'n Luimige kortverhaal vir 'n ledige klompie minute . . . |
|||
|
Die vonds |
|
|
Die boepmaag-mannetjie met die donkerraam-bril het sy lewe lank in sy skatryk pa se skaduwee geleef. Wat hy ook al probeer doen het, hy kon homself eenvoudig nooit bewys nie. Totdat hy, hoe koddig dit ook al klink, besluit het om homself in 'n 'broeimasjien' te verander. Maar die uiteinde sou Wesley W. Presley nooit kon voorsien nie . . . |
|||
|
•
•
•
•
•
••
•
•
•
•
• 'N WÊRELD wag met ingehoue asem. Dit kan nou enige oomblik gebeur. Die opspraakwekkende fossiel-eier wat Wesley W. Presley van die Suidpool af saamgebring het, is besig om uit te broei. Wat sal die eier oplewer, wonder minstens 200 miljoen oorspanne televisiekykers, terwyl hulle in huise, kantore en fabrieke rondom die aarde voor hul kassies saamtros. Vasgenael sit hulle en staar na die krakies wat reeds in die dop verskyn het. 'n Klein dinosourusssie, heel waarskynlik? 'n Ander prehistoriese gediertetjie? 'n Monstertjie a la Jurassic Park wat eers bra onskuldig en klein is, maar dan onbeteueld groei en groei om 'n skrikbewind te veroorsaak soos hy onskuldige mense middeldeur byt? Nou ja, laasgenoemde darem seker nie, maar wie weet! Dis tye soos dié dat 'n mens se verbeelding maklik met jou op loop sit . . . Trouens, een ding is baie seker: nog nooit sedert die maanlanding het die mensdom hom so laat saamsleep deur die sirkus rondom 'n nuwe wetenskaplike mylpaal soos dié nie. En Wesley W. Presley weet dit. En oor sy fossiel-eier is hy skoon broeis -- as 'n mens nou die woord hier mag gebruik. Net 'n stuk of twintig uitgelese verteenwoordigers van die media word dan ook in sy huis toegelaat vir die groot oomblik. Persmense en 'n televisiespan. Geen ander wetenskaplike wil hy naby aan die eier laat kom nie, want hierdie vonds is syne en syne alleen en hy wat Wesley W. Presley is, gaan beslis nie sy roem met enigiemand deel nie, dankie. Te lank was hy self die weggooikind van die wetenskap. WESLEY was lid van sy land se navorsingspan, wat pas van 'n basis in Antartika teruggekeer het. Kom ons trek maar vir eers die sluier oor sy presiese land van herkoms, maar dis wel een van die stuk of dosyn lande wat die eksplorasie van die ysige suidelike vasteland onder hul vleuels geneem het. Genoeg om te sê dat Wesley nie familie is van 'n ander Presley, wat indertyd darem óók beroemd was weens sy wikkeldanse en gekreun nie. Hoe ook al, Wesley is nou terug in sy tuisdorp en in sy vaderland en hy slyp reeds sy tande vir al die Nobelpryse en ander eretoekennings wat vermoedelik op hom wag. In 'n spesiale broeikassie in die middel van sy voorhuis lê die eier -- so groot soos 'n hoender s'n of miskien net 'n raps kleiner. Dit rus ewe knus op 'n nessie van watte. Die broeikassie is vierkantig en het wande van glas, en die televisiekameras beloer dit van alle kante. Dis 'n gedoente van die eerste water. Vanoggend het die eerste krakie in die eier verskyn en al die tekens is daar dat die klein dinosourussie (of wat dan ook al) hier vroegmiddag die eerste lewenslig gaan aanskou. Die pers- en televisiekorps staan in 'n breë kring om die eier en elke nou en dan pomp iemand 'n mikrofoon onder Wesley se neus en verwag dan dat hy iets moet sê. En dan skrop en kloek en trippel hy soos 'n vervulde, vet hen en verlustig hy hom aan al die aandag. Die gewoonlik ingetoë boepmaag-mannetjie met die donkerraam-bril is vandag regtig kaatjie van die baan. ``Dinosourusse het in die jaar toet van die aangesig van die aarde verdwyn, maar volgens alle aanduidings gaan ék vandag vir julle 'n lewende een wys,'' spog hy onbeskaamd. ``Ja, ja, ja, ek, ek, ék wat Wesley Wordsworth Presley is, gee vandag vir die wêreld 'n splinternuwe droom. As ons die verlede só kan laat herleef, kan ons die toekoms net mooier maak.'' Dit voeg Wesley keer op keer fleurig by, maar niemand dink daaraan om eintlik sy sinlose retoriek te probeer ontleed nie. Maar praat wil hy vandag praat. Hy moes in die verlede so lank stilbly. Sy biljoenêr-pa, Wesley ``Woodpecker'' Presley, moes altyd vir hom die woord doen en het hom gedurig oorlaai met geld, maar dan was dit ook al, heeltemal ál wat Pops ooit vir hom gedoen het. Self kon hy hom om die dood nie bewys nie. Trouens, nooit kon hy uit sy eie iets vermag, bereik, genereer, skep of tot stand bring, sonder dat mense sou sê, ag wat, dis alles net die stinkryk ou Woodpecker Presley se geld wat daar agter sit nie. Nooit, nooit en absoluut nooit nie. Tot nou. • • • • • •• • • • • • WESLEY W. PRESLEY het wel sy pa se geld gebruik om na en van Antarktika te reis, maar die ontdekking van die fossiel-eier het hy self gedoen. Hy was moeg vir die saai lewe en lus vir avontuur -- en is maklik aanvaar as lid van die ondersoekspan nadat hy 'n groot klomp geld geskenk het vir wetenskaplike navorsing in die Suidpoolgebied. Hy kon selfs 'n private ysbreker-skip van sy pa beskikbaar stel om die klomp navorsers en hul toerusting na die basis in Antartika te neem. En omdat hy tog wel natuurstudie op laer skool geneem en daarom 'n basiese kennis van weerkunde gehad het, is hy as assistent-weerkundige, of so iets, aangestel. (Nou ja, natuurlik het die hoofde van die Antarktiese navorsingspojek heimlik opdrag gegee dat geen belangrike take aan hom toevertrou moes word nie, maar dan moes niemand hierdie ``parasitiese bleeksiel'', soos hulle hom fluisterend agter bak hande genoem het, ook verkeerd opvryf nie. Wiens brood men eet . . .) En so het Wesley W. Presley dan saamgepiekel met die Antarktiese ekspedisie en drie maande lank in 'n reuse-hut op die basis gewoon en byna nooit sy kop by die deur uitgesteek nie. Die wêreld was immers bitter koud, baie ongenaakbaarder en onhartliker as wat hy ooit verwag het dit sou wees. Sneeuwit en eentonig. Yslik groot en ysig dood. Snerpend. En winderig. Net die dag toe hy die eier ontdek het, was daar 'n ongewone windstilte by die basis en die kwik het selfs gestyg en gaan draai by net so 'n rapsie onderkant die vriespunt van water. Wesley kon sy gesig buite waag. Hy kon sy stram litte so 'n bietjie rek. Nie alte gewillig nie, maar toe maar . . . Wesley het verdiep in 'n strokiesprenteboek in 'n gemakstoel gesit toe sy kollega Peter O'Reilly -- wat sekere kosvoorrade in 'n ander hut op die basis gaan haal het -- met sy mandjie binnekom. Die man was 'n bietjie wit om sy wange, so al asof hy met sy gesig in die sneeu geval het, maar soos altyd was hy die opgewektheid self. ``Los daardie comics, Wesley,'' het Peter byna gebiedend gesê. ``Gaan loop 'n bietjie buite rond, genugtig, man, jy sal so 'n lekker dag nie weer beleef nie . . . nie hier nie, in elk geval.'' ``Aw schucks, waarnatoe moet ek loop, Peter?'' het Wesley kermend teruggekap. ``Ek weet hoe lyk dit daar buite. Dis wit, witter as konynwol en dis koud, kouer as 'n lyk. Wat is daar wat ek kammakastig nou moet sien, huh, sê gou vir my?'' ``Verbeel jou!'' -- en toe raak Peter driftig -- ``Jy word pap, man. Staan nou dadelik op en loop uit. Gaan loop 'n bietjie daar by die boom-fossiele rond. Ek is self netnou daar verby op pad hierheen en dis 'n pragtige gesig.'' DIE boom-fossiele was inderdaad iets baie besonders. 'n Gletserskuiwing digby die basis het 'n maand of ses vantevore 'n hele klein ysheuweltjie aan twee laat skeur. Binne-in die ysheuweltjie was die oorblyfsels van bome wat hoeveel millenniums gelede hier moet gegroei het toe Antarktika nog jonk en 'n warm wêreld was. Die een kant van die gesplete ysheuwel het heeltemal verbrokkel tot groterige klonte ys wat gesaai gelê het oor die platterige landskap aan sy voet. Die ander kant het, by die plek waar die skeuring plaasgevind het, 'n hoë, loodregte wand vertoon van klipsteenharde, diepblou ys -- letterlik blou van die ouderdom. En daar teen die yskrans het die reste van die stokou bome spookagtig deur die ys geglim. Vanweë die ysmedium waarin hulle bewaar is, het die bome nie gemineraliseer soos wat met fossiele in droë omstandighede gebeur nie, en pleks van hard te wees soos klippe, het die hout sag en plooibaar geword sodra 'n mens dit ontvries het. Wetenskaplikes van die basis was daagliks besig met ontledings. Dit was werklik 'n belangrike vonds. Wesley W. Presley het teen wil en dank sy strokiesboek in 'n laai gaan bêre en Peter se raad gevolg om na die fossiel-bome te gaan kyk. Hy het hom so warm en dik aangetrek dat sy rug eintlik krom getrek het en hy half soos 'n krap moes loop om hoegenaamd oor die weg te kom oor die ys. 'n Ent van sy hut af het 'n effense yswindjie opgesteek. Wesley se moed het hom so byna-byna begewe. Hy wou terugdraai na sy gemakstoel van warmte en beskutting, maar met ongewone volharding druk hy toe tog maar deur. Hy het 'n kamera by hom gehad en wou die fossiel-bome afneem om die foto's vir sy pa te stuur. Die ou man het hoeka snuf in die neus gehad dat sy seun vir kwaadgeld onder by die Suidpool rondsit sonder om 'n steek werk te doen, en sulke foto's sou hom wel kon oortuig dat sy kind nou met belangrike navorsingswerk oor fossiele of so iets besig was. Vlak onderkant die blou muur van ys met die ou-ou bome het Wesley vasgesteek. Dis mooi, ja, het hy gedink, en onwillekeurig afgekyk na die kamera in sy hand. Toe vang sy oog die ding hier by sy voete. Dit was die eier. • • • • • •• • • • • • IN DIE poeier-sneeu en so half tussen twee splinterbrokkies diepblou ys het dit gelê en op die oog af net soos 'n hoendereier gelyk, miskien effens kleiner. Maar hoenders loop tog nie in die Suidpoolgebied rond nie en in die bepaalde streek waar hierdie basis ingerig is, kan geen dier of voël ooit lewe nie. Dis een van die mees onherbergsame streke in die hele Antarktika, met die temperatuur wat selfs in die somer byna deurentyd by die twintig tot dertig grade onder vriespunt boer. Wesley kon net een gevolgtrekking maak toe hy die eier optel en van alle kante beskou: dis 'n oorblysel uit die oertyd net soos die bome; dit het ook in die ys vasgesit en is deur die gletserskuiwing daaruit bevry. En nes die bome is dit blykbaar broos -- soos 'n werklike eier en nie soos 'n fossielklip nie! Iewers, meen hy toe ook, het hy gelees dat party navorsers reken dinosourusse het wel dikwels reusagtig groot geword, maar dat hul eiers nie noodwendig altyd groot was nie. ``Hierdie ding,'' het hy in vervoering by homself geprewel, ``kon maklik 'n dinosourus se bybie geword het!'' Toe het Wesley oombliklik sy kamera met 'n rykmansgebaar eenkant in die sneeu neergesmyt en sy eier-vonds eerbiedig in albei sy hande gekoester. Minute later het hy sy hut binnegesluip en slegs vir Peter in sy vertroue geneem. ``Pst . . .. moenie vir die ander sê nie, maar kyk hierso. Ek gaan hom nog uitbroei ook. Jy moet my dophou!'' Peter het hom vreemd aangekyk en onbegrypend sy kop geskud. Maar Wesley het in sy eie afgeskorte hokkie agter 'n gordyn verdwyn en die res van daardie dag en nag nie weer van hom laat hoor nie. Vroeg die volgende dag is Peter skielik aangesê om hom by 'n ander basis in Antarktika aan te meld. Hy het vinnig vertrek sonder dat hy Wesley gegroet het, want dié het nog geslaap. Aan die eier wat sy kollega so opgewonde gemaak het, het Peter nie gou weer rede gehad om te dink nie . . . • • • • • •• • • • • • HIERNA het Wesley die nuus op die basis versprei dat hy ernstig siek is en daarom geen keuse het as om in die bed te bly nie. Niemand het hom geglo nie en geeneen van die plek se drietal dokters het hulle eens verwerdig om daaroor navraag te doen nie. Almal het geweet dat ou Wesley nie die fluksste mens op aarde is nie. As hy wou rus, het hulle geredeneer, laat hom rus. Drie maal per dag is kos vir hom aangestuur na sy kooi toe. En net af en toe het hy vir enkele minute 'n bietjie opgestaan vir die nodigstes en so aan. Niemand, maar niemand het die vaagste vermoede gehad dat Wesley eintlik besig was om sy kosbare fossiel-eier onder sy komberse warm te hou nie. Ook dr. Fred Knox, wat in 'n buurhut gewoon en wie se stetoskoop eendag onverklaarbaar voete gekry het, het nooit as te nimmer die eksentrieke rykmanseun van die diefstal verdink nie. En, wonder bo wonder, ná' n hele aantal dae van onophoudelike gebroei, is die kloekmoedige Wesley W. Presley se moeite skielik op 'n fantastiese wyse beloon. Met die stetoskoop doen hy een aand die ongelooflike ontdekking: Daar's beweging binne-in die eier! Daar's 'n hartjie wat klop in die dop! Daar's lewe! Vroeg die volgende oggend storm hy dwarsdeur 'n verblindende sneeustorm na die radio-hut. Hy laat 'n boodskap stuur aan sy pa doer ver oor die see om hom alles van die eier en die aardskuddende verwikkeling te vertel. Dit was 'n kodeboodskap en slegs 'n paar mense na aan die Presley-gesin het ook die kode geken. Maar een vindingryke joernalis in dieselfde stad waar die ouere Presley woon, het die boodskap op sy eie radio onderskep. Hy was aangesê om nuus te probeer kry oor gebeurde op die basisse in Antarktika en hy het juis sy bandopnemer in die koerantkantoor aangehad toe Wesley se boodskap aan sy pa deurkom. Vir 'n gesoute nuushond soos John White was die ontsyfering van die kode sommer kinderspeletjies. Toe was die gort gaar. Koerante, die radio en televisie het op loop gegaan soos nie eens laas met die Olimpiese Spele in Sydney nie, en die wêreld is opgesweep tot 'n staat van beroering. Liedjies oor die geheimsinnige fossiel het op die trefferparades geblêr en die modes het stormenderhand verander met die dinosourus-voorkoms aan die voorpunt. Wesley se pa het per radio vir sy seun laat weet dat hy die vinnigste skip op aarde stuur om hom op te pik. ``En bring die fossiel-eier saam,'' het Pappa Woodpecker Presley gebiedend afgesluit -- asof Wesley dit ná alles hoegenaamd sou vergeet . . . • • • • • •• • • • • • NOU is saam ons in Wesley W. Presley se huis, waar almal tot barstens toe nuuskierig op die koms van die klein Tyrannosaurus Rexie wag. Of dan wel 'n ander prehistoriese gediertetjie of 'n King Kong of 'n paaiboelie of 'n ding. (Wesley het steeds botweg geweier dat ander wetenskaplikes die eier bekyk of X-straalfoto's daarvan neem om te sien wat werklik binne-in is. Sê nou die strale maak sy dinosourusie dood in sy dop, wat dan?) Maar te midde van al die geharwar om die broeikassie, word Wesley nou skielik deur sy huishoudster na die voordeur ontbied. ``Iemand wat u dringend wil spreek, meneer,'' sê sy. ``Sê hy moet later kom, my genugtig, mens!'' brul die baas van die fossiel-eier kil en geïrriteerd bokant die groot dreuning en gedrang van die media-mense in sy voorhuis. ``Weet hy dan nie ons is hier besig om 'n geskiedkundige oomblik in die bestaan van die aarde te beleef nie? Weet hy dit nie? Wie is die ontydige vreemdeling?'' ``Hy sê sy naam is Peter O'Reilly, meneer. Hy was glo saam met u daar in Antarktika.'' ``O, Peter . . .'' Wesley knyp tog die tydjie af om sy ou kollega te gaan groet. Die groete is haastig en nie vreeslik hartlik nie. Beleefdheidshalwe nooi hy hom darem binne om saam die geboorte van die dinosourus te beleef, maar Peter sê nee, hy het regtig nie nou die tyd nie. ``Maar ek moes jou kom sien, Wesley. Jong, dié storie van die eier wat konsuis 'n fossiel sou gewees het . . .'' ``Wat daarvan?'' ``Nee, man, hoe sal ek sê, daardie dag toe ek jou aangespoor het om na die fossiel-bome te gaan kyk -- dáárdie dag het ek mos self met my mandjie vol kosvoorrade daar by die fossiel-bome verbygeloop, onthou jy? En daar was 'n paar hoendereiers ook in die mandjie wat ek gedra het . . .'' ``Ja?'' Wesley voel hoe die bloed met 'n vaart uit sy kop tot in sy tone sink. Hy gryp-gryp na een van die stoeppilare om sy kalmte te probeer behou. ``Jong, ja, ek het met 'n slag neergeslaan in die poeier-sneeu daar by die fosiel-bome,'' gaan Peter meedoënloos voort. ``Ek het later agtergekom dat een van die eiers uit die mandjie geval het. Nou het ek net gewonder of . . .'' Peter O'Reilly praat nog eenstryk, maar Wesley W. Presley luister nie verder nie. Hy kies koers by Peter verby na die voorhekkie en hol dan sonder omkyk in die straat af. Hy is reeds baie ver weg wanneer die piepklein veerpoot-kapokkie vyf minute later sy doppe moeisaam in die voorhuis afskud -- ten aanskou van die klompie media-mense en 200 miljoen televisiekykers reg rondom die aarde. En almal is natuurlik die hoenders in . . . as 'n mens dié woord hier mag gebruik! |
|||
| © Dugeot, Posbus 4144, Old Oak 7537. Kopiereg streng voorbehou. | |||
| Om terug te keer na die hoofblad van die Dugeot-webwerf klik hier | |||