral voordat vakbonde die wetlike erkenning gekry het wat hulle vandag geniet. BO is troepe in Fordsburg, Johannesburg, tydens die mynwerker­staking van 1922. Op die foto ONDER konfronteer gewapende burgersoldate ’n optog van vreedsame stakende immigrante tydens ’n staking van tekstiel­werkers in 1912 in Lawrence in die Amerikaanse staat Massachusetts.

 

Krediet: Histories (“Public Domain, Old”)

Gewapende burgersoldate konfronteer ’n optog van vreedsame stakende immigrante tydens ’n staking van tekstielwerkers in 1912 in Lawrence in die Amerikaanse staat Massachusetts

J

Y begin by ’n firma werk, maar van die eerste dag af hou jou baas blykbaar “nie baie van jou gesig nie”.  Hy maak nie net vir jou die lewe erg moeilik deur gedurig op jou te pik nie, maar verwag ook van jou om onmoontlike ure te werk sonder enige bykomende vergoeding.

 

En nadat jy sy mislikheid ’n jaar lank gelate verduur het en op verlof geregtig is, weier hy summier om dit toe te staan. Hy sę hy “straf” jou deur jou verlof weg te neem omdat jy “’n onnosele, steeks donkie is wat van die begin af lyf weggesteek het”.

 

Om skande by die skade te voeg, verminder hy jou salaris met ’n derde en sę jy kan maar vir jou ander werk gaan soek as jy nie daarmee tevrede is nie.

 

Hardvogtige baas? Ja, maar moenie dink hy gaan hiermee wegkom nie. Want waar sulke praktyke dalk nog in oupagrootjie se tyd die norm was en werkgewers dikwels kon maak en breek soos hulle wou, lewe ons vandag in ’n nuwe era. Onbillike base loop hulle hoeka lelik bloedneus teen allerhande beskermingsmeganismes wat die arbeiders teen onredelikheid en uitbuiting beskerm.

 

Die grootste hiervan is die vakbonde.

 

As die baas nog dink hy’s ’n alleenheerser, word hy voor die arbeidshof gedaag waar hy só geskrobbeer en geroskam word dat hy as ’n verslane Klaas uit die stryd tree.

 

Jou vakbond het vir jou as werker in die bres getree. Dit is jou eie vereniging wat jou belange in die werkplek beskerm...

 

Vakbonde het ontstaan as gevolg van die Industriële Revolusie (Nywerheidsomwenteling), waaroor breedvoerig in ’n ander Mieliestronk-artikel vertel word. Hulle het egter nie oral ewe vinnig tot stand gekom nie en in sekere lande is daar weliswaar tot vandag toe geen noemenswaardige verenigings wat werkers se regte beskerm nie.

 

Maar in Suid-Afrika is vakbonde hier in die 21ste eeu al goed gevestig. In die apartheidsjare is erg teen sekere van ons werkers gediskrimineer op grond van ras—swart vakbonde is selfs verbied—dog ’n lewendige vakbondkultuur is bestendig met die totstandkoming van ’n nie-rassige demokrasie in die jare negentig.

 

Vakbonde en hoe hulle hulle vir die welsyn van die werkers beywer

VAKBONDE is verenigings van werkers wat deur gesamentlike optrede die belange van hul lede behartig en bevorder. Hulle stel hulle ten doel om, deur middel van hul leierskap, die beste moontlike voorwaardes vir die werkers oor ’n breë terrein te beding. Dit behels belange soos salarisse en lone, reëls van indiensneming en ontslag, werkure, werkreëls, prosedures van beswaarmaking, senioriteit, vakansies en nog meer.

 

Hulle sien ook om na die werkers se belange wanneer dit gaan om die afbakening van werk of die invoering van nuwe tegnieke en masjiene wat in sekere omstandighede daartoe kan lei dat groepe werkers ontslaan word.

 

Vakbonde het daartoe bygedra dat die werker vandag grootliks beveilig word en maatskaplike status geniet. Hulle het sedert hul totstandkoming in verskillende vorms ontwikkel, onder die invloed van verskillende staatkundige en ekonomiese omstandighede oor die węreld heen.

 

Aanvanklik het sekere van die vroeë vakbonde self hul lede teen werkloosheid, swak gesondheid, bejaardheid en begrafniskostes verseker, maar in baie lande is hierdie taak deur die staat oorgeneem. Tog is dienste soos beroepsopleiding en regsadvies vir lede steeds belangrike voordele van die lidmaatskap van vakbonde.

 

Vakbonde mag stakings of ander wettige soorte werkersweerstand afdwing waar hulle toegelaat word om openlik te funksioneer en deur werkgewers erken word. Hulle kan hulle ook vir wetgewing beywer om hul lede se belange te beskerm en politieke partye ondersteun wat hulle glo die werker se welsyn op die hart dra.

 

Vakbondbewings geniet egter steeds nie oral die erkenning waarna hulle strewe nie. In Suid-Amerika, word vertel, kan vakbondlidmaatskap selfs lewensgevaarlik wees. Ten minste tot 2003 is meer as honderd vakbondlede jaarliks daar vermoor om die eenvoudige rede dat hulle tot vakbonde behoort. Desondanks het vakbonde wel tot stand gekom en politieke mag verkry, wat tot arbeidswetgewing gelei het wat beloof het om die situasie te verbeter.

 

Verskillende soorte vakbonde

VAKBONDE kan georganiseer word op die grondslag van die betrokke vak of ambag (byvoorbeeld werktuigkundiges, houtwerkers, onderwysers) of die bedryf (leerbedryf, tekstiel, yster en staal), waarin verskillende ambagte verteenwoordig kan wees.

 

Bonde word ook dikwels verdeel in “plaaslikes” en verenig in nasionale federasies. Hierdie federasies sal op hul beurt met die internasionale liggame affilieer, soos die Internasionale Vakbondkonfederasie (International Trade Union Confederation).

 

Maatskappye wat werkers aanstel, doen dit gewoonlik volgens een van verskillende modelle van indiensneming. Die beginsel van “geslote geledere” geld byvoorbeeld waar die werkgewer slegs lede in diens neem wat reeds lede van ’n vakbond is. Dit gee die vakbonde groot mag sover dit indiensneming aangaan en kan ook lei tot die ontslag van 'n werker wat in onguns by die vakbondbestuur is.

 

Nog ’n model is waar ’n firma ook nie-lede aanstel, maar ’n beperking stel wat diesulkes verplig om hulle binne ’n bepaalde tyd by ’n vakbond aan te sluit.

 

Die model van ope indiensneming word toegepas wanneer die maatskappy nie vakbondlidmaatskap as ’n vereiste stel by die aanstelling of aanhouding van werkers nie.

 

Die voor- en nadele van vakbonde

DAT vakbonde tot groot voordeel van hul lede kan wees, en baie dikwels is, kan nie betwyfel word nie. “Geen baasspelerige baas gaan my rondpluk terwyl Groot Broer op die loer is nie,” is die algemene gevoel van vakbondmense.

 

Maar vakbonde is ook al daarvan beskuldig dat hulle slegs die werkers in hul eie kring beskerm, dié wat veilig in hul poste sit, ten koste van werkers wat nie lede van vakbonde is nie.

 

Een afgetrede Suid-Afrikaanse joernalis onthou byvoorbeeld—minder ernstig maar tog—die “onmoontlike toestand” toe daar in die jare sewentig van die twintigste eeu van setwerk met lood na elektroniese middele (rekenaars) oorgeskakel is.

 

“Die drukwerkersvakbond het ons joernaliste, wat nie tot ’n vakbond behoort het nie, verplig om niks in die rekenaar oor te tik wat ons reeds op papier neergeskryf het nie,” onthou hy. “Ons kon slegs nuutskeppinge op die rekenaar tik—alle vooraf geskrewe stukke moes na die setters gaan om ingetik te word voordat jy verder daarmee kon werk. Dit het selfs beteken dat jy ’n paragrafie wat jy op die trein op pad werk toe in jou notaboek neergeskryf het om in ’n artikel te gebruik, eers vir die setters moes gee om te tik. Dit was onhoudbaar en absurd!”

