VOORAF: Nadat die artikel hieronder geskryf was, is efedrien, die
hoofbestanddeel van tik, tot ’n bylae 6-medisyne te verklaar. Dit
beteken dat dit nou slegs op voorskrif gekoop kan word. Hierdie stap
is allerweë verwelkom omdat dit ten minste beteken dat die klein
vervaardiger van tik dit in die praktyk ál moeiliker sal vind om dié
sleutelbestanddeel te bekom. Ongelukkig—skryf die Kaapse koerant Die
Burger in sy kommentaar op 2 April 2008—maak dit geen duik aan die
groot sindikate nie aangesien hulle in elk geval hul efedrien in die
sluikhandel koop.
“Teen hierdie agtergrond het dit groter sin om die dwelmprobleem
eerder langs die weg van omvattende maatskaplike programme te pak.
Sowel die nasionale as die provinsiale en plaaslike regerings het...
verskeie programme ingestel om met die bestryding van verslawing te
help. Dié instansies het die ondersteuning van sowel die gesin as
die gemeenskap in die breë nodig om effektief te wees,” skryf Die
Burger.
Die dwelm
(metamfetamien)
wat in kombuise gemaak word... en reeds soveel verskrikking gesaai
het onder kinders in die Kaap
TIK—die tikkende tydbom
Wat is hierdie verslawende dwelm wat die gebruiker aanvanklik so
ekstaties gelukkig maak—net om hom mettertyd te laat hallusineer en
dalk sy brein, sentrale senustelsel en eindelik liggaamswerkinge
onherstelbaar kan beskadig?
•
Lees ook die Mieliestronk-artikel oor
dwelmverslawing

IK… jy raak
ręrig ge-tik,
man. Jy dink jy’t reeds die ewige geluksaligheid sommer net hier op
die aarde beërwe, en etlike ure lank sweef jy op ’n wolk van
euforie. Jy voel so opgekikker en energiek soos ’n windhond op ’n
wildplaas. Jy kan maklik ’n hele nag lank wakker bly, en jy raak ook
nie eintlik honger nie.
“Maar,
boeta, dan val jy hard, verskriklik hard van jou wolkie af. Jy stort
tot in die aakligste, gitswart put van depressie.... ”
Hierdie
lewendige beskrywing deur iemand wat die uitwerking van die dwelm
“tik” op die menslike psige bestudeer het, is tot op hierdie punt al
heeltemal ontstellend genoeg. Maar dan gaan die verteller verder.
“Die
swartgalligheid is ontsettend,” sę hy. “Jy hunker na die verruklike
gevoel wat jy vantevore ondervind het en wend jou nogmaals tot
tik—en gebruik dit weer en weer en weer. Maar die probleem is dat
jy al hoe meer van die dwelm nodig het om ‘hoog’ te raak. Dog hoe
hard jy ook al probeer, jy kan nooit weer presies op dieselfde
welbehaaglike ‘hoogte’ kom as vroeër nie. Uiteindelik kan jy
psigoties raak, waanbeelde sien, jou brein en sentrale senustelsel
of jou hart kan selfs onherstelbaar beskadig raak. Dan is jy ’n
jammerlike wrak van ’n mens. Jou lewe is onherroeplik deur ’n
verfoeilike dwelm verwoes.
“Die deel
van jou brein wat genietinge ervaar, is afgestomp. Jy kan beswaarlik
nog genot in enigiets ervaar.
Jy geniet nie meer
jou gunsteling-kos nie. ’n
Middag saam met jou vriende is geen plesier meer nie.
“En
liggaamlik kan jy so afgetakel raak dat jou tande uit jou mond val.
Daar word vertel dat dit dalk kan gebeur as jy net ’n toebroodjie
eet. Die redes is dat tikgebruikers buitensporig baie
gaskoeldranke met suiker daarin drink, geneig is om hul persoonlike
higiëne te verwaarloos, hul kakebene klem en hul tande kners. Oorsee
noem hulle dit ‘meth mouth’,
omdat tik daar onder meer ook bekend is as ‘meth’.
“Maar veel erger selfs nog as
‘tik-mond’: hierdie skrikdwelm kan ’n verslaafde in sy of haar graf
laat beland...”

TIK
is ’n dwelmmiddel wat al geruime tyd sekere
skoolkinders—veral in Kaapstad—in sy onheilige greep beet het.
Skoolkinders?
Nie
studente en jong mense wat al kan werk nie? Dit kan ’n mens wel vra.
Van die laasgenoemdes beproef natuurlik dikwels ook tik, maar
dwelmbestryders vertel dat melktand-tieners so jonk as twaalf alte
baie hierdie hoogs verslawende dwelm gebruik. Volgens kenners is dit
boonop so gewoontevormend dat 94 persent van dié wat dit oor ’n
tydperk van ses maande rook, daaraan verslaaf is.
Maar
wat is tik eintlik? Medici noem dit metamfetamien, ’n middel met
verskillende mediese toepassings. Elders ter węreld staan dit ook
bekend as meth, ice of Tina. Ander name daarvoor is
byvoorbeeld tuk-tuk, straws en globes. Dit word
partymaal ook Hitler se dwelm genoem, omdat Nazi-soldate dit
glo in die Tweede Węreldoorlog gebruik het om hulle aggressiewer te
maak en hulle lank wakker en paraat te hou.
In die
geneeskunde sou metamfetamien wel sekere voordele kon hę indien dit
as medisyne in goed beheerde en baie matige hoeveelhede gebruik
word. Maar as onbeheerde dwelm is dit ’n euwel waarvoor daar geen
regverdiging kan wees nie.
Metamfetamien stel baie groot hoeveelhede van die hormoon dopamien
vry, wat die breinselle stimuleer. Die chroniese misbruik van
metamfetamien verander die manier waarop die brein funksioneer.
Die middel
is verkrygbaar in verskillende vorms, van ’n fyn poeier tot groter
kristalle. As kristalle word dit dikwels in strooitjies verkoop, en
dit kan ingesnuif, ingesluk, ingespuit of gerook word.
In Suid-Afrika word
dit meestal gerook.
Die dwelm
word gerook vanuit ’n gloeilamp waarvan die binnedeel verwyder is of
deur ’n glasbuis met ’n bol aan die een ent. Die bol word met ’n
sigaretaansteker verhit en die roker trek dan die dampe in sy of
haar longe in.
Om
sake te vererger, word die metamfetamien meermale in ’n mengsel
verkoop, saam met byvoorbeeld stysel, glukose, bakpoeier,
talkpoeier, selfs hoofpynpoeier of die bitter koorsweermiddel
kinien. Nog byvoegings, vertel ’n kenner, kan gevaarlike gifstowwe
soos batterysuur, swembadsuur of lampolie wees. Dan is die gevolge
vir die gebruiker des te verskrikliker.
’n Groot
probleem is dat dit so goedkoop is in vergelyking met ander
dwelms—miskien so R40 tot R60 vir ’n dosis—en dat dit boonop so
maklik verkrygbaar is. Daar is in die 1990’s bekend gemaak dat dit
selfs natuurlik voorkom in minstens een soort Amerikaanse
akasiaboom. Dit word egter sinteties uit die stimulant efedrien
berei, soos reeds in 1893 die eerste keer deur ’n skeikundige in
Japan. Só word tik steeds gemaak met efedrien en ander bestanddele
wat vrylik te kry is.
Soos een
dwelmbestryder in die Suid-Afrikaans Polisiediens dit stel: “Dit is
’n dwelm wat jy in jou kombuis kan berei uit bestanddele wat jy oor
die toonbank kan koop.” In aansluiting hierby vertel ’n
universiteitsdosent dat ’n gewetenlose bereider ’n heel winsgewende
besigheid daarvan kan maak en maklik R4000 per dag in sy sak kan
steek. Omdat dit tuis vervaardig kan word, beskou baie mense dit
boonop nie as onwettig nie en dink hulle nie daaraan as ’n dwelm
nie.
DIE
gebruiker se betreklik kort euforie tydens sy eerste kennismaking
met tik is dikwels die begin van ’n langtermyn-hel. Tikslawe
vernietig nie net hulself nie, maar kan hele gesinne vernietig, soos
wanneer die gebruikers begin steel om die tik te kan bekostig. Pa’s
jaag hulle weens hul lang vingers uit die huis om self te sien kom
klaar. Ma’s ontferm hulle oor die kinders en draai teen die pa’s wat
hulle as te hardvogtig beskou. Die uiteinde is ’n tragedie wat
verskillende lewens baie nadelig raak.
Só
is dit dan met tik. Aanvanklik het jy, soos die dwelmbestryder sę,
“geen bekommernisse nie, jy voel so vry soos ’n voël”. Dan volg die
afhanklikheid waartydens jy rare obsessies kan ontwikkel en oor en
oor dieselfde handelinge kan uitvoer soos om jou hande te was of
dinge inmekaar te sit net om dit weer uitmekaar te haal.
Woede-uitbarstings, geweldpleging, verwardheid en slaaploosheid kan
simptome wees van die verslaafde.
Maar
presies wanneer verander misbruik in verslawing? Dis asof daar ’n
spreekwoordelike “skakelaar” in die brein is wat op ’n sekere
tydstip “aanskakel”. Die punt wanneer dit gebeur, wissel van mens
tot mens, maar met hierdie “aanskakeling” verander die
dwelmgebruiker in ’n willose dwelmslaaf.
Die vraag
kan gestel word waarom soveel jong gebruikers nog willens en wetens
met tik eksperimenteer—en verslaaf raak—ten spyte van ernstige
veldtogte om die gevare vir hulle uit te spel. Dit is nie anders as
met ander soorte dwelms nie. Verskillende faktore kan daartoe lei,
soos groepsdruk, huislike omstandighede, depressie, verveeldheid, ’n
slegte selfbeeld, onkunde, die lys is lank.
Maar
veral in gemeenskappe waar tik ’n wesenlike gevaar is, is dit
belangrik dat ouers, ander volwassenes, broers, susters en
verantwoordelike maats die volgende tekens by kinders in ’n baie
ernstige lig sal beskou:
• Die
kind is aggressief, waar hy voorheen nie aanvallend van aard was
nie;
• hy
kom beangs voor;
• hy
praat vinnig en miskien selfs ’n ander soort “taal” as voorheen (die
groepsdialek van sy maats wat ook met dwelms deurmekaar is);
• die
gewoonlik ingetoë kind borrel nou oor van die selfvertroue;
• hy
dwaal snags rond, in die huis of elders, omdat hy nie kan slaap nie;
• hy
kla dikwels van hoofpyn;
• hy
eet baie min en kan self maer word as gevolg daarvan;
• die
kykers in sy oë is groot;
• hy
hallusineer of sy gedrag is andersins sielkundig afwykend;
• jy
ontdek sekere voorwerpe by hom of in sy kamer wat met tik-gebruikers
verselwig word, soos gloeilampe en rondeboom-glasbuise. |