|
••••
Tarentaal
|
|||
|
Gravure uit The American Poulterer's Companion, 1863 |
|||
N DIE
storietjie skuins regs hieronder word vertel van ’n vernuftigtige
tarentaal—wat ’n haas, van alle diere, ore aangesit het! Dit is ’n
fabel uit Wes-Afrika en bevat ’n belangrike les teen oneerlikheid. Jy
kan wel ook sê dat die tarentaal toe vir die haas kaalkop die waarheid
vertel het!
Maar
die tarentaal is eintlik ’n verstommend vinnige hardloper en sal eerder
vir sy roofvyande weghardloop as om van hulle af weg te vlieg. Dit is dus
amper verbasend dat hy sy vlerke en nie sy pote nie gebruik het om die
onderduimse haas in die fabel op sy plek te sit. Hierdie
hoendervoël—werklik byna so groot soos ’n hoender—is ’n tipiese
Afrika-voël. ’n Stuk of sewe spesies kom verspreid oor die hele
vasteland van Afrika, op Madagaskar en op ander eilande in die Indiese
Oseaan voor. Die grootste
lid van die familie is die 60 cm groot aasvoël-tarentaal, Acryllium
vulturinum, van die tropiese Oos-Afrika. Daar
is egter voëlkenners wat reken dat Wes-Afrika die tarentaal se
oorspronklike hougebied was—einste die plek waar die fabel ontstaan het
wat ons in die donkerblou gekleurde raam hierby opgesom het. In
Suid-Afrika kry ons slegs twee soorte. In KwaZulu-Natal tot by die Zambezi
tref ons die Zambezi-kuifkop-tarentaal aan,
terwyl ons in verskillende dele van ons land ook ’n paar ondersoorte van
die Madagaskar-tarentaal vind. Tarentale
is in Suid-Afrika gewilde jagvoëls. Hulle is lief vir boswêreld en leef
van insekte, sade en plantbolle. Die
twee geslagte se kleure is dieselfde. Trouens, dit is moeilik om die
volwasse mannetjies en wyfies van mekaar te onderskei. Die mannetjies is
geneig om ’n growwer kop en groter helm te hê, asook dikker belle. Die
roepe wat tarentale maak nadat hulle ouer as twee maande is, kan ook help
om die voëls se geslag te bepaal. Die wyfie maak ’n tweelettergrepige
geluid wat soos "bak-kwiet", "bak-kwiet" klink, terwyl
die mannetjie s’n ’n eenlettergrepige gil is. Opgewonde wyfies gil
egter ook. Die
Afrikaanse dertiger-digter Totius het in een van sy bekende gedigte die
roep van die tarentaal baie beskrywend met ’n kruiwawiel se skreeugeluid
vergelyk!
Tarentaaleiers
broei binne 26 tot 28 dae uit. Tarentaalboere gebruik hoenderhenne om met
die broeiwerk te help, omdat die tarentaalwyfie dikwels haar nes sal
verlaat nadat slegs ’n paar tarentaalkuikens uit die eiers gekruip het.
Twintig eiers kan onder ’n groot hoenderhen geplaas word.
••• •• • • • • • • • • DAAR
is
’n interessante legende oor die naam van ons bekende
Madagaskar-tarentaal. Sy wetenskaplike naam is Numida mitrata, maar hy word ook Numida meleagris
genoem. Meleager was ’n figuur in die Griekse miologie en die seun van
Oideus. Toe Meleager dood is, was sy suster so bedroef dat sy verander het
in ’n voël waarvan die vere met trane bedrup was. Hierdie voël was die
tarentaal. Vanweë
hierdie ou legende en ander beskrywings weet ons verseker dat die
tarentaal reeds in ou Griekeland bekend was. Trouens, die ou skrywers
beskryf die tarentale so goed dat ’n mens maklik die verskillende soorte
kan herken. Maar ná die Romeinse tyd is daar in die Griekse letterkunde
baie minder verwysings na hierdie soort voëls, wat kan beteken dat hulle
baie minder kon geword het of selfs in daardie wêrelddeel uitgesterf het. Dit
is einste die Madagaskar-tarentaal wat kort ná die Westerlinge se
ontdekking van Amerika in die Nuwe Wêreld ingevoer is. Die mak tarentale
het so goed in daardie geweste geaard dat hulle gou aangeteel en naderhand
weer heeltemal wild geword het. Tarentale word as gesellige voëls beskryf. Hulle kom altyd in troppe voor. Hulle word geredelik mak, maar hou van ruimte en ’n mens moenie probeer om hulle op hok te hou nie. Hulle hou ook nie rêrig van hoenders nie en baklei met hulle, word vertel. In Engels word
die tarentaal ’n guinea-fowl genoem, en dit is waarskynlik
geregverdig om af te lei dat dit iets met Guinee in Wes-Afrika te doen
het. Die Nederlandse benamings vir die voël is poelepetaat,
poelepintade of poelepetane. Dit kom uit die Frans: poule
pintade (poule beteken hoender en pintade beteken
gespikkeld). In Afrikaans ken ons ook poelpetaan
en poelpetater, maar oor die benaming tarentaal is daar
veral ’n interessante teorie. Die voël sou aanvanklik as die Terra
Natal-voël bekend gestaan het (die voël van die land van Natal), wat
toe volksetimologies tot tarentaal vervorm is. Terra Natal ... tarentaal. Die
laasgenoemde lê mos heelwat lekkerder op die tong! •
Tarentale word ingedeel in die phylum Chordata, subphylum Vertebrata, klas
Aves, orde Galliformes, familie Numididae.
|
|||