Honderd jaar van nuttige
uitvindsels 

  
  
Hoe vindingryke mense die pot vol goud aan die punt van die reënboog gevind—en ons lewe verander het

Die twintigste eeu was die eeu van opsienbarende uitvindsels—soos die gevreesde atoombom—maar ook fantastiese tegnologiese ontwikkelings, wat dit selfs vir die mens moontlik gemaak het om op die maan te loop. Tog daar was ook talle ander, heel nederige uitvindsels wat die wêreld van vandag help vorm het. Op hierdie blad kyk ons na net enkeles daarvan...
  

LemmetjieSKEERMESLEMMETJIE (1901)
  
DIE ingrypendste ontwikkeling in die praktyk om baard en hare af te skeer, was in die vroeë 1900’s toe die moderne veiligheidskeermes sy verskyning gemaak het. ’n Amerikaanse  smous, King Camp Gillette, was een oggend aan die einde van die 1800’s besig om te skeer toe dit hom irriteer dat die skeermes se lem so gou stomp raak. Net daar kry hy die blink ingewing: waarom nie ’n skeermes maak met los lemmetjies wat weggegooi kan word nie? Hy het ’n houer vir die lemmetjies ontwerp, maar ’n volle ses jaar sou verbygaan voordat ’n lemmetjie gemaak kon word wat dun genoeg vir die houer was. Die oplossing het in 1901 gekom toe hy en ’n ingenieur, ene William Nickerson, saamgespan het. Nickerson het die nodige masjinerie ontwerp wat die lemmetjies kon maak. Sedertdien het die lemmetjie sonder enige moeite hoegenaamd sy pad deur die twintigste eeu oopgekerf tot vandag toe.
Ou stofsuier HUISHOUDELIKE STOFSUIER (1901)
  
HUISHOUDELIKE stofsuiers het self al ’n lang pad gekom, as ’n mens ons hipermoderne gevaartes  met een van hul ouboete op die foto LINKS vergelyk. Huisvroue het stofsuier te danke aan ’n vindingryke Engelse siviele ingenieur, Hubert Cecil Booth, wat in 1901 in Londen ’n demonstrasie van ’n Amerikaanse spoorwa-skoonmaker gesien het. Die toestel het stof verwyder deur dit in ’n houer in te blaas, maar was nie so geslaag nie, aangesien die meeste stof eintlik in die lug beland het. Toe hy tuis kom, het Booth lug deur ’n doek probeer suig pleks van dit weg te blaas—en agterna ’n masjien gepatenteer wat juis op hierdie beginsel gegrond is.

Stofsuierwa uit 1902REGS is ’n stofsuierwa uit 1902. Volgens die skrif op die wa werk die “Vacuum Cleaner Company” ooreenkomstig Booth se patente en maak hulle gebruik van ’n stofvrye stelsel waarvolgens tapyte, gordyne, ens. ter plaatse skoongemaak word sonder dat die goed van die perseel af verwyder hoef te word.

KOSMENGER (1908)
  
HOEWEL die eerste volwaardige huishoudelike kosmenger met sy eie vaste staander en bak in 1919 die lig gesien het, was dit eintlik ’n uitvloeisel van ’n menger vir bakkers wat in 1908 in Amerika deur Herbert Johnson ontwerp is. Johnson se menger het die tradisionele manier vervang waar deeg met ’n ysterlepel gemeng is. Die sogenaamde KitchenAid-menger wat daaruit Kosmenger ontwikkel het en in 1920 gepantenteer is, het ’n goeie ontvangs geniet onder ''bevryde'' vroue wat hulle nie meer so baie in die kombuis wou afsloof nie. In die tweede helfte van die twintigste eeu was dit weer die Kenwood Chef wat sy staal gewys het. Die Britse ''pa'' van hierdie apparaat, ene Ken Wood, het sy onderneming in die laat jare veertig in ’n motorhuis in Woking, Surrey, begin om huishoudelike toestelle te vervaardig. Gou het hy vorendag gekom met die veeldoelige Kenwood Chef, wat nie net kan meng nie, maar ook kan versap, aartappels skil, koffie maal, blikke oopsny, noem maar op.
BROMPONIE (1915)
   
DIT was ’n eienaardige vervoermiddel wat op ’n dag in 1915 die New Yorkers se oë laat rek het. Daar was geen sitplek nie en dit het soos ’n kind se ryplank (''scooter'') gelyk, maar met ’n masjien van twee perdekrag kon dit selfs 55 km/h haal. Hierdie ryding was die eerste van vele pogings vroeg in die twintigste eeu om klein, goedkoop jakkertjies op die mark te plaas. Maar dit was eers in Vespa van 1947-'48 1946 dat die Italiaanse maatskappy Piaggio die eerste kommersieel geslaagde bromponie vervaardig het. Enrico Piaggio, wie se vliegtuigenjin-fabriek by Pontedera in die Tweede Wêreldoorlog verwoes is, het dit moeilik gevind om te voet op die terrein rond te beweeg. Toe vra hy een van sy ingenieurs, Corradino d'Ascanio, om ’n eenvoudige tweewiel-ryding te ontwerp. Die ontwerp was binne weke gereed—en die sogenaamde Vespa (op die foto hierby) was ’n onmiddellike sukses.
Suig-ysie SUIG-YSIE (1923)

DIE bevrore suiglekker is in 1923 deur ’n Amerikaner (wie anders?) gepantenteer. Die ''pa'' was Frank Epperson van Oakland, Kalifornië, wat dit, so word vertel, heel per geluk uitgevind het. Epperson was ’n verkoopman wat met ’n limonade-mengsel gesmous het. Een middag demonstreer hy toe sy produk aan moontlike kopers in New Jersey en los ewe agtelosig ’n glas van sy vloeistof met ’n lepel daarin op ’n vensterbank. En daardie nag word dit so koud dat die limonade kliphard vries. Die volgende môre toe Epperson die lepel uit die glas trek, staan hy met die wêreld se eerste suig-ysie in sy hande. Hy het sy patent aan ’n kosverwerkingsmaatskappy verkoop, en die res is geskiedenis. Vandag kry ons suig-ysies met allerhande bestanddele—ook roomys in ’n sjokolade-dop.
Sonbrandolie SONBRANDOLIE (1925)
   
"MEISIEKIND, jy moet jou bleik," het die ou mammas altyd gemaan wanneer ’n dogter darem net te bruin van al die blootstelling aan die son geword het. ’n Spierwit vel was dan ook hoogmode, veral onder die bemiddeldes. Maar toe verskyn die legendariese mode-ontwerpster Coco Chanel in 1925 met ’n songebruinde vel in Parys en keer die hele gewente op sy kop om. Sy't toe pas ’n huis in die suide van Frankryk gekoop waar sy die son toegelaat het om haar vel te verdonker. Kort hierna wou al wat leef en beef net bruin gebrand wees. Ofskoon allerhande duur salwe, rome en olies gebruik is om die nuwe sonbaaiers se velle teen die verwoestende son te beskerm, was dit eers in 1936 dat L'Oréal die eerste in massa geproduseerde sonbrandolie—genaamd Ambre Soliare—op die mark gebring het.
Bolpuntpen BOLPUNTPEN (1938)
  
DIE moderne bolpuntpen se ''pa'' was die talentvolle Hongaar Laszlo Josef Biro, wat in 1938 die eerste patente vir die Biro-bolpuntpen geregistreer het. In die Tweede Wêreldoorlog het hy eers na Parys en toe na Argentinië gevlug, waar hy aan sy bolpunt gewerk en spoedig geldelik steun vir die ontwikkeling daarvan gekry het. Dit het uiteindelik ’n groot hulp geblyk vir oorlogsvlieëniers en -navigators, omdat dit nie soos vulpenne op groot hoogtes lek nie. Ná die oorlog, en veral met die toetrede van die Franse sakeman Marcel Bich, wat sy Bic Crystal op die mark geplaas het, het die gewildheid van die bolpuntpen geen perke meer geken nie.
AëEROSOL (1962)
  
’N
SPUITMIDDEL met ’n suspensie van klein deeltjies in ’n gasmedium—dit was die uitvindsel in 1926 van die Noorse ingenieur Erik Rothheim, ’n produk wat wel deeglik sy merk op die twintigste eeu en op die wêreld tot in ons dag sou laat. Dit is aërosol genoem, en kort voor lank het ’n verfvervaardiger die eerste kommersiële aërosols in Oslo, Noorweë, gemaak. AërosolsAërosol met insektegif is ook ’n tyd lank in Noorweë vervaardig, maar dit het nie gelyk of die spuitmiddel juis sou posvat nie. Toe kom die Tweede Wêreldoorlog en die Amerikaanse soldate in die Stille Oseaan-gebied loop deur onder die insekte. Die Amerikaanse owerheid kom tot hul redding met ''gogga-bomme'', houers met aërosol wat die insekte bokveld toe stuur. Veel later het die wêreld geskok regop gesit toe bekend gemaak is dat ’n familie gasse wat chlorofluorokoolstowwe genoem en baie in aërosols gebruik word, besig is om die aarde se belangrike osoonlaag te verwoes. In 1990 het 93 lande ingestem om teen die einde van die twintigste eeu alle vervaardiging van die gewraakte gasse te staak. Die eeuglas het egter hoeka leegge loop—en of almal dit toe reggekry het, bly ’n ope vraag.
Prozac PROZAC (1972)
    
’N
NUWE middel teen depressie, wat mettertyd Prozac genoem sou word, is in 1972 ontwikkel, maar het eers in die jare tagtig gevestig geraak toe die Amerikaners die pilletjie sy heldestatus gegee het. Kort voor die eeuwisseling was 30 miljoen mense regoor die wêreld reeds daarmee behandel. Die waarde van die verkope beloop etlike miljarde rande.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad