“Een van die universeel bewonderde meesterstukke van die wêreld se erfenis”
—UNESCO

Taj Mahal
Die monument van liefde en droefheid

Die Taj Mahal in Agra, Indië

BO: Die Taj Mahal in Agra, Indië.

Foto deur Dhirad, geredigeer J. A. Knudsen
Die foto is op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web uitgeplaas, waar gebruik vergun word ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie, waarkragtens deling en afgeleide werke vergun word op voorwaarde dat behoorlike erkenning gegee word en dit slegs versprei word ingevolge ’n lisensie identies aan hierdie een. Amptelike lisensie

Die Taj Mahal word allerweë as een die grootste argitektoniese werke van alle tye beskou. Sowat twee dekades voordat Jan van Riebeeck uit Nederland aan die Kaap geland het, het ’n diep treurende Mongoolse keiser besluit om hierdie in­drukwekkende praalgraf vir sy gunsteling-vrou te laat bou wat in die kraambed oorlede is. En vandag troon dit steeds skoon en marmerwit oor Agra in Indië... as ’n tydelose simbool van liefde en hartseer. In 1983, toe die Taj Mahal deur UNESCO tot ’n Wêrelderfenisgebied verklaar is, is dit bestempel as “die juweel van Moslemse kuns in Indië en een van die universeel bewonderde meester­stukke van die wêreld se erfenis”...

Shah Jahan


BO: ’n Voorstelling van Shah Jahan
(of Sjah Djahaan) op ’n ou portret.

Mumtaz Mahal


BO: Mumtaz Mahal, gegrond op ’n voorstelling van haar wat in die sewentiende of agttiende eeu
geskilder is.


KaartREGS: Indië en die ligging van die Taj Mahal in Agra, in die noodelike staat Uttar Pradesh.

 

 

Krediet: Gewysige kaart uit die World Factbook van die CIA


 

D

IT was die jaar 1631 en Shah Jahan se hart was gebroke (of Sjah Djahaan, as ons die Nederlandse klankvertaling sou navolg). Hy was ’n Mongoolse keiser van Indië en sy geliefde gunsteling-vrou het in die kraambed gesterf. Sy het bekend gestaan het as Mumtaz Mahal, die “Uitverkore Een van die Paleis”, en Shah Jahan wou hê die praalgraf waar Mumtaz se oorskot sou rus, moes mooier wees as enigiets wat nog ooit gebou is.

Hierdie wit marmergraf het bekend geraak onder ’n ander weergawe van sy vrou se titel—Taj Mahal, die “Kroon van die Paleis”.

Die Mongoolse keisers was Moslems, en die geboue wat hulle opgerig het, die Taj Mahal inkluis, het die tradisionele kenmerke van die Islamitiese argitektuur geïnkorporeer. Die gepunte boog, byvoorbeeld, was ’n simbool van die Moslem-geloof; die koepeldak het op ’n graf daaronder gedui. Hoë torings, minarette genoem, is gebruik om die gelowiges tot gebed op te roep.

Die Koran, die Moslem-godsdienshandboek, verbied die gebruik van mense- en dierevorms as versiering. Dit het tot ’n versierstyl gelei wat arabesk (Arabies-agtig) genoem word, waarin geometriese ontwerpe en vloeiende lyne gebruik is. Arabesk en kalligrafie (skoonskryfkuns) was wesenlike elemente van die Islamitiese argitektuur.

Charminar REGS: In die Charminar (betekenis “Moskee van die vier minarette’) in Hyderabad, hoofstad van die Indiese staat Andhra Pradesh, spreek die Islamitiese argitektuur ook duidelik.

Foto: GSFC / NASA
 


Die Taj Mahal is ’n volmaak geproporsio­neerde en simmetriese struktuur van wit marmer, versier met inlegwerk van halfedelstene en gekleurde stene. Die gebou staan in die middel van ’n marmerplatform van byna 6 m hoog en 96 vk. m.

Die reusagtige sentrale koepel is ’n dubbele konstruksie. Die binnekoepel is 24 m hoog; daarom heen is ’n buitekoepel wat meer as 60 m bokant die platform uitstyg. Die sentrale agthoekige kamer onder die koepel word omring deur ’n tweeverdieping-deurloop met ’n agthoekige toring op elke hoek. Die koepels bo-op die vier torings omring die sentrale koepel.

In die middel van die agthoekige saal, volmaak in lyn met die sentrale as van die gebou, is die senotaaf (grafmonument) van Mumtaz Mahal en, weg van die middel af, dié van Shah Jahan. Die senotawe word omring deur ’n voortreflike skerm van gesnede marmer met inleg-arabesk aan die rand. Die eintlike grafte is in ’n ondergrondse grafkelder.

Daar is inleg-arabesk in die ruimtes bokant die vier hoofboë. Die boë word omraam met inskripsies uit die Koran in Arabiese skrif. Die kalligraaf (skoonskrywer) het die illusie geskep dat die letters van die skrif almal dieselfde grootte het soos hulle van onder af na die bokant van die boog oploop. Dit is verkry deur die letters ál groter te maak hoe hoër hulle teen die boog op is.

Die Taj Mahal is volmaak simmetries beplan. Dit is ’n vierkant van 57 m. Minarette aan elke hoek van die platform is 41 m hoog. Die Taj Mahal is geleë in ’n groot, reghoekige, ommuurde hof, 600 m lank en 300 m breed. Die mausoleum (praalgraf) is aan die noordekant.

Daar is weerkaatsende poele aan die ooste- en westekant van die gebou. Die dubbelkoepel-konstruksie beteken die buitekoepel kon baie hoog gebou word sonder dat die binneplafon te hoog sou lyk.

Argitekte regoor die Ooste het met mekaar gewedywer vir die eer om die volmaakte grafgebou te ontwerp. Die plan wat uiteindelik deur Shah Jahan goedgekeur is, het ongetwyfeld baie van sy eie idees ingesluit.

Shah Jahan het talle uitmuntende vakmanne en kunstenaars van regoor sy ryk gelok om aan die Taj Mahal te werk. Die ambagspersoneel het ’n ingenieur om die koepels te bou, edelmetaalwerkers, ontwerpers, klipkappers, messelaars, beeldsnyers en inlegwerkers ingesluit. Die baas-skoonskrywer se stand was so hoog soos dié van die argitek en hy was die enigste vakman wie se handtekening op die mure van die Taj Mahal verskyn.

Dit het tien jaar gekos om die mausoleum te voltooi, maar die hele kompleks het nog twaalf jaar gekos. In dié 22 jaar het meer as 20 000 mense op die perseel gewerk. ’n Stad, Mumtazbad genoem, het ontstaan om die werkers te huisves.

In 1642, die jaar toe die mausoleum voltooi is, het Shah Jahan ’n groot gedenkdiens gehou. Mumtaz Mahal se oorskot is uiteindelik in die wêreld se mooiste praalgraf ter ruste gelê.

In 1658 het Shah Jahan siek geword, en sy derde seun, wat beheer oor die ryk oorgeneem het, het sy pa laat opsluit in die Agra-fort, waar hy met die rivier langs kon afkyk op die Taj Mahal. Shah Jahan het in 1666 gesterf en is langs Mumtaz Mahal begrawe.

Die wit marmer van die Taj Mahal is slegs ’n bedekking. Die gebou is in der waarheid van ru-klip gemaak en met marmer bedek.
 

REGS: Beroemdes en gewone toeriste van oorsee sal nie maklik die Taj Mahal wil misloop wanneer hul Indië besoek nie. Hier is die gewese Amerikaanse presidentsvrou Jackie Kennedy (vrou van pres. John F. Kennedy) in 1962 by “die mausoleum van die liefde en droefheid” afgeneem. Dit was die jaar voordat haar man deur die sluipmoordenaar Lee Harvey Oswald vermoor is. Dit is ironies dat Jackie Kennedy (1929–1994) se liefdes eweneens tragies geëindig het, soos ook haar ongelukkige latere huwelik met die Griekse skeepmagnaat Aristoteles Onassis. Net die dood van Onassis het haar die verleentheid van ’n egskeiding gespaar.

Foto: John F. Kennedy Library and Museum / U.S. Library of Congess

Jackie Kennedy (vrou van pres. John F. Kennedy) in 1962 by die Taj Mahal

DIT was in 1526 dat die Mongole hul ryk in Indië gestig het. Teen 1707 het die ryk die grootste gedeelte van Indië beslaan.

Shah Jahan, troonopvolger van die Mongoolse ryk, is in 1592 gebore. Hy het die beste opvoeding geniet en veral in die argitektuur begin belang stel. Toe hy maar net vyftien jaar was, is hy gevra om ou paleise te vervorm en dele van nuwes te ontwerp.

Die vroue van die hof het by ’n private mark inkopies gedoen. Mans is op spesiale dae binnegelaat. Shah Jahan het Mumtaz gesien en dadelik op haar verlief geraak. Hy het sy pa gevra om hom toe te laat om met Mumtaz te trou. Prinse het destyds om politieke redes getrou, maar Jahan is toegelaat om Mumtaz as sy bruid te neem.

In 1627 het Shah Jahan die keiser geword. ’n Poutroon, versier met juwele, het sy rykdom verbeeld.

Mumtaz is selfs oorlog toe saam met Jahan. Sy is oorlede nadat sy die lewe aan hul veertiende kind geskenk het.

Die Mongoolse heersers het baie koepel-mausoleums gebou. Party het as modelle vir die Taj Mahal gedien. Die Gol Gumbaz by Bijapur is die mausoleum van sultan Muhammad Adil Shah (1626-56). Dit bevat een van die grootste koepels ter wêreld.

Gol Gumbaz

BO: Die Gol Gumbaz met sy massiewe sentrale koepel.

Foto: Ashwatham,
wat dit tot openbare besit verklaar het by die Engelse Wikipedia-projek (“released into the public domain”)

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad