|
Lang Hans van Rensburg en
Louis Trichardt
LOUIS
TRICHARDT [voorstelling REGS] se geselskap en dié van Lang Hans van
Rensburg was die eerste wat die uittog uit die Kolonie na die noorde
aangedurf het. Met hul trekke was hulle baanbrekers in ’n ruwe en
onontwikkelde land.
Trichardt (gebore in die wyk Kango—later Oudtshoorn—op 10 Augustus
1783, en oorlede in wat vandag Maputo is op 25 Oktober 1838) was ’n lid
van ’n gesiene familie in die oostelike grensdistrikte van die
Kaapkolonie.
Deur sy dagboek, waarin hy selfs die geringste besonderhede
aangeteken het, leer ons hom en sy mense ken soos geen ander
trekgeselskap in die geskiedenis nie.
Sy trek het in die begin van 1836 met nege mans, nege vroue en 31
kinders oor die Oranjerivier beweeg. Dit was kort op die hakke van
Van Rensburg se trek van tien mans, tien vroue en dertig kinders.
Trichardt-hulle moes ervaar hoe die Van Rensburg-groep, wat net soos
hulle in April 1836 die Vaalrivier oorgesteek het, later nadat hulle
geskei geraak het, as ’t ware in die niet verdwyn het. Lang Hans (’n
eie neef van ’n ander trekkerleier, Potgieter) en sy mense is
vermoedelik deur die Sjangaans by die samevloeiing van die Olifants-
en Limpoporivier gedood.
Trichardt het by ’n Magwamba-hoof ’n spieël, verkyker, geweer en
gordel gesien, en jare later is ’n paar ou gewere gevind—ál
oorblyfsels van die Van Rensburg-trek.
Deur wel en wee, deur hoop en ontberinge volg ons die oorblywende
voorste Voortrekkers verder tot waar Trichardt sy dagboek skielik
afsluit met die smartkreet: "Mijn Liefste en Dierbaar pand wierd van
mijn voor Eewig genomen." Só beskryf hy die dood van sy vrou,
Martha, aan koors.
Dit was in vandag se Maputo, die destydse Delgoabaai, later Lourenco
Marques. Daar het die Trichardt-trek ná al die swoeg en swaarkry met
die dood van Martha, Trichardt self en nog 22 trekkers tot ’n
rampspoedige einde gekom. Die oorlewendes is per skip na Port Natal,
waar hulle hulle by ander trekkers aangesluit het wat toe reeds in
Natal was.
Bestaan daar enige afbeeldings van Trichardt en Van Rensburg? Van
Lang Hans, lyk dit, hoegenaamd niks; nie eens ’n beskrywing van hoe
hy gelyk het, kon opgespoor word nie (al wat ons weet, is dat hy bes
moontlik lank was!)
Ons illustrasie hierbo van Trichardt is gegrond op ’n vermoedelike
portret van hom wat kort voor sy dood in Delgoabaai geneem is. Hy
was volgens een bron ’n lang en gespierde man, sterk van aansyn en
met ’n effense haakneus.
•
Die dorp
Louis Trichardt, aan die voet van die Soutpansberg
in die provinsie Limpopo, is in 1899 gestig en na die ou
Voortrekkerleier genoem, wat tydens sy veelbewoë trek ook daar naby
vertoef het. Beswaardes het hul verset teen die dorp se
naamsverandering na Makhado, die naam van ’n negentiende-eeuse
Venda-koning, tot in die Appèlhof gevoer. Die naamsverandering (in
2003) is in 2007 deur die hof ongedaan gemaak.

BO: Die
dorp Louis Trichardt, soos dit destyds deur Jacob
Hendrik Pierneef (1886-1957)
geskilder is.
Andries Potgieter
ANDRIES HENDRIK POTGIETER
[voorstelling REGS], wie se trek van
tweehonderd siele die eerste georganiseerde trek uit die Kolonie
was, was in die distrik Tarka, waar hy gewoon het, ’n man van
aansien.
Sy trek, wat uit mense uit die distrikte Tarka en Colesberg bestaan
het, het net voor die winter van 1836 in die omgewing van die
Vetrivier in die latere Vrystaat aangekom.
Volgens die beskrywing van tydgenote was Potgieter ’n groot man,
sterk gebou en met ’n indrukwekkende voorkoms. Sy baard en hare was
donkerbruin met ’n rooi skynsel, en een bron verwys na die
breërandhoed wat hy in die week gedra het, maar ’n hoëbolkeil met
plegtighede.
Die illustrasie hierbo is gegrond op sekere van daardie inligting,
maar ook grootliks op ’n skets wat heel moontlik in 1837 gemaak is.
Daar word gesê dat hy ’n man was met ’n goeie insig van sake en wat
ook geweet het om gehoorsaamheid van sy onderhoriges af te dwing; hy
het nie maklik teenstand geduld nie.
Potgieter is op 19 Desember 1792 in die distrik Graaff-Reinet
gebore, en drie dae voor sy sestigste verjaardag op 16 Desember 1852
op Schoemansdal, Soutpansberg, oorlede. In die Suid-Afrikaanse
geskiedenis staan sy verskille met en verwydering van ander
trekkerleiers voorop.
En tog, sonder om op die besonderhede in te gaan, kan sy enorme
aandeel in die oopstellling van die binneland nooit oor die hoof
gesien word nie.
Die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek beskryf hom as ’n
omstrede figuur wat deur veel bewierook en deur eweveel veroordeel
is, maar verklaar ook dat die waarheid waarskynlik tussen hierdie
uiterstes lê.
Hy was bedeeld met ’n kragtige persoonlikheid en natuurlike
leierstalente wat hom by uitstek die temmer van ’n woeste land gemaak het.
Potgieter was vier maal getroud en het sewentien kinders gehad, van
wie twee by geboorte dood is.
Hy sou nog die erkende vryheid van Transvaal as Boererepubliek
geniet, maar dit sou hom nie lank gegun word nie. Lang reise te
perd, die spanning van menige veldtog en die borswater het sy kragte
uitgeput. Hy is op Schoemansdal begrawe.
•
Potgieter was die stigter van die dorp Mooiriviersdorp of Vryburg,
wat later hernoem is tot Potchefstroom—“Pot” vir Potgieter en “chef”
vir die leier wat hy inderdaad was.
Gerrit Maritz
GERHARDUS MARTHINUS (GERRIT) MARITZ
[voorstelling LINKS] was ’n
uitmuntende wamaker en een van die vermoëndste manne op
Graaff-Reinet voordat hy met sy trek van honderd waens en
sewehonderd mense die beskawing vir die destydse wildernis verruil
het.
Volgens die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek het die beste en
mooiste waens uit sy wamakery gekom. Dit is byvoorbeeld bewys deur
sy eie sewe spoggerige kakebeenwaens waarmee hy op trek gegaan het:
blou geskilder en nie met die ronde tente van die gewone
kakebeenwaens nie, maar met platboog- of kaptente, wat hulle ’n
mooier fatsoen gegee het.
Die produkte van sy wamakery was tekenend van die man self: ’n baie
presiese persoonlikheid.
Maritz (gebore in Maart 1797 in die distrik Graaff-Reinet en oorlede
in sy vroeë veertigs op 23 September 1838 in Natal) was vir sy tyd
’n belese en ontwikkelde persoon. Soos in Die Huisgenoot se
Gedenkuitgawe van die Groot Trek in Desember 1938 vertel word, was
hy groot en fris gebou, met ’n donkervaal baard.
Daar bestaan geen portret van Maritz nie. Ons illustrasie hierbo is
grotendeels gegrond op ’n denkbeeldige portret wat op kontemporêre
beskrywings van die trekkerleier gebaseer is. (SA Biblioteek.)
Toe hy 22 was, het Maritz met die vyftienjarige Angenitha Olivier
getrou, wat hom vier seuns en twee dogters geskenk het.
As Voortrekkerleier was daar soms die onverkwiklike botsings tussen
hom en Potgieter en Uys, maar dan is mense met sulke sterk
persoonlikhede ongelukkig ook dikwels minder buigsaam van gees.
Maritz het nietemin by sy tydgenote bekend gestaan as ’n godvresende
man wat sy medemens gehelp het waar hy kon. Ofskoon hy kortgebonde
was, het hy van ’n grap gehou en kon hy hartlik lag. Hy was dan ook
die leier na wie die trekkers in Natal opgesien het in hul donkerste
uur nadat Retief op Hloma Amabutho gedood is, Uys gesneuwel het en
Potgieter Transvaal toe uitgewyk het. Maar dit sou Maritz nie
beskore wees om sy mense in die deurslaggewende oorwinning aan te
voer nie.
Liggaamlik verswak, het hy om elfuur daardie Septembernag in sy laer
aan die oewers van die Klein Tugela gesterf. Op sy lippe was dié
sugting: “Dit het met my gegaan soos Moses, ek het die beloofde land
gesien, maar bewoon sal ek dit nie.”
Dit het berus by ’n man soos Andries Pretorius—wat uit die
Kaapkolonie gekom het ten einde hom by die trekkers aan te sluit—om te
voltooi wat Maritz en andere aangevoor het.
Piet Retief
PIETER
MOURIETS (PIET) RETIEF
[voorstelling REGS]
sou dié samebindende leier van
die Groot Trek kon geword het, as dit nie was dat die Voortrekkers
sulke inherente individualiste was nie. Hoogs bekwaam en geëer, sou
die mantel van goewerneur wel dadelik op hom val die oomblik toe hy
hom by die ander trekkers aansluit, maar hierdie aanwysing het
ongelukkig nie die leierstryd laat verdwyn nie.
Hy was ’n sakeman, en waarskynlik ook die geleerdste onder die
trekkers. Hy het met 120 weerbare manne en sowat honderd waens
gekom, en in dié was ook sy vrou, Magdalena (vroeër die weduwee
Greyling), en hul twee seuns en twee dogters. Sy dogters was albei
so mooi dat dit aanleiding gegee het tot die naam van sy plaas by
Riebeek-Oos—Mooimeisiesfontein.
Maar een van die tragedies in sy lewe was dat mislukte
sakebedrywighede hom in 1832 vir ’n kort rukkie in die sogenaamde
“debtors’ yard” in die Grahamstadse tronk laat beland het.
Retief (gebore in die Wamakersvallei, Wellington, op 12 November
1780 en gedood by Dingaanstat, Zoeloeland, op 6 Februarie 1838) was
die skrywer van die bekende Retief-manifes. Daarin het hy die redes
bekend gemaak waarom die trekkers die Kaapkolonie verlaat. Sowat
honderd jaar later sou ’n geleerde nog sê dat die geskiedenis van
die hele Suid-Afrika tot op daardie tydstip net kommentaar op die
Retief-manifes was.
Die verhaal van sy dood is oorbekend: hoe hy van die Zoeloekoning
Dingane die belofte gekry het van ’n groot stuk grond, wat alles
daartoe gelei het dat hy, sewentig manskappe en ’n groot aantal
agterryers doodgemaak is.
Daar bestaan, sover bekend, geen outentieke afbeelding van Retief
nie. Hy het aan die Oosgrens wel ’n skildery van hom laat maak wat
ongelukkig verlore gegaan het. Ons illustrasie is gegrond op die
bekende “identikit” wat deur Eric Stockenström saamgestel is,
gebaseer op die gesigte van Retief se broer en suster.
Uit oorlewering weet ons dat hy ’n man van middelmatige grootte was,
effens donker van kleur, met swart hare en baard en ernstige maar
vriendelike gelaatstrekke.
“Uit alles,” skryf Die Huisgenoot in Desember 1938, “kry ons die
indruk dat hy ’n gebore leier was, ’n man met ’n sterk
persoonlikheid en groot deursettingsvermoë, maar daarby was hy
sagmoedig en vriendelik van aard en ’n man van innerlike godsvrug.
Die verslaendheid en gevoel van hulpeloosheid wat sy heengaan onder
die trekkers veroorsaak het, was meteens die maatstaf van sy
grootheid.”
•
Daar is twee verklarings vir die oorsprong van die naam van
Pietermaritzburg, die hoofstad van die provinsie KwaZulu-Natal.
Die bekende verklaring is dat dit genoem is na
Piet(er)
Retief sowel as Gerrit Maritz.
Volgens ’n tweede verklaring is Piet Retief
egter alleen vernoem en is sy voorname—te wete Pieter
Mouriets—opgeneem in “Pieter Mouriets Burg”, wat later as
Pietermaritzburg herinterpreteer sou word.
•
Die dorp Piet Retief in die provinsie Mpumalanga dra ook Piet Retief
se naam.
Piet Uys
PIETER LAFRAS (PIET) UYS
[voorstelling LINKS] was die eintlike
leier van die trek van Jacobus Uys, sy bejaarde pa van diep in die
sestig. Die geselskap het uit sowat honderd mense bestaan wat van
Uitenhage af getrek het. Hulle was een van die laaste georganiseerde
groepe wat die Kaapkolonie met die Groot Trek verlaat het.
Hoewel hy nie ’n lang man was nie, was Piet Uys goed gebou, met
groot bruin oë, ’n vol baard, bruin hare en ’n sterk stem. Hy was
vriendelik en hoog geëerd onder sy mense.
Uys is op 10 Julie 1797 op Potteberg (Swellendam) gebore. Hy het in
1815 met ’n niggie van hom, Alida Maria Uys, getrou en die egpaar
het drie seuns gehad. Hy is op 11
April 1838 by Italeni oorlede, die enigste Voortrekkerleier wat
tydens die Groot Trek in ’n geveg gesneuwel het. Die bygaande illustrasie is gegrond op
’n denkbeeldige portret van hom (SA Biblioteek).
Die Uyse het dit van die begin af laat blyk dat hulle hulle apart
hou van die ander trekgroepe, maar besluit tog ook om Natal as
woonplek te kies. Uys vind dit egter uiters moeilik om met Maritz
saam te werk.
Ná die Bloukransmoorde word daar dringend na hom en Potgieter om
hulp opgesien om staande te bly teen die plundermagte van Dingane,
maar gebrek aan samewerking loop uit op die nederlaag by Italeni,
waar Uys sneuwel. Potgieter word van lafhartigheid beskuldig, en hy
verlaat daarom Natal.
Uys se jong seun Dirkie het by Italeni saam met sy pa in die voorste
geledere geveg en gesneuwel. Hy is as kinderheld gehuldig omdat hy
sou geweier het om te vlug toe hy bemerk dat sy pa dodelik gewond
was (lees meer oor Dirkie Uys ondertoe in hierdie artikel).
Wat val dadelik op as ’n mens die verskillende trekkerleiers so naas
mekaar beskou? Vir eers hul onwrikbaarheid en vermoë om die leiding
te neem, hul volharding in die sake waarin hulle geglo het. Maar dan
was daar ook die onderlinge tweedrag, wat volgens baie waarnemers
dikwels tekenend was van die Boere. Dié het maar deur al die jare
heen
onder mekaar getwis en gestry—miskien juis omdat daar so baie leiers onder
hulle was!
•
Maar is daar dan geen groterige plek in die land wat Piet Uys se
naam dra nie? Blykbaar nie en ’n mens kan wel wonder waarom. As die
leser egter van só ’n plek weet, verneem ons baie graag daarvan. Een
betreklik onvermeldingswaardige vernoeming van Uys wat hierdie
navorser kon opspoor, is die naam van ’n stasie tussen Sannaspos en
Wepener in die Vrystaat—as daardie stasie nog bestaan. Die stasie is
Uysklip genoem, in navolging van die sogenaamde Uysklip, die plek
waar Piet Uys ’n verbond met Moroka, opperhoof van die Barolong,
gesluit het.

BO: ’n Ou
voorstelling van swart krygers by modelle van Boerewaens
adem iets van ’n lank vergange tyd in die Suid-Afrikaanse
geskiedenis.
Foto: U.S. Library of Congress
|
Dirkie Uys, kinderheld van die Groot Trek
Y aan sy
sneuwel hulle… die Voortrekkerleier en sy dapper jong
seun, wat botweg geweier het om sy sterwende pa op die
slagveld agter te laat en te vlug, soos sy pa hom beveel
het om te doen.
Só lui die
heldeverhaal oor Dirkie Uys, tienerseun van Piet Uys, in
een van die aangrypendste gebeurtenisse in die veelbewoë
lotgevalle van die Trekkers: die Slag by Italeni, in die
huidige KwaZulu-Natal.

REGS: Dirkie Uys probeer sy gewonde pa beskerm net om
self te sterf, volgens ’n paneel in die
Voortrekkermonument, Pretoria.
Geskiedkundiges verskil kennelik oor hoe oud Dirkie was
op daardie droewige dag in April 1838, want sy ouderdom
word deur verskillende bronne as twaalf, dertien en
vyftien aangegee. Verskeie van die ou bronne stel dit
egter op slegs twaalf jaar.
Nadat die
Voortrekkerleier Piet Retief en sy manne in Februarie
1838 deur die Zoeloe-koning Dingane om die lewe gebring
was, is Voortrekkers elders ook deur die Zoeloes
aangeval en gedood. Dit was ’n donker tyd vir die
verpletterde Trekkers, van wie die meeste met alle
geweld uit Natal wou padgee. Die Voortrekkervroue het
egter voet by stuk gehou dat hulle nie Natal sou verlaat
voordat Dingane gestraf is nie.
Hierdie
Natalse Voortrekkers het ’n beroep op Trekkers elders
gedoen om hulle te help, veral op die trekke van Piet
Uys en Andries Hendrik Potgieter in die Vrystaat. Ná ’n
onenigheid oor watter leier die strafekspedisie teen die
Zoeloes moes lei, is besluit dat Uys en Potgieter met
gelyke status elk in bevel van sy eie kommando sou
wees—iets wat uit ’n militêre oogpunt gesien ’n groot
flater was. Uys se seun Dirkie was ook in sy pa se
kommando en saam het hulle in die voorste geledere
geveg.
Die tragiese
uiteinde was dat Uys dodelik gewond was deur ’n assegaai
terwyl hy twee van sy vasgekeerde manne te perd wou gaan
red. Die reddingsgeselskap moes noodgedwonge vlug, en
Uys het verskeie kere van sy perd afgeval omdat sy
kragte vinnig afgeneem het. Oplaas het hy finaal van sy
perd afgegly—of gevra dat die ander manskappe hom op die
grond moes neerlaat—en het hy hulle en Dirkie aangesê om
hulself te probeer red.
Oor presies
wat daarna gebeur het, verskil die historiese verslae.
Volgens die een weergawe sou Dirkie, wat reeds saam met
die meeste van vlugtendes ’n ent voor sy pa gery het,
teruggekyk en gesien het hoe die Zoeloes op sy sterwende
pa toesak. Hy sou sy perd omgeswaai en gestorm het met
die uitroep dat hy saam met sy pa sou sterf.
Hy sou drie
Zoeloe-krygsmanne geskiet het, voordat hy met
assegaaisteke van sy perd gedwing is.
Dirkie sou
langs pa geval het waarna altwee doodgesteek is.
Volgens ’n
ander weergawe
is dit
egter waarskynlik dat hy nie eers aanstaltes gemaak het
om sy pa alleen aan die Zoeloe-krysmanne oor te laat
nie, maar uit die staanspoor langs sy pa stelling
ingeneem het om weerstand te bied, voordat hy ook deur
die Zoeloes oorweldig is. Een ekspedisielid het selfs
vertel dat Dirkie eerste doodgesteek is en sy pa net
daarna.
Die
oorlewendes het so vinnig as moontlik na die
Buffelsrivier teruggetrek en die Zoeloes het die
agtervolging ná ’n tydjie gestaak.
’n
Derde weergawe van die Dirkie Uys-verhaal wil dit weer
hê dat hy en ’n ander jeugdige besig was om agter te
raak onder die vlugtendes toe hulle met hul perde ’n
waterstroom moes oorsteek waar die riete kol-kol dig aan
die oewers gegroei het. ’n Aantal Zoeloes het hulle in
die water aangeval. Die ander jeugdige het ontsnap, maar
Dirkie se perd het gegly en hy kon nie wegkom nie.
Ná die
Slag by Bloedrivier, toe die Trekkers Dingane se mag
gebreek het, is die oorskot van Piet Uys deur Trekkers
gevind wat daarna gaan soek het. Dirkie s’n is egter
nooit gekry nie. Een storie dat sop van sy lyk gekook en
gedrink is, is bes moontlik niks meer as ’n versinsel
nie.
Maar soos een navorser dit stel: “Laat ons nooit vergeet
dat die betreklike vrede en gees van naasbestaan wat ons
vandag in hierdie mooi land ervaar, meer as ’n eeu en ’n
half gelede ook met kinderbloed gekoop is nie.” |
 |