Die geboorte van ’n eiland

   
  Hoe nuwe klein wêrelde weens vulkaniese woelinge in die see
  ontstaan en hoe hulle mettertyd deur plante en diere beset word

Die onstuimige geboorte in 1963 van die eiland Surtsey by Ysland

Die een oomblik was die see ’n toonbeeld van kalmte. Die volgende het reuse-golwe teen die vissersboot geslaan. Paniekbevange het die skipper en vissers hulle na die dek gehaas... om een van die natuur se ontsagwekkendste skouspele te sien: die geboorte van ’n eiland!

Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Nuwe fotokompilasie deur Mieliestronk.com


Altwee foto’s hierbo deur US National Oceanic & Atmospheric Adminstration (NOAA)

Foto LINKS BO: Die eiland Surtsey, net sowat 8 km suid van Ysland, soos dit gelyk het drie dae nadat dit op 14 November 1963 uit die see verrys het.

Foto REGS BO: Surtsey sestien dae ná sy geboorte. Die uitbarsting het tot 5 Junie 1967 geduur, toe die eiland sy maksimum-grootte van 2,7 vk. km bereik het. Sedertdien het dit geleidelik kleiner geword as gevolg van wind- en golf-erosie en nie te lank gelede is bereken dat dit nog maar slegs 1,4 vk. km beslaan. Surtsey is ’n klassieke plek vir die studie van bio-kolonisasie—die vestiging van stigter-organismes wat van elders, soos op die wind en die golwe, in ’n nuut gevormde woongebied aankom. Slegs ’n klompie wetenskaplikes word toegelaat om op Surtsey te land en die enigste manier waarop andere die eiland van naderby kan besigtig, is met ’n klein vliegtuigie.


Surtsey... ná meer as veertig jaar is dit 'n selfonderhoudende mikrokosmosREGS: Surtsey... ná meer as veertig jaar is dit groen en word dit deur verskeie organismes bewoon.

Foto: Mary Chapman / USGS
   

D

IT was ’n ontsagwekkende toneel wat hom daardie oggend voor die vissers afgespeel het. Toe hulle nog so ewe rustig in die see aan die suidweskus van Ysland vaar, bars ’n eiland sommer net hier voor hul oë uit die water.

Te midde van ’n kokende see en swaweldampe het die manne van die klein Yslandse vissersboot Isterfull gesien hoe rook en stoom honderde meters in die lug uitgolf.

En hoe ’n reusagtige swart hoop magma uit die blou oseaan verrys om fors en magtig sy plek bo die deining in te neem.

Dit was op 14 November 1963 dat die eiland Surtsey só gebore is. Dit het wetenskaplikes in staat gestel om vir die eerste keer die ontstaan van ’n eiland te bestudeer, en om na te vors hoe die plante- en dierelewe hulle algaande op só ’n barre nuwe stuk land begin vestig.

Selfs voordat die lawa heeltemal afgekoel het, het navorsers reeds gesien hoe seevoëls daar neerstryk. Dit was asof hulle kom kyk het of dit ’n goeie plek is om later huis op te sit.

En voordat die swaweldampe heeltemal opgehou het met uitborrel, het korsmosse al hul verskyning op die rotse begin maak. En toe bring die voëls sade soontoe. En ’n stuk dryfhout bring die eerste spinnekop.

Kort voor lank het Surtsey (genoem na Sutur, die mitologiese vuurgod van die Yslanders) sy eie unieke ekosisteem gehad... was hy ’n lewende, bedrywige, selfonderhoudende wêreldjie—en die mens het niks met sy skepping te doen gehad nie.

NIE alle vulkaniese uitbarstings in die see het eilande tot gevolg nie, slegs daar waar die aarde genoeg vulkaanrots daarvoor uitspuug. Die aarde se jongste eiland is ook nie Surtsey nie, maar vermoedelik een waarvan die geboorte in Junie 2000 aangekondig is. Dit was nadat dit deur die vulkaan Kawatsji in die Stille Oseaan tussen Paoea-Nieu-Guinee en die Solomons-eilande geskep is. 

Nuwe eiland in die Stille OseaanREGS: Die ontstaan van die nuwe eiland in die Stille Oseaan.

Foto beskikbaar getel deur NOAA, met vergunning van dr. Brent McInnes, hoofwetenskaplike van die Commonwealth Scientific and Industrial Research Organization (CSIRO) in Australië

Sommige eilande is rondom een of twee vulkaniese openinge opgebou (soos Tristan da Cunha met sy een keël), terwyl ander (soos Tahiti) deur ’n reeks keëls gevorm is.

Nie alle eilande het ’n vulkaniese oorsprong nie. Grotes soos dié van die Britse Eilande, Nieu-Seeland en die Seychelle is bloot ’n voortsetting van die landmassas naby hulle, maar hulle word tog deur die see van die hoofland geskei. Hulle staan bekend as kontinentale eilande.

Party eilande is "enkelinge"; ander kliek heel gesellig saam in argipels (bv. die Kanariese Eilande en Fidji). Heel klein eilandjies word weer gevorm deur die erosie en woelinge van die see. ’n Eilandjie soos Robbeneiland aan die Kaap is ook maar net ’n deel van die Skiereiland se geologiese kompleks en was eenmaal deel van die hoofland. Jy sou droogvoets van Tafelberg af tot by die huidige Robbeneiland kon geloop het.

Maar dis by die ontstaan van vulkaaneilande dat die groot dramas plaasvind. En ironies genoeg is hierdie landjies met al hul geboortelike bravade reeds van hul begin af gedoem om weer onder te gaan.

Want is hul lewensduur geologies gesproke nie jammerlik kort nie? Dis veral só as die vulkaanrots waaruit hulle gevorm is, sag is. See, wind en weer sal hulle van meet af stadigaan aftakel.

Dis selfs moontlik om die ouderdom van só ’n eiland te bepaal deur na sy samestelling te kyk. Melkbaarde soos Tristan da Cunha het volmaak gevormde keëls en kraters en ’n gebrek aan diep sand. Hardebaarde soos St. Helena het hul keëls deur erosie verloor en die grond is vrugbaar.

MAAR vulkaaneilande kan darem ook ’n rare klein bondgenootjie hê wat hulle teen die ewige aanslag van die see help beskerm. Dit is die koraalpoliep wat die koraalriwwe bou.

Lesers wat byvoorbeeld al op Mauritius was, sal weet hoe hierdie eiland knus en rustig beskut word deur ’n pantser van koraal waar hordes kleurryke visse rondswem en eksotiese plante wieg.

Koraal, wat ’n soort kalksteen is, maar ook allerhande “takkerige” vorms kan aanneem, is die geraamtetjies van die poliepe wat, namate hulle doodgaan, die een op die ander gestapel word.

JONG vulkaan-eilande is onherbergsaam, die ene steriele rots en vulkaan-as. Hoe word hulle dan verander om lewe te onderhou?

Een van die eerste skakels in die lewensketting is die mis van die seevoëls, waarin swamme en bakterieë kan gedy om die grond te verryk.

Hierna kom die korsmosse, mosse, lewermosse. Die grond ondergaan ’n verdere verryking as hierdie mosse ontbind.

Intussen is die lug ook vol swewende saadjies en spore, insekte en spinnekoppe. Baie van hulle swewe natuurlikerwys tot honderde kilometers ver op lugstrome, ander word deur die wind opgeskep en voortgedra.

Landvoëls raak tydens storms verwar en beland op die nuwe eilande. Daar laat hulle saadjies van die vasteland agter wat in hul mis was of aan hul vlerke gekleef het. Seevoëls—veral meeue—en vlermuise is die grootste koloniseerders van afgeleë eilande. Op die Asore en Kanariese Eilande is baie soorte vlermuise wat ook in Europa en Afrika aangetref word.

Nuwe lewe kom ook al dobberend op die golwe by die maagdelike vulkaniese eilande aan. Baie plantsade, soos kokosneute, dryf op die seestrome na sulke afgeleë plekke.

In 'n neutedop... die koms van lewe na 'n nuwe eiland... letterlik in die vorm van 'n neutedop!

Foto van interaksie tussen lawa en see, asook duinefoto: USGS
Rekenaar-illustrasie van kokosneut: MSKARG


Moorea Oplaas ’n groen paradys uit die as
  
LINKS:
Vulkaniese eilande kan mettertyd in paradyse verander, soos die gewilde wittebroods-eiland Moorea, naby Tahiti in Frans-Polinesië.
Foto met spesiale vergunning aan Mieliestronk van dr. M.J. Mahoney,
California Institute of Technology

Dryfhout is nuttige vaartuie vir eiers en selfs volwasse ongewerwelde diere.

Hoewel dit nie sommer gebeur dat groot diere ’n seereis op ’n stuk dryfhout oorleef nie, is daar op ’n plek soos die Galapagos (links van die bopunt van Suid-Amerika) wel krappe, skilpaaie en likkewane.

Die feit dat die krap (Geograpsus lividus) daar uit die water land toe gekom en die likkewane hulle tot die see gewend het om seegras te kan vreet, toon hoe dié diere nuwe weë vir oorlewering in dié afgesonderde wêreldjie moes vind.

Alles baie interessant, maar pragtige aanskouingslesse in aanpassing en die natuur se kolonisasie wag steeds op toekomstige geslagte wat sal kan dophou wat verder met die nuwe eiland Surtsey gebeur.

Moeilik bereikbaar en deur stormwinde geteister—met loodregte kranse en ’n verlate, byna steriele atmosfeer—mag slegs kiemvrye wetenskaplikes daar tussen die nuwe lewe loop en dan moet hulle letterlik in hul spoor trap.

Sodat nie net die geboorte van ’n eiland nie, maar sy hele groei en ontwikkeling nagespeur kan word. En sodat ons meer kan verstaan van ons wonderlike wêreld.


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad