Towerland van Tasmanië

Dis ’n droomeiland in die oortreffende trap...  mere, boomvarings en bergreekse in ’n ongerepte paradys. Maar die pragtige Tasmanië is ook die tuiste van ’n “duiwel”—nie ’n regte een nie, dog ’n propperse ver­skrikking vir al wat ’n hoender is!


BO: Welige plantegroei in Hellyer Gorge, Tasmanië.

Foto deur Anyaka.  ’n Veel groter weergawe daarvan verskyn op hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web, waar dit gelisensieer word ingevolge die Creative Commons Attribution 2.0-lisensie.

REGS: Kothuise in Tasmanië.

Foto: Gene Carl Feldman / NASA / Goddard Space Fight Center

DIE Australiese deelstaat Tasmanië... watter wonderlike plek is dit nie! Aan die wêreld adverteer hy homself as die “Natuurstaat” en die “Eiland van Inspirasie”, maar hy is ook al die eiland van duisend reënboë genoem.

In hierdie asembenemende paradys, een van die laaste ongerepte lushowe op aarde, vind ’n mens stil mere tussen heuwels wat met pynappelgras begroei is. Bergreekse troon oor valleie waar bloekombome en boomvarings floreer.

Die eiland en staat van Tasmanië lê sowat 240 km suid van die Australiese hoofland, aan die oostekant onderaan die mini-kontinent. Die Bass-seestraat skei die eiland van die hoofland, maar wetenskaplikes reken dat hulle tot omtrent 10.000 jaar gelede deur ’n landbrug aan mekaar verbind was—tot aan die einde van die jongste ystydperk.

REGS: Die ligging van Tasmanië in die see suid van die oostelike deel van  die Australiese hoofland.

Krediet: Earthobservatory / NASA

Die deelstaat is na verhouding nie groot nie. Trouens, Tasmanië—skuins duskant 70.000 vk. km—is die kleinste deelstaat in die Australiese federasie, waarby hy hom op 1 Januarie 1901 aangesluit het. Van noord na suid is die eiland op sy langste iets meer as 360 km en van wes na oos op sy breedste nagenoeg 310 km. Dit is minder as een persent van die totale oppervlakte van Australië.

Maar, soos ons gesê het, natuurskoon is Tasmanië se trots. Met sy geraamde bevolking nie te ver van ’n halfmiljoen nie (493.300 volgens ’n raming vir Junie 2007), beslaan wildtuine, natuurparke en Wêrelderfenisgebiede meer as ’n derde van die staat se grondgebied.


 
BO: Die eilandstaat Tasmanië uit die ruimte gesien.

NASA-foto met vergunning van Jeff Schmaltz, MODIS Land Rapid Response Team, NASA, GSFC


BO: Hobart, Tasmanië se hoofstad. Dit is ook die grootste stad in hierdie Australiese deelstaat en huisves sowat 200 000 van Tasmanië se byna halfmiljoen mense. Die stadsprofiel word oorheers deur die berg Mount Wellington, wat 1271 m hoog is (’n hele entjie hoër as die 1086 m van Tafelberg in die Kaap).  Hobart is ’n hawestad en lê aan die monding van die Derwentrivier.

Foto: U.S. National Oceanic and Atmospheric Administration


BO: ’n Bruisende waterval op die “Eiland van Inspirasie”.

Foto: U.S. Navy / US Dod / PD


BO: Pers landerye. Die bron dui nie die soort plant aan wat hier aangeplant is nie, maar dit is bes moontlik laventel (nie inheems in Tasmanië nie, maar eintlik van die wêreld om die Middellandse See en sekere ander gebiede).

Foto: U.S. Navy / US Dod / PD


BO: Kangaroes teen sononder.

Gene Carl Feldman / NASA /  Goddard Space Flight Center

Pragtig soos hy is, word Tasmanië ongelukkig ook deur ’n onvoorspelbare klimaat geteister. Binne ’n uur kan ’n mooiweersdag in ’n dag met sneeubelaaide wolke verander, en só ’n onstabiliteit kan enige tyd van die jaar ondervind word. Hierdie klimaatskommeling, tesame met ’n sekere gebrek aan werkgeleenthede, is stellig onder die redes hoekom die ''paradys'' nie deur mense oorstroom word nie.

Europeërs was nie die eerste bewoners van die eiland nie. Voordat die gewese landbrug tussen die Australiese vasteland en Tasmanië destyds in die gryse verlede deur ’n stygende see oorstroom is, het Australiese inboorlinge al soontoe uitgewyk. Daarna is hulle van hul verwante op die vasteland afgesny.

Die Nederlandse ontdekkingsreisiger Abel Tasman het Tasmanië op 24 November 1642 ontdek, tien jaar voordat Jan van Riebeeck met sy verversingspos by die suidpunt van Afrika begin het. Die oorspronklike inboorlingbevolking van Tasmanië, ’n geraamde sowat 5000 siele voor die koms van die Europeërs, is feitlik uitgewis, onder meer weens verwoede botsings en die oordrag van siektes.


