|
|
||||
|
|
Smaaklike verhaal van ‘heuning sonder bye’ | |||
|
BO: Kristalle van bruin suiker, dit wil sê onbewerkte suikerkristalle wat nog met melasse bedek is. ’n Deel van die suiker wat ons ken, word wel in hierdie vorm verkoop, maar die grootste deel daarvan gaan na fabrieke, waar dit geraffineer word.
Foto deur Sanjay Acharya, |
||||
|
Afdeling 1
Die kweek van suikerriet en suikerbeet
Suiker
is een van die gewildste voedsels op aarde. Tot sowat ’n eeu gelede was
dit so duur dat min mense geweet het hoe dit smaak. Maar vandag word
soveel suikerriet en suikerbeet gekweek dat die gemiddelde suikerinname
sowat 40 kg per persoon per jaar is... • Lees ook die afdeling onderaan hierdie bladsy oor die verwerking van suiker. TOE die leërs van die Persiese keiser Darius die Grote in die vierde eeu v.C. Indië binneval, was hulle verheug om ’n reuse-grassoort daar te vind waarvan die stingels, wanneer dit gekou is, so soet soos die soetste heuning gesmaak het. Darius
het die plant ‘‘die riet wat heuning lewer sonder die hulp van bye’’
genoem. Hy het ’n aantal steggies teruggeneem Persië toe, waar hulle in
die warm klimaat gefloreer het—en baie jare lank het die Perse jaloers
die geheim van die plant met die soet sap bewaar. Alle
groen plante vervaardig suiker en berg dit in hul vrugte, stingels of
wortels totdat hulle dit nodig het. ’n Paar maak net genoeg suiker sodat
’n mens dit kan proe—byvoorbeeld die soetigheid in perskes (vrugte) en
geel- en witwortels (wortels). Maar die meeste vervaardig eenvoudig nie
genoeg daarvan om werklik vir ons ’n soet smaak te hê nie. Twee
plante is egter ietwat anders as die res. Suikerriet (die plant wat Darius
ontdek het) en suikerbeet maak en berg soveel suiker dat mense hulle juis
daarom aanplant. Hieronder ondersoek ons die verbouing van hierdie twee
gewasse, en in die afdeling daarna vind ons uit hoe die suiker van die
plant af in die suikerpot kom. Suikerriet
SUIKERRIET
is ’n reuse-grassoort wat gedy in ’n tropiese en subtropiese klimaat
waar daar ’n oorvloed van baie warm sonlig en reën is. Die wêreld se
toonaangewende suikerriet-lande is Brasilië en Indië, gevolg deur Kuba,
China, Mexiko en Pakistan. Baie suiker word ook in die Wes-Indiese Eilande
verbou, wat eenmaal so ’n groot deel van die wêreldvoorraad gelewer het
dat hulle die ’’suikerpot van die wêreld’’ genoem is. En
in Suid-Afrika is suiker van die suikerrietlande van KwaZulu-Natal ’n
belangrike uitvoerproduk. Die
suikerriet (Saccharum officinarum) bestaan uit ’n aantal lang,
goue stingels wat van twee tot vyf meter bokant die grond uitgroei, en het
lang, smal blare. Die stingels is in litte verdeel en by elke stingelknoop
is daar ’n botsel. Groot hoeveelhede suikersap word in die stingels
geberg. Die sap is bruin en klewerig—baie anders as die suiker wat ons
in ons huise gebruik. Onder
die grond is ’n bos wortels. Suikerriet kan van saad gekweek word, maar
die meeste boere plant kort snysels van die stingels of sogenaamde ’’steggies’’.
In Suid-Afrika word feitlik al die riet met die hand geplant, maar
in sommige lande word plantmasjiene gebruik, wat ’n voor maak, kunsmis
daarin strooi, die steggies in die voor plaas en hulle dan toegooi. Wortels ontwikkel spoedig en ná sowat vyf weke verskyn die eerste sprietjies bo die grond.
Foto: David Nance / ARS / U.S. Department of Agriculture
Sodra
die stingels lank genoeg is—sowat 8 tot 24 maande ná die aanplanting,
afhangende van die klimaat en variëteit—kan die suikerriet geoes word.
In ontwikkelde lande word dit met masjiene gedoen, soos op die foto
hierby, maar op baie plekke word
die riet nog met groot hakmesse deur werkers met die hand afgesny. Dis
’n rugbreek-werk, want suikerriet is dik en taai. Elke stingel moet aan
die onderkant afgesny, die blare afgestroop en die bodeel verwyder word.
(Die wortels word in die grond gelos, want nadat die eerste riet afgesny
is, sal die wortelstokke nog drie of meer oeste lewer voordat dit vervang
moet word.) Geoeste
suikerriet word in hope opgestapel en, afhangende van die land, op
vragmotors, treine of trekdierkarre gelaai om na die fabriek vervoer te
word waar die suiker onttrek sal word. Suikerbeet
SUIKERBEET
is die ander plant wat vir sy suiker verbou word. Dit is so naby verwant
aan ons gewone rooibeet dat hulle nie net tot dieselfde spesie behoort nie
(Beta vulgaris), maar selfs tot dieselfde subspesie (vulgaris).
Hulle is bloot variante van dieselfde gewas. Suikerbeet floreer in
gematigde klimaatstreke waar dit in die somer warm, maar in die winter
koel of selfs koud is.
Ons Suid-Afrikaners ken nie eintlik suikerbeet nie. Buiten in Chili en Argentinië word feitlik al die wêreld se suikerbeet in die Noordelike Halfrond gekweek.
Die
suikerbeet is ’n plant met ’n roomwit wortel, wat baie soos ’n vet
witwortel lyk. Onderaan die groot geswolle wortel is ’n penwortel wat
sowat anderhalf meter in die grond ingroei. Bogronds is ’n bossie kort,
sagte stingels met breë, groen blare. Anders
as suikerriet, wat sy suiker in die stingel berg, berg suikerbeet dit in
die wortel. Die suiker wat daaruit verkry word, is chemies presies
dieselfde as rietsuiker. Dié soort suiker word sukrose genoem (C12H22011)
en kom ook in baie ander plante voor, maar nie in sulke groot
konsentrasies nie. Suikerbeetplante
word in die lente gekweek van saad wat deur masjiene in rye in vars
voorbereide grond gesaai word. Die grond word gewoonlik ook bemes. Die
jong plante het baie water nodig en besproeiing is dikwels nodig. Suikerbeet
groei vinnig en word in die herfs geoes. Eers sny ’n snymasjien die
blare en stingels af, waarna die beet uit die grond gelig en op ’n sif
geplaas word om die meeste van die grond te verwyder. Die blare en
stingels word veevoer of word as bemesting in die grond teruggeploeg. Die beet word in hope geberg en dikwels met strooi, grond of plastiekvelle bedek om dit teen ryp te beskerm. Daarna word dit per vragmotor of trein na die beetsuiker-fabriek vervoer waar die suiker onttrek word.
|
||||
|
Afdeling 2
|
||||
|
Foto met vergunning van Louisiana Division of Historic Preservation, via U.S. National Park Service |
|
|
Die suikerkristalle word vervolgens in water opgelos en die oplossing deur filters gestuur om enige onsuiwerhede te verwyder. Die gesuiwerde vloeistof word weer eens gekristalliseer. Die kristalle word dan in ’n masjien geplaas en om en om getol totdat suiwer wit suiker verkry word.
|
Foto: U.S. Library of Congress |
DIE
suiker in suikerbeet word ietwat anders verwyder as dié in suikerriet.
Geoeste beet word gewas en deur masjiene in klein repies opgesny. Die
opgesnyde beet word in groot silinders in warm water geweek sodat die
suiker oplos en ’n donker, modderige oplossing vorm.
Die
gebruikte opgesnyde beet word dan gedroog en met beet-melasse gemeng om
veevoer te maak. Die modderige oplossing word in tenks verhit en met kalk
gemeng om onsuiwerhede daaruit te laat afsak en ’n suiwer
suikeroplossing te verkry.
Nadat dié gefiltreer is, volg prosesse wat baie dieselfde is as dié vir die gesuiwerde sap van suikerriet. Beetsuiker lyk net soos rietsuiker. Trouens, altwee is ’n soort suiker wat die wetenskaplikes sukrose noem, en hul chemiese formule is presies dieselfde, naamlik C12H22O11.
REGS:
Suikersakke in ’n ou pakhuis.
Foto: U.S. Library of Congress
SUIKER
gee jou werklik woema! Maar te veel daarvan kan sleg vir ons gesondheid
wees, want dit maak vet en is skadelik vir ons tande. Al die vitamiene
asook ander voedingstowwe is uit geraffineerde suiker verwyder. Boonop
gaan geraffineerde suiker reguit na die bloedstroom en gee dit ons
kitsenergie. Die nadeel is dat ander voedsel wat ons dalk terselfdertyd geëet
het, nie geabsorbeer word nie.
DIE
geskiedenis van die suikerriet-bedryf is verweef met verhale van sekere
mense wat fabelagtig ryk geword het—en die ondenkbare lyding van andere.
Die
plant het waarskynlik wild gegroei op die eilande van die Stille Suidsee
en is aanvanklik deur matrose en handelaars na Indië en China gebring.
Nadat Darius die Grote daarvan in Persië geplant het (kyk ons ander
suiker-artikel) het die nuus oor die magiese gewas oor die Midde-Ooste en
die lande aan die Middellandse See heen versprei.
In
die volgende eeu, ná die Macedoniese verowering van Asië, het Alexander
die Grote suikerrriet regoor sy enorme ryk begin verbou.
Wes-Europeërs
het suiker vir die eerste keer geproe nadat Kruisvaarders van die Helilige
Land af teruggekeer het. Daar was so ’n groot vraag na hierdie
voedselsoort dat Italiaanse koopmanne suikerriet op die eilande in die
Middellandse See begin kweek het. Om arbeid te verskaf is slawe uit
Rusland en ander dele van Europa ingevoer. In die 1300’s het slawe uit
Afrika wat deur Arabiere gevange geneem is, Europese slawe op die eilande
begin vervang.
In
1493 het Christopher Columbus ’n aantal
suikersteggies na die Wes-Indiese Eilande gebring om te kyk of hulle in
die warm, klam klimaat sou aard. Die plante het so gedy dat
suikerplantasies spoedig hul verskyning op sowel die vasteland as op die
omringende eilande gemaak het. Weer eens het die Europeërs hulle tot
Afrika gewend om arbeiders in die hande te kry. Mense is van hul gesinne
en tuislande weggeruk, met kettings geboei en op skepe gedwing en na die
Wes-Indiese Eilande gebring. Die toestande op die skepe was skrikwekkend
en baie slawe het onderweg gesterf.
Om
op die suikerplantasies in die warm, bedompige klimaat te werk was selfs
nog erger. Nog tienduisende slawe is weens uitputting dood. Die
plantasiebase, daarenteen, het fabelagtig ryk geword, wat die gebruik toe
nog verder aangemoedig het.
Van
die 1500’s af tot die 1800’s is ’n stuk of twaalf miljoen slawe
uit Afrika gebring na die Wes-Indiese Eilande en ander kolonies waar
suiker verbou is. Suikerriet is wit goud genoem.
Slawerny
het in die laat 1700’s begin afneem en is geleidelik in die loop van die
1800’s deur verskillende lande afgeskaf.
EEUE
lank het die Europeërs hul suiker net uit suikerriet verkry. Suikerbeet
is altyd in die lande aan die Middellandse See gekweek—waar dit as
groente geëet is—maar dit was eers in die vroeë 1800’s dat ’n
geskikte metode gevind is om suiker uit die beet te onttrek.
Ten
tyde van die Napoleontiese Oorloë van die 1790’s het die Britse vloot
Frankryk gekeer om suiker oor die oseane te vervoer. Hulle wou verhinder
dat die Franse volk genoeg suiker kry. Napoleon
het sy volk aangemoedig om suikerbeet te kweek sodat hulle nie langer aan
die genade van hul vyande oorgelewer sou wees nie. Dit het mense
aangespoor om ’n manier te vind om die suiker uit die beet te onttrek,
en binne ’n paar jaar het baie ander lande hul eie beet begin kweek.
Intussen
het boere in Europa die waarde van wisselbou begin besef. Hulle het
agtergekom dat om jaar ná jaar ’n enkele graangewas soos koring of gars
te verbou, die grond benadeel deurdat dit te veel van dieselfde
voedingstowwe daaruit onttrek. Deur afwisselend verskillende gewasse te
kweek, kan die grond sy voorrade waardevolle minerale en organiese
materiaal weer aanvul.
Aanvanklik is rape as ’n geskikte wisselgewas beskou. Maar namate die vraag na suiker toegeneem het, het koring- en garsboere elke jaar of drie suikerbeet op hul lande begin kweek.
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad