Y
is wat jy eet, lui die ou gesegde. ’n Mens kan die woorde ook omgooi en
sê dat jy eet oor dit wat jy is. Ons eetgewoontes is immers ’n
integrerende deel van ons kultuur en daarom is mense van verskillende
kulture en etniese groepe nie altyd versot op dieselfde soort kosse nie. Dit is veral interessant om die stapelkosse van die onderskeie bevolkingsgroepe met mekaar te vergelyk -- en die plante waarvan daardie kosse kom. Jy hou byvoorbeeld van jou koringbrood, vir jou swart vriend is niks lekkerder as mieliepap nie en jul Indiese kennis sal geen kos vir sy bord rys verruil nie. En as julle ook nog ’n San van die Kalahari geken het, sou julle geweet watter waarde hy of sy heg aan sappige, voedsame knolle wat sommerso in die veld uitgegrawe word... |
|||
|
DIE
nomadiese San (Boesmans) lewe al duisende jare lank
in hul natuurgebondenheid van die veld af, selfversorgend en voldaan met
wat die omgewing hulle kan bied. Hulle is vandag meestal beperk tot die Kalahari, ’n woestynagtige streek wat dele van Suid-Afrika, Namibiê en Botswana oorspan -- ’n ruwe gebied van dors en hitte en dorings waar die gras hard is, die lugspieëlings op die vlaktes dans en skerpioene onder die klippe skuil.
Hier oorleef die San in die wye verlatenheid en die versengende son -- ’n halfnaakte, honger volk, lig van bou en geel van vel. Hulle is steeds jagter-versamelaars soos hul voorsate -- hulle jag wel nog ’n bietjie, maar hul daaglikse dieet bestaan meestal uit die veldkosse in die woestyn. Elke paar dae versit hulle na ’n nuwe woonplek wanneer die kos opraak. Hulle
eet omtrent alles in die veld wat enigsins eetbaar is (selfs
termieteiers), maar hul "groente" sluit uintjies, verskillende
soorte bessies en ’n hele verskeidenheid knolle, bolle en wortels in. Onder
die veldkosse wat die San deur baie eeue geken het -- toe hulle ook nog in
ander droë dele van ons land soos die Karoo moes oorleef -- is dié van
die geslag Fockea in die plantefamilie Asclepiadaceae noemenswaardig.
Die Fockeas (byvoorbeeld die kambro of Fockea angustifoli)
vorm groot uitgeswelde knolle soos patats ondergronds en die ou San kon
ongetwyfeld die verskillende soorte haarfyn van mekaar onderskei. Die baro
of baroe (familie Campanulaceae) is nog ’n veldkos met eetbare
knolle wat onder die grond uitgehaal kan word. (Hoe
smaak kambro? Soos baie Suid-Afrikaanse veldplante word dit deur die wet
beskerm. Moet dus nie jou lyf San hou en dit gaan uitgrawe nie! Maar mense
wat wel kambro te ete gehad het, het gesê dit smaak soos
"fonteinwater op ’n warm, droë, stowwerige dag". Die gevierde
ou Afrikaanse digter C. Louis
Leipoldt het dit as "die wit waterige goud van die Karoo"
beskryf.)
|
|||
|
DIE
lewe van die tradisionele Suid-Afrikaanse swartmense het eeue lank om die
bees gesentreer, waarvan proteïenryke vleis en melk verkry is. Veldkosse
is beslis ook geëet, maar ’n belangrike stapelkos was graansorghum, wat
lank voor die koms van die witmense reeds vir pap en bier verbou is. Dit
word vandag nog veral vir die brou van sorghumbier gebruik. Sorghum
is inheems in Suidelike Afrika, anders as die mielie
wat hierheen ingevoer is en al geslagte lank vir voedingryke geregte soos
mieliepap en mieliegruis sorg -- die belangrikste voedselsoort vir die
massas mense op die Suid-Afrikaanse platteland. Die
mielieplant se spreekwoordelike wortels lê eeue terug in tropiese Mexiko.
Dit is blykbaar reeds uit ’n wilde gras veredel nog voor die opbloei van
die pre-Spaanse beskawings in Amerika -- dus lank voordat die Spanjaarde
hulle in daardie wêrelddeel gevestig het. Die mielie is deur seevaarders en ander reisigers oor die wêreld heen versprei en was teen die einde van die sestiende eeu regoor die grootste deel van die ontwikkelde wêreld 'n bekende gewas. Dit is bekend dat die voorvaders van die Zoeloes ook die een of ander tyd ná 1500 hier mielies begin kweek het nadat dit moontlik deur Europese seevaders na Afrika gebring is. |
|||
|
KORING
-- VIR DIE WITMENSE SE DAAGLIKSE BROOD BROOD
is reeds eeue lank een van die heel vernaamste items op die Westerse
spyslys. En koring -- waarvan brood gemaak word
-- is beslis ook een van die eerste gewasse wat deur die mens gekweek is.
Dit het minstens 11.000 jaar gelede begin. Mense het agtergekom dat die
saad van die koringplant geoes en fyngemaak kan word om ’n wonderlike
voedelsoort te vorm. Die
eerste gesaaide koring in Suid-Afrika is reeds op 13 Januarie 1653 geoes,
minder as ’n jaar nadat Jan van Riebeeck met sy span Europese setlaars
hier voet aan wal gesit het. Dit toon die prioriteit wat hierdie
graansoort destyds al geniet het. Daardie eerste lappies koring was
waarskynlik naby die Kasteel, en die koring is miskien nog gesaai voordat
Van Riebeeck sy groentetuin
aangelê het. In
daardie beginjare het die koringboere maar erg gesukkel. Daar was talle
probleme met variëteite wat nie lekker aan die Kaap geaard het nie, asook
met koringsiektes en die baie winterreën, onder meer. In
die eerste halfeeu is daar dan nie eens genoeg koring vir eie gebruik
gekweek nie, wat nog te sê om in die behoeftes van die verbyvarende skepe
te voorsien. Trouens, dit was eers in 1968, ’n stuk of drie eeue later,
dat Suid-Afrika hierin selfvoorsienend geraak het. Nadat
die vroeë pioniers die binneland ingetrek het, het koringverbouing
uitgebrei het na gebiede waar hierdie graansoort veel beter geaard het.
Teen 1752 is die gewas al in bekende koringstreke soos die Swartland by
Riebeek-Kasteel, Piketberg en Malmesbury gekweek, asook in die Rûens by
Botrivier en Riviersonderend. Koring
is vandag steeds onontbeerlik in Suid-Afrika. Vanweë die omvang van die
verbruik en die voedingswaarde van brood en ander verwerkte
koringprodukte, word dit saam met mielies as ’n stapelvoedsel in ons
land beskou -- nie net meer vir witmense nie, maar vir mense van alle
bevolkingsgroepe. Dit
word in bykans elke provinsie verbou, wat dan ook van die gewas se
besondere aanpasbaarheid getuig. Die Wes-Kaap, Vrystaat en die gewese
Suid-Transvaal is egter ons groot koringproduserende gebiede. |
|||
|
|||