|
|
OBUS
besit ’n minibus en speel lankal met die gedagte om dit vir hom te laat
werk. Hy wil oorsese toeriste daarmee in sy omgewing rondneem, hulle die
besienswaardighede wys en hulle alte lekker bederf. Boonop
sal Kobus sy kragte inwerp in ’n lewenskragtige industrie wat lankal
besig is om een van ons land se belangikste bedrywe te word en wat
allerhande nuwe geleenthede vir entrepreneurs skep. Wie ’n behoefte in
hierdie nog betreklik nuwe mark raaksien, en planne kan uitvoer om daardie
behoefte te bevredig, vir hom of haar wag daar heelwat winste om die
draai, meen die kenners. Die
internasionale reis- en toerismebedryf sorg jaarliks vir ’n besteding
van letterlik biljoene rande en dis nie verniet dat
nagenoeg een uit elke tien werkers op aarde in ondernemings is wat daarmee
verband hou nie. Meer Suid-Afrikaners kan mos ook hul deeltjie hiervan
opeis. Soos een Suid-Afrikaanse geleerde dit al gestel het: “Om jou in toerisme te begewe, is harde werk, maar het die mense van ons stoffasie nou al ooit vir harde werk geskrik?” Toerisme
in die breë—wat behels dit? ALLE toeriste is besoekers. Tog word toeriste amptelik van gewone besoekers onderskei as mense wat langer as een nag oorbly in die land waar hulle aandoen. Toerisme
is vandag nie net bes moontlik die węreld se grootste bedryf nie, maar
sorg ook vir die grootste vloei van mense oor die oppervlak van die aarde
heen. Dit is dus ’n belangrike instrument om verandering op ons planeet
teweeg te bring, terwyl party mense dit as een van die mees sigbare
manifestasies van globalisering beskou. Toeriste
en die ontwikkeling van toerisme raak feitlik elke land op die aardbol.
Reisigers uit anderland beďnvloed gemeenskappe, omgewings en ekonomieë,
baiemaal ten goede, maar soms ook op sorgwekkende maniere. Terselfdertyd
is toerisme ’n bron van groot pret en genot vir honderde miljoene mense
en smee dit bande tussen mense van verskillende węrelddele en kulture. In
die toerismebedryf is daar talle verskillende sektore, wat op die private
soveel as die openbare terrein fungeer. Ander bedrywe—soos die
vervaardigingsbedryf, boubedryf en die landbou—is ook nou betrokke by
die verskaffing van dinge en dienste wat toeriste nodig het. Ekotoerisme
is ’n woord wat
vandag
baie gebruik word vir reise na natuurgebiede om
skaars en pragtige ekosisteme te ervaar. Die belangrikste attraksie is die
gehalte en uniekheid van die natuurlike omgewing. Geskiedenis van die internasionale en Suid-Afrikaanse toerismebedryf “TOERIS”
en “toerisme” is vandag alledaagse woorde, maar hulle is
interessant genoeg in 1937 die eerste keer gebruik. Dit was deur die ou
Volkebond (die internasionale organisasie wat die voorloper van die
Verenigde Nasies was) wat daarmee mense aangedui het wat vir langer as 24
uur na die buiteland gegaan het. Die toeriste-verskynsel en die bedryf wat
daarmee saamgaan, is egter baie ouer. Trouens,
toerisme is reeds so oud as die bestaan van menslike reise—al word koning
George III van Engeland baiemaal as die eerste toeris beskou. Koning
George (1738-1820) het naamlik gereeld met vakansie na die kusoord
Weymouth uitgewyk wanneer hy nie te gesond gevoel het nie. Tog sou ’n
mens selfs die besoek van die koningin van Skeba aan koning Salomo in die
Bybelse tyd reeds as toerisme kan beskou. Om
die waarheid te sę, ryk mense het nog altyd na afgeleë węreldddele
gereis om indrukwekkende geboue en ander kunswerke te besigtig, nuwe tale
te leer of nuwe geregte te proe. In die tyd van die Romeinse Republiek was
plekke soos Baiae gesogte kusooorde vir die welgesteldes. Ook
Marco Polo se reise na die Ooste in die dertiende eeu en David
Livingstone s’n deur Afrika in die 1900’s is voorbeelde van vroeë
toerisme. Die Brit Thomas Cook word deur baie mense as die stigter van
inklusiewe toere beskou vanweë sy gebruik van ’n gehuurde trein in 1841
om toeriste van Leicester na Loughborough in Engeland te vervoer. Die
sukses van hierdie ekskursie het tot die stigting van die bekende Thomas
Cook-reisagentskap gelei. Die
toerismebedryf soos ons dit ken, het egter eers ná die Tweede Węreldoorlog
tot stand gekom—as gevolg van verskeie faktore soos verbeterde
lewensomstandighede en die ontstaan van gespesialiseerde toeroperateurs
wat buitelandse vakansies ook vir gewone mense (en nie net vir die rykes
nie) moontlik gemaak het. Hierdie
praktyk het ook uitgekring na Suid-Afrika, waar dit sedert die jare sewentig
werklik hoogmode geraak het om Europa te besoek—of die Ooste, die
Nuwe Węreld en selfs nader bestemmings soos Mauritius. In
die jare vyftig was die gemiddelde Suid-Afrikaanse blanke gesin uit die
binneland nog doodtevrede om vir ’n maand in ’n tent in, sę, Humewood
by Port Elizabeth te gaan kampeer. Twintig jaar later was dit nie meer
naastenby so respektabel as ’n besoek aan Londen, Switserland, Venesië
en die Griekse eilande nie. Groot
rolspelers in die moderne internasionale en Suid-Afrikaanse toerismebedryf
en hoe ons land by toerisme baat vind DIT
het spoedig geblyk dat dit nodig was om die breë internasionale
toerismebedryf onder een oorkoepelende liggaam saam te snoer. Die Węreld-Toerisme-Organisasie
(WTO) is dan ook op 2 Januarie
1975 in die lewe geroep vir die bevordering van toerisme om ekonomiese
ontwikkeling, begrip tussen kulture en vreedsame verkeer tussen
verskillende nasionaliteite aan te moedig. Die organisasie word deur die
Verenigde Nasies ondersteun en sy hoofkantoor is in Madrid, Spanje. Die WTO versamel inligting oor toerisme en bied tegniese steun en bestuurshulp aan sy baie lidlande en geaffilieerde lede in ’n węreld wat deesdae eintlik baie klein geword het. Dink byvoorbeeld daaraan dat Londen en Johannesburg vandag ’n skamele elf uur per straler van mekaar verwyder is (teenoor ’n paar maande in die ou dae). Lugreise raak boonop ál goedkoper—relatief gesproke—wat meebring dat steeds meer mense buitelandse reise onderneem. In
die Suid-Afrikaanse regering is dit die Departement van Omgewingsake
en Toerisme, onder mnr. Marthinus van Schalkwyk as die minister en me.
Joyce Mabudafhasi as sy adjunk, wat toerisme in ons land moet bevorder
en aangeleenthede daaromtrent moet koördineer. South African Tourism (SA Toerisme) is die amptelike internasionale bemakingsorganisasie wat Suid-Afrika as ’n toeristebestemming moet aanprys. Die organisasie bemark ons land se natuurskoon, groot verskeidenheid van wilde diere, kaleidoskoop van kulture en erfenisse, buiteluglewe, geleenthede vir sportbeoefening en avontuurtogte, ekotoerisme en konferensiegeriewe. Bemarking word deur middel van internasionale kantore węreldwyd gedoen, byvoorbeeld in Londen, Frankfurt, Amsterdam, Parys, Milaan, Sydney, New York en Tokio. Daarbenewens
is daar ’n
kolossale binnelandse netwerk van reisburo’s, busdienste, hotelle,
bed-en-ontbyt-herberge, ontspanningsoorde, vakansieplase, wildtuine,
vermaaklikheidsentrums en ’n duisternis ander ondernemings wat almal
daarop ingestel is om hul eie bepaalde happe of happies uit die enorme
Suid-Afrikaanse toerisme-koek te neem. Toerisme
dra 4,6 persent tot die bruto binnelandse produk van Suid-Afrika by,
terwyl die bedryf 550 000 mense in diens het. Elke nege toeriste in ons
land skep een regstreekse en twee onregstreekse werkgeleenthede. Maar waarvandaan kom die buitelanders wat SA besoek?SYFERS
wat deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) uitgereik is oor die buitelanders
wat ons land in byvoorbeeld ’n maand soos Maart 2005 besoek het, bied
ons ’n interessante blik op die teenswoordige Suid-Afrikaanse
toerismebedryf. Altesame
623.978
buitelandse besoekers het in dié maand Suid-Afrika aangedoen. Die
grootste getal uit ’n enkele oorsese land (54.437)
was uit Brittanje. Tog was daar 426.294
besoekers uit Afrika—mense wat ongelukkig nie die koopkrag het van die
relatief ryk Europeërs nie. Volgens ’n waarnemer kom die meeste
Afrikane uit buurlande hierheen vir sportbyeenkomste en inkopies en gaan
hulle by families tuis, nie in hotelle en dies meer nie. Die
uitdaging is egter nie om hierdie Afrika-stroom te verminder nie,
allermins, maar om veel meer toeriste te lok uit die ontwikkelde węreld
wat hul dollars en euro’s heel gewillig hier kan kom verkwis! Die
gewildste toeristebestemmings in SA
’N
“WĘRELD
in een land”—só word Suid-Afrika as toeristebestemming dikwels
beskryf. Van die Kaapse fynbos en die Karoobossies tot Hoëveldse
grasvlaktes en die KwaZulu-Natalse piesangwęreld is daar ’n
skouspelagtige uiteenlopendheid in die natuur waarmee beslis nie alle
lande kan spog nie. Boonop is ons land se mense van so ’n bonte
verskeidenheid van kulture en herkomste dat Suid-Afrikaners as die “reënboognasie” bekend geraak het. Maar
wat sal nou as die heel belangrikste toeristebestemmings in Suid-Afrika
beskou word, die attraksies wat feitlik ’n móét in elke
toerisme-brosjure is wat oor ons land saamgestel word? Oor
Tafelberg in die Kaap sal niemand twyfel nie. Elkeen se asem moet
eenvoudig weggeslaan word deur die uitsigte vanaf die sowat kilometer hoë
wagter oor die Moederstad, waarvan die kruin per kalbelkar bereik kan
word. Die
Kaap huisves boonop die geskiedkundige Kasteel, wat in 1679 voltooi is in
die tyd van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Hier is ook die Victoria
& Alfred Waterfront en die węreldberoemde Nasionale Botaniese Tuin Kirstenbosch. Kaappunt en die Wes-Kaapse wingerde is nog gesogte
besoekplekke. En
dan is daar natuurlik Robbeneiland, net buite Tafelbaai, waar duisende
plaaslike en internasionale toeriste al die ou gevangenis van oud-pres.
Nelson Mandela besoek het.
Teen
die ooskus op na KwaZulu-Natal, bereik ons Durban, die speelplek van
Suid-Afrika, met sy bedrywige strandfront, riksjas en nog wat. En dan is
die wonderlike Drakensberg die getuienis van ’n kataklismiese vulkaniese
uitbarsting in lank vergange eeue wat die aangesig van Suid-Afrika
onherroeplik verander het.
Bergklim,
perdry, gholf, hengel, fietsry, staptoere, noem maar op—Suid-Afrika bied
omtrent alles wat die buitelug-mens verlang. En vir teaterliefhebbers is
daar oorgenoeg opvoerings vir allerhande smake, hetsy Europees of
Afrika-georiënteerd. ’n Casino-speelplek soos Sun City in Noordwes het
weer ’n ander aanhang. Die noodsaak van volhoubaarheid en hoe ons toerisme kan bevorderVOLHOUBARE
toerisme kan beskryf word as ’n proses wat ontwikkeling laat plaasvind
sonder dat die hulpbronne geskend of uitgeput raak wat daardie
ontwikkeling moontlik gemaak het. Daar is byvoorbeeld groot kommer oor die
toestand van die Kangogrotte, naby Oudsthoorn, waar baie druipstene oor
die jare deur besoekers verniel en selfs verwyder is. Die
inagneming van die onderlinge afhanklikheid tussen toerisme en die
omgewing, asook tussen toerisme en kultuurerfenisse, is dus van wesenlike
belang waar toerismebeleide ook al geformuleer word. Daar
is geen rede om te vermoed dat Suid-Afrika se gewildheid as ’n
toeristebestemming gaan afneem nie, al
is ons land ongelukkig nog lank nie onder die voorste toeristelande op
aarde nie. Om die waarheid
te sę daar is aanduidings dat dit in die toekoms nog van krag tot krag
kan gaan en die uitdaging is om dit alles binne ’n volhoubare raamwerk
te laat gebeur. Suid-Afrikaners
is beslis ook nie ongeneë om hul vlerke in hierdie bedryf te sprei nie. Só
het die Zorgvliet-groep van Stellenbosch in 2005 een van die voorste
reisagentskappe in Brittanje oorgeneem om die groep se belange in die
internasionale arena uit te brei. Die Zorgvliet-groep bestaan uit onder
meer die Zorgvliet-wynlandgoed, die Ka'Ingo-wildplaas in die Limpopo en
die Riviera on Vaal Hotel- en Konferensie-oord by Vereeniging. Die Britse
reisagentskap wat oorgeneem is, is St. Andrews Travel, wat vereer is as
die beste Britse reisagent vir 2005. Mnr. Mac van der Merwe, besturende direkteur van die Zorgvlietgroep, het ’n interessante siening oor ons vooruitsigte op die gebied van toerisme. Hy het aan die Kaapse koerant Die Burger gesę: “Europeërs het baie opsies, en ons moet die feit aanvaar dat ons die posisie as voorkeurbestemming sal moet verdien. Daar is ’n aantal negatiewe faktore wat ons sal moet verander. Die opvatting oor veiligheid sal verander moet word, asook die ingesteldheid van Suid-Afrikaners teenoor besoekers, en of ons reisprodukte waarde vir geld bied.” Alle denkende Suid-Afrikaners sal met die toerisme-mense moet saamstem dat ons land eerder vroeër as later sy regmatige plek in die gallery van die węreld se top-toeristebestemmings moet inneem. Mense met blink idees moet net uitspring en werk maak van hul planne. |
|