Tik-mond!

Monde van tikgebruikers

BO: Al hoe meer skokfeite raak bekend oor die aaklige uitwerking wat die dwelm tik (metamfetamien) op verslaafdes kan hę—soos dat hul tande naderhand uit hul monde kan val, selfs al eet hulle net ’n eenvoudige ding soos ’n toebroodjie. Lees die artikel hieronder met sy ontstellende inligting... waarvoor elkeen van ons tog ook nie die oë durf sluit nie. Dit is lankal nodig dat hierdie euwel met veel groter betrokkenheid deur die breë gemeenskap hokgeslaan sal word...

Foto’s: Sharlee Shirley, RDH, MPH; Jim Cecil, DMD, MPH, University of Kentucky, School of Dentistry / via U.S. Department of Justice


VOORAF: Nadat die artikel hieronder geskryf was, is efedrien, die hoofbestanddeel van tik, tot ’n bylae 6-medisyne te verklaar. Dit beteken dat dit nou slegs op voorskrif gekoop kan word. Hierdie stap is allerweë verwelkom omdat dit ten minste beteken dat die klein vervaardiger van tik dit in die praktyk ál moeiliker sal vind om dié sleutelbestanddeel te bekom. Ongelukkig—skryf die Kaapse koerant Die Burger in sy kommentaar op 2 April 2008—maak dit geen duik aan die groot sindikate nie aangesien hulle in elk geval hul efedrien in die sluikhandel koop.
“Teen hierdie agtergrond het dit groter sin om die dwelmprobleem eerder langs die weg van omvattende maatskaplike programme te pak. Sowel die nasionale as die provinsiale en plaaslike regerings het... verskeie programme ingestel om met die bestryding van verslawing te help. Dié instansies het die ondersteuning van sowel die gesin as die gemeenskap in die breë nodig om effektief te wees,” skryf Die Burger.


 

Die dwelm (metamfetamien) wat in kombuise gemaak word... en reeds soveel verskrikking gesaai het onder kinders in die Kaap

  

TIK—die tikkende tydbom

  

Wat is hierdie verslawende dwelm wat die gebruiker aanvanklik so ekstaties gelukkig maak—net om hom mettertyd te laat hallusineer en dalk sy brein, sentrale senustelsel en eindelik liggaamswerkinge onherstelbaar kan beskadig?

 

Lees ook die Mieliestronk-artikel oor dwelmverslawing
 

  

“T

IK… jy raak ręrig ge-tik, man. Jy dink jy’t reeds die ewige geluksaligheid sommer net hier op die aarde beërwe, en etlike ure lank sweef jy op ’n wolk van euforie. Jy voel so opgekikker en energiek soos ’n windhond op ’n wildplaas. Jy kan maklik ’n hele nag lank wakker bly, en jy raak ook nie eintlik honger nie.

    

“Maar, boeta, dan val jy hard, verskriklik hard van jou wolkie af. Jy stort tot in die aakligste, gitswart put van depressie.... ”

 

Hierdie lewendige beskrywing deur iemand wat die uitwerking van die dwelm “tik” op die menslike psige bestudeer het, is tot op hierdie punt al heeltemal ontstellend genoeg. Maar dan gaan die verteller verder.

 

“Die swartgalligheid is ontsettend,” sę hy. “Jy hunker na die verruklike gevoel wat jy vantevore ondervind het en wend jou nogmaals tot tik—en gebruik dit weer en weer en weer.  Maar die probleem is dat jy al hoe meer van die dwelm nodig het om ‘hoog’ te raak. Dog hoe hard jy ook al probeer, jy kan nooit weer presies op dieselfde welbehaaglike  ‘hoogte’ kom as vroeër nie. Uiteindelik kan jy psigoties raak, waanbeelde sien, jou brein en sentrale senustelsel of jou hart kan selfs onherstelbaar beskadig raak. Dan is jy ’n jammerlike wrak van ’n mens. Jou lewe is onherroeplik deur ’n verfoeilike dwelm verwoes.

 

 “Die deel van jou brein wat genietinge ervaar, is afgestomp. Jy kan beswaarlik nog genot  in enigiets ervaar. Jy geniet nie meer jou gunsteling-kos nie.  ’n Middag saam met jou vriende is geen plesier meer nie.

 

“En liggaamlik kan jy so afgetakel raak dat jou tande uit jou mond val. Daar word vertel dat dit dalk kan gebeur as jy net ’n toebroodjie eet.  Die redes is dat tikgebruikers buitensporig baie gaskoeldranke met suiker daarin drink, geneig is om hul persoonlike higiëne te verwaarloos, hul kakebene klem en hul tande kners. Oorsee noem hulle dit ‘meth mouth’, omdat tik daar onder meer ook bekend is as ‘meth’.

 

“Maar veel erger selfs nog as ‘tik-mond’: hierdie skrikdwelm kan ’n verslaafde in sy of haar graf laat beland...”
 

 


TIK is ’n dwelmmiddel wat al geruime tyd sekere skoolkinders—veral in Kaapstad—in sy onheilige greep beet het. Skoolkinders? Nie studente en jong mense wat al kan werk nie? Dit kan ’n mens wel vra. Van die laasgenoemdes beproef natuurlik dikwels ook tik, maar dwelmbestryders vertel dat melktand-tieners so jonk as twaalf alte baie hierdie hoogs verslawende dwelm gebruik. Volgens kenners is dit boonop so gewoontevormend dat 94 persent van dié wat dit oor ’n tydperk van ses maande rook, daaraan verslaaf is.

 

Maar wat is tik eintlik?  Medici noem dit metamfetamien, ’n middel met verskillende mediese toepassings. Elders ter węreld staan dit ook bekend as meth, ice of Tina. Ander name daarvoor is byvoorbeeld tuk-tuk, straws en globes. Dit word partymaal ook Hitler se dwelm genoem, omdat Nazi-soldate dit glo in die Tweede Węreldoorlog gebruik het om hulle aggressiewer te maak en hulle lank wakker en paraat te hou.

 

In die geneeskunde sou metamfetamien wel sekere voordele kon hę indien dit as medisyne in goed beheerde en baie matige hoeveelhede gebruik word. Maar as onbeheerde dwelm is dit ’n euwel waarvoor daar geen regverdiging kan wees nie.

 

Metamfetamien stel baie groot hoeveelhede van die hormoon dopamien vry, wat die breinselle stimuleer. Die chroniese misbruik van metamfetamien verander die manier waarop die brein funksioneer.

 

Die middel is verkrygbaar in verskillende vorms, van ’n fyn poeier tot groter kristalle. As kristalle word dit dikwels in strooitjies verkoop, en dit kan ingesnuif, ingesluk, ingespuit of gerook word. In Suid-Afrika word dit meestal gerook. Die dwelm word gerook vanuit ’n gloeilamp waarvan die binnedeel verwyder is of deur ’n glasbuis met ’n bol aan die een ent. Die bol word met ’n sigaretaansteker verhit en die roker trek dan die dampe in sy of haar longe in.

 

Om sake te vererger, word die metamfetamien meermale in ’n mengsel verkoop, saam met byvoorbeeld stysel, glukose, bakpoeier, talkpoeier, selfs hoofpynpoeier of die bitter koorsweermiddel kinien. Nog byvoegings, vertel ’n kenner, kan gevaarlike gifstowwe soos batterysuur, swembadsuur of lampolie wees. Dan is die gevolge vir die gebruiker des te verskrikliker.

 

’n Groot probleem is dat dit so goedkoop is in vergelyking met ander dwelms—miskien so R40 tot R60 vir ’n dosis—en dat dit boonop so maklik verkrygbaar is. Daar is in die 1990’s bekend gemaak dat dit selfs natuurlik voorkom in minstens een soort Amerikaanse akasiaboom. Dit word egter sinteties uit die stimulant efedrien berei, soos reeds in 1893 die eerste keer deur ’n skeikundige in Japan. Só word tik steeds gemaak met efedrien en ander bestanddele wat vrylik te kry is.

 

Soos een dwelmbestryder in die Suid-Afrikaans Polisiediens dit stel: “Dit is ’n dwelm wat jy in jou kombuis kan berei uit bestanddele wat jy oor die toonbank kan koop.” In aansluiting hierby vertel ’n universiteitsdosent dat ’n gewetenlose bereider ’n heel winsgewende besigheid daarvan kan maak en maklik R4000 per dag in sy sak kan steek. Omdat dit tuis vervaardig kan word, beskou baie mense dit boonop nie as onwettig nie en dink hulle nie daaraan as ’n dwelm nie.

 

DIE gebruiker se betreklik kort euforie tydens sy eerste kennismaking met tik is dikwels die begin van ’n langtermyn-hel. Tikslawe vernietig nie net hulself nie, maar kan hele gesinne vernietig, soos wanneer die gebruikers begin steel om die tik te kan bekostig. Pa’s jaag hulle weens hul lang vingers uit die huis om self te sien kom klaar. Ma’s ontferm hulle oor die kinders en draai teen die pa’s wat hulle as te hardvogtig beskou. Die uiteinde is ’n tragedie wat verskillende lewens baie nadelig raak.

 

Só is dit dan met tik. Aanvanklik het jy, soos die dwelmbestryder sę, “geen bekommernisse nie, jy voel so vry soos ’n voël”. Dan volg die afhanklikheid waartydens jy rare obsessies kan ontwikkel en oor en oor dieselfde handelinge kan uitvoer soos om jou hande te was of dinge inmekaar te sit net om dit weer uitmekaar te haal. Woede-uitbarstings, geweldpleging, verwardheid en slaaploosheid kan simptome wees van die verslaafde.

 

Maar presies wanneer verander misbruik in verslawing? Dis asof daar ’n spreekwoordelike “skakelaar” in die brein is wat op ’n sekere tydstip “aanskakel”. Die punt wanneer dit gebeur, wissel van mens tot mens, maar met hierdie “aanskakeling” verander die dwelmgebruiker in ’n willose dwelmslaaf.

 

Die vraag kan gestel word waarom soveel jong gebruikers nog willens en wetens met tik eksperimenteer—en verslaaf raak—ten spyte van ernstige veldtogte om die gevare vir hulle uit te spel. Dit is nie anders as met ander soorte dwelms nie. Verskillende faktore kan daartoe lei, soos groepsdruk, huislike omstandighede, depressie, verveeldheid, ’n slegte selfbeeld, onkunde, die lys is lank.

 

Maar veral in gemeenskappe waar tik ’n wesenlike gevaar is, is dit belangrik dat ouers, ander volwassenes, broers, susters en verantwoordelike maats die volgende tekens by kinders in ’n baie ernstige lig sal beskou:

 

•  Die kind is aggressief, waar hy voorheen nie aanvallend van aard was nie;

•  hy kom beangs voor;

•  hy praat vinnig en miskien selfs ’n ander soort “taal” as voorheen (die groepsdialek van sy maats wat ook met dwelms deurmekaar is);

•  die gewoonlik ingetoë kind borrel nou oor van die selfvertroue;

•  hy dwaal snags rond, in die huis of elders, omdat hy nie kan slaap nie;

•  hy kla dikwels van hoofpyn;

•  hy eet baie min en kan self maer word as gevolg daarvan;

•  die kykers in sy oë is groot;

•  hy hallusineer of sy gedrag is andersins sielkundig afwykend;

•  jy ontdek sekere voorwerpe by hom of in sy kamer wat met tik-gebruikers verselwig word, soos gloeilampe en rondeboom-glasbuise.

Wat is dwelms? Die basiese verduideliking

DWELMS is chemikalieë wat dele van die brein aktiveer wat vir heeltemal ander doeleindes ontwerp is, naamlik om ’n gevoel van beloning te verskaf vir gewone behoeftes wat op gesonde maniere bevredig is. Die brein het weinig middele om ’n mens teen hierdie chemiese bedrog te verweer.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad