|
N DIE daglig speel hulle
wegkruipertjie danksy hul saai en gepatroonde vere. Maar snags,
boeta, snags blits die onheil uit hul oë. Om nie te praat van hul
groteske vorms en daardie gehoe-hoe-hoe nie. Hulle is immers reeds
eeue lank daarvoor berug dat hulle die dapperstes onder die dapperes
die kille bewerasie kan laat kry.
Onder die paar honderd soorte voëls van die nag is die uile bepaald
die bekendste. En die toneel van ’n ouma met ’n besemstok wat ’n uil
van bo van haar skoorsteen af verwilder, is so tradisioneel onder
sekere bevolkingsgroepe in Suid-Afrika soos braaivleis en biltong.
Kyk, die uil is mos ’n voorbode-voël, die nare boodskapper van ’n
sterfte. Só glo party mense blykbaar steeds met ’n onheilige angs.
Stomme uil. Al wat hy is, is ’n wonderlik toegeruste voël van die
donkerte. Uile hoor en sien uitstekend. Hulle kan snags goed met
ander uile kommunikeer. As hulle vlieg, doen hulle dit geruisloos.
En hulle is alte behendig wanneer hulle ’n prooi vang en wegdra om
op te vreet.
Pleks van dus op loop te gaan oor ’n uil by jou huis, moet jy liewer
bly wees as ’n paar van hulle daar naby boer. Straks vang hulle vir
jou allerhande vernielsugtige goggas. Of moontlik selfs die slange,
molle en muise in jou tuin!
REGS:
Dit is veral ons nonnetjiesuil
(Tyto alba),
wat die hoogs
onregverdige reputasie van die “doodsvoël” verwerf het. Eintlik is hy ’n groot mensevriend, wat ons van skadelike diertjies
red.
Foto: Kopiereg ©
Suid-Afrikaanse Toerisme / South African Tourism
|
 |
 |
|
BO:
’n Anderlandse nonnetjiesuil met sy muisvangs. Daar is baie
subspesies van die nonnetjie wêreldwyd.
Foto: Wild Wing Company
/ U.S. National Park Service |
REGS:
Ons skopsuil
(Otus senegalensis)
kom voor in 'n groot deel van Afrika suid van die Sahara en leef van
insekte en spinnekoppe.
Bron & Kopiereg: ©
www.SA-Venues.com.
Gebruik vir nie-kommersiële en opvoedkundige doeleindes word vergun
mits die bron só erken word.
DIE opvallendste ding omtrent uile is daardie groot oë wat
vorentoe wys, net soos ons mense s’n. Dit is nie soos die oë van
byvoorbeeld ’n hoender of ander voël wat ver uitmekaar aan
weerskante van die kop sit nie. Daardie soort plasing van die oë bied
’n wye visie sodat hoender se kind as
’t ware tegelyk oral rondom hom kan kyk. Dit is om die omgewing
des te beter vir
moontlike jakkalse of ander gevare te bespied.
Maar met ou Uiloog is dit anders gesteld. Hy moet mos sy prooi vanuit die
hoogte in die mees obskure uithoekies gewaar en sekuur daarop kan
inzoem. Gevolglik tuur hy hoopvol vorentoe. Daarby stel die grootte en vorm
van sy oë hom in staat om die heel beste gebruik te maak van die maan- en
sterrelig van die nag.
Uile het ook ooglede, en hul sogenaamde
knipvliese (deurskynende velplooie wat oor die oog getrek kan word
om ’n derde ooglid te vorm) is baie belangrik om die oë te beskerm.
Die uil se goed ontwikkelde rigtingsin en gehoor span saam wanneer
hy sy prooi vang. As hy iets hoor wat soos ’n prooidier klink, draai
hy sy kop in daardie rigting. Dan kos dit nog net een geritsel of ’n
gepiep en… die prooi is so goed as bokveld toe.
Terwyl die uil afdaal, swaai hy sy pote vorentoe, en dan gryp sy
kloue die prooi. Soos ander voëls het hy drie tone voor en een agter
aan elke klou. Dis vir hom belangrik om stewig te kan vasgryp, te
meer omdat hy sy oë wil beskerm en hy hulle gewoonlik toemaak
wanneer ’n prooidier onder hom spartel.
Die kloue is skerp en ferm. Wanneer hy vreet, trap hy op die
prooidier en skeur stukke vleis met sy skerp snawel af.
Uile (daar is sowat twaalf soorte in Suider-Afrika) vreet slegs
lewende diere, van insekte tot soogdiere so groot soos hase. ’n Paar
soorte vreet hoofsaaklik visse. Hulle sluk gewoonlik hul prooi heel
in. Onverteerbare dele van hul kos, soos bene, hare en vere, word
saamgepers en as klein kompakte bolletjies opgebring. (Dit word
uilballe genoem.)
REGS:
Uilballe... deur dit te ontleed, kan navorsers die verstommende
aptyt van uile bestudeer. Dit bevat baiemaal die reste van ’n
hele verskeidenheid van insekte, voëltjies en
soogdiertjies.
Foto:
Lang Elliot / Washington Department of FIsh and Wild Life
Die meeste uile het voorts die gewoonte om altyd op dieselfde plek
te gaan sit wanneer hulle hul prooi verslind het en die kos verteer.
As ’n mens weet waar só ’n plek is, kan jy daar baie van die
uilballe bymekaarmaak en saamneem om te ondersoek. Die
balle kan ontleed word om te bepaal watter soort prooidiere die
uil almal gevang het.
DIE vlerke van uile is groot in verhouding tot die res van hul
lywe en hul vere is sag. Dis dié dat die voëls so geruisloos sonder
’n vlerkgeklap deur die naglug kan beweeg en kan luister waar daar
prooidiere is sonder om hul eie teenwoordigheid te verraai.
Uile vind dit ook nodig om met mekaar te “gesels”. Hul geluide
wissel van lae gromklanke tot skrille gille, van diep hoe’s tot hoë
fluite en van harde sisklanke tot ’n sagte gespin.
Kenners reken dis selfs moontlik dat uile soos vlermuise van
weerklanke gebruik maak om te keer dat hulle in voorwerpe vasvlieg.
Die skedels van baie uile is boonop asimmetries—die ooropeninge
sit op verskillende vlakke. Dit stel die voël in staat om presies te
bepaal waar die geluide vandaan kom wat ’n prooidier maak. Die nekke
van uile is boonop baie beweeglik en kan tot 270 grade draai.
Waar hulle goed toegerus is om in die nag te oorleef, moet uile
darem ook bedags in staat wees om in vrede ’n uiltjie te kan knip.
Daarom sien ’n mens hulle nie maklik raak in die dag nie.
As hulle gesteur word, word daardie opvallende oë op skrefies
getrek. Die lyf kom regop, die vere word ingetrek en die veerkuifies
(by sekere spesies) staan orent. Met hierdie houding en die
natuurlike kamoeflerlng van sy vere is die uil goed weggesteek langs
die boombasse, blare, rotse en skaduvlekke.
Maar wag as die nag kom, boeta, dan is die uil in sy element. Dan
gaan dit hoe-hoe later, hoe-hoe kwater...
Nog uil-feite
ONDER
die kleinste uile op aarde is die elfuiltjie
(Micrathene
whitneyi) van Mexiko en die suidweste van
die VSA, wat partykeer niks langer as so 13 cm lank word nie, hoewel daar
darem ander onder hulle kan wees wat meer as dubbeld so groot word.
REGS:
Klein maar steeds pure roofvoël, ’n elfuil.
Foto: Hayford
Peirce, wat die vrye gebruik
daarvan vir enige doeleindes vergun, mits die gebruiker net nie
daarop aanspraak maak dat hy of sy self die foto geneem het nie
• Uile kom oral ter wêreld voor buiten in die Antarktiese gebied.
Hulle behoort tot die orde Strigiformes. Daar is twee families.
Tipiese uile (meer as 120 spesies) behoort tot die familie Strigidae
en die res (ongeveer ’n dosyn spesies) tot die familie Tytonidae.
Daar is verskille in die anatomieë van die twee families, maar in
die reël ook baie waarneembare ooreenkomste. Die uile van die
familie Tytonidae verskil van die tipiese uile deurdat hulle
hartvormige eerder as ronde gesigte het. Hulle het ook langer pote
en kleiner oë, wat donker is en nooit geel soos dié van die meeste
tipiese uile nie.

BO: Die gevlekte
ooruil (Bubo africanus), een van ons bekende
Afrika-uile, wat van Kenia en Uganda af suidwaarts tot in
die Kaap aangetref word. Dit is die verepluime aan sy kop
wat hom die naam ooruil besorg het, maar die pluime het in
der waarheid niks met sy ore te doen nie. Die ore self is
weggesteek tussen die vere aan sy kop.
Bron & Kopiereg: ©
www.SA-Venues.com.
Gebruik vir nie-kommersiële en opvoedkundige doeleindes word
vergun mits die bron só erken word.

BO en REGS BO:
In die volksmond praat ons soms van iemand wat dom optree as
’n uilskuiken. Sekere ware uilskuikens, soos die een hierbo,
is egter miskien nie wat ’n mens ’n toonbeeld van onnoselheid
sou noem nie. Of hoe lyk die donserige snuiter van
die groot horinguil
(Bubo virginianus)
vir jou? Dalk selfs so ’n
bietjie geleerd met sy wit “pruik” soos dié van ’n ou
sekretaris van weleer? Daarnaas is ’n
volwassene van hierdie uilsoort van
die
Amerikas.
Foto van
uilskuiken: Gary M. Stolz / U.S. U.S. Fish and Wildlife
Service
Foto van volwasse uil:U.S. National Park Service
REGS:
Die sneeu-uil (Bubo
scandiacus)
vreet veral
lemmings en ander knaagdiere om in die verre noordelike dele
van die aarde te oorleef.
Foto: Mike
Rabenberg / U.S. Fish and Wildlife Service (foto gewysig
Leer om ’n uil te
teken: klik
hier
en druk dan die
tekenlessie uit op jou drukker.
Illustrasies uit die
boek How to Draw Birds, wat
hier bestel kan word van
DoverPublications.com
|