 

Stellig ernstiger is die bewering dat werkloses en werksoekers wat nie kan werk kry in die sektore waarin graag hulle wil werk nie, die meeste van almal deur die vorming van vakbonde benadeel word.

 

Dan word vakbonde ook meermale voor stok gekry omdat hulle die gemeenskap gyselaar sou hou deur stakings te organiseer wat openbare dienste ontwrig. Min buitestaanders kan nog simpatie hę met die griewe van, sę, vullisverwyderaars as hulle teen drie weke se oopgehoopte vullis by die agterdeur moet vaskyk.

 

Nagenoeg honderd jaar gelede, in 1910... stakende kleremaaksters betoog in New York in die VSA 

BO: Nagenoeg honderd jaar gelede, in 1910... stakende kleremaaksters betoog in New York in die VSA.

Krediet: Histories (“Public Domain, Old”)

 

Die ontstaan en geskiedenis van vakbonde

DIE Industriële Revolusie—die verandering van die gebruik om goedere met die hand te maak na die vervaardiging van gebruiksartikels met behulp van masjiene—het omstreeks 1750 in Engeland begin.

 

Enersyds het die Industriële Revolusie mense in hul menigtes van die platteland na die stad laat stroom. Dit het tot hoër lewenstandaarde gelei deurdat goedkoop fabrieksgoedere te koop aangebied is. Andersyds het die revolusie, in sy vroeë jare, egter die uitbuiting van werkers veroorsaak, asook tot die ontstaan van slums en groot ellende gelei.

 

Die haglike lewe van die destydse werkersklas word onderstreep deur die feit dat hul lone net genoeg was om te keer dat hulle nie van die honger sterf nie. In baie gevalle het fabrieksbase verkies om vroue en kinders in diens te neem, omdat hulle selfs nog minder as die mans vir hul werk betaal is.

 

Baie van die werkgewers was self ambagsmanne wat ryk geword het deur hard te werk, maar op enkele uitsonderings na het hulle weinig meegevoel met hul werkers gehad.

 

Gelukkig vir die uitgebuite arbeiders het die openbare mening egter met verloop van tyd bewus geraak van die verskriklike toestande wat in die fabrieke en nywerheidstede geheers het. Daardeur het onder meer die eerste vakbonde ontstaan—vakverenigings of -unies om vir die onderdrukte werkersklas ’n forum te bied om vir hul regte te stry.

 

Die vakbonde is in die begin onderdruk, maar teen die middel van die negentiende eeu het hulle wetlike erkenning in Brittanje ontvang. Sedertdien het hierdie organisasies ’n magtige ekonomiese en politieke faktor in veral die groot fabriekslande van die Weste geword.

 

En as gewese kolonies of protektorate in die Britse invloedsfeer sou die lande van Suidelike Afrika (veral Suid-Afrika) wel mettertyd deeglik beďnvloed word deur Brittanje se innoverende denke oor die regte van die arbeider.

 

Vakbonde in Suid-Afrika in die laat negentiende en twintigste eeu, ook onder apartheid

 

•  Hierdie afdeling van ons artikel is verwerk uit passasies in die Afrikaanse Kernensiklopedie, die Kennis-ensiklopedie en veral die Engelse weergawe van die Wikipedia-ensiklopedie op die węreldwye web, waar dit beskikbaar gestel is onderhewig aan die bepalings van die GNU-lisensie vir Vrye Dokumentasie.

 

AANGESIEN die grootskaalse nywerheidsontwikkeling in Suid-Afrika heelwat later as in die meeste Wes-Europese lande begin het, het die vakbondbeweging weliswaar hier ook later begin as daar.

 

Dit het eers hier ’n krag in die arbeidsmark geword vanweë die industriële groei wat deur die ontginning van die goudmyne in die ou Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) aangewakker is. Goud is in 1886 aan die Witwatersrand ontdek.