BO: ’n Ou foto wat omstreeks in die dekade van 1860 geneem is. Die viertal word beskryf as die laaste oorlewende Tasmaniese inboorlinge.

Kopiereg het verval vanweë die ouderdom van die foto.

Vandag setel die Tasmaniese regering in ’n hoër- en laerhuis en bestaan die deelstaat uit 29 munisipale gebiede. Wol, hops, groente, beesvleis, vetlammers en suiwelprodukte is tradisioneel belangrike komponente van die Tasmaniese ekonomie.

Maar Tasmanië se vinnige opgang as ’n toeriste-attraksie is nou verweef met volgehoue en intense pogings om sy natuurskoon te bewaar. Hoe die droomeiland ’n magtige stroom toeriste moet hanteer en steeds sy ongereptheid kan behou, is ’n uitdaging wat steeds groot eise aan die regeerders stel.

Taz—Tasmanië se derduiwel van ’n duiwel!

BAIE van die kleinspan ken hom maar alte goed: daardie hygende, snorkende woestaard van die kort animasiefilms, wat deur sy aanhangers sommer kortweg “Taz'” genoem word [REGS]. Hierdie derduiwel is natuurlik ’n Tasmaniese duiwel. En as jy hom hoor raas en blaas en na ’n regte Tasmaniese duiwel se onaardse geluide luister, klink hulle nogal baie dieselfde. Dis of die strokieskarakter en sy neef van vlees en bloed altwee met ’n ronkende benoudebors in hul raserny stik!

Maar die regte Tasmaniese duiwel [ONDER] van die Australiese eilandstaat Tasmanië is ’n baie interessanter karakter—en eintlik meer skugter as wreed. Hy is ’n vleisvretende buideldier, ’n soogdier waarvan die kleintjies in ’n buidel ontwikkel, soos dié van die kangaroe. Daar is gewoonlik vier kleintjies in ’n werpsel.

Getekende karakter Taz van LOONEY TUNES: © Warner Bros. Entertainment Inc.
Foto van Tasmaniese duiwel deur
Wayne McLean, wat kopiëring vergun op hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web, ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie. Kortom, gebruik word toegelaat mits die kopierereghouer behoorlik erken word en dit slegs versprei word ingevolge ’n lisensie soortgelyk aan hierdie een. Amptelike lisensie


BO: ’n Tasmaniese duiwel. Hy maak onaardse geluide en lyk omtrent soos ’n kruising tussen ’n vlermuis en ’n miniatuur-beer. Sy ore word rooi wanneer hy opgewonde raak.

Die Tasmaniese duiwel is omtrent so groot soos ’n bonkige foksterriër, met die mannetjies om en by 9 kg swaar en die wyfies 7 kg. Die pels is swart met oneweredige wit kolle. Sy kake is werklik kragtig. Hy kan wallabies, buidelrotte en paddas, maar ook lammers, hoenders en ander kleinerige diere aanval en heelhuids opvreet—net die grootste bene word gelos. Hy kom gewoonlik snags uit sy gate uit.

Hoewel hy vandag net in Tasmanië voorkom, het hy vroeër ook op die Australiese vasteland gelewe. Die see wat die landbrug tussen die vasteland en Tasmanië oorspoel het, het die diere in Tasmanië geïsoleer. Maar op die vasteland is die Tasmaniese duiwel uitgewis deur die dingo, ’n soort hond wat waarskynlik deur die inboorlinge soontoe gebring is toe hulle hulle duisende jare gelede in Australië gevestig het.

Dit was die ou Europese setlaars wat die Tasmaniese duiwel ’n duiwel begin noem het toe hul hoenders en ander kleiner plaasdiere dit moes ontgeld.

Tasmaniese duiwels is gewoonlik alleenlopers, selfs al woon hulle saam in gate. Die geslagte kom in Maart saam vir ’n kort paartyd waartydens hulle nie vreet nie. Die kleintjies maak drie weke later hul opwagting en word tot Augustus in hul ma se buidel rondgedra. Daarna word hulle nog tot Februarie van die volgende jaar versorg, wanneer hulle gespeen word om die wêreld op eie houtjie aan te durf.

Die Tasmaniese duiwel is Sarcophilus harrisii van die familie Dasyuridae. (Sarco- beteken vleis en -philus beteken liefhebber.)

Uitgestorwe verskrikking

LINKS
: Nog ’n vreesaanjaende dier van Tasmanië was die sogenaamde Tasmaniese tier, Thylacinus cyanocephaplus. Hy was egter geen tier nie, maar ’n vleisvretende buideldier, net soos die Tasmaniese duiwel. En hy het veel eerder soos ’n skreeulelike hond of ’n wolf gelyk as na ’n tier.

Regdeur die negentiende eeu het Britse setlaars duisende van die Tasmaniese tiers doodgeskiet om hul skape te beskerm, en toe was Thylacinus cyanocephaplus se doppie geklink.

Die laaste een is in 1936 in ’n dieretuin dood.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad