SonneblomSonnige verhaal
van die

sonneblom

 

Sy sowat vyftig soorte neefs groei wild op die vlaktes en berge in Noord-Amerika, maar die ware, veredelde groot sonneblom is geen hierjy se plant nie. Ook in Suid-Afrika is hy baie belangrik en sorg hy onder meer vir ons kookolie en margarien. Maar dit is nogal verrassend om te verneem dat dit eintlik die Russe was wat die Amerikaanse sonneblom onder hande geneem en hom die aansien gegee het wat hy vandag geniet…

Sonneblomme

 
BO: Sonneblomme… uitbundig geel soos miniatuur-sonne wat uit die grond ontspring het.

 

Foto bo: U.S. Environmental Prtection Agency

 

Illustrasie heel bo: www.clker.com / PD

  

A

S die naam van die geslag Helianthus afgelei is van die Griekse woorde vir son en blom, dan moet Helianthus bolanderi mos ’n sonneblom van ons eie Boland wees.

 

Korrek?

 

Verkeerd!

 

Dit wat die Amerikaners ’n “Bolander’s sunflower” noem, is ’n boorling van die state Kalifornië en Oregon, waar dit hoofsaaklik in bergagtige gebiede voorkom. En die einste Bolander is maar net een van meer as vyftig spesies en etlike subspesies sonneblomme in die famillie Asteraceae. Op die koop toe is almal inheems in Noord-Amerika—nooit gesien dat enige rasegte sonneblom die Wes-Kaap as sy tuisland kan hê nie.

 

Dit wil nie sê dat die sonneblom—oftewel die bekende spesie wat Helianthus annuus genoem word—nie wel deeglik sy pad buite Amerika gevind het nie. Om die waarheid te sê, die storie van die sonneblom is ’n sonnige suksesverhaal by uitstek. En, raar maar waar, sy kommersialisering het nie in Amerika begin nie, maar in Rusland. Dit was maar betreklik onlangs dat die sonneblom na Noord-Amerika teruggekeer het om daar as ’n landbougewas gekweek te word.

 

Hoewel die Amerikaanse Indiane die wilde sonneblomme vir allerhande dinge gebruik het—dele van die plante selfs teen slangbyt en as boumateriaal—het die vroeë Amerikaanse koloniste uit Europa nie hierdie oliesaadplant verbou nie. Die sonneblom is waarskynlik vanuit Mexiko na Spanje gebring en van daar af na ander dele van Europa. Die Russe het die Russiese reuse-sonneblom ontwikkel en variëteite daarvan as saad aangebied, wat in 1893 weer in die Verenigde State beland het.

 

Daar is nietemin getuienis wat daarop dui dat Indiane die sonneblom reeds omstreeks 3000 v.C. kon begin “tem” het en wel in die teenswoordige Arizona en Nieu-Mexiko. Die verskillende Indiaanse stamme het dit op verskillende maniere benut. Party het die saad tot meel gemaal of fyngestamp vir koeke, bry of brood, terwyl sommige die meel met boontjies, skorsies en mielies gemeng het. Op die een of ander manier is ook ’n kleurstof uit die sonneblom verkry waarmee onder meer klere pers gekleur is. Die olie wat uit die saad gepers is, is op die vel en hare aangewend.

 Blomme van die sonneblom-geslag

BO: Blomme van net ’n paar soorte van die string plante van die sonneblom-geslag (Helianthus) wat in Noord-Amerika voorkom.

Foto’s: U.S. Fish and Wildlife Service en U.S. National Park Service

 

DIE waarde van die sonneblom in vandag se wêreld kan kwalik oorskat word. Sonneblomolie bevat byvoorbeeld linolsuur, wat, na vertel word, die cholesterol-gehalte in die bloed verlaag. Naas mielies, koring en suikerriet is dit nie verniet een van ons belangrikste landbougewasse nie. Trouens, Suid-Afrika is die wêreld se tiende grootste produsent van sonneblomsaad, en plaaslik word die gewas in Limpopo, Mpumalanga, die Noordwes-provinsie en die Vrystaat verbou.

 

Ons gebruik die olie uit die saad vir alles van kookolie tot margarien en die moontlikhede is ook al deeglik beproef om dit as ’n brandstof te gebruik om trekkers aan te dryf.

 

 Sonneblom en by

BO: Bloeistadium van die sonneblom… en besoekende insekte kry die kans om hulself te voed en terselfdertyd die wonder van bestuiwing te bewerkstellig.

Foto:  Bruce Fritz / ARS /  U.S. Department of Agriculture (gewysig)

 

 Stuifmeel van ’n sonneblom soos waargeneem deur die elektronmikroskoop

BO:  Stuifmeel van ’n sonneblom soos waargeneem deur die elektronmikroskoop.

 

Foto: Dartmouth College Electron Microscope Facility / PD

 

Sonneblomsaad

BO: Sonneblomsaad.

 

Foto:  U.S. Department of Agriculture

 

Maar ’n mens hoef nie ver buite ons grense te soek om allerlei ander aanwendings daarvan te vind nie, stellig van hoendervoer tot heelsaad-happies vir kinders in die krale ook van ons buurlande. Baie verder noord het die Europeërs die saad al medisinaal aangewend in ’n gesogte preparaat teen verkoues en ’n gehoes.

 

In die Kaukasus het die saad weer gedien as ’n plaasvervanger van kinien in die behandeling van malaria, en dit word ook as ’n ontwateringsmiddel en slymafdrywer gebruik. Voorts het die Portugese die blompitte nuttig gevind in die maak van moksa, wat in die behandeling van wonde en infeksies gebruik word. ’n Aftreksel van die blomme is selfs al gebruik om vlieë dood te maak, omdat die plant bes moontlik ’n bestanddeel bevat wat hom teen vernieling deur sekere insekte beskerm.

 

Die nut van die sonneblom lê dus hoeka nie net in sy olieryke pit nie. Sonneblomstingels is reeds aangewend as brandstof, veevoer en kuilvoer. In Rusland word die as van gedroogde blomstingels, wat as brandstof gebruik is, weer in die grond ingewerk. Kompos kan van die saaddoppe gemaak word.

 

’n Tyd gelede is ook gevind dat die doppe tot brandstof verwerk kan word. Die Russe gebruik dit onder meer om etielalkohol te maak en gis te kweek.

 

Die stingels is ’n bron van kommersiële vesel, waarmee die Chinese reeds weefstowwe kon optower. Ander lande eksperimenteer om die vesel te gebruik om papier te maak.

 

SONNEBLOMSAAD word in die lente gesaai wanneer die grond tot minstens 7 ºC verwarm het. Saad kan ook in potte of saadkissies gesaai en later in hul finale posisies uitgeplant word.

 

Waar sonneblomsaad gesaai is, kan dit dikwels nodig wees om die plantjies uit te dun anders sal hulle mekaar verdring. Om versteuring tot die minimum te beperk, moet die grond om ’n behoue plantjie vasgedruk word nadat sy omringende maats verwyder is. Besproei nuut gevestigde saailinge betreklik dikwels totdat die wortels genoeg ontwikkel het.

 

Dit is nodig dat die stingels van sonneblomme gestut word. Stokke sal help om steun aan die stingel te bied en die saailinge teen skade deur knaagdiere of voëls help beveilig. Die geveerdes en klein soogdiertjies hou baie van die sonneblomsaad sowel as die tenger jong plantjies. ’n Voëlverskrikker of net kan dalk nodig wees om die plante teen plantvreters te beskerm.

 

Die slanke, eenjarige plante kan uiteindelik tussen 1,5 en 3,5 m hoog staan, maar daar word vertel dat daar in die 1500’s ’n plant in Noord-Italië was wat ’n verstommende 12 m hoog was. Hoe ook al, sonneblomme het ruwe en harige stingels wat in die boonste deel vertak is. Die blare aan die stingels is meestal afwisselend, eiervormig tot driehoekig, en gaafrandig of getand. Verskeie ronde blomkoppe aan die einde van die vertakkings is in die reël sowat 7 tot 15 cm breed.

 

Dit wat ons die blom van die sonneblom noem, is egter veel meer as bloot een enkele blom. Die blomkop is in der waarheid ’n samegestelde blom met talle blommetjies wat in die binnedeel van die kop in ’n fassinerende spiraalpatroon saamtros. Die buitenste blommetjies is steriele straalblommetjies wat geel, oranje of ander kleure kan hê. Dit is die blommetjies in die binnedeel wat tot sade ontwikkel.

 

Sonsoekende sonneblomme
 

Sonneblomkop wat nog nie oopgegaan het nie (nog nie die bloeistadium bereik het nie)REGS: ’n Sonneblomkop wat wag om te ontluik…

 

Foto: Jon Sullivan/ Public-Domain-image.com

  

SONNEBLOMME in die botselstadium is sonsoekers of heliotrope. Dit beteken dat hulle die sonderlinge eienskap het om hul “koppe” na die son te draai en sy gang oor die hemelkoepel te volg. Met sonop tuur die meeste blindelings ooswaarts om die eerste strale van die opkomende son te groet. Namate die dag aanstap, volg hulle die son slaafs van oos na wes—net om weer die koppe wagtend na die ooste te draai wanneer dit nag is.

 

Die beweging word deur motoriese selle in die gewrig bewerkstellig, ’n buigsame segment van die stingel net onder die botsel. Sodra die ontluiking verby is, verstyf die stingel en die bloeistadium word bereik. Nou is die sonneblom nie meer sonsoekend nie. Interessant genoeg kom hierdie eienskap van heliotropisme nie by wilde sonneblomme voor nie, maar dié se blomkoppe wys in allerhande rigtings.

 

 ’n Knol van ’n neef

 

Blomme van die Jerusalem-artisjok

REGS: Blomme van die Jerusalem-artisjok of aardartisjok, waarvan die knol geëet word. Ook hy is ’n neef van die bekende gewone sonneblom.

 

Foto: Paul Fenwick,
wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web uitgeplaas en gelisensieer het ingevolge die GNU Free Documentation License en by uitbreiding die Creative Commons Attribution ShareAlike 3.0-lisensie waarvolgens hergebruik en afgeleide werke op sekere voorwaardes vergun word

NOG ’n belangrike plant van sonneblom-geslag is die aardartisjok, ook bekend as die Jerusalem-artisjok of aardpeer (Helianthus tuberosus). Dat een Engelse naam vir hom boonop die “earth apple” is, laat ’n mens besef dat hy en die aartappel iets gemeen moet hê—en inderdaad, hy is ook ’n knolgewas waarvan die knol geëet word.

 

Maar die aardartisjok is geen artisjok nie (hoewel hulle altwee tot die familie Asteraceae of Compositae behoort) en nog minder is hy verwant aan die aartappel. Anders as die aartappel het hy nie stysel in sy knol nie. Pleks daarvan berg sy knol die koolhidraat inulien (C6nH10n+2O5n+1)—wat nie verwar moet word met die hormoon insulien, waarvan veral diabete goed kennis dra nie.

 

Nog eetbare spesies van die familie van samegestelde blomme is weliswaar nie sonneblomme nie, maar hulle is ook vermeldingswaardig. Hulle is die kropslaai (Lactuca sativa), die sigorei (Cichorium intybus) waarvan ’n wortelvariëteit in koffiemengsels gebruik word, en die blomartisjok (Cynara cardunculus) waarvan die botsels in soutwater gekook en daarna met ’n bietjie gesmelte botter bedien word.

Sonneblom-stervisMaar alles wat na ’n sonneblom lyk, is nie ’n sonneblom of een van sy bloedfamilie nie…

 

LINKS: Jy sou darem reken hy moet ’n blom wees en straks ook een van die sonneblom-geslag, dog die sonneblom-stervis (Pycnopodia helianthoides) van die see is geen plant nie maar ’n dier!

 

Foto: NOAA

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad