TB-basille (staafvormige bakterieë) onder ’n moderne elektronmikroskoopTuber-
kulose

Terreur van die piepklein monsterkiem

Byna een en ’n derde eeu nadat Robert Koch in 1882 in Duitsland die teringkiem onder die mikroskoop uitgeken het, duur die stryd teen die gevreesde tuberkulose voort. Maar nou is daar ’n doelgerigte internasionale inisiatief om hierdie groot mensemoordenaar behoorlik vas te vat... die dodelike, piepklein bakterie wat slegs drie duisendstes van ’n millimeter lank is...

FOTO REGS BO: TB-basille (staafvormige bakterieë) onder ’n moderne elektronmikroskoop. DIe wetenskaplike naam vir die bakterie is Mycobacterium tuberculosis.

Foto: CDC / Dr. Ray Butler, Janice Carr /  PHIL

Die goeie nuus is dat TB behandel kan word

BO: Die goeie nuus is dat TB behandel kan word. Die onrusbarende nuus is dat die TB-bakterie weerstandig kan raak teen middels wat dit bestry indien tuberkuloselyers die middels misbruik.

Foto: USAID (effens gewysig)

G

EMIDDELD elke vyftien sekondes sterf iemand êrens op aarde as gevolg daarvan. Omdat dele van hul longe in die meeste gevalle vernietig is, kwyn die lyers tragies weg. Hulle hoes bloed en worstel koorsig om asem te haal. Ná soveel lyding is die dood dikwels eintlik ’n welkome uitkoms.

Waar die siektekieme die brein binnedring, volg weer ’n verskriklike stryd weens harsingkoors. Of as die kieme ’n slagoffer se beendere of ander liggaamsdele infekteer, kan ’n ewe ontstellende einde op die lyer wag.

Maar die groot hartseer by die ellende is dat dit alles gebeur weens ’n siekte wat voorkombaar is. In verreweg die meeste gevalle is hierdie potensieel dodelike beproewing ook heeltemal geneeslik.

Dié siekte staan bekend as tuberkulose, dikwels afgekort as TB. Dit word ook tering genoem omdat dit in die reël deur liggaamlike uittering gekenmerk word.

TB word deur die bakterie Mycobacterium tuberculosis veroorsaak, en elke jaar sterf ’n paar miljoen mense as gevolg daarvan. Dit is ook een van die grootste doodsoorsake van mense wat MIV-positief is. Boonop is TB ’n veel groter mensemoordenaar as malaria.

Nege miljoen nuwe gevalle kom jaarliks voor, en wat dit des te skrikwekkender maak, is dat die persentasie tuberkulose-infeksies in Suid-Afrika onder die hoogste ter wêreld is. Daarvan is ons gesondheidsowerhede deeglik bewus en baie word ter voorkoming van die siekte gedoen en om lyers te help nadat volwaardige TB gediagnoseer is.

Die naam tuberkulose is afgelei van kenmerkende knoppies, genaamd tuberkels, waarin die basille (staafvormige bakterieë) vasgevang word.

In baie klein longblasies (alveole) word individuele mikrobes vinnig deur geaktiveerde neutrofiele verorberREGS: Gesonde longe is, benewens die feit dat hulle suurstof opneem en koolstofdioksied uitskei, ook doeltreffende suiweraars, wat ingeasemde mikrobes elimineer. In die baie klein longblasies (alveole) word individuele mikrobes vinnig deur geaktiveerde neutrofiele verorber, soos op hierdie illustrasie. As sterk TB-kieme egter in die longe beland en die oorhand kry, is daar groot probleme.

Krediet: © Center for Biofilm Engineering by MSU-Bozeman
Met vergunning: US National Science Foundation

Hoe versprei TB?

WAAR TB primêr ’n siekte van die asemhalingstelsel is, word dit gewoonlik deur hoese en niese versprei en, glo dit, selfs deur te skreeu of te sing. Die piepklein bakterieë sweef in die lug in die lyers se uitgewerpte vogdruppels en só word die siekte uitgedra.

 

Iemand wat hoesREGS: Tuberkulose word oorgedra deur hoese of ander maniere waarop vogdruppels met die kieme in die lug uitgewerp word.

 

Mense wat naby ’n lyer is, kan die TB-kieme inasem, miskien selfs kieme wat in stof aanwesig nadat ’n lyer op die grond gespoeg en die speeksel droog geword het. Die grootste gevaar is egter om ’n bed of woonruimte met ’n teringlyer te deel.

Verspreiding kan ook deur die spysverteringskanaal opgedoen word, met ander woorde deur kos of drank in te neem wat deur ’n lyer besmet is.

’n Inflammasie ontstaan in die long of derm, van waar die limfkliere, wat die gebied dreineer, ook betrek word. Besmetting van die dermkanaal was vroeër meer algemeen as vandag, deurdat die melk van beeste met tering gedrink is. Die mens word tans egter meestal hierdie bron van besmetting gespaar aangesien tering by beeste grotendeels uitgeroei is.

Ontstellend genoeg kan TB-kieme selfs in jou liggaam lewe sonder dat jy daarvan siek word. Dit word TB-infeksie genoem. Jou immuunstelsel hou die TB-kieme in toom met spesiale kiemvegters. Hulle keer dat die TB-kieme die oorhand oor jou gestel kry. Hoewel ’n derde van die wêreld se mense sulke kieme in hul liggame het, kom die siekte by ’n betreklik klein persentasie mense voor.

Dis eers wanneer die geïnfekteerde mens se immuunstelsel om die een of ander rede verswak raak, dat TB-infeksie tot aktiewe TB kan ontwikkel.

En elke mens wat tuberkulose opdoen, het dan beslis mediese hulp nodig. As hy dit nie kry nie, kan hy sterf. 

Die goeie nuus by die slegte is dat, hoewel TB deur die lug versprei soos hierbo beskryf, ’n mens darem gewoonlik lank die besmette lug moet inasem voordat jy tuberkulose sal kry.

Daarteenoor is al bereken dat elke TB-lyer wat nie behandeling ontvang nie, waarskynlik elke jaar tien tot vyftien ander mense sal besmet.

Oorsake

ONDER die vernaamste faktore wat tot die verspreiding van TB bydra, is swak maatskaplike omstandighede, oorbevolking, groot gesinne, swak behuising en armoede. Dokters en gesondheidswerkers wat dikwels aan teringpasiënte blootgestel word, loop ook ’n groter gevaar om die siekte te kry.

Eintlik kan niemand egter seker wees dat hy of sy nooit TB sal opdoen nie. Mense van alle ouderdomme, nasionaliteite en sosio-ekonomiese groepe kan op die een of ander manier geïnfekteer raak.

Simptome

AS jy tuberkulose het, kan jy:

  • swak voel,
  • jou eetlus verloor,
  • gewig verloor,
  • ’n koors hê of
  • snags baie sweet.

Hierdie tekens kan etlike weke lank voortduur. As jy nie behandeling ontvang nie, word hulle gewoonlik erger.

Indien die TB in jou longe is, kan jy:

  • baie hoes,
  • baie slym uithoes,
  • bloed hoes of
  • pyn in jou bors hê wanneer jy hoes.

As jy TB in ’n ander deel van jou liggaam het, sal die simptome vanselfsprekend anders wees. Slegs ’n dokter of opgeleide gesondheidswerker kan vasstel of jy inderdaad tuberkulose het.

Hoe word TB-infeksie of volwaardige TB vasgestel?

’N VELTOETS is die tradisionele manier om TB-infeksie vas te stel. Deesdae word egter met belangstelling gekyk na ’n nuwe soort bloedtoets wat selfs doeltreffender sou wees om latente tuberkulose op te spoor.

In die veltoets is die diagnose “positief” as ’n knoppie naastenby so groot soos ’n potlooduitveër of groter op jou arm verskyn. Dit dui daarop dat jy waarskynlik TB-infeksie het.

Ander toetse kan aandui of jy volwaardige TB het. ’n X-straalfoto van jou longe kan aantoon of daar longskade as gevolg van tuberkulose is. TB-kieme kan diep in jou longe skuil. Slym wat jy uithoes, kan in die laboratorium ontleed word om vas te stel of daar van die gevreesde bakterieë in jou longe is.

Dit kan nodig word om lyers van ander mense af te sonder totdat hulle nie meer TB-kieme kan versprei nie. Gelukkig hoef dit nie te lank te duur nie. Sodra hulle hul medisyne begin sluk, is hulle spoedig nie meer aansteeklik nie.

Medici is wel bekommerd oor nuwe soorte tering wat weerstandig geraak het teen die medisyne wat teen TB gebruik word. Kanniedood-variante van die teringkiem het al ontwikkel in pasiënte wat te gou opgehou het om hul medisyne te gebruik, in Suid-Afrika en veral ook in China, Indië en Rusland. Gelukkig kan die meeste mense wat aan weerstandige TB ly, steeds genees word, hoewel ’n variant enkele jare gelede in Suid-Afrika kop uitgesteek het wat aansienlik weerstandig en dodelik blyk te wees (lees meer hieroor reg onderaan hierdie artikel).

Onthou, TB kán genees word

DANKSY spesiale middels wat die bakterie Mycobacterium tuberculosis doodmaak, is TB vandag ’n geneeslike siekte. Tog is die TB-kieme baie sterk. Dit duur minstens ses tot nege maande voordat die medikasie al die bakterieë uitgewis het. Dit is baie noodsaaklik dat pasiënte nie sal ophou om hul medisyne te gebruik nie.

Indien die medikasie te gou gestaak word, is daar ’n groot probleem.  Die TB-kieme wat steeds aktief is, raak selfs sterker. ’n Mens het dan sterker middels nodig om hierdie "super"-kieme dood te maak, iets wat nie nodig sou gewees het as die oorspronklike medisyne getrou gesluk is nie.

Wêreldplan teen tuberkulose

’N AMBISIEUSE internasionale insiatief om TB opnuut met alle mag te bestry, is tyd gelede aangekondig. Dit heet “Stop TB” en staan onder beskerming van die Wêreldgesondheids­organisasie. Die plan word deur meer as 400 organisasies oor die wêreld heen gesteun.

Daar word beoog om teen 2015 altesaam 56 miljard (duisend miljoen) Amerikaanse dollar vir TB-bestryding byeen te bring. Die inisieerders wil ’n daadwerklike begin maak om die wêreldwye verspreiding van die siekte te stuit en onder meer ’n nuwe TB-middel en ’n nuwe en veel goedkoper entstof beskikbaar stel.

Bill Gates, die grootbaas van die rekenaar-sagtewarereus Microsoft, het 900 miljoen dollar vir die inisiatief belowe en daar was ook ander welkome bydraes. Dit alles is egter nog maar ’n druppel aan die emmer en hef aan lê nog voor om die lofwaardige voorneme te verwesenlik om geriewe vir diagnose en behandeling aan alle TB-lyers op aarde te verskaf.

Stop TB” hoop om veertien miljoen lewens te red. As dit gedoen kan word, sal dit ’n monumentale getuienis van menslike meelewendheid wees.

Die geskiedenis van TB

BeesTUBERKULOSE teister die mens reeds sedert die Oudheid. Geleerdes reken dat die siekte (asook pokke) deur beeste na mense oorgedra is, nadat die mens begin het om die bees mak te maak.                                 Foto: USDA

Die reste van geraamtes toon dat voorwêreldse mense (teen 4000 v.C.) aan TB gely het, en tuberkulêre verval is ook in die ruggrate van Egiptiese mummies van 3000 tot 2400 v.C. gevind.

Omstreeks 460 v.C. het die Griek Hippokrates tuberkulose as die mees wyd verspreide siekte geïndentifiseer. Dit het destyds feitlik altyd tot die dood gelei.

Eeue later, tydens die Industriële Revolusie van die agttiende en negentiende eeu, is selfs gedink dat tuberkulose met vampiere verband hou. As een gesinslid as gevolg daarvan gesterf het, sou die gesondheid van ander geïnfekteerde gesinslede ook stadig agteruitgaan. Mense het gedink dit is omdat die eerste slagoffer besig was om die lewe uit sy eie mense te dreineer.

Om dit te voorkom sou die lyk van die oorledene—die gewaande vampier—opgegrawe word. Sy borskas is oopgesny en sy hart verbrand, partykeer saam met die res van die lyk. Omdat teringlyers dikwels bloed gehoes het, is gereken dat hulle hul verlore bloed probeer terugkry het deur bloedsuiers (vampiere) te word.

Omdat TB verskillende liggaamsdele kan aantas en die simptome dus grootliks kan verskil, is daar nie voor die 1820’s besef dat alle manifestasies daarvan in der waarheid een siekte is nie. Die eerste werklike deurbraak in die stryd teen TB was egter eers in 1882 toe die Duitse mikrobioloog Robert Koch ná 270 mislukte pogings eindelik daarin geslaag het om die basil wat tuberkulose veroorsaak onder die mikroskoop uit te ken.

In Tafelberg-Uitgewers se boek Dokter in die Huis deur dr. Jan van Elfen, volledig hersien deur dr. Don du Toit, word as volg van die ontwikkelinge daarna vertel:

Die Mycobacterium tuberculosis is staafvormig en net drie duisendstes van ’n millimeter lank. Dit sou voortaan moontlik wees om vas te stel wie die siekte onder lede het deur speeksel te ontleed. Deur sulke mense te isoleer, kan tering in ’n sekere mate bekamp word.

Robert KochLINKS: Robert Koch.

’n Halfeeu nadat Robert Koch die teringkiem ontdek het, is ’n spesifieke teenmiddel daarteen ontwikkel. Ene Charles Albert Calmette en Camille Guérin het wel reeds vroeër daarin geslaag om ’n entstof teen tering by grootvee te ontwikkel en daar is ernstig gewonder of hul entstof miskien ook mense sou kon beskerm.

Op 21 Julie 1921 het Calmette uiteindelik die waagstuk aangegaan deur ’n baba in Parys in te ent van wie die ma en die ouma aansteeklike tering gehad het. Ses maande later was die baba steeds blakend gesond. Die entstofbevattende verswakte teringkieme (tuberkulien) het bekend geword as BCG (Basil van Calmette en Guérin).

Die immunisering van babas teen tering is vandag verpligtend in die meeste ontwikkelde lande asook in Suid-Afrika, word in Dokter in die Huis vertel.

’n Ou plakkaat waarin mense gewaarsku is dat tuberkulose deur middel van soene na jong kinders oorgedra kan wordREGS: ’n Ou plakkaat waarin mense gewaarsku is dat tuberkulose deur middel van soene na jong kinders oorgedra kan word.

Maar dit was eers in 1946, met die ontwikkeling van die antibiotikum streptomisien, dat die ware behandeling eerder as die voorkoming van die siekte moontlik geword. Hierdie ontdekking is deur die ontwikkeling van ander antibiotika gevolg wat ’n omwenteling in die hantering van TB teweeggebring het.

En vandag woed die oorlog steeds verbete en fel. Maar hopelik wag die salige vrede in die nie te verre toekoms wanneer die skrikbewind van die piepklein monsterkiem uiteindelik beëindig word.

Wanneer TB-bakterieë ’n weerstand
opbou teen die middels wat
hulle moet bestry…

DAAR word vertel dat ’n derde van die mense wat vandag op die aarde woon met tuberkulose-bakterieë besmet is. Dit is egter eers wanneer die bakterieë aktief raak dat mense siek word as gevolg van tuberkulose.

Bakterieë raak aktief vanweë ’n verminderde immuniteit by die individu. Daar is verskillende redes hiervoor, waaronder MIV-besmetting, ouderdom en sekere mediese toestande.

Tuberkulose kan in die reël met ’n kursus van vier standaard-middels behandel word. Indien hierdie middels egter misbruik word of verkeerdelik toegedien word, raak die bakterieë weerstandig en verg dit duurder middels om hulle vas te vat. Dié middels moet op die koop toe langer toegedien word, en hulle het ook meer newe-effekte.

Khayelitsha in die buitewyke van Kaapstad, byvoorbeeld, het van die hoogste voorkomssyfers vir tuberkulose en MIV/vigs ter wêreld. En reeds in 2009  het ’n kenner geraam dat tot ses persent van die mense in Khayelitsha by wie tuberkulose  gediagnoseer is, die baie aansteeklike middelweerstandige tuberkulose het. Dit staan bekend as MDR-TB, afgelei van die Engelse multidrug-resistant TB. Die kenner het boonop bygevoeg dat die geskatte ses persent waarskynlik ’n onderskatting is.

Maar wat gebeur nou wanneer die middels teen MDR-TB tot oormaat van ramp óók nog misbruik of verkeerdelik toegedien word en dus ondoeltreffend raak? Dan is daar ’n massiewe probleem. Dit lei tot die ontstaan van die sogenaamde XDR-TB, ’n afkorting van die Engelse extensively drug-resistant tuberculosis, ’n soort TB wat hardnekkig weerstand bied teen selfs die doeltreffendse middels teen tuberkulose waarmee die mediese wetenskap nog vorendag kon kom.

Vrese dat XDR-TB in die toekoms tot ’n tuberkulose-epidemie kan ly wat slegs in ’n beperkte mate behandel kan word, is hoegenaamd nie ongegrond nie.

XDR-TB het in 2006 die die eerste keer wyd onder die aandag van die mensdom gekom nadat ’n verslag oor ’n uitbraak in Suid-Afrika die wêreld ingestuur was. Van die 53 pasiënte met XDR-TB in die Church of Scotland-Hospitaal op die dorp Tugela Ferry,  KwaZulu-Natal, het almal behalwe een gesterf. Sedertdien was daar ook ander sterftes in Suid-Afrika.

Hoeveel mense reeds wêreldwyd aan hierdie aansienlik middelweerstandige tuberkulose ly en daarvan gesterf het, is moeilik om te bepaal omdat soveel lande nie die nodige toerusting en vermoë het om dit behoorlik te diagnoseer nie. Daar is egter al geraam dat daar sowat 40 000 nuwe gevalle per jaar kan wees.
 

Die verskil tussen latente TB-infeksie
en TB-siekte

(Inligting deur U.S. Centers for Disease Control and Prevention)

Nie elkeen wat met TB-bakterieë besmet raak, word siek nie. Daar bestaan gevolglik twee TB-verwante toestande: latente TB-infeksie en aktiewe TB-siekte. Die verskille in die simptome en behandelings word hieronder uiteengesit.

Iemand met latente TB-infeksie Iemand met TB-siekte

Het geen simptome nie

 

Het simptome wat die volgende kan insluit :
- ’n  erge gehoes wat drie weke of langer kan duur
- pyn in die bors
- bloed of slym word uitgehoes
- swakheid of moegheid
- gewigsverlies
- geen eetlus nie
- koue rillings
- koors
- sweet snags

 

Voel nie siek nie

Voel gewoonlik siek

Kan nie TB-bakterieë na andere versprei nie

Kan moontlik TB-bakterieë na andere versprei

’n Vel- of bloedtoets dui gewoonlik TB-infeksie aan

’n Vel- of bloedtoets dui gewoonlik TB-infeksie aan

X-straal van die bors is normaal en speekseltoets is negatief

X-straal van die bors kan abnormaal wees en ’n speekseltoets positief

Het behandeling nodig vir  latente TB-infeksie om aktiewe TB-siekte te voorkom

Het behandeling nodig vir aktiewe TB-siekte

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad