|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
UBUNTU: Kyk ook verder ondertoe op hierdie bladsy: "Só skep ons 'n kultuur van omgee" UBUNTU...
wat beteken dit werklik? Goed, jy weet bes moontlik dat dit 'n
Zoeloe-woord is wat so min of meer "menslikheid
teenoor ander" beteken. Maar die ware konsep, soos baie
Afrika-konsepte, kan nie so maklik omskryf word nie en beteken baie meer
as net dit. Want Ubuntu is 'n hoogs verwikkelde etiese kode, 'n riglyn vir morele waardes wat diep in die Afrika-kultuur gesetel is. In hierdie besondere filosofie word die waardigheid van elke mens nagestreef, asook die intieme ontwikkeling en instandhouding van die verhoudings tussen mense. Ubuntu
erken byvoorbeeld onder meer:
Trouens,
as die geestelike fondament van Afrika-gemeenskappe behels Ubuntu 'n
geloof in 'n universele deelgenootskap van alle mense. Dit word ten beste
saamgevat in die Zoeloe-spreuk umuntu ngumuntu ngabantu, wat
letterlik beteken dat 'n mens slegs deur ander mense 'n mens kan wees.
Geparafraseer kan dit eweneens beteken: "Ek is wat ek is vanweë dit
wat ons almal is." Die
essensie van Ubuntu kan ook in ander algemene Afrika-spreuke gevind word,
soos byvoorbeeld: "Mense lewe deur die hulp van ander." Ubuntu
is al beskryf as 'n lewensfilosofie wat in die mees fundamentele sin
mensheid, menslikheid en moraliteit verteenwoordig. Dit is ook al 'n
metafoor genoem oor groepsolidariteit wat sentraal staan in die
oorlewingstryd van behoeftige gemeenskappe, waar die individu se hele
bestaan relatief tot dié van die groep is. Selfs
die aanhef van die Suid-Afrikaanse Grondwet maak melding van Ubuntu.
Boonop word dit beskou as een van die grondbeginsels van ons betreklik
nuwe vrye demokrasie, terwyl dit ook met die idee van die
Afrika-Renaissance verbind word. Maar
in watter mate hou Afrikane hulle nog by die Ubuntu-beginsels? Dit is nie
altyd duidelik nie, dog veral die tradisievastes propageer steeds die
ideaal: dat die gees van medemenslikheid sal bly seëvier van die hole van
Soweto, in die halle van die parlement in Kaapstad en regdeur tot by die
krale en hutte in die landelike gebiede. Natuurlik
lê die onmin tussen mense soms ook maar vlak op die oppervlak. Selfs in
KwaZulu-Natal, waar beweer word dat Ubuntu 'n deel van die alledaagse lewe
is, kom hewige etniese en politieke botsings steeds by tye voor. Hoe rym
dit dan met Ubuntu? Die
oënskynlike ongerymheid vervaag betekenisvol wanneer 'n mens op ander
gevalle van vreedame naasbestaan konsentreer. Daar is talle voorbeelde van
sorgsaamheid, bereidwilligheid om te deel, vergifnis en versoening onder
Suid-Afrikaanse gemeenskappe. Waarnemers sê selfs dat die betreklik
vreedsame oorgang van apartheid na 'n veelparty-demokrasie nie slegs aan
die kompromisse van beraadslagende politici te danke was nie. Dit
is ook—en miskien veral—die gevolg van 'n gesindheid van
saamhorigheid, 'n verbintenis tot leef en laat lewe onder gewone
Suid-Afrikaners ondanks hul verskille. Hoewel swart Suid-Afrikaners vroeër
op talle maniere veronreg is, wys die waarnemers daarop dat hulle in die
nuwe bedeling nie met wraak besiel is en die witmense voor die voet wil
verdelg nie. Die
gesindheid van Ubuntu stel 'n prysenswaardige voorbeeld aan 'n groot
buitewêreld wat so dikwels met haat besmet is. * * * NOTA: Die passasie hierbo is ook ingewerk in 'n ander "Laslappie" met 'n ietwat ander uitgangspunt, wat ons hieronder volledig weergee: Só skep ons 'n kultuur van omgee
'N
KULTUUR
van omgee is inherent aan die Christelike lewensbeskouing. Ongelukkig
word dit vandag nie meer uitgeleef soos in vervloeë tye nie, omdat die
mens materialisties en selfgesentreerd geraak het. Ons dink met ander
woorde nie meer met liefde aan die naaste en dié se behoeftes nie,
maar aan onsself en hoe ons onsself kan verryk. En dikwels verkies
ons om anderpad te kyk eerder as om die vele ellendes rondom
ons raak te sien. Omgee vir ander is wel ook 'n deel van ander kulture—en in hierdie opsig kan ons met vrug by die swart gemeenskappe in Suid-Afrika gaan leer. Hulle het 'n spesifieke term wat omgee in al sy vorms en fasette en ontboesemings saamvat. Hulle noem dit Ubuntu.
Ubuntu
is 'n samevatting van sorgsaamheid, mededeelsaamheid en naasteliefde.
Basies is dit 'n doodgewone Zoeloe-woord
wat so min of meer "menslikheid
teenoor ander" beteken, maar die ware konsep, soos baie
Afrika-konsepte, kan nie so maklik omskryf word nie en beteken baie meer
as net dit.
Want Ubuntu is 'n hoogs verwikkelde etiese kode, 'n riglyn vir morele waardes wat diep in die Afrika-kultuur gesetel is. In hierdie besondere filosofie word die waardigheid van elke mens nagestreef, asook die intieme ontwikkeling en instandhouding van die verhoudings tussen mense. Ubuntu
erken byvoorbeeld onder meer:
Trouens,
as die geestelike fondament van Afrika-gemeenskappe behels Ubuntu 'n
geloof in 'n universele deelgenootskap van alle mense. Dit word ten
beste saamgevat in die Zoeloe-spreuk umuntu ngumuntu ngabantu,
wat letterlik beteken dat 'n mens slegs deur ander mense 'n mens kan
wees. Geparafraseer kan dit eweneens beteken: "Ek is wat ek is
vanweë dit wat ons almal is." Die
essensie van Ubuntu kan ook in ander algemene Afrika-spreuke gevind
word, soos byvoorbeeld: "Mense lewe deur die hulp van
ander." Ubuntu
is al beskryf as 'n lewensfilosofie wat in die mees fundamentele sin
mensheid, menslikheid en moraliteit verteenwoordig. Dit is ook al 'n
metafoor genoem oor groepsolidariteit wat sentraal staan in die
oorlewingstryd van behoeftige gemeenskappe, waar die individu se hele
bestaan relatief tot dié van die groep is. Selfs
die aanhef van die Suid-Afrikaanse Grondwet maak melding van Ubuntu.
Boonop word dit beskou as een van die grondbeginsels van ons betreklik
nuwe vrye demokrasie, terwyl dit ook met die idee van die
Afrika-Renaissance verbind word. Maar
in watter mate hou Afrikane hulle nog by die Ubuntu-beginsels? Dit is
nie altyd duidelik nie, dog veral die tradisievastes propageer steeds
die ideaal: dat die gees van medemenslikheid sal bly seëvier van die
hole van Soweto, in die halle van die parlement in Kaapstad en regdeur
tot by die krale en hutte in die landelike gebiede. Natuurlik
lê die onmin tussen mense soms ook maar vlak op die oppervlak. Selfs
in KwaZulu-Natal, waar beweer word dat Ubuntu 'n deel van die
alledaagse lewe is, kom hewige etniese en politieke botsings steeds by
tye voor. Hoe rym dit dan met Ubuntu? Die
oënskynlike ongerymheid vervaag betekenisvol wanneer 'n mens op ander
gevalle van vreedame naasbestaan konsentreer. Daar is talle voorbeelde
van sorgsaamheid, bereidwilligheid om te deel, vergifnis en versoening
onder Suid-Afrikaanse gemeenskappe. Waarnemers sê selfs dat die
betreklik vreedsame oorgang van apartheid na 'n veelparty-demokrasie
nie slegs aan die kompromisse van beraadslagende politici te danke was
nie. Dit
is ook—en miskien veral—die gevolg van 'n gesindheid van
saamhorigheid, 'n verbintenis tot leef en laat lewe onder gewone
Suid-Afrikaners ondanks hul verskille. Hoewel swart Suid-Afrikaners
vroeër op talle maniere veronreg is, wys die waarnemers daarop dat
hulle in die nuwe bedeling nie met wraak besiel is en die witmense
voor die voet wil verdelg nie. Die gesindheid van Ubuntu stel 'n prysenswaardige voorbeeld aan 'n groot wêreld wat so dikwels met haat besmet is. As ons dan die vraag stel hoe ons werklik 'n kultuur van omgee ook in ons meer vermoënde komponent van die Suid-Afrikaanse samelewing kan skep, moet ons hierdie begrip ook ons eie maak—binne die konteks van 'n Christelike herlewing. Soos ons in Matthéüs 22:37-40 in die Bybel (ou vertaling) lees: "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete." |