 

Wat meer sę, die eerste vakverenigings in Suid-Afrika was bloot takke van bestaande verenigings in Brittanje. Die heel eerste was die plaaslike afdeling van die Britse Amalgamated Society of Carpenters and Joiners, wat in 1881 hier gevestig is en twee takke in Kaapstad gehad het. ’n Paar jaar later was daar reeds verskeie vakbonde in die groter sentrums van Suid-Afrika, onder meer vir boekdrukkers, werktuigkundiges, ystergieters en spoorwegpersoneel.

 

Die mynwerkers is ook mettertyd georganiseer, om veral die indiensneming van blankes te beskerm teen die beleid in sekere van die mynmaatskappye. Hul vakvereniging is eers in 1915 deur die Kamer van Mynwese erken, ná die groot staking van 1914.

 

Die totale ledetal van vakbonde in Suid-Afrika het vinnig toegeneem van 3800 in 1900 tot 108 200 in 1921. Weens die staking van 1922 en die onderdrukking van die gewapende optrede wat daarmee gepaard gegaan het, het die ledetal verminder. Toe die Wet op Versoening in die Nywerheid van 1924 voorsien in die registrasie van vakverenigings, het ou vakbonde herlewe en is nuwes gestig. Die sekondęre nywerheidsontwikkeling daarna, veral ná 1933, en die toenemende getal fabriekswerkers het nuwe vakbonde laat ontstaan en die ledetal van bestaandes laat toeneem.

 

Teen die jare dertig het die South African Trades and Labour Council (SATLC) boonop ’n groot deel van die land verenig. Die SATLC het ’n duidelike nie-rassige standpunt gehandhaaf en nie net die affiliasie van swart vakbonde aanvaar nie, maar ook die volle wetlike regte van swart vakbondlede bepleit. Sekere swart vakbonde het hulle by die SATLC aangesluit, terwyl ander in jare veertig met die Council of Non-European Trade Unions geaffilieer het om dit in 1945 tot ’n hoogtepunt van 119 bonde en 158 000 lede te voer.

 

Voor 1956 was daar dus groot getalle vakbonde wat nie-blanke sowel as blanke lede gehad het. Maar die wet van 1956 het die stigting van afsonderlike vakbonde vir blank en nie-blank voorsien—in ’n Suid-Afrika wat toe al stewig in sy omstrede apartheidsbeleid geanker was.

 

Teen 1954 is die SATLC ontbind,  en met die stigting van die Trade Council of South Africa (TUCSA) het vakbondlidmaatskap blankes, Kleurlinge en Asiate ingesluit, met swartmense in afhanklike organisasies. Onafhanklike swart bonde is van affiliasie uitgesluit en veertien vorige bonde van SATLC het die South African Congress of Trade Unions (SACTU) gestig. SACTU het met die Council of Non-European Trade Unions saamgesmelt en die vakbond-vleuel van die ANC geword. Die bond het teen 1961 reeds ’n ledetal van 53 000 gehad, maar is ondergronds gedwing, en ’n dekade lank is die swart vakbondbewussyn feitlik stom gemaak in Suid-Afrika.

 

In 1979 is die Federation of South African Trade Unions (FOSATU) gestig, terwyl die Council of Unions of South Africa (CUSA) die volgende jaar in die lewe geroep is.

 

Wat een van die grootste bonde in Suid-Afrika sou word, die National Union of Mineworkers (NUM), is in 1982 gestig, en dié was ten nouste betrokke in die politieke konflik teen die heersende Nasionale Party. Die bond het vier “pilare” van aksie omarm, te wete gewapende stryd, massa-mobilisasie (onregeerbaarheid), internasionale solidariteit en ondergrondse optrede.

 

Die Congress of South African Trade Unions (COSATU) is in 1985 in die lewe geroep, en FOSATU het in dieselfde jaar daarmee saamgesmelt.

 

Die grootste staking nog in die Suid-Afrikaanse geskiedenis het op 1 Mei 1986 plaasgevind, toe 1,5 miljoen swart werkers “weggebly” het ter ondersteuning van ’n eis vir die erkenning van ’n amptelike Meidag-vakansie. In die daaropvolgende Junie is berig dat tot 200 vakbondamptenare inhegtenis geneem is ingevolge ’n nuut verklaarde noodtoestand.

 

Ook in 1986 het CUSA hom by die Azanian Confederation of Trade Unions (AZACTU) aangesluit om die National Council of Trade Unions (NACTU) te vorm, terwyl hoofman Mangosuthu Buthelezi die United Workers’ Union of South Africa (UWUSA) in die lewe geroep het, vernaamlik om die onttrekking van beleggings uit Suid-Afrika teen te staan. UWUSA het uiteindelik van die toneel verdwyn, maar nie voor onthullings in Julie 1991 nie dat dit saamgewerk het met werkgewers wat teen vakbonde gekant was in ’n veldtog teen aktiviste van sowel COSATU en NACTU,  en dat dit minstens R1,5 miljoen van die veiligheidspolisie ontvang het.

 

In 1988 het ’n nuwe Wet op Arbeidsverhoudinge beperkings op arbeidsaktiwititeite geplaas. Die Arbeidshof het onder meer die mag verkry om wettige stakings te verbied. Dit was van korte duur en onderhandelings tussen COSATU, NACTU en die Suid-Afrikaanse Komitee vir Arbeidsaangeleenthede het uit eindelik in 1991 tot ’n amendement gelei wat die vorige magte herroep het.

 

In 1990 het SACTU, wat vanuit sy ballingskap sy ondergrondse bedrywighede voortgesit het, ontbind en sy lede aangeraai om hulle by COSATU aan te sluit. COSATU, as ’n lid van die drieledige bondgenootskap wat ook die ANC en Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party insluit, het materiële steun in die vorm van stakings en opstande verleen in die tyd voordat die strydende partye in die land tot ’n vergelyk gekom en die ANC in die eerste veelrassige verkiesing van 1994 die bewind oorgeneem het.

 

Vakbonde vandag in Suid-Afrika

 

•  Die onderstaande is verwerk uit passasies in die Engelse weergawe van die Wikipedia-ensiklopedie op die węreldwye web, waar dit beskikbaar gestel is onderhewig aan die bepalings van die GNU-lisensie vir Vrye Dokumentasie.

 

VAKBONDE word in die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996 erken, wat enersyds voorsiening maak vir die reg van die werker om hom by vakbonde aan te sluit en andersyds vakbonde die reg gee om kollektief te beding en stakings uit te roep.

 

In die Wet op Arbeidsverhoudinge word die werksraamwerke vir sowel vakbonde as werkgewers vervat. Drie instellings is ook geskep ten einde konflikte in arbeidsverhoudinge te verminder, onbillike diskriminasie in die werkplek uit te skakel en die diskriminerende praktyke van die verlede reg te stel. Hulle is die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (National Economic Development and Labour Council  of NEDLAC), die Arbeidshof  en die Raad vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (Council for Conciliation, Mediation and Arbitration of CCMA).

 

Met die stigting in 1997 van die Federation of Unions of South Africa (FEDUSA) uit die samesmelting van die Federation of South African Labour Unions (FEDSAL) en verskeie kleiner bonde, is die drie hoofvakbondorganisasies gevestig.  COSATU, met ’n lidmaatskapsyfer van 1,8 miljoen, word gevolg deur FEDUSA met 560.000 lede and NACTU met byna 400.000 lede. Al drie is met die Internasionale Vakbondkonfederasie (International Trade Union Confederation) geaffilieer.

 

’n Vierde nasionale vakbondsentrum is in 2003 in die lewe geroep. Die Confederation of South African Workers' Unions (CONSAWU) is met die Węreldkonfederasie vir Arbeid (World Confederation of Labour, afgekort WCL) geaffilieer.

  

